Internasionale oorsig: China se Kommunistiese Party steeds so gevaarlik 100 jaar later

Betogers skeur ʼn banier waarop pres. Xi Jinping van China se gesig pryk middeldeur. (Foto: Ajit Solanki, AP)

Die Kommunistiese Party van China het verlede week sy honderdste bestaansjaar met opruiende toesprake, feesviering en vuurwerk herdenk. China is vandag een van die magtigste lande ter wêreld, met die naasgrootste ekonomie, die grootste bevolking en duidelike mikpunte om in Asië en die res van die wêreld sy invloed uit te brei.

Tydens verlede Donderdag se feesviering op die berugte Tiananmen-plein in Beijing het die sekretaris-generaal van die Chinese Kommunistiese Party en president van China, Xi Jinping, gesê dat sy land nie langer deur ander nasies geboelie sal word nie. Hy het verder gesê dat China se strewe om beheer van Taiwan ʼn sogenaamde “historiese missie” is en dat teëstanders daarvan nie in China se pad moet staan nie.

Dit is in baie opsigte ironies dat Jinping juis sy toespraak op Tiananmen-plein gelewer het. Dié plein in Beijing dateer uit die vyftiende eeu en is van groot historiese belang in China. Sedert die Kommunistiese Party egter op gewelddadige wyse in 1949 die demokratiese regering uit China verdryf het, het dié plein ʼn simbool van die kommuniste se onderdrukking en wreedheid geword. In 1989 is tot 10 000 betogers dood toe die Chinese regering opdrag gegee het dat hulle met geweld uit die plein verdryf moes word.

Dit was ook op die Tiananmen-plein waar Mao Zedong op 1 Oktober 1949 die Volksrepubliek van China geproklameer het nadat die Chinese regering na die eiland Taiwan verdryf is. Onder Zedong se leierskap sou China ʼn totalitêre en kommunistiese eenpartystaat word wat oor die jare heen, en tot vandag toe, geen demokratiese bewegings, vrye meningsuiting of basiese individuele en groepsregte sou duld nie.

Die honderdjarige viering van die oprigting van die Kommunistiese Party van China is om twee redes vir ons almal van groot belang. Eerstens is dit toenemend duidelik dat demokratiese lande, veral in die Weste, begin saamstaan teen China se onderdrukking van minderheidsgroepe, China se inmenging en aggressiewe optrede in Hongkong en Taiwan, en China se toenemende bevegting van demokrasie in Asië en selfs ander wêrelddele. Die onlangse G7-beraad en die beraad van Navo-lidlande, asook die formele samewerking tussen die VSA, Australië, Japan en Indië, bevestig dit. Dit is duidelik dat die Chinese regering ernstig gefrustreerd met hierdie mobilisering van steun teen sy totalitêre optrede is.

(Foto: pixabay)

Dit strek egter verder as net die Weste se mobilisering. Wat toenemend duidelik is, is dat Westerse lande vier dekades lank naïef was oor die motiewe van die Kommunistiese Party van China.

Prof. Cai Xia, ʼn voormalige professor by die Sentrale Party Skool van China, het onlangs in uitgebreide kritiek op die Kommunistiese Party, wat deur die Hoover Instituut in die VSA gepubliseer is, daarop gewys dat die Weste en veral die VSA gehoop het dat die modernisering van China se ekonomie tot politieke liberalisering sou lei. Noudat China een van die sterkste lande ter wêreld is, begin die Weste eers besef dat China nooit die menseregte- en ander Westerse beginsels waarvoor hulle gehoop het, sal instel nie.

Prof. Xia het verlede jaar kritiek teen die party begin uitspreek en is toe uit die party geskop en van haar aftreevoordele gestroop. Sy het na die VSA uitgewyk van waar sy skerp kritiek op die binnewerking van die party lewer.

Volgens prof. Xia is dit nie moontlik om met die Kommunistiese Party in dialoog te tree nie. Die party volg sy rigiede ideologie en stel nie belang in gesprekke wat hom kan oortuig om anders op te tree nie. Westerse pogings om China te oortuig om die regte van minderheidsgroepe te respekteer en om sy aggressiewe optrede in Asië te staak, val dus op dowe ore.

Prof. Xia gaan sover om te sê dat die totalitêre regime in China direk in konflik staan met Westerse demokrasie, en hoewel dié twee stelsels nie versoenbaar is nie, dink sy ook nie dat dit op lang termyn in vrede saam sal kan bestaan nie. Uiteindelik sal konflik uitbreek omdat China daarvan oortuig is dat sy model na die res van die wêreld uitgebrei moet word.

Nog ʼn rede waarom die res van die wêreld ernstig na gebeure die afgelope tyd in China moet kyk, hou wel verband met binnelandse uitdagings wat die Kommunistiese Party in die toekoms voor moeilike keuses gaan plaas.

Die Kommunistiese Party probeer die mag oor en steun van die Chinese bevolking behou deur die aanblaas van nasionalistiese retoriek en ʼn sterk fokus op die ekonomiese sukses van China die afgelope drie dekades. Die werklikheid is egter dat die Chinese bevolking ʼn ernstige demografiese uitdaging met veroudering die hoof moet bied. Persoonlike skuld, toegang tot behuising in die stede en die groeiende behoeftes vir groter persoonlike vryheid deur die al groter wordende Chinese middelklas kan in die toekoms tot onstabiliteit aanleiding gee.

Die Chinese Kommunistiese Party was nog altyd ʼn onderdrukkende totalitêre beweging. Anders as in 1949 regeer die party egter nou ʼn land met ʼn enorme begroting en met groot internasionale politieke, ekonomiese en militêre invloed. China hou ʼn direkte bedreiging vir die demokrasie wêreldwyd in en daarom is dit die regte ding dat Westerse lande Jinping se waarskuwing ernstig opneem en saamwerk om Chinese invloed te beperk. Die tyd het aangebreek vir die Weste, in samewerking met vriende in Asië, om die uitdagings wat China bied, direk in die oë te kyk en te besef dat ʼn meer proaktiewe benadering dringend nodig is.

Kuba, Noord-Korea en hernude voedseltekorte

Kim Jong Oen (Foto: Korean Central News Agency/Korea News Service via AP)

Terwyl niemand presies seker is wat die omvang van die huidige hongersnood in Noord-Korea is nie, is dit wel ʼn bevestigde feit dat derduisende Noord-Koreane reeds daagliks ʼn voedseltekort ervaar. Die Verenigde Nasies het Woensdag bekend gemaak dat Noord-Korea vanjaar 1,1 miljoen ton graan nodig gaan hê om ʼn langdurige hongersnood te voorkom.

Die diktator van Noord-Korea, Kim Jong-oen, het self verlede maand erken dat sy land voedseltekorte ervaar. Gedurende die 1990’s is miljoene mense in Noord-Korea dood toe hongersnood dié geslote land getref het. Sedertdien is daar gereeld berigte oor voedseltekorte uit Noord-Korea, maar die omvang daarvan bly onseker.

Die redes hiervoor hou verband met die streng sanksies teen Noord-Korea, die land se besluit om sy grense te sluit, wat ook handel met sy enigste wesenlike handelsvennoot, China, benadeel het, asook vloede wat tot ʼn laer graanproduksie gelei het.

In Kuba, ʼn land wat ook in die 1990’s, ná die val van die Sowjetunie, voedseltekorte ervaar het, dreig ʼn hernude tekort aan voedsel weer. Sowat 70% van alle voedsel wat in Kuba verbruik word, word uit die buiteland ingevoer.

Dié kommunistiese land se regering gee die VSA se sanksies teen Kuba die skuld vir die huidige voedseltekorte, maar reeds sedert 2001 geld geen Amerikaanse sanksies op voedsel nie.

Kuba voer die meeste voedselprodukte uit die VSA in, maar verlede jaar was dié invoere die laagste in 20 jaar omdat die Kubane ʼn tekort aan buitelandse valuta ondervind. Hoewel meer as 4,2 miljoen toeriste Kuba jaarliks besoek, was dit verlede jaar skaars een miljoen. Die land is ook baie afhanklik van geld wat deur Kubane in die buiteland, dikwels die VSA, na families en organisasies in Kuba gestuur word. Hierdie geldvoorrade het ook verlede jaar gekrimp.

Terwyl die Kubaanse regering, net soos die diktatuur in Noord-Korea, graag propaganda maak oor hulle vermoë om self in hulle basiese behoeftes te voorsien, is albei lande inderwaarheid uiters afhanklik van buitelandse inkomste en hulp. Indien die Verenigde Nasies, die ryker lande in die wêreld en veral Westerse lande nie soos gewoonlik hulp sal aanbied nie, kan ons later vanjaar sien dat miljoene mense in Noord-Korea en Kuba aan hongersnood ly en dat baie selfs sal sterf.

Hoe ironies is dit nie dat die “bose” kapitalistiese lande wat gedurig deur die leiers van Noord-Korea en Kuba sleggesê word, waarskynlik albei lande se burgers vanjaar van hongersnood sal moet red nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Frik ·

Miskien volg ek nie die nuus so getrou nie, maar ek sien nie dat China – gevaarlike kommunistiese party of nie – die een land na die ander binneval en verwoesting en dood agterlaat soos wat daardie bastion van vryheid en demokrasie, die VSA (greeld in samewerking met ander “demokratiese en verligte” bondgenote soos Brittanje & Frankryk), doen nie.

Pietertjie ·

Kommunisme gaan oor die mens se siel, dís hoekom China op die oppervlak so skadeloos voorkom. Intussen word die Weste se gewaande ekonomiese voorspoed onder hulle neuse (en hulle voete) weggekalwe. Amerika se gewelddadige strooptogte en oorloë gaan hoofsaaklik oor “big oil”, om hulle skuldbelaaide ekonomie aan die gang te hou. Die Weste het niks meer wat nie deur China ook gemaak kan word nie.

Petrus Albertus ·

China het tot dusver net nie die geleentheid gehad nie – maar dit kom, dit kom verseker soos die Weste agteruitgaan, begin met Taiwan, dan ou koeie met Japan uit die sloot grawe en dan die res van die Stille Oseaan kompleks.

Frik ·

Dit mag wees, miskien het hulle net nie die geleentheid gehad nie en miskien kom dit, maar miskien kom dit nie – ek dink nie jy kan met soveel sekerheid die toekoms voorspel nie; maar my punt bly staan: So lank as ek kan onthou in my 50+ jare word China voorgehou as die groot bedreiging en oorlogmaker (een wat nog moet realiseer) – dit terwyl die VSA en bondgenote vir net so lank, en langer, dit amper ‘n daaglikse roetine maak; maar om een of ander onverklaarbare rede vind die meerderheid dit aanvaarbaar.

Anel ·

En Suid Afrika is seker die land wat die meeste geld aan Kuba “skenk”. Onder allerhande voorwendsels!!!

Petrus Albertus ·

Rol af en kyk na die tweede gedeelte van die berig…

melaney ·

Dit is nogals insiggewend. Maar my broek bewe glad nie, want die boek wat ek daagliks lees vertel my China se dae is getel. Daar kom ‘n dag …….is jy gereed? Is jy gered?

CA ·

Wat ‘n frustrerend onkritiese, stereotipe papegaaispraak van ‘n artikel oor China. Nee man Jaco, gaan draai ‘n slag die terme wat jy so vrylik rondsmyt ‘n paar keer om en bekyk hulle vanuit ‘n properse analitiese, realistiese en feitelik historiese hoek. En dan skryf jy ‘n artikel wat die feite weerspieël van die werklike stabiliserende, selfs opbouende rol wat China deesdae speel in ‘n wêreld wat deur Westerse arrogansie en Amerikaanse aggressie op alle vlakke versteur is.

Marthinus W ·

CA, ek stem saam met jou en Frik. Die probleem is dat Jaco en Leopold Scholtz se geskryf gebaseer is op hoofstroommedia, wat, soos enige persoon met `n Ik van 100 weet, dikteer word deur eienaars/regerings; dit het niks met die werkliheid te doen nie. Ek doen baie navorsing oor Rusland, en die goed wat die menere hierbo oor Rusland skryf is lagwekkend. Dis ook hartseer dat al die gemors wat Amerika sedert 1945 aanvang opgehemel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.