Internasionale oorsig: China toenemend aggressief

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Nie so lank gelede nie was die boodskap uit China nog een van ’n land wat deur sy produksievermoë ’n positiewe bydrae wou lewer tot globale ekonomiese groei, ’n sterker meer selfgeldende Asië en dalk heel belangrikste, beter lewensomstandighede vir honderde miljoene arm Chinese.

Sedert Xi Jinping in 2012 leier van die Kommunistiese Party van China en in 2013 president van die Volksrepubliek China geword het, het dié land egter ’n toenemend aggressiewe benadering tot globale magsverhoudinge begin inneem.

Die Amerikaanse departement van verdediging se jaarlikse verslag aan die Amerikaanse kongres oor die Volksrepubliek van China skets juis so ’n prentjie – een van ’n land wat duidelik besig is om vir meer aggressiewe optrede voor te berei. Verskeie insidente in veral die Suid-Chinese See die afgelope tyd bevestig hierdie bedreiging en sommige ervare militêre analiste in die VSA sien ’n toekomstige oorlog tussen China en die VSA as ’n groterwordende moontlikheid.

So onlangs soos twee dekades gelede het China min of beperkte bedreiginge vir sy buurlande en Amerikaanse belange in Asië ingehou. Die ekonomiese sukses van China die afgelope twee of drie dekades het egter van dié land ’n magtige wêreldmoondheid gemaak – een met die vermoë om sy eie militêre kapasiteit wesenlik te kon uitbrei en een wat duidelik meer selfgeldend, en selfs aggressief, sy globale belange kon begin uitbrei.

Die gevolg hiervan is dat China se vyande meer geword het en sy globale uitdagings meer omvangryk as voorheen. Die Covid-19-pandemie het verskeie foutlyne tussen China en die Westerse wêreld, maar ook talle Asiatiese lande blootgelê.

Medici verlaat die Hubei-provinsie in China. Die provinsie is swaar deur die virus getref. (Foto: Xinhua/Zhou Mi/IANS)

Die versoek van onder meer Australië, die VSA en sommige Europese lande vir ’n onafhanklike ondersoek na China se hantering van die uitbreking van die pandemie het woede in China ontlok met veral Australië wat reeds Chinese vergelding ervaar. Verlede week is ’n Australiese burger wat as ’n joernalis in China gewerk het op wollerige aanklagte in hegtenis geneem. Dit is die tweede Australiese burger wat binne enkele maande in China aangehou word. Verlede jaar is twee Kanadese burgers ook in China in hegtenis geneem.

Intussen dreig China dat hy sy invoere uit Australië sal verminder. Sowat 39% van alle Australiese uitvoere is na China. Die Chinese regering het die afgelope week weer gedreig om invoere uit Australië te beperk. China voer groot hoeveelhede steenkool, ystererts en suiwelprodukte uit Australië in.

Die handelsoorlog tussen China en die VSA duur steeds voort met min hoop op ’n langtermynoplossing. Onlangse pogings deur China om anti-Chinese sentimente in Europa te bestry het ook beperkte resultate gelewer. Die Chinese minister van buitelandse sake, Wang Yi, het in Augustus vanjaar Duitsland, Italië, Noorweë, Nederland, Frankryk, Spanje en Griekeland besoek in ’n poging om te verhoed dat ’n breë alliansie teen Chinese handelspraktyke, militêre optrede in Asië en inmenging in Hongkong en Taiwan tussen die VSA en Europese lande ontstaan. Die Amerikaners moedig so ’n alliansie reeds vir maande aan.

’n Paar dae gelede het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, omvattende nuwe beperkinge op Chinese diplomate se bewegings in die VSA bekend gemaak. Dit volg nadat die Trump-administrasie ’n tyd gelede die Chinese regering opdrag gegee het om sy konsulaat in Houston, Texas, te sluit.

Die Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: Evan Vucci/AP)

Die Amerikaanse departement van verdediging het Dinsdag die Amerikaanse kongres meegedeel dat China tans meer as 200 kernwapens besit en dat die Pentagon verwag dat China sy kernwapenarsenaal oor die volgende tien jaar gaan verdubbel tot meer as 400, selfs soveel as 500 kernwapens.

China se probleme is egter nie net tot Westerse lande beperk nie. Dié land was ook die afgelope paar maande in verskeie grensgeskille met buurlande gewikkel met die vernaamste hiervan, die geskil tussen China en Indië in die Himalaja-gebergtes. Vroeg in Junie is 20 Indiese soldate op die grens tussen die twee lande dood nadat skermutselings tussen die twee lande se soldate uitgebreek het. Sedertdien is daar ’n ooreenkoms tussen die twee lande gesluit waarvolgens die grensgeskil bygelê moet word, maar die afgelope week het die twee lande mekaar weer beskuldig dat die ooreenkoms oortree word, met Chinese soldate wat duidelik aggressief opgetree het.

Om die huidige verwikkelinge in China te verstaan is dit nodig om dié land se geskiedenis te begryp. Vir meer as twee millennia het die monarge wat China regeer het, hul land as een van die dominante globale rolspelers beskou. Die konsep van Zhongguo, oftewel die Midde-Koninkryk, is ’n denkwyse wat vir eeue reeds China se denke oor homself help vorm het. Ten spyte van die agteruitgang in China in die 1800’s en vroeë 1900’s was die Chinese siening nog altyd dat dié land in die sentrum van globale kulturele, ekonomiese en politieke gebeure staan. China se globale verhoudinge word dus deur hierdie siening bepaal.

Terwyl die Volksrepubliek van China die afgelope twee dekades weer een van die sterkste globale moondhede geword het, het die land die vermoë ontwikkel om internasionale stelsels weer volgens sy hand te probeer vorm terwyl hy sy rol, veral in Asië, maar inderwaarheid regoor die wêreld, uitbrei.

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Een van China se belangrikste doelwitte is dus om internasionale instellings, wat die afgelope tyd deur Westerse lande daargestel is, soos die Verenigde Nasies en sy onderafdelings, die Internasionale Monetêre Fonds, die Wêreldbank en andere óf volgens sy eie denke te hervorm, óf nuwe instellings in mededinging hiermee op te rig.

President Xi Jinping is vandag die magtigste Chinese leier sedert Mao Zedong en dit is sy droom om die wêreld volgens Chinese waardes te verander en om instellings te hervorm sodat dit aan Chinese behoeftes voldoen. Dít, gepaardgaande met China se aggressiewe benadering jeens sy Asiatiese bure, gaan tot groot spanning lei.

Die vraag kan dus tereg gevra word of dit net ’n kwessie van tyd is voordat ’n oorlog tussen China en die VSA uitbreek, en indien so ’n oorlog uitbreek waar talle Asiatiese lande, Rusland en Europa in so ’n geskil sal staan? Tans het nie die VSA of China die aptyt vir oorlog nie, maar die verskille tussen China en ’n groterwordende koalisie van lande wat Chinese aggressie teenstaan, is wel besig om vinnig groter te word en uiteindelik sal dit bygelê moet word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Westerse en ander lande is die wereld is die grootste bydraer tot Chinese welvaart asook verhoogde , vergrype,aggressie en arrogansie. Slaan China hard deur vermindere uitvoere van grondstowwe(SA is ‘n groot skuldige) asook verlaging in invoere vanaf China. Die lande kondoneer China se menseregte vergrype. Globalisme is grootste sondebok hier.

Adam Adriaan ·

En die ANC is hand om die blaas met China. Die ANC gee nie om dat hulle die RSA weer her-kolonialiseer nie.

annie ·

Sjina wil ten alle koste nie weer agteruitboer nie want armoede en opstande loop saam. ‘Made in China’ is hul redding en ons armoede. Hul politiek cum godsdiens laat nie gewetenswroegings oor die verskil tussen reg en verkeerd toe nie. Xi het nie ‘n Bybel nie.

Kobus ·

As ek nou die onlangse geskiedenis reg onthou is dit Amerika wat Irak ingeval het onder die leuen van Wapens van Massa Vernietiging wat Irak kwansys sou besit. Die Amerikaanse vliegdekskepe, bomwerpers en misielstelsels het toe duidelik bewys dat dit Amerika is wat eintlik die Wapens van Massa Vernietiging tot hul beskikking gehad het.
Amerika is die enigste land ter wêreld wat Atoombomme teen sy teenstanders se siviele inwoners gebruik het.
Sê maar net.

Marthinus W ·

Mike Pompeo spog dat hy lid is van die “West Point-mafia” in die Amerikaanse regering. (Oud-soldate wat aan West Point gegradueer het. Pompeo in 1986, saam met Mark Esper.) Hulle wil bittergraag oorlog, met enige land wat Amerika se mag uitdaag, hê. Danksy Donald Trump gebeur dit nog nie.

Amerika het meer as 400 militêre basisse rondom China, maar dis altyd China (of Rusland) wat aggressief is.

China is ten gunste van `n nuwe wêreldorde, waar alle lande regverdig behandel word. Ons is so gewoond aan Amerika se geboelie, ons kom dit nie eens meer agter nie. Byvoorbeeld: die Chinese maatskappy TikTok word gedwing deur Trump om hulle aandele aan Amerikaners te verkoop; indien nie, word die maatskappy verban. Dis mos nie regverdig nie. Dis diefstal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.