Internasionale oorsig: Chinese aanval op Taiwan nader as ooit

‘n Chinese vegvliegtuig vlieg naby Taiwan verby (Foto: Hector RETAMAL/AFP)

Die kanse vir ʼn Chinese inval in Taiwan was nog nooit so groot sedert die einde van die Chinese burgeroorlog meer as sewe dekades gelede nie. Volgens die Chinese staatsmedia is die Chinese weermag besig om voor te berei vir ʼn sogenaamde “voorkomende aanval” teen Taiwan.

Dit volg op die besoek van Nancy Pelosi, speaker van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, die afgelope week aan Taiwan. Pelosi se besoek is uit die staanspoor in omstredenheid gedompel nadat dit enkele weke gelede reeds duidelik geword het dat daar geen koördinering tussen Pelosi en pres. Joe Biden was oor die besoek nie, en dat Biden duidelik nie met Pelosi se besluit om Taiwan te besoek saamgestem het nie.

Tydens ʼn besoek aan Japan in Mei het Biden gesê dat die VSA Taiwan sal beskerm indien dié land deur China aangeval sou word. Dit was ʼn duidelike beleidsverandering deur die VSA indien Biden wel hiermee bedoel het dat daar direkte militêre intervensie deur die Amerikaanse weermag sal wees indien China ʼn aanval op Taiwan sou loods. Sedertdien het die Withuis nog nie weer meer hieroor bekend gemaak nie en groot onsekerheid bestaan steeds oor die Amerikaners se planne indien China wel Taiwan sou aanval en probeer beset as deel van die Chinese regering se planne om Taiwan (ook bekend as die Republiek van China) met China (ook bekend as die Volksrepubliek van China) te herenig soos wat die geval voor 1949 was.

Tydens Biden se besoek in Mei aan Japan het hy gewaarsku dat China “met gevaar” oor Taiwan flankeer. Biden het sover gegaan om ʼn parallel te trek tussen Rusland se inval in Oekraïne en ʼn moontlike inval deur China in Taiwan. Die Chinese regering het met woede hierop gereageer.

Die afgelope week het Pelosi tydens haar besoek gesê dat die VSA altyd by Taiwan sal staan. Presies wat dit beteken, is onseker. Dit is hierdie onsekerheid oor die VSA se Taiwan-beleid wat die afgelope week vrese vir ʼn Chinese aanval laat toeneem het.

Tydens Pelosi se besoek het Chinese vegvliegtuie oor die Seestraat van Taiwan gevlieg terwyl die Amerikaanse weermag een van sy grootste vliegdekskepe van Japan na die Suid-Chinese See gestuur het. Donderdag het China met uitgebreide militêre oefeninge reg rondom Taiwan begin, wat selfs die afvuur van verskeie ballistiese missiele in die waters rondom Taiwan ingesluit het.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Verlede week het Biden en die Chinese president, Xi Jinping, ʼn telefoongesprek oor die Taiwan-kwessie gehad. Biden se boodskap aan Xi was dat die VSA se beleid jeens Taiwan nie verander het nie. Xi het egter daarop gereageer deur te sê dat diegene wat met vuur speel, daardeur sal vergaan. Xi was uitgesproke dat sy land gereed is vir ʼn militêre konfrontasie met die VSA.

Net soos wat Rusland en spesifiek Poetin vir langer as tien jaar die Weste gewaarsku het dat hy Oekraïne as ʼn onderdeel van Rusland se nasionale belang beskou, en dat Navo-lidmaatskap en die verskaffing van Westerse wapens aan Oekraïne onaanvaarbaar vir Rusland sal wees, net so is die Weste besig om met vuur te speel oor die opbouende Taiwan-krisis. Net soos Poetin is Xi duidelik bereid om ʼn gebied wat hy as binne sy invloedsfeer beskou, met militêre vuurkrag aan te val al is die risiko’s ook hoe groot, en al beteken dit groter internasionale ontwrigting en isolasie.

Net soos wat Oekraïne se reg op soewereiniteit duidelik gemotiveer kan word, is daar baie sterk argumente waarom Taiwan ʼn reg op onafhanklikheid het. Daar is egter in internasionale magsverhoudinge ʼn verskil tussen absolute beginsels en werkbare realpolitiek. Die oorlog in Oekraïne kon en moes voorkom word net soos wat ʼn oorlog in Taiwan, wat dié eiland ook grootliks kan verwoes en wat, selfs erger, tot ʼn volskaalse oorlog tussen China en die VSA kan lei, nou verhoed moet word. Daarvoor is beter politieke strategieë nodig as dié waarmee Biden en Pelosi tans besig is.

Vrae oor moontlike vrede in Oekraïne ná graan-ooreenkoms

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Handout/KREMLIN.RU/AFP)

Gerhard Schröder, voormalige Duitse bondskanselier, het die afgelope week ʼn debat ontketen toe hy in ʼn onderhoud met die Duitse publikasie Stern gesê het dat die Kremlin oop is vir samesprekings om die oorlog in Oekraïne te beëindig. Schröder was verlede week in Moskou waar hy en pres. Wladimir Poetin ontmoet het. Dié twee het noue bande sedert Schröder tussen 1998 en 2005 Duitsland se kanselier was.

Schröder het tydens die onderhoud gesê dat die Kremlin ʼn onderhandelde skikking wil hê, maar dat dit wel toegewings van Oekraïne oor die beheer van die Donbas-streek sal moet insluit. Schröder is die afgelope maande in Europa, en veral in Duitsland, veroordeel vir sy noue bande met Poetin.

In die onderhoud met Stern het hy gesê dat dit sinneloos vir hom sou wees om sy bande met Poetin te verbreek. Hoewel hy die oorlog veroordeel, weier hy om sy vriendskap met Poetin te beëindig. Volgens Schröder kan hy ʼn nuttige rol speel om as tussenganger tussen die Weste en Rusland op te tree.

Schröder se uitsprake kom enkele dae nadat ʼn onderhandelde skikking met die hulp van Turkye en die Verenigde Nasies bereik is waarvolgens graanuitvoere uit Oekraïne hervat kon word. Die Verenigde Nasies se hoof van politieke aangeleenthede, Rosemary DiCarlo, het egter die afgelope week aan ambassadeurs by die VN gesê dat hoewel die graanuitvoerooreenkoms ʼn lig in die konflik is, daar maar min rede is om te glo dat vrede binnekort gesluit gaan word.

Volgens haar het die graanonderhandelinge bewys dat dialoog moontlik is. Die VN vra reeds lankal dat vredesonderhandelinge tussen Rusland en Oekraïne hervat moet word. Die regering van Oekraïne is egter uitgesproke daaroor dat onderhandelinge eers moontlik sal wees nadat grondgebied wat deur Rusland afgeneem is, teruggewen is.

Westerse leiers en veral Volodymyr Zelensky, president van Oekraïne, het Schröder se uitsprake die afgelope week veroordeel en koue water op sy hoopvolle boodskap gegooi. Zelensky het Woensdagaand gesê dat Schröder se uitsprake “walglik” is.

Schröder loop die afgelope ses maande ernstig deur weens sy volgehoue bande met Rusland. Die Duitse parlement het Schröder in Mei van sy toelae as voormalige kanselier gestroop. Sy toegang tot kantoorruimte en personeel is ook beëindig. Eerskomende Maandag sal sy party, die Sosiaal-Demokrate, besluit oor ʼn voorstel om sy partylidmaatskap te beëindig.

Schröder het tydens die onderhoud voorstelle oor moontlike vrede gemaak en het gesê dat toegewings deur Oekraïne nie as “gedikteerde vrede” beskou moet word nie. Hy stel ʼn kompromie voor waarvolgens die Donbas-streek op die Switserse kantonmodel ʼn groot mate van outonomiteit gegee word. Verder stel hy ook voor dat Oekraïne ʼn posisie van gewapende neutraliteit inneem as alternatief vir Navo-lidmaatskap. Die regering van Oekraïne het reeds hierdie voorstelle verwerp.

Die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski. (Foto: AFP via Oekraïense presidensie)

Dit is hier waar buitelandse leierskap ʼn groot verskil kan maak. Die eise van Rusland en Oekraïne is tans albei onuitvoerbaar. Terwyl Oekraïne die reg het om op die herstel van sy soewereine grense aan te dring, behoort die land dit nie te beskou as ʼn vooraf vereiste voordat onderhandelinge kan begin nie. Westerse lande is korrek in hul steun aan Oekraïne, maar die gevolge van ʼn baie lang en uitgerekte oorlog waarin Oekraïne uiteindelik volledig afhanklik raak van duur wapens, veral uit die VSA, moet ook verreken word.

Die ontslape voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake, Madeleine Albright, het jare gelede oor buitelandse beleid gesê dat dit ten doel het om “ander te oorreed om te doen wat ons wil, of nog beter, om te wil hê wat ons wil”. Dit vereis natuurlik uitsonderlike leierskap.

Die voormalige Amerikaanse president John F Kennedy het tydens sy presidentskap gesê: “Binnelandse beleid kan ons net verslaan; buitelandse beleid kan ons doodmaak.” Die huidige wyse waarop die oorlog in Oekraïne voortduur, hou daagliks meer risiko’s vir globale vrede, voedselvoorsiening en ekonomiese vooruitgang in. Die VSA voorsien reeds meer as die helfte van die wapens wat deur Oekraïne se weermag gebruik word, en soos wat die dodetal en koste vir Rusland toeneem, kan dié land genoop word om meer desperate en gevaarlike stappe te doen.

Rusland se oorlog teen Oekraïne bly verwerplik, en die grootskaalse vernietiging van dorpe en stede is oorlogsmisdade. Tog moet vrede een of ander tyd bereik word, en dit kan net deur ʼn militêre oorwinning of deur onderhandelinge bereik word. ʼn Militêre oorwinning is nie vir een van die partye binne enkele maande of selfs ʼn jaar op die horison nie en sal nog enorme lewensverlies, vernietiging van infrastruktuur en koste vir alle partye beteken terwyl die globale impak sal verdiep.

Juis daarom moet daar wel na ʼn leier soos Schröder geluister word. Sy vriendskap met Poetin is dalk vir die meeste Westerlinge verwerplik, maar êrens moet ʼn brug na vrede gebou word en niemand is tans daarmee besig nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Daar moet beslis na Schröder geluister word.
Sy vriendskap met Poetin is nie eers naastenby so “verwerplik” soos vriendskappe met vele ander staatshoofde en politici waaraan ek kan dink nie.
Diplomasie is ongelukkig ‘n uitgestorwe kuns by die politici van vandag.
Turkye se Erdogan rig meer uit (om o.a. koring by die wêreld se hongeres te kry) as die sogenaamde Vrye Wêreld se leiers.

Groen Ghoen ·

Dit blyk asof daar orals oorlog in die lug is, die groot bulle het al hul koppe laat sak om te storm. Die VSA en Rusland is reeds aan die baklei. Pelosi het gewys dat die VSA ook vir China wil aanvat. Waar gaan die VSA volgende sy wil afdwing?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.