Internasionale oorsig: Chinese wêreldwye strewe al hoe duideliker

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Op 4 Junie was dit presies 33 jaar sedert die slagting op die Tiananmen-plein in Beijing, China, wat ʼn einde aan die hervormingsbeweging in dié land gebring het en wat tot die wrede dood van ʼn onbekende getal, waarskynlik etlike duisende, jong betogers gelei het.

Terwyl daar gedurende die laat 1970’s en die grootste deel van die 1980’s hoop vir politieke hervormings in China was, het die Tiananmen-plein-slagting ʼn einde daaraan gebring. Alle hervormingsgesinde regeringslui is uitgeskop en ʼn omvattende proses om ʼn herhaling van die gebeure van 4 Junie te verhoed, is deur die Kommunistiese Party in China van stapel gestuur.

Vandag, meer as drie dekades later, is dit duidelik dat China geensins in die rigting van ʼn oop demokratiese samelewing beweeg nie. Sedert 1989 is die grootste binnelandse veiligheid- en spioenasiestelsel ter wêreld in China ontwikkel, en enige vorm van opposisie teen die regerende kommuniste word pro-aktief gemonitor en onderdruk.

Die afgelope drie dekades het ʼn generasie Chinese grootgeword wat nie eers weet van die Tiananmen-plein-slagting nie omdat enige oordrag van inligting daaroor, in skole, die media of selfs tussen individue, onwettig is. Die indoktrinasie in Chinese skole, media en kultuurinstellings is ook ná die slagting drasties opgeskerp en jongmense word grootgemaak om te glo dat die kommuniste hulle enigste redding is.

Xi Jinping, president van China. (Foto: Li Gang/Xinhua News Agency via AP)

Kort voordat China in 2001 by die Wêreldhandelsorganisasie aangesluit het, het die Amerikaanse president George W. Bush nog hoopvol gesê dat China se wêreldwye ekonomiese integrasie uiteindelik ook tot politieke hervorming sal lei. Presies die teenoorgestelde het egter sedertdien gebeur.

Sedert Xi Jinping in 2012 sekretaris-generaal van die Kommunistiese Party in China en in 2013 president van die land geword het, het hy die party se magsgreep op Chinese denke verder versterk. Indoktrinasie in skole is verder opgeskerp en miljoene Chinese se gebruik van die internet word daagliks gemonitor terwyl kerke, die media, minderhede en enige instelling wat vrye denke bevorder, onderdruk word.

In 2016 het Xi selfs die Chinese model as alternatief vir die Westerse liberale demokrasie aangebied. In sy perfekte wêreld sal meer lande in Asië, die Midde-Ooste, Afrika en Suid-Amerika eerder China se eenparty- outoritêre ontwikkelingstaatmodel volg. Xi het ʼn groot afkeer in die VSA en die Weste in die algemeen.

Die afgelope drie dekades het die Kommunistiese Party van China in ʼn ruilverhouding met sy burgers getree. In ruil vir politieke vryheid het honderde miljoene Chinese ekonomiese bemagtiging ontvang en is ʼn groot middelklas ontwikkel. Die Chinese ekonomiese suksesverhaal van die afgelope paar dekades is grootliks gebou op massaproduksie vir uitvoere na die res van die wêreld, asook die grootste eiendomsontwikkeling in die wêreld wat weer deur grootskaalse verstedeliking meegebring is. Ernstige vrae heers tans oor of die ekonomiese sukses volgehou kan word met die Chinese ekonomie wat onlangs, ná streng inperkingsmaatreëls, begin krimp het.

Pres. Joe Biden en pres. Xi Jinping (Foto MANDEL NGAN/AFP)

Dit is duidelik dat die Weste ná die Tiananmen-plein-slagting naïef was oor die rigting wat China uiteindelik sou inslaan. Vir lank is Chinese wisselkoersmanipulasie, die onderdrukking van minderhede, algemene menseregtevergrype, enorme omgewingsbesoedeling, die afwesigheid van maatreëls om werkers te beskerm en China se wêreldwye strewe onderskat. Die res van die wêreld het die Tiananmen-plein-slagting veroordeel, maar gehoop China sal een of ander tyd tot politieke hervorming oorgaan.

China se minister van buitelandse sake, Wang Yi, het verlede week tien kleiner eilandnasies in die Stille Oseaan-gebied besoek met groot beloftes van Chinese belegging indien hierdie lande sou instem om ʼn handel- en veiligheidsooreenkoms met China te onderteken. Die meeste lande, tans bondgenote van die Weste, is egter nog skugter hiervoor.

China se invloed in talle lande in Asië, die Midde-Ooste, Afrika en Suid-Amerika het die afgelope twee dekades toegeneem weens Chinese infrastruktuurprojekte, lenings en beleggings wat byna altyd met Chinese eise oor spesifieke teenprestasies gepaardgaan.

Drie-en-dertig jaar ná die Tiananmen-plein-slagting is dit duidelik dat China nie binnekort politieke hervorming gaan voorstaan nie, maar dat China eerder ʼn toenemend aggressiewe wêreldwye rolspeler gaan word. Die Weste sal strategies moet optree om nie soos met Rusland, wat sy oorlog in Oekraïne uit gasverkope aan Wes-Europa finansier, met die broek op die knieë gevang te word nie.

Die afgelope week het verskeie Amerikaanse senatore, Republikeine en Demokrate, ʼn brief aan president Biden gerig om nie met sy beplande uitfasering van invoertariewe op Chinese produkte voort te gaan nie. Die invoertariewe is enkele jare gelede deur Donald Trump ingestel, juis weens China se manipulering van internasionale handel en die land se menseregte- en omgewingsrekord.

Indien demokratiese lande China se groeiende wêreldwye invloed wil beperk, sal hulle eers China se ekonomiese invloed aan bande moet lê. Dit begin by strafmaatreëls soos invoertariewe, maar vereis ook breë alliansies op elke kontinent en ʼn toegewyde betrokkenheid by veiligheidsvraagstukke in Asië.

Mali raak fokuspunt van krisis in Sahel

(Foto: AP)

Die militêre regering in Mali wat byna twee jaar gelede ná ’n staatsgreep aan bewind gekom het, het die afgelope week bekendgemaak dat hulle eers teen Maart 2024 gereed sal wees om ’n demokratiese verkiesing in dié land te hou. Dit volg op onderhandelinge met die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (ECOWAS) oor die opskorting van sanksies teen Mali.

ECOWAS het in Januarie vanjaar sanksies teen Mali ingestel toe die militêre regering nie by sy onderneming gehou het om teen Februarie vanjaar ’n demokratiese verkiesing te hou nie. Mali is reeds uit ECOWAS en die Afrika-unie geskors.

Die staatshoofde van Wes-Afrika-lande het verlede naweek in Accra, Ghana, vergader om die situasie in Mali te bespreek. Ook op die agenda was die militêre regerings in Burkina Faso en Guinee wat ook voete sleep om demokratiese verkiesings te hou. Dié twee lande het verlede jaar militêre staatsgrepe deurgemaak.

Die voormalige Nigeriese president Goodluck Jonathan probeer tans namens die Afrika-unie met die militêre regering van Mali onderhandel. ECOWAS se vyftien lidlande het ’n groot mate van ekonomiese integrasie, en die huidige krisis in Mali, en tot ’n mindere mate in Burkina Faso en Guinee, skep ernstige ekonomiese uitdagings.

Mali se bates by die Sentrale Bank van Wes-Afrika-state is tans bevries en dit belemmer humanitêre projekte in die land. Mali se ekonomie het sedert 2020 groot skade gely weens sanksies en ’n afname in uitvoere.

Mali se ekonomie is afhanklik van die uitvoere van landbou- en mynbouprodukte, veral na ander lande in Afrika. Die land funksioneer egter meer en meer in isolasie, en weens die afwesigheid van ’n bekwame regering in Bamako en groot onsekerheid oor die toekoms van die land het baie buitelandse maatskappye ook uit Mali onttrek.

Die humanitêre krisis in die land is besig om te verdiep, en volgens die Verenigde Nasies is die hongersnood in Mali tans die ergste sedert 2013 toe daar ook ’n politieke krisis geheers het. Die voortslepende uitdaging met Islamitiese terreur dra by tot die humanitêre krisis, met 350 000 mense wat verlede jaar uit geweldgeteisterde gebiede, veral in die noorde van Mali, gevlug het.

Die regering van Mali het oor die afgelope twee dekades sterk bande met die Weste en veral die VSA en Frankryk gebou. Nadat ’n opstand in 2012 in die noorde van Mali ontstaan het, het Frankryk soldate na Mali gestuur. Die afgelope dekade was Frankryk, die VSA en ander Westerse lande almal betrokke by die stryd teen Islamitiese terreur in Mali.

Sedert die staatsgreep in 2020 het die verhouding tussen Mali en die Weste egter skipbreuk begin ly, en Frankryk het verlede jaar die onttrekking van sy 5 000 soldate uit Mali aangekondig. Intussen het die militêre regering een of ander ooreenkoms met Rusland bereik, en die uiters berugte Wagner-groep uit Rusland het intussen ’n paar honderd lede in Mali ontplooi.

isis terreur

Argieffoto.

Terreurgroepe wat bande met die Islamitiese Staat en Al-Kaïda het, floreer tans in Mali. Aanvalle word veral in die noorde, maar toenemend ook in die res van die land en in die meer digbevolkte suidweste, op gemeenskappe uitgevoer wat hulle nie aan die terreurgroepe wil onderwerp nie.

Dit is ironies genoeg Mali wat in 2017 die inisiatief geneem het om saam met nog vier Wes-Afrika-lande die sogenaamde G5-Sahel- gesamentlike mag op die been te bring om Islamitiese terreur in die Sahel te bestry. Dié mag het toe nog 55 000 soldate gehad. Vandag is die stryd teen Islamitiese terreur met die G5-Sahelgroep wat grootliks disfunksioneel is, en Westerse magte wat uit Mali begin onttrek het, ’n verloorstryd.

Die gevolg is dat Mali besig is om die sentrum vir Islamitiese terreurgroepe in die Sahel te word. Duisende jong mans word deur die groepe as vegters gewerf. Kommer by die Afrika-unie en ECOWAS is dat die terreurnetwerk in Mali uiteindelik die groter streek nog verder kan destabiliseer. Aanvalle deur Islamitiese terreurgroepe het die afgelope twee jaar reeds in meer as tien lande in die Sahel en Wes-Afrika plaasgevind.

Dit is daarom noodsaaklik dat ’n stabiele regering in Mali gevestig moet word en dat dié land se politieke en ekonomiese probleme hanteer moet word. Indien dit nie gebeur nie, sal die stryd teen terreur in ’n groot deel van Afrika misluk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Groen Ghoen ·

China en Amerika is soos ‘n Siamese tweeling verbind. Amerika druk fabelagtige bedrae Dollars en betaal daarmee vir China om goedkoop produkte te produseer. China neem hierdie Dollars en koop weer daarmee Amerikaanse beleggingsinstrumente. Dit is ‘n sirkel van skuld en papierbates. Intussen gebeur die hoogste Amerikaanse inflasie in veertig jare. Beide Amerika en China weet dat die kaartehuis enige oomblik kan intuimel. Wie gaan oorbly?

Dries ·

Dit is n kwessie van tyd of China beheer SA. ANC is klaar in hulle hande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.