Internasionale oorsig: Demokrate beheer nou federale regering in VSA

Pres. Donald Trump. Foto: REUTERS/Carlos Barria

Die Republikeinse Party en president Donald Trump het Dinsdag ’n lelike loesing gekry toe beide sittende Republikeinse senatore van Georgia deur kiesers in dié suidelike deelstaat uitgestem is. Met twee nuwe Demokrate in die senaat sal die Demokrate ná die inhuldiging van Joe Biden as nuwe Amerikaanse president die Withuis, die huis van verteenwoordigers en die senaat beheer. Dit was laas tussen 2010 en 2012 die geval.

Die Republikeine se loesing in Georgia volg op president Trump se voortslepende pogings om die verkiesingsuitslag van November se presidentsverkiesing te diskrediteer, en pogings deur homself en nog Republikeine om die uitslag om te keer. ’n Telefoonoproep tussen president Trump en die staatsekretaris van Georgia, wat onlangs in die media uitgelek het, het ook die afgelope tyd tot groot omstredenheid gelei nadat Trump die Republikeinse staatsekretaris versoek het om die nodige stemme te vind sodat die uitslag in Georgia omgekeer kan word.

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Daar is reeds versoeke dat Trump weer in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word weens die telefoonoproep. Daar kan verwag word dat die Demokrate ná Biden se inhuldiging met ’n ondersoek na Trump se optrede die afgelope paar weke sal begin en dat daar moontlik teen Trump en ander Republikeine opgetree sal word. Dit kan tot groot verdeeldheid binne die Republikeinse Party aanleiding gee.

Hierdie omstredenheid, gepaardgaande met die bewerings deur Trump dat die verkiesing gesteel is, het tot ’n laer stempersentasie onder meer konserwatiewe, plattelandse kiesers in Georgia aanleiding gegee. Die stempersentasie onder liberale voorstedelike en stedelike swart kiesers in Georgia was net so hoog soos in November.

Met beheer oor die huis van verteenwoordigers en ’n 50/50-verdeling in die senaat, wat weens ’n Demokratiese adjunkpresident op beheer vir die Demokrate in die senaat neerkom, sal Biden nou baie meer ruimte hê om ’n harder progressiewe beleidsraamwerk in werking te stel.

Nuwe streng inperkings in Brittanje, Duitsland

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Die Britse premier Boris Johnson het vroeër vandeesweek streng nuwe inperkingsmaatreëls aangekondig om die verspreiding van die koronavirus te probeer beperk. ’n Nasionale staat van inperking tot die middel van Februarie is in Brittanje ingestel.

Brittanje was een van die eerste lande ter wêreld wat met ’n nasionale inentingsprogram teen die virus begin het, en volgens Johnson sal die staat van inperking die regering kans gee om oor die volgende paar weke ’n groot deel van die mees weerlose deel van die Britse samelewing in te ent. Groot druk word deur sy kollegas in die Konserwatiewe Party toegepas om ’n afsnydatum vir inperkings daar te stel aangesien die Britse ekonomie groot skade ly weens die nuwe inperkings.

Hospitale in Brittanje verkeer onder groot druk om al die nuwe pasiënte te behandel, met nuwe daaglikse gevalle van die virus wat tot byna 60 000 gestyg het. Byna 80 000 mense in Brittanje is reeds weens Covid-19 dood en dié land het die negende hoogste sterftekoers per capita weens Covid-19.

Nog ’n land wat die afgelope paar weke baie swaar deur die verspreiding van die virus getref is, is Duitsland. Die Duitse kanselier Angela Merkel het Dinsdagaand aangekondig dat die streng inperkingsmaatreëls wat sedert die middel van Desember geld, tot 31 Januarie verleng gaan word.

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Meer as 10 000 nuwe gevalle is oor die afgelope paar dae daagliks in Duitsland aangemeld met sterftes wat tot byna 1 000 per dag gestyg het. Inwoners van sogenaamde brandpuntgebiede, wat een uit elke ses Duitse distrikte insluit, sal nie toegelaat word om sonder goeie rede verder as 15 kilometer vanaf hul huise te reis nie.

In ’n baie omstrede stap het die Duitse polisie die afgelope tyd toegeslaan op Christene wat met kerkdienste voortgegaan het. In een geval het meer as 100 Christene wat ’n kerkdiens bygewoon het, groot boetes gekry. Slegs 20 mense mag tans in Duitsland kerkdienste op een slag bywoon.

Verskeie lande in Asië, soos Japan en Thailand, het die afgelope week streng nuwe inperkingsmaatreëls ingestel. Die meeste lande sukkel nog om toegang tot entstowwe teen die koronavirus te kry. Veral lande met groot bejaarde bevolkings ervaar ’n hoë sterftekoers en probeer voorkeurtoegang tot entstowwe kry.

Tans is die tien lande met die hoogste sterftes per capita weens Covid-19 België, Slowenië, Bosnië-Herzegowina, Italië, Noord-Masedonië, Peru, Moldowa, Tsjeggië, die Verenigde Koninkryk, Bulgarye, Spanje, die VSA en Hongarye.

Brexit toe glad nie so ’n groot krisis

Argieffoto (Foto: CHRIS J RATCLIFFE / AFP)

Die Verenigde Koninkryk is weer sy eie baas. Die Britse premier Boris Johnson het op 1 Januarie met groot vreugde sy land as vry van die beperkings van die Europese Unie verklaar, maar het ook met groot moeite bevestig dat Brittanje altyd deel van Europa sal bly.

Al die geraas oor ekonomiese en ander chaos wat op 1 Januarie sou uitbreek, was duidelik verkeerd. Die finansiële sektor wat 7% van die Britse ekonomie uitmaak, het sedert die Brexit-referendum in 2016 duisende nuwe poste bygevoeg, wat in skrille kontras is met die voorspellings van groot werksverliese in dié bedryf.

Daar is tans vyf belangrike gevolge van Brittanje se uittrede uit die Europese Unie:

  1. Ekonomiese herskikking in Europa

Met die ondertekening van ’n handelsooreenkoms tussen die EU en Brittanje word ’n nuwe handelsbedeling in Europa ingelei. Die handelsooreenkoms is ’n belangrike oorwinning vir die Britte, met uiters gunstige bepalings wat duidelik beter is as die handelsbepalings wat die EU met ander Europese lande het wat nie deel van die EU is nie, soos Noorweë en Switserland. Die groot vraag is nou hoe suksesvol die Britte daarin gaan wees om nuwe handelsooreenkomste met, onder meer, die VSA, China en ander belangrike handelsvennote te sluit.

  1. Brittanje se rol in Europa

Brittanje is ’n onlosmaaklike deel van Europa, al is die land nie meer ’n lid van die Europese Unie nie. Met Brittanje, die tweede grootste ekonomie in Europa, se uittrede uit die EU raak dit ook moeiliker om van Europa en die EU as een en dieselfde ding te praat. Brittanje het steeds een van die sterkste weermagte ter wêreld en speel ’n belangrike rol in Navo. Op die terrein van Europa se verdediging, maar waarskynlik ook op verskeie ander terreine, sal die Britte steeds ’n rol wil speel om beleid in Europa te beïnvloed en om die toekomspad van Europa te help vorm. Presies hoe dit gaan werk, is ook nog onduidelik, maar dit sou ’n fout wees om te dink dat Brexit die einde van Brittanje se rol in Europa beteken.

  1. Brittanje se rol as globale moondheid buite die EU

Terwyl die Brittanje van vandag nie vergelyk kan word met die eens magtige Britse ryk wat die hele wêreld deur lande en kolonies beheer het nie, is Brittanje vandag steeds een van die belangrikste politieke, ekonomiese en militêre rolspelers ter wêreld.

Deel van die Britte se frustrasie die afgelope paar dekades met lidmaatskap van die EU was juis die feit dat soveel van Brittanje se globale invloed deur die kanale van die EU moes vloei en dat Brittanje daardeur tot ’n mate van sy eie globale invloed gestroop is. Die vraag is nou watter rol Brittanje oor die volgende paar jaar in die wêreld kan en wil speel en watter invloed dié land van buite die EU op globale instellings, konfliksituasies en verhoudinge kan uitoefen. Wat egter duidelik is, is dat die huidige Britse regering graag sal wil sien dat Brittanje weer op soveel as moontlik terreine van die globale verhoog sy eie stem vind.

  1. Transatlantiese verhoudinge

Die vraag waarop niemand nog tot dusver ’n antwoord het nie, is hoe die nuwe Biden-administrasie teenoor ’n onafhanklike Brittanje gaan optree. Talle senior benoemings in Biden se administrasie-in-wording was vier jaar gelede sterk teen Brexit gekant, en ’n mens kan verwag dat die onderhandeling van ’n nuwe handelsooreenkoms tussen die VSA en Brittanje moeiliker gaan wees as wat dit onder ’n Trump-administrasie sou wees.

Brittanje en die VSA het egter ’n sterk historiese band, baie sterker as dié tussen die VSA en kontinentale Europa, en ’n mens kan verwag dat ook Biden sal besef dat dit in die belang van die VSA is om die spesiale band met Brittanje in stand te hou. Dit sal egter op ’n manier moet geskied wat nie afbreuk doen aan Biden en die Demokrate se behoefte om bande met Europese lande soos Duitsland en Frankryk te herstel of te verbeter nie. Die vraag is dus of die VSA onder Biden sal moet kies tussen Brittanje en die EU as primêre transatlantiese vennoot en of daar ’n goue middeweg gevind kan word.

  1. Onafhanklikheidsbewegings in Skotland, Wallis en Noord-Ierland

Foto: Andy Buchanan/AFP

Steun vir Skotland se uittrede uit die Verenigde Koninkryk het die afgelope paar maande skerp toegeneem met sowat 55% van Skotte wat nou in die meeste peilings ten gunste van onafhanklikheid is. Dit is die hoogste steun vir onafhanklikheid in dekades. Een peiling verlede week toon 58% steun vir onafhanklikheid.

Die probleem vir die Skotte is dat hulle met die Skotse onafhanklikheidsreferendum van 2014 onderneem het dat dit ’n een-keer-in-ʼn-generasie-referendum sou wees. Terwyl die Skotse leiers nou redeneer dat die VK se uittrede uit die EU alles verander het, weier die Britse regering om weer ’n referendum uit te roep.

Die Skotte het min opsies tot hul beskikking. Hulle kan ’n niebindende referendum hou en daardeur probeer druk plaas op die Johnson-regering om self toestemming vir ’n bindende referendum te gee. Die ander alternatief is om wetgewing te laat verander waarvolgens die verhouding tussen Skotland en die VK gereguleer word, maar dit gaan ook moeilik wees.

Die Skotse premier, Nicola Sturgeon, wil met die komende Skotse verkiesing later vanjaar so ’n groot oorwinning vir haar Skotse Nasionale Party probeer bewerkstellig, dat Johnson onder openbare druk moet kom om wel ’n nuwe referendum goed te keur.

Intussen neem steun in Noord-Ierland, veral onder jongmense, ook toe vir die inlywing van Noord-Ierland by Ierland. Die Ierse eiland is sowat ’n eeu gelede verdeel ná Ierland se onafhanklikheid van Brittanje en die noordelike Britse setlaars se besluit om deel van die Verenigde Koninkryk te bly.

Hoewel dit onduidelik is presies hoeveel steun daarvoor bestaan en omdat die proses vir so ’n inlywing onseker is en daar ernstige politieke en veiligheidsrisiko’s kan ontstaan, met veral ouer Protestante in Noord-Ierland wat vir hul veiligheid vrees, is dit duidelik dat die meerderheid van mense in Noord-Ierland ook ontevrede is oor die VK se uittrede uit die EU.

Wêreldbank begin van verlore dekade praat

Die Wêreldbank se hoofkantoor in Washington D.C. Foto: Eric BARADA /AFP

In die Wêreldbank se nuutste Globale Ekonomiese Vooruitsig praat dié instelling van die 2020’s as ’n moontlike verlore dekade vir die wêreld. Die bank het in sy nuutste vooruitsig ekonomiese groeiverwagting vir die volgende paar jaar verder afwaarts aangepas soos wat groter onsekerheid heers oor hoe die pandemie wêreldwyd gaan uitspeel.

Die bank verwag nou dat die globale ekonomie vanjaar met 4% gaan groei nadat dit verlede jaar met 4,3% gekrimp het. Die nuwe voorspelling vir 2021 is 0,2% minder as die bank se vorige voorspelling. Die bank verwag nou dat die globale ekonomie tussen 2020 en 2029 met slegs 2,1% per jaar gemiddeld gaan groei en dat produktiwiteit met slegs 1,9% gaan toeneem. Dit is wesenlik laer as die vorige voorspelling wat in Julie 2020 gemaak is.

Die Wêreldbank verwag dat ontwikkelende lande se ekonomieë vanaf 2020 tot 2029 met slegs 3,3% per jaar gemiddeld gaan groei, wat 0,7% laer as die vorige voorspelling is. Die bank waarsku dat ’n gemiddelde groeikoers van 3,3% in hierdie lande heeltemal te min is om die reeds ernstige probleme van armoede en werkloosheid aan te pak.

Die bank verwag dat die Amerikaanse ekonomie vanjaar met 3,5% gaan groei. Die Eurosone se ekonomie sal met 3,6% groei. Albei is ook heelwat afwaarts aangepas. Die een uitsondering is China met die bank wat sy groeiverwagtinge vir China opwaarts aangepas het en nou verwag dat die Chinese ekonomie vanjaar met 7,9% gaan groei, nadat dit verlede jaar met 2% gegroei het.

Deurbraak in ooreenkoms tussen Golflande

Die Abu Samrah-grenspos tussen Katar en Saoedi-Arabië. Foto: KARIM JAAFAR/AFP)

Die afgelope vier jaar se geskil tussen Katar en ander Golflande, insluitende Saoedi-Arabië, Bahrein, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte, het uiteindelik tot ’n einde gekom met Katar se hertoelating tot die Samewerkende Raad van Golflande (GCC – Gulf Cooperation Council). Tydens ’n beraad van die Golflande die afgelope week in Saoedi-Arabië is die leiers van Katar met ope arms verwelkom nadat Saoedi-Arabië en die VAE ook hul lugruim en grense vir Katar heroopgestel het.

Die krisis tussen verskeie Golflande en Katar spruit uit bewerings dat Katar terreurgroepe soos die Moslem Broederskap sou ondersteun en dat dié land té noue bande met Iran, ’n Sjiitiese Moslemland en aartsvyand van die meeste Soenni- Arabiese lande, sou hê. In 2017 is ’n hele stel eise onder leiding van Saoedi-Arabië aan Katar gestel wat ingesluit het die sluiting van dié land se nuuskanaal, Al Jazeera, en die sluiting van ’n Turkse weermagbasis in Katar. Uiteindelik is vrede tussen die Golflande gesluit sonder dat Katar aan enige van die vereistes voldoen het.

Die ooreenkoms wat skielik aan die begin van Januarie gesluit is, is grootliks uit nood gebore, maar kom ook ná sterk intrede deur die Trump-administrasie wat graag ’n oplossing vir die geskil wou sien. Die VSA het ’n groot weermagbasis in Katar en dié land wil ook sien dat die Golflande verenig teen Iran optree. Koeweit het ook ’n belangrike rol in die onderhandeling van ’n skikkingsooreenkoms gespeel.

Verskeie Golflande is ernstig deur die globale ekonomiese krisis geraak, en lae olie- en gaspryse het hul inkomste baie nadelig geraak. Interne stryd in die streek kan dus tans nie geduld word nie, en hoewel Saoedi-Arabië graag wil sien dat verskeie Golf- en Arabiese lande in ’n front teen Turkye en Iran moet verenig, het dit meer sin gemaak om die geskil met Katar op te los. Daardeur het Saoedi-Arabië ook die guns van die Amerikaanse regering, hoewel dalk net tydelik, gewen. Baie vrae bestaan oor hoe die Biden-administrasie teen Saoedi-Arabië sal optree nadat die Trump-administrasie oor die afgelope vier jaar die VSA se reeds sterk bande met die Saoedi’s verder versterk het.

Verder is daar by baie Golflande ’n vrees dat die nuwe Biden-administrasie in die VSA redelik vinnig ’n nuwe ooreenkoms met Iran mag sluit waarvolgens sanksies teen Iran uitgefaseer kan word en verhoudinge tussen die Weste en Iran weer kan normaliseer. Die Golflande het ’n groot rol gespeel in president Trump se besluit ’n paar jaar gelede om uit die kernooreenkoms met Iran te tree en om sanksies teen Iran in te stel. Dié lande besef dat samewerking nodig is om Iran se invloed in die Midde-Ooste teen te werk.

Die ooreenkoms wat dus die afgelope week bereik is, gaan meer oor magsverhoudinge in die Midde-Ooste as oor ’n skielike nuwe liefde tussen Saoedi-Arabië en Katar. Intussen bevestig dit egter vrese in die Golfstreek dat Iran en Turkye beide hul invloed in die streek sal probeer uitbrei – iets waarteen die Golflande almal gekant is.

 

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Kom ons kyk hoe lyk Amerika oor 2-3 jaar, dan kan ‘n mens ‘n objektiewe mening uitspreek oor wie van Trump en Biden die beste is.

Hendrik

Ek kan nie glo dat VSA kiesers ook in die liberale strik gevang is nie . Die ekonomie het geweldig goed gedoen en daar was net ‘n 3% werkloosheidsyfer. Die res van die wereld het agter geraak en moes alles doen om die sukses te stop. VSA het die grootste bydrae gemaak by die Verenide Nasies (UN), by Navo en sterk ondersteuning gegee by die Suid Sjinese see waar Sjina sy spiere begin wys het. Trump het die Parys Energie Ooreenkoms se skyn uitgewys waar Sjina (wat 750 steenkool kragstasies het) die grootste besoedelaar in die wereld nie oor die… Lees meer »