Internasionale oorsig: Demokrate, Biden in die moeilikheid in VSA

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Peilings in die VSA wys dat pres. Joe Biden en die Demokratiese Party toenemend steun verloor en dat ʼn moeilike middeltermynverkiesing volgende jaar in November vir die Demokrate kan voorlê. Intussen kom die eerste toets egter reeds op 2 November vanjaar met die verkiesing van twee goewerneurs, onderskeidelik in New Jersey en Virginië.

Terwyl die Demokrate waarskynlik die verkiesing in New Jersey sal wen, sal die verkiesing in Virginië ʼn sterk aanduider wees van Biden en die Demokrate se vermoë om steeds verkiesings in deelstate wat slegs marginaal na hulle oorleun, te wen. Virginië was dekades lank ʼn betroubare Republikeinsgesinde deelstaat. In 2004 het George W Bush nog Virginië gewen.

Sedertdien het Virginië se kiesers egter in 2008, 2012, 2016 en 2020 in presidentsverkiesings die Demokrate se kandidaat gekies, en dié deelstaat het die afgelope agt jaar twee Demokrate as goewerneurs gehad terwyl albei senatore van Virginië Demokrate is. Dié deelstaat se wetgewer word ook deesdae deur die Demokrate beheer, nadat dit byna 100 jaar lank deur die Republikeine oorheers is. Die rede vir die groot verandering is die geweldige uitbreiding van voorstede van die Amerikaanse hoofstad Washington DC in Virginië en gevolglik ʼn groot instroming van liberale kiesers en immigrante na die noorde van Virginië.

In verlede jaar se presidentsverkiesing het Joe Biden 10% meer stemme as Donald Trump in Virginië gekry. Op 2 November moet dié deelstaat ʼn nuwe goewerneur verkies. Virginië is een van slegs enkele deelstate wat hulle goewerneurs tot slegs een termyn op ʼn slag beperk. Die Demokrate se kandidaat vir die verkiesing is Terry McAuliffe, wat ook van 2014 tot 2018 goewerneur was, en die Republikeine se kandidaat is Glenn Youngkin, ʼn sakeman sonder enige politieke ervaring.

Terwyl die meeste politieke kommentators in die VSA maande gelede reeds aanvaar het dat McAuliffe die verkiesing sal wen, het twee peilings die afgelope week gewys dat die twee kandidate presies ewe veel steun geniet. Die party wat sy kiesers in groter getalle kan motiveer om op 2 November te gaan stem, sal die goewerneursverkiesing wen.

Die gerespekteerde Cook Political Report het ook onlangs sy beoordeling van die Virginië-verkiesingstryd hersien en beskou dit nou as ʼn gelykop stryd. Peilings wys dat meer Amerikaners tans op nasionale vlak vir Republikeinse kandidate as vir Demokrate sal stem indien ʼn verkiesing sou plaasvind.

Veral ongeaffilieerde, gematigde kiesers in die VSA, van wie ʼn meerderheid verlede jaar vir Biden gestem het, toon tans ʼn groeiende afkeer van die Biden-administrasie se radikale agenda. Dit sluit groot nuwe regeringsprogramme in wat biljoene dollars gaan kos en die land se staatskuld dramaties gaan verhoog, terwyl belastingkoerse ook verhoog sal moet word. Twee Demokrate in die Senaat, Joe Manchin van Wes-Virginië en Kyrsten Sinema van Arizona, weier tans om die Biden-agenda van groter besteding, meer staatskuld en hoër belastings in die Senaat te ondersteun.

In drie peilings die afgelope week is meer kiesers ontevrede met Biden se werkprestasie as dié wat wel tevrede is. Republikeine is meer gemotiveerd om te stem as Demokrate, en Biden se ongewildheid en die groeiende verdeeldheid onder Demokrate in die Amerikaanse Kongres dra hiertoe by. Indien die tendens voortduur, kan die Republikeine in volgende jaar se middeltermynverkiesing weer beheer oor die Senaat en Huis van Verteenwoordigers oorneem. Die eerste toets sal egter op 2 November kom met die verkiesing in Virginië. Demokrate doen alles in hulle vermoë om die verkiesing te wen. Indien hulle verloor, sal dit ook ʼn groot nederlaag vir Biden en die party-apparatuur in Washington DC wees.

Weste stuur sterker waarskuwings aan China

Pres. Joe Biden (Foto: Getty Images via AFP)

Pres. Joe Biden het Donderdagaand tydens ʼn verskyning op CNN gesê dat die VSA Taiwan sal beskerm indien dié land deur China aangeval sou word. Biden se verbintenis tot die beskerming van Taiwan verteenwoordig wel ʼn verskuiwing in Amerikaanse beleid, hoewel sy personeel dit ná die televisieoptrede ontken het.

Die afgelope dekades probeer die VSA ʼn versigtige benadering jeens Taiwan volg deurdat Amerika voortdurend gevorderde wapentuig aan Taiwan verkoop sonder dat die Amerikaners Taiwan as ʼn volwaardige onafhanklike land erken. Die afgelope jaar of twee het die Chinese egter toenemend in retoriek en optrede meer aggressief in hulle benadering tot die Taiwan-kwessie geraak, wat Westerse lande noodsaak om hulle beleid te hersien. Die groot vraag wat tot dusver onbeantwoord gelaat is, is tot watter mate die VSA en ander Westerse lande Taiwan te hulp sou snel indien China sou besluit om Taiwan aan te val in ʼn poging om dié land te annekseer.

Hoewel dit onduidelik is of Biden by sy uitspraak van Donderdagaand sal staan, is dit egter duidelik dat daar in die Amerikaanse Kongres, onder Republikeine en gematigde Demokrate, groeiende steun vir ʼn hersiening van Amerika se beleid oor die Taiwan-vraagstuk moet wees en dat die VSA hom daartoe moet verbind om Taiwan direk te help beskerm.

Ook in Europa en by Navo is daar vrae oor hoe ʼn meer aggressiewe China hanteer moet word. Die vraag strek wyer as slegs die Taiwan-vraagstuk, maar hou ook verband met China se hantering van interne minderhede, sy hardhandige handelspraktyke, manipulerende ekonomiese beleid, geskille oor die beheer van die Suid-Chinese See en China se groeiende globale invloed.

In Europa het veral die Duitse kanselier, Angela Merkel, tot dusver voorkom dat ʼn baie sterker standpunt teen China ingeneem word. Daar is egter heelwat stemme in die drie partye wat besig is om vir ʼn nuwe koalisieregering in Duitsland te onderhandel, ten gunste daarvan dat Duitsland sterker standpunt teen China se toenemend aggressiewe benadering moet inneem.

Australië se uitbreiding van sy weermag en die ontwikkeling van ʼn kernaangedrewe vloot duikbote sluit ook hierby aan. Reeds sedert 2007 is daar groeiende veiligheidsamewerking tussen Australië, Japan en Indië in die Indo-Stille Oseaan-gebied en dit is duidelik dat hierdie alliansie die afgelope tyd wesenlik versterk is.

Terwyl die VSA en die Verenigde Koninkryk ook met hierdie driemanskap saamwerk, was daar die afgelope tyd heelwat gesprekke met lande soos die Filippyne, Indonesië, Viëtnam en Singapoer om strategiese veiligheidsamewerkingsooreenkomste te sluit.

Terwyl Navo en die meeste Europese lande nog sukkel om ʼn duidelike strategie vir ʼn meer selfversekerde en selfs aggressiewe China te probeer ontwikkel, is dit wel duidelik dat lande soos die Verenigde Koninkryk, die VSA en Australië ʼn benadering begin volg om China binne Asië te probeer isoleer.

Biden se uitsprake Donderdag en uitsprake van politieke leiers in verskeie Europese lande dui daarop dat die Weste egter deeglik besef dat konflik met China in die toekoms ʼn groter moontlikheid word. Hoewel almal dit graag sal wil vermy, moet daar wel oor so ʼn moontlikheid gepraat word en waar moontlik stappe gedoen word om dit te vermy.

Europa het energiekrisis self vererger

Foto: Pixabay

ʼn Ernstige energiekrisis is besig om in Europa te ontwikkel, met die Europese Kommissie wat waarsku dat miljoene mense in Europa dit nie sal kan bekostig om hulle huise in die komende winter te verhit nie. Die prys van aardgas het die afgelope 12 maande met meer as 500% in Europa gestyg en talle Europese lande is toenemend afhanklik van energie-invoere om aan huishoudings, sake-ondernemings en nywerhede se energiebehoeftes te voldoen. Die prys van aardgas vir lewering in November het oor die afgelope week met 18%, vanaf ʼn reeds hoë vlak, bly styg nadat Rusland aangedui het dat hulle nie meer gas as wat huidige kontrakte bepaal, kan lewer nie.

Dit is nie net die prys van gas nie, maar ook die pryse van olie, steenkool en ander energiebronne wat tans tot ʼn energiekrisis lei wat die hele wêreld, maar veral die Noordelike Halfrond, ernstig raak. In China word daar ook ʼn groot tekort aan steenkool, gas en olie ervaar om dié land se groeiende ekonomie aan die gang te hou. Dit het reeds tot laer ekonomiese groei aanleiding gegee en ernstige kommer heers oor wat die komende winter in China gaan gebeur.

Die styging in die koste van energie is egter die ergste in Europa. Europese lande het die afgelope paar jaar die strengste nuwe omgewingsmaatreëls ingestel wat gelei het tot die sluiting van steenkoolmyne en steenkoolkragstasies, die uitfasering van kernkrag in ʼn land soos Duitsland en ʼn groter fokus op wind- en sonkrag.

Dit is egter duidelik dat wind- en sonkrag slegs in ʼn klein segment van groot nywerheidslande soos Duitsland se energiebehoeftes kan voldoen en dat dit steeds ʼn wisselvallige bron van energie bied. Lande in Wes-Europa, veral Duitsland, word dus gedwing om meer geld aan onbetroubare wind- en sonkragprojekte te bestee, terwyl nog meer energie en energiebronne ingevoer moet word. Duitsland koop reeds elektrisiteit by buurlande aan, terwyl al hoe meer gas by Rusland aangekoop moet word.

Die een gevolg van Europese leiers se toegewings aan radikale klimaatsaktiviste is die huidige styging in energiepryse. Nog ʼn gevolg is dat ʼn land soos Duitsland, terwyl hy kernkrag uitfaseer en steenkoolmyne sluit, maar net meer energie en energiebronne moet invoer. Dit sluit in elektrisiteit wat in buurlande deur kernkrag opgewek word en steenkool van lande in Oos-Europa wat steeds in steenkoolkragstasies gebruik word. Dit kom neer op politieke huigelary in die naam van ʼn skyn-klimaatsagenda.

Terwyl die Europese Unie en veral Wes-Europese lande die stryd teen klimaatsverandering probeer prioritiseer, kan die huidige globale energie-uitdagings hierdie stryd egter vir eers oorskadu. Die Verenigde Nasies se konferensie oor klimaatsverandering begin op 31 Oktober in Glasgow in Skotland en dit is juis lande in Europa wat die meeste klem op klimaatsverandering en die noodsaak vir alternatiewe energie probeer plaas.

Daar is egter ʼn groot gaping tussen drome en ideale oor alternatiewe energie en die stryd teen klimaatsverandering en die globale ekonomie se huidige energiebehoeftes. Stygende energiepryse, tekorte aan brandstof, gas en elektrisiteit en die politieke, maatskaplike en ekonomiese gevolge hiervan bied tans ʼn enorme globale uitdaging wat eers hanteer sal moet word.

Terwyl die omgewing aktief bewaar en omgewingsbesoedeling beveg moet word, is dit nodig dat Europese lande wegskram van populistiese  omgewingspolitiek en meer volhoubare oplossings vir klimaatsverandering probeer skep. Die ontwikkeling van alternatiewe energiebronne is net een deel van die antwoord en kan, soos wat die huidige energiekrisis bewys, nie die volle antwoord wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

groenboer ·

Ja, nou gaan die Europeërs maar uit ondervinding leer om twee keer te dink voor hulle hul ore uitleen aan die groenes. Die onsinnige Parys-verdrag bereik heeltemal niks vir die omgewing of klimaat nie. Al wat hy wel bereik is om ‘n energiekrisis te ontketen, en ekonomiese groei aan bande te lê.

Dirk Mostert ·

Biden: “All is not over until the last vote is counted”. Energie-krisis: Uiteindelik begin die wereld agterkom dat son- en windkrag onbetroubaar is. Die veldtog teen fossielbrandstowwe is ‘n reuse Ponzi-skema. Sekere vervaardigers skep triljoene dollars. Die wetenskap van aardverwarming is vals. Klimaatsverandering geskied al vir duisende miljoene jare sonder enige invloed van homo sapiens en sy voorgangers.

Hendrik ·

Ongelukkig is basis krag nodig en dit beteken groot kragstasies. Ek reken dat in die nabye toekoms dat elke huishouding maar sy eie krag moet opwek en dat die stabiele basiskrag net vir nywerhede, hospitale ens bedoel is. Niks verhoed om die basiskrag aan te vul met groenkrag nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.