Internasionale oorsig: Desperate poging van Merkel om haar party te red

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber/AP)

Angela Merkel, Duitse bondskanselier, het Dinsdag in haar laaste toespraak in die Duitse federale parlement ʼn byna desperate beroep op Duitse kiesers gedoen om vir haar party te stem. Dit volg nadat Merkel haarself die afgelope weke grootliks daarvan weerhou het om deel van haar party se verkiesingsveldtog te wees. Duitse kiesers gaan op 26 September na die stembus, maar daar word verwag dat byna die helfte van alle kiesers van posstemme gebruik sal maak en dat baie van hierdie stemme reeds uitgebring is.

Merkel is die eerste Duitse bondskanselier sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog wat haar posisie vrywillig opgee om na sestien jaar in dié magtige posisie af te tree. Hoewel Merkel steeds baie gewild onder Duitsers is, het sy die afgelope weke gewoon met haar werk aangegaan terwyl haar party se steunvlakke in peilings dramaties getuimel het. Merkel se Christen-Demokratiese Unie (CDU), saam met die deelstaat Beiere se Christen-Sosiale Unie (CSU), was vir vyf van die afgelope sewe dekades in Duitsland aan bewind. Die afgelope week het die party se steun tot net meer as 20% gedaal, wat die laagste vlak van steun vir dié party is sedert die einde van die oorlog.

Hoewel Merkel saam met Konrad Adenauer en Helmut Kohl as die CDU se drie groot kanseliers van die afgelope sewe dekades beskou word, kan ʼn vernederende loesing by die stembus haar nalatenskap groot skade berokken. Merkel het vir die grootste deel van die afgelope sestien jaar stabiele koalisieregerings gelei, eers saam met die vryemarkgesinde Vrye Demokratiese Party en daarna saam met die sentrumlinkse Sosiaal-Demokratiese Party (SPD). Die persepsie is hierdeur verskerp dat ʼn meerderheid Duitsers Merkel se sentristiese politiek direk aan regerings koppel wat deur die CDU gelei word en dat kiesers in vanjaar se verkiesing dus juis vir kontinuïteit sal stem, asook dat Merkel se opvolger as leier van die CDU, Armin Laschet, die volgende kanselier van Duitsland sal word.

Angela Merkel en Olaf Scholz. (Foto: Michael Sohn, AP)

Dit lyk nou egter toenemend dat die CDU die verkiesing oor twee weke gaan verloor en dat die Sosiale Demokrate se leier en Merkel se adjunk in die huidige koalisieregering, Olaf Scholz, die volgende kanselier sal word. In Dinsdag se toespraak het Merkel gewaarsku dat ʼn oorwinning vir Scholz se party tot ʼn linkse regering in Duitsland aanleiding kan gee.

Indien die CDU die verkiesing sou verloor, sal dit nie net beteken dat Duitse kiesers vir ʼn meer linkse regering gekies het nie, maar ook dat hulle gekies het om van die Merkel-leer van Duitse politiek weg te stap. Merkel sal daardeur vir altyd onthou word as die gewilde kanselier onder wie se leiding haar party sy grootste verkiesingsnederlaag ooit gely het.

Daar is egter geen aanduiding dat Duitse kiesers tans na Merkel luister nie. Meer as 40% van Duitsers sê dat Scholz hulle eerste keuse vir bondskanselier is. Selfs die onervare leier van die Groenparty, Annalena Baerbock, geniet meer steun as die CDU se Laschet. Die afgelope week het Scholz se SPD in elke peiling tussen 25% en 26% van die steun geniet. Die CDU het na tussen 20% en 23% teruggesak, gevolg deur die Groenparty op 15% tot 17%.

Die uitslag van vanjaar se verkiesing kan heelwat eerstes insluit. Een daarvan is dat die CDU die swakste stempersentasie nog ooit kan behaal. ʼn Tweede belangrike punt is egter dat die party wat die verkiesing gaan wen, heel moontlik ook die wenparty met die laagste stempersentasie van die afgelope sewe dekades sal wees. Die party wat in Duitse verkiesings eerste eindig, kry gewoonlik tussen 30% en 45% van die steun.

Indien die huidige tendens sou voortduur en die SPD die eerste plek behaal met 25% of 26% van die stemme, sal die party nie net met die Groenparty, blykbaar sy voorkeurkeuse, in koalisie kan gaan nie, maar sal ʼn derde party ook betrek moet word. Die klassiek-liberale FDP sal ʼn veilige keuse wees, maar die FDP het beleidsgewys baie min met die SPD en die Groenes in gemeen. Die volgende keuse sal die oud-kommunistiese Linke-party wees wat tot die mees linkse koalisieregering ooit in Duitsland aanleiding kan gee.

Armin Laschet. (Foto: Bernd von Jutrczenka/POOL/AFP)

Waarmee Merkel en Laschet heeltemal korrek is, is dat ʼn nederlaag vir die CDU tot ʼn veel linkser regering aanleiding sal gee. Scholz verteenwoordig ʼn redelik gematig-linkse deel van die SPD, maar baie van die senior leiers in die party, wat in ʼn Scholz-regering as kabinetsministers sal dien, is baie verder na links op die ideologiese spektrum. Scholz is in daardie opsig oneerlik om te beweer dat ʼn regering onder sy leiding ʼn voortsetting van die Merkel-leer sal behels. Sou die Groenparty, en in die mees onwaarskynlike geval die Linke-party, by ʼn regering betrek word, kan ʼn uiters linkse regering moontlik wees wat Duitse politiek drasties gaan verander.

Die vraag is of genoeg kiesers wat nog nie gestem het nie deur Merkel en Laschet oortuig kan word dat, ten spyte van persoonlike voorkeure, dit in Duitsland se belang is om vir die CDU/CSU te stem. Indien nie, sal Duitsland sonder twyfel van die Merkel-leer van die afgelope paar jaar wegstap en kan Merkel se nalatenskap een van persoonlike sukses ten koste van haar party en van sentristiese beleid in Duitsland word. Dit is wat sy wil verhoed en dit is waarom sy op vreemde wyse bereid was om die afgelope week selfs in die parlement ʼn hou of twee na haar koalisievennoot, die SPD, in te kry. As daar een mens is wat die verkiesingsuitslag nog in die guns van die CDU kan swaai, is dit Merkel. Tot watter mate sy haar laaste dae in die kanselierskantoor hiervoor gaan gebruik, bly egter onseker.

Staatsgreep in Guinee, buitelandse betrokkenheid en verval van demokrasie in Wes-Afrika

‘n Banier van lt.kol. Mamady Doumbouya. (Foto: JOHN WESSELS/AFP)

Militêre staatsgrepe is niks nuuts in Afrika nie. Lande in Wes-Afrika en in die Sahel-streek is veral die afgelope paar jaar voortdurend deur militêre staatsgrepe geraak. Die afgelope twee jaar was daar militêre staatsgrepe in Tsjad, Mali en nou in Guinee.

Guinee is ʼn klein landjie van net meer as 10 miljoen inwoners en geografies so groot soos Brittanje. Tog het verlede Sondag se staatsgreep daar skokgolwe uitgestuur, terwyl buitelandse moondhede moes skarrel om hulle belange in dié land te beskerm. Die groter simboliek van die militêre staatsgreep is egter in die bevestiging van die onvermoë van ʼn hele streek in Wes- en Noord-Afrika wat strek van Guinee, Sierra Leone, Liberië en die Ivoorkus deur Burkina Faso, Mali, Niger tot by Tsjad om stabiele, demokratiese regerings te vestig.

Daar is tans min stabiele demokrasieë in die streek. Volgens die Africa Country Benchmark Report is Ghana die enigste land uit die streek wat deel uitmaak van die toptien- stabiele demokrasieë in Afrika. Die ander lande is die afgelope dekades gekenmerk deur burgeroorloë, staatsgrepe, outoritêre regerings en gevolglik korrupsie, wanadministrasie, armoede en onderontwikkeling.

Terwyl Guinee oor die mynbouhulpbronne, landbougrond, klimaat en toerismepotensiaal beskik om een van die rykste lande in Afrika te wees, is dit een van die armste, mees onderontwikkelde lande op die kontinent en in die wêreld. Die lewensverwagting in Guinee is skaars meer as 50 jaar en die gemiddelde jaarlikse inkomste van die burgers van Guinee is skaars meer as 800 dollar per jaar, of sowat R1 000 per maand.

Guinee, soos talle ander lande in Afrika, word deur etniese verdeeldheid en geweld gekenmerk. Dekades se stryd tussen die Fula (grootste) en Maninka (tweede grootste) etniese groepe het tot voortslepende geweld aanleiding gegee.

In 2010 is Alpha Condé, ʼn bekwame politikus wat sy hoërskoolopleiding en naskoolse opleiding in Frankryk ontvang het, tot president van Guinee verkies. Hy het daarmee die eerste president van Guinee geword wat in ʼn waarlik vrye en regverdige demokratiese verkiesing verkies is. Sy verkiesing sou ʼn nuwe era inlei vir dié land wat onder dekades se konflik gebuk gegaan het.

In 2015 is hy gemaklik herverkies, maar toe verander hy die grondwet om vir ʼn derde termyn as president te staan. In verlede jaar se verkiesing is Condé in ʼn betwiste verkiesing herverkies. Talle mense is in aanloop tot die verkiesing in geweld dood.

Pres. Alpha Condé. (Foto: JOHN WESSELS/AFP)

Verlede naweek se staatsgreep is ʼn direkte gevolg van Condé se onwilligheid om ná twee termyne uit te tree en daarmee saam die demokrasie in Guinee in stand te hou, maar is ook ʼn gevolg van die voortdurende stryd tussen Guinee se grootste etniese groepe. Daarmee bevestig dit die onvermoë van lande in die streek om die proses van demokratisering vol te hou. Die rol van etniese verskille is ook weer beklemtoon.

Luitenant-kolonel Mamady Doumbouya, bevelvoerder van Guinee se spesiale magte, het die staatsgreeppoging gelei en het intussen belowe dat ʼn demokratiese regering oor die volgende 18 maande weer in Guinee ingestel sal word. Intussen is dit egter duidelik dat leiers van die Fula-etniese groep agter die staatsgreeppoging gesit het en dat die kanse vir etniese geweld oor die volgende maande eerder sal toeneem.

Guinee is een van die mineraalrykste lande in Afrika. Dit is die wêreld se grootste produsent van bauxiet, ‘n amorfe kleigrond wat die belangrikste kommersiële grondstof in die vervaardiging van aluminium is. Bauxiet bestaan hoofsaaklik uit gehidreerde alumina met wisselende hoeveelhede ysteroksiede. Guinee is die grootste produsent van bauxiet, gevolg deur Australië.

Rusland se aluminiumvervaardigingsmaatskappy, Rusal, een van die grootste ter wêreld, het tans drie bauxiet-myne in Guinee, asook ʼn groot alumina-raffinadery. China het die afgelope jaar sy invoere van bauxiet drasties verhoog en verlede jaar is byna 50% van die bauxiet wat in China gebruik is, vanuit Guinee ingevoer. Die een rede hiervoor was die geskil tussen China en Australië, maar verder wil China homself ook as die invloedrykste buitelandse mag in Wes-Afrika probeer vestig. In daardie opsig ding hy met Rusland, Frankryk, Brittanje en die VSA mee.

Die prys van aluminium het Maandag op die Londense aandelebeurs tot die hoogste vlak in tien jaar gestyg uit vrees dat die staatsgreep tot ʼn tekort aan bauxiet kan lei. Dit is glo veral Rusland en China wat bekommerd is oor hulle enorme aluminiumvervaardigingsbedrywe.

Die gebeure in Guinee, ʼn land waarvan die meeste van ons min, indien ooit, kennis neem, bevestig die voortdurende politieke onstabiliteit in ʼn groot deel van Afrika en die gevolge daarvan vir die res van die wêreld.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Die Christen-benaming van Merkel se party is bloot skyn. Merkel was meer besorg oor die oorlewing van Moslems in ander lande as haar eie mense se welstand. Dit is dalk juis dié aspek wat haar gewildheid gekelder het…. en Duitsland dalk permanent kan skaad.

Pieter ·

Bauxite. Lyk vir my dit is waaroor beheer in Guinee gaan. Russe en Chinese se vodka mix. Die grondwetkwessie is net windowdressing.

groenboer ·

Minerale rykdom is ‘n vervloeking vir omtrent elke land wat dit besit.

Vrijburger ·

Etnisiteit – die vloek van Afrika wat maar bly kopuitsteek.

“Scholz is in daardie opsig oneerlik om te beweer…………” hie-hie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.