Internasionale oorsig: Die lelike gesig van kwynende kommunisme in Kuba

Kubane betoog Saterdag ter ondersteuning van die regering van pres. Miguel Diaz-Canel in Havana. (Foto: Yamil Lage/AFP)

Daar woed sedert verlede naweek die grootste teenregeringsbetogings in dekades in Kuba. Dit is selfs groter as die betogings in die middel 1990’s toe dié land ná die val van die Sowjetunie groot ekonomiese probleme ervaar het. Die betogings is ook weens ekonomiese probleme, en hoewel die huidige ekonomiese uitdagings in Kuba nie so erg soos in 1994 en 1995 is nie, is dit duidelik dat die omvang van ʼn afkeer van dié land se kommunistiese regering groter as ooit vantevore is.

Kuba ervaar tans ʼn tekort aan voedsel, mediese toerusting, brandstof en ander basiese benodigdhede weens die ergste ekonomiese probleme in meer as twee dekades. Terwyl toerisme jaarliks vir 10% van die land se inkomste sorg, sorg dit ook vir ʼn veel groter deel van die buitelandse valuta wat gebruik word om noodsaaklike produkte in te voer. Die enorme terugslag wat die toerismebedryf verlede jaar ervaar het, het grootliks tot dié probleem bygedra.

Die probleme in Kuba is egter groter en dieper as net die ekonomiese gevolge van die pandemie. Die strukturele probleme van lae investering, lae produktiwiteit, enorme verlies aan vaardighede weens emigrasie, vervallende infrastruktuur en ʼn algemeen niemededingende ekonomie wat deur kommunisme in Kuba veroorsaak is, dryf dié land se mense tot desperaatheid.

Die Kubaanse ekonomie is nie net afhanklik van toerisme-inkomste veral uit die VSA en Kanada nie, maar ook van veral Kubaanse Amerikaners wat maandeliks dollars na hulle arm families in Kuba stuur. Die Kubaanse regering het spesiale dollar-winkels opgerig waar slegs Amerikaanse dollars aanvaar word en waar pryse baie hoog is. Die regering neem al die winste van hierdie winkels vir homself. Verder is die Kubaanse regering se skema om sy eie gesondheidswerkers, veral dokters, aan ander lande uit te verhuur, bekend. Die dokters word nie veel betaal nie, maar oorsese regerings betaal die Kubaanse regering direk vir die gebruik van die dokters en so word buitelandse valuta verdien.

Kubane word grootgemaak om hulle regering te vrees en die meeste Kubane is bang om enigiets teen die regering te sê uit vrees vir oordadige optrede teen hulle. Tog het derduisende Kubane verlede naweek spontaan en met selfvertroue aan betogings deelgeneem. Dit is met krag, mag en geweld deur die regering onderdruk en selfs joernaliste is deur die veiligheidsmagte aangeval. Organiseerders van verlede naweek se betogings word steeds vermis.

Die kommunistiese regering is duidelik nie van plan om binnekort enige sinvolle politieke hervormings in werking te stel nie. Daar is breedweg dus slegs twee moontlike scenario’s wat oor die volgende paar jaar in Kuba gaan afspeel. Eerstens gaan die status quo behou word en sal die armoede en lyding net voortduur en selfs toeneem.

ʼn Tweede moontlikheid is dat ʼn rewolusie, gedryf deur mense in die Kubaanse weermag of selfs vanuit die regering self, die kommunistiese bewind tot ʼn einde bring. Die moontlikheid dat ʼn land soos Rusland of China betrokke sal raak om die kommunistiese bewind in Kuba by te staan, lyk onwaarskynlik, en die VSA gaan waarskynlik ook nie nou ingryp en weer by Kuba betrokke raak nie. Die mees waarskynlike uitkoms is dus volgehoue kommunisme en swaarkry en die onderdrukking van enige weerstand vanuit die burgery soos wat ons verlede naweek waargeneem het.

Amerikaanse ekonomie kook, maar gaan dit oorverhit?

Die Amerikaanse departement van arbeid het Dinsdag bekend gemaak dat die inflasiekoers in Junie tot 5,4% op ʼn jaar-tot-jaar-grondslag gestyg het. Dit is die hoogste inflasie in 13 jaar in die VSA. Die maand-tot-maand-styging in pryse was 0,9% tussen Mei en Junie – ook die hoogste in baie jare.

Die Biden-administrasie en die Federale Reserweraad het die afgelope tyd gesê dat hulle nie oor inflasie bekommerd is nie omdat hulle dit net as ʼn korttermynverskynsel beskou namate die vraag na produkte en dienste ná die pandemie gaandeweg herstel. Die vraag is egter vir hoe lank hulle hierdie standpunt sal kan voortsit indien inflasie nie binnekort begin daal nie.

Die Amerikaanse federale regering gaan vanjaar, net soos verlede jaar, ʼn begrotingstekort van minstens drie biljoen dollar hê. Reeds voor die pandemie het die Kongres se begrotingskantoor voorspel dat die Amerikaanse staatskuld vanjaar tot 102% sou styg. Daar word nou verwag dat dit heelwat meer sal wees.

Die Amerikaanse regering se buitelandse skuldlas het vanaf 2010 tot vanjaar met 500% tot 14 biljoen dollar gestyg. Dit is 67% van die VSA se bruto binnelandse produk. Indien rentekoerse sou begin styg, kan dit tot ʼn skerp ekonomiese afswaai aanleiding gee.

Die huidige inflasie in die VSA word onder meer deur ekonomiese groei gedryf. Daar word nou verwag dat die Amerikaanse ekonomie vanjaar met 7% sal groei, en aangesien werkloosheid daal, is daar ʼn skerp toename in die vraag na produkte en dienste. Terwyl die aanbod tydens die pandemie afgeneem het, beteken dit dat die pryse van alles, van huise en motors tot basiese produkte soos voedsel en brandstof, tans skerp styg.

Volgens die National Association of Realtors in die VSA het die gemiddelde huisprys reeds vanjaar met ʼn verbysterende 24% gestyg. Aangesien daar nie genoeg nuwe motors vervaardig kan word nie, is die prys van tweedehandse motors in die VSA ook skerp aan’t styg.

Amerika se staatskuld is nou die hoogste sedert die tydperk kort ná die Tweede Wêreldoorlog. Biden se regering het reeds biljoene dollars in die ekonomie ingepomp en hy wil nog twee biljoen dollar se infrastruktuurprojekte van stapel stuur, terwyl Republikeine in die Kongres wil hê dat dié bedrag heelwat minder moet wees.

Danksy groot uitbetalings aan alle Amerikaners in ʼn poging om ekonomiese herstel ná die pandemie aan te wakker, met ruim werkloosheidsvoordele en verskeie ander skemas om sake-ondernemings en mense wat tydens die pandemie skade gely het, te ondersteun, is daar tans soveel kontant in die Amerikaanse ekonomie beskikbaar dat die vraag na produkte en dienste die aanbod drasties bly oorskry.

Indien dit nie net bloot ʼn tydelike verskynsel is nie, kan dit die ekonomie laat oorverhit wat tot langdurige inflasie en gevolglik hoër rentekoerse kan lei. Indien die dollar versterk, kan dit heelwat ander lande se skuldprobleme ook laat vergroot en tot wêreldwye ekonomiese probleme lei.

Die vraag is of daar tans ʼn wêreldskuldkrisis aan’t opbou is. Vir die eerste keer sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog is al die regerings in die wêreld se skuld nou meer as die omvang van die wêreldekonomie. Terwyl wêreldstaatskuld voor die pandemie 88% van die wêreldwye BBP was, het dit intussen tot 105% gestyg, en daar word verwag dat dit vanjaar en selfs volgende jaar nog meer kan styg.

In die VSA is die verwagting dat huidige besteding nog meer gaan styg omdat verbruikers verlede jaar baie gespaar het.

Daar is tans 9,2 miljoen vakante poste in die Amerikaanse ekonomie en groot arbeidstekorte geld reeds in vervaardiging, kleinhandel, vervoer en landboubedrywe. Uurlikse salarisse en lone het ook die afgelope ses maande met meer as 5%, die meeste in baie jare, gestyg.

Hoewel dit alles goeie nuus vir ekonomiese groei en herstel is, moet die Amerikaanse regering bekommerd begin raak oor ʼn moontlik oorverhitte ekonomie. Die Amerikaanse staatskuld, veral buitelandse skuld, is ook onvolhoubaar.

Europese hof vir menseregte slaan weer toe

Die omstrede Europese hof vir menseregte het verlede week bevind dat Denemarke sy internasionale menseregteverpligtinge oortree het weens nuwe reëls wat dit vir vlugtelinge in dié land moeiliker maak om hulle families ook na Denemarke te bring. Die regering in Denemarke het in 2016 sy immigrasiewette gewysig waarvolgens vlugtelinge drie jaar moet wag voordat hulle kan eis dat familielede soos ʼn eggenoot of kinders na Denemarke gebring moet word.

Die Europese hof vir menseregte is berug daarvoor dat dié hof deur linkse regters oorheers word. Dié hof maak gereeld uitsprake teen lande soos Pole en Hongarye wanneer hierdie lande stappe doen om hulle eie bevolkings teen onder meer massa-immigrasie te beskerm. Denemarke is maar net die jongste slagoffer van dié hof in Straatsburg, Frankryk.

Denemarke se sentrumlinkse regering het die afgelope paar jaar strenger immigrasiewette begin instel. In Maart vanjaar het die Deense immigrasiekantoor ook, heeltemal korrek, bepaal dat Damaskus in Sirië veilig verklaar is vir vlugtelinge om daarheen terug te keer. Sedert 2019 is 254 asielsoekers in Denemarke reeds na Sirië teruggestuur.

In 2015 het byna twee miljoen onwettige immigrante Europa uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste binnegestroom, veral nadat die Duitse kanselier Angela Merkel uiters verwelkomend teenoor sogenaamde vlugtelinge opgetree het. Die oorgrote meerderheid van hierdie vlugtelinge was jong mans wat nou weier om na hulle lande van herkoms terug te keer.

Met die burgeroorlog in Sirië wat grootliks verby is, is die meeste dele van dié land tans veilig verklaar om na terug te keer. Die werklikheid is natuurlik dat die meeste sogenaamde vlugtelinge nie wil terugkeer nie en elke denkbare manier probeer vind om in Wes-Europa aan te bly. ʼn Wesenlike deel van die sogenaamde vlugtelinge is ook nie afkomstig uit oorloggeteisterde lande soos Sirië of Afganistan nie, maar kom uit Pakistan, Bangladesj, Ethiopië, Marokko en talle ander lande in die Midde-Ooste en Noord-Afrika.

Massa-immigrasie na Wes-Europese lande word in die naam van menseregte deur howe soos die Europese hof vir menseregte gedryf en het ʼn enorme uitwerking op die demografie van lande soos Duitsland, Frankryk, België, Nederland en Swede. Die regering in Denemarke probeer dit verhoed, en hoewel die land ʼn billike beleid vir asiel probeer toepas, probeer hulle keer dat geluksoekers uit Derdewêreldlande hulle land binnestroom.

Die regering in Denemarke het ook onlangs aangekondig dat hy ʼn asielsoekersentrum buite Denemarke gaan inrig waar mense wat om vlugtelingstatus in Denemarke wil aansoek doen, gehuisves kan word terwyl die aansoeke hanteer word. Australië volg reeds jare lank so ʼn beleid en dit werk uitstekend en ontmoedig ongeskoolde geluksoekers wat net van die welsynstaat en die voordele van vlugtelingstatus gebruik wil maak om uit hulle eie lande daarheen te vlug.

Daar is tans ʼn toename in Europese lande wat weier om die demografiese selfmoordbeleid wat deur die Europese Unie en sommige Europese leiers soos Merkel voorgestaan word, verder te duld. Dat dit ʼn linkse minderheidsregering in Denemarke is wat tot hierdie insig gekom het, en wat die steun van die meeste politieke partye in dié land vir ʼn baie strenger beleid oor immigrasie en vlugtelingstatus geniet, is verrassend en tekenend van ʼn gety wat begin draai.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Rian ·

Die berig aangaande Kuba is nie 100% akkuraat nie. Die oorsese regerings betaal nie die Kubaanse regering direk nie. Wat wel gebeur is dat enige Kubaan wat onder die sogenaamde collaboration ooreenkoms in n ander land werk, dieselfde salaris as hul eweknieë verdien maar dan verplig word deur die Kubaanse regering om 80٪ van dìe nabelaste salaris maandeliks aan die Kubaanse regering oor te betaal. Die werkers verdien dan uiteindelik maar slegs aalmoese. Sonder hierdie uitbuitery sal die Kubane oornag tot n val kom.

annie ·

En SA help so mooi saam om diè stelsel in Kuba in stand te hou terwyl die bloudruk bestudeer word om in te voer. Miskien moet ons terwyl die paleise nog daar pryk hul luukse voertye ook invoer vir ons toekomstige kommunistiese bestel. Die Ford-voertsek vol duike met afgeskuurde rooi verf is net reg vir ons volgende prez. Dalk is Cyril self so gelukkig om nog van ‘n tydjie in ‘n 1952-model te blink. Dankie tog vir SABC-state-tv wat die beautiful pics sal verewig. Waar sal ons dokters/ingenieur kan gaan werk vir hul aalmoese wanneer die tyd van voorspoed en vrede aanbreek, Malema?

Harley Davidson ·

Kuba het gelukkig nog Suid-Afrika wat hulle sal help om hul halfgeskoolde dokters ,ingenieurs ens top poste aan te bied ten nadeel van sa burgers.

Frik ·

“en die VSA gaan waarskynlik ook nie nou ingryp en weer by Kuba betrokke raak nie.”
Die VSA is nog die hele tyd betrokke danksy die wurggreep van sanksies. Ek is geen kommunis of liefhebber van Kuba se regering nie, maar dit is te maklik (gerieflik?) om die blaam altyd voor die deur van een party te lê terwyl ander sondebokke totaal en al geígnoreer word.

Fritz ·

‘n Koning sonder ‘n weermag is maar net ‘n mannetjie met ‘n snaakse hoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.