Internasionale oorsig: Dobbs-uitspraak se invloed op middeltermynverkiesing oorskat

Nancy Pelosi. Foto: (AP Photo/J. Scott Applewhite)

Die speaker van die Huis van Verteenwoordigers in die VSA, Nancy Pelosi, het met woede gereageer op die federale hooggeregshof se uitspraak in die saak Dobbs vs. Jackson Women’s Health Organization.

Terwyl ses van die nege regters van die hof bevind het dat die deelstaat Mississippi binne sy regte opgetree het om aborsies ná 15 weke van swangerskap te verbied, het vyf van die regters verder gegaan deur ook te bepaal dat daar geen federale grondwetlike reg tot aborsies in Amerika is nie. Daarmee het die regters die uitsprake van Roe vs. Wade in 1973 en Planned Parenthood vs. Casey in 1992, wat wel so ’n grondwetlike reg bevestig het, ongeldig verklaar.

Die uitspraak word reeds sedert Mei, toe die konsepuitspraak deur ’n werknemer van die hof aan die media uitgelek is, verwag. Tog het dit oor die afgelope week tot betogings reg oor die VSA en veral sterk politieke retoriek van Demokrate soos president Joe Biden, Pelosi en die meeste Demokrate in die Amerikaanse kongres gelei.

Die uitspraak verbied geensins aborsies nie. Dit behandel nie die vraag oor of aborsies reg of verkeerd is nie, maar dit gee wel die hof se antwoord op die vraag oor of daar ’n grondwetlike reg tot aborsies bestaan. Volgens die uitspraak was daar geen verwysing na ’n reg op aborsies in die Amerikaanse gewoontereg tot met die 1973-uitspraak nie, en daar is ook geen verwysing na aborsies in die Amerikaanse grondwet nie.

Elkeen van die vyftig deelstate sal nou self wette moet maak om aborsieregte te beperk, te reguleer en/of toe te staan. Dit beteken dat die vraag oor aborsieregte van die federale howe na deelstate teruggegee word en daarmee saam ook dat die kwessie van aborsieregte van ’n regsaangeleentheid na ’n politieke een verskuif. Aborsieregte in die VSA moet in die toekoms deur wetgewing en dus deur middel van politieke oortuiging bepaal word. Dit beteken natuurlik nie dat hofsake daaroor nie steeds, soos die afgelope paar dekades die geval was, sal voorkom nie.

Tydens haar mediakonferensie het Pelosi gesê dat Demokrate seker sal maak dat die hof se uitspraak in vanjaar se middeltermynverkiesing op 8 November deur kiesers beoordeel sal word. Sy en baie Demokrate is oortuig daarvan dat hulle aborsieregte, en die verlies van ’n federale grondwetlike reg tot aborsies, in November kan gebruik om stemme te werf.

Die afgelope paar maande loop die Demokrate redelik ver agter in die meeste peilings en byna elke betroubare politieke kenner en voorspeller in die VSA verwag dat die Republikeine beheer oor die Huis van Verteenwoordigers gaan neem en dat hulle ’n billike kans staan om ook beheer oor die senaat te verkry.

Amerikaners se huidige afkeer in die Demokrate hou verband met die skerp styging in lewenskoste in die VSA en ernstige vrese oor verdere ekonomiese probleme en selfs ’n ekonomiese afswaai en resessie. Daarmee saam beheer die Demokrate tans die Withuis en albei huise van die kongres, en het die party wat in beheer is, veral die dienende president se party, oor die afgelope dekades byna altyd setels tydens ’n middeltermynverkiesing verloor.

Demokrate is naïef, oordrewe opportunisties of oneerlik as hulle dink dat aborsieregte ’n wesenlike invloed op November se verkiesing gaan hê. Daar is vier redes waarom die federale hooggeregshof se uitspraak oor aborsies ’n baie beperkte invloed op die verkiesing behoort te hê.

Die eerste het te make met die ekonomie. In twaalf uit die laaste dertien verkiesings in die VSA (president- en middeltermynverkiesings) was die belangrikste saak vir kiesers die ekonomie. Slegs ’n oorlog waarby Amerika direk betrokke is, ernstige terreurbedreigings of wesenlike binnelandse krisisse veroorsaak soms dat kiesers enigiets anders as die ekonomie as die belangrikste politieke kwessie ag. Die VSA ervaar tans die hoogste inflasie in vier dekades en die kanse vir ’n resessie neem toe. Daar is dus baie redes waarom kiesers teen November eerder op ekonomiese kwessies gaan fokus wanneer hulle gaan stem.

Betogers voor die Amerikaanse hooggeregshof in Washington, D.C. (Foto: Jim WATSON/AFP)

Die tweede rede is die onderskeid tussen nasionale en plaaslike politieke aangeleenthede. Die hofuitspraak verlede Vrydag verskuif die debat oor aborsieregte na die vyftig deelstate se wetgewers. In baie wetgewers het wetgewing hieroor reeds die afgelope paar dae in werking getree. In Kalifornië is liberale wetgewing ingestel wat aborsies in byna enige geval toelaat, wat waarskynlik sal beteken dat dit vir inwoners van dié deelstaat teen November minder van ’n strydpunt sal wees. Dit is dus eerder die verkiesing vir lede van deelstate se wetgewers wat in die toekoms regtig deur die debat oor aborsieregte geraak sal word. Sou die Demokrate of Republikeine egter probeer om op federale vlak in die kongres wetgewing hieroor in te stel, kan die situasie verander, maar vir nou blyk dit nie of aborsieregte vir lank ’n algemene nasionale politieke strydpunt gaan bly nie.

Die derde rede hou verband met die soort kieser wat deur die hof se uitspraak gemotiveer sal word. ’n Groot meerderheid van Amerikaners het ’n gematigde standpunt oor aborsieregte en beskou dit in elk geval nie as ’n belangrike prioriteit nie. Die mees konserwatiewe (regse) en mees liberale (linkse) kiesers wat baie sterk oor die aangeleentheid voel, sou in elk geval vir hulle onderskeie partye gestem het.

Laastens is dit belangrik om te besef dat die stempersentasie in ʼn middeltermynverkiesing baie laer as tydens die vierjaarlikse presidentsverkiesings is. Hoewel Demokrate nou hoop dat die aborsie-uitspraak meer entoesiasme onder liberale Amerikaners sal losmaak om November te gaan stem, is dit eerder die tipiese konserwatiewe kiesers wat in middeltermynverkiesings lojaal gaan stem. Met vrese vir ernstige ekonomiese probleme gaan hierdie kiesers waarskynlik steeds in November in groter getalle stem eerder as jong, stedelike kiesers wat tipies vir die Demokrate stem.

Die vraag oor aborsieregte het die afgelope 49 jaar die VSA ernstig verdeel. Die verdeeldheid is nie verby nie. Die hofuitspraak het egter die vraagstuk hieroor na die demokratiese speelveld verskuif. Hoewel dit voortaan deur politici eerder as regters beslis gaan word, moet ’n mens nie verwag dat dit tegelykertyd tot die belangrikste politieke kwessie verhef gaan word nie.

Studie toon dat natuurlike immuniteit die beste is

Dr. Marty Makary (Foto: Twitter)

Volgens die bevindings van ʼn nuwe studie wat pas in The New England Journal of Medicine verskyn het, bied natuurlike immuniteit beter beskerming teen Covid-19 as wat veelvuldige dosisse entstof teen die virus bied.

Dr. Marty Makary van die John Hopkins- mediese universiteit in Maryland in die VSA sê dat die studie bevind het dat ʼn immuunreaksie ná ʼn Covid-19-infeksie beter beskerming as ʼn tweede dosis entstof teen die virus bied.

Die studie het ook bevind dat beskerming teen herinfeksie by alle persone wat Covid-19 opgedoen het, afneem, of hulle met een of twee dosisse entstof ingeënt is, of glad nie. Die navorsers kom dus tot die gevolgtrekking dat entstowwe nie immuniteit teen die virus ná infeksie verleng nie.

Prof. Martin Kulldorff, ʼn voormalige dosent aan die Harvard-universiteit, het die afgelope week gesê dat hierdie studie nou die soveelste studie vanjaar is wat bewys dat dit onnodig was om verpligte inenting by talle instellings wêreldwyd in te stel. Kulldorff het hom reeds twee jaar gelede daarvoor beywer om regerings aan te moedig om weerlose mense te beskerm, terwyl gesonde mense toegelaat moes word om wel met Covid-19 besmet te word. Terwyl sy standpunt in daardie stadium omstrede was, het die omikronvariant van Covid-19, wat matiger simptome veroorsaak, maar baie meer aansteeklik as vorige variante is, sy teorie reg bewys.

Dit is dan ook in lande waar die virus die afgelope agt tot nege maande die vinnigste versprei het, waar die minste probleme tans met herinfeksies ervaar word. In Nieu-Seeland, wat een van die laaste lande was wat alles moontlik probeer het om die verspreiding van die virus deur inperkingsmaatreëls en universele inenting te verhoed, duur die stryd voort. Nuwe maatreëls is die afgelope week ingestel omdat die land, waar meer as 80% van die bevolking volledig teen Covid-19 ingeënt is, steeds met die verspreiding van die siekte sukkel. ʼn Gemiddeld van meer as 5 800 mense per dag het die afgelope week in Nieu-Seeland positief vir Covid-19 getoets. In die meeste gevalle is dit mense wat volledig ingeënt is, maar wat nog nooit Covid-19 onder lede gehad het nie, wat nou siek word.

In Singapoer het by die 12 000 mense elke dag die afgelope week positief vir Covid-19 getoets. Dit is die hoogste sedert Maart en skep ʼn hernude krisis in dié land waar 88% van die bevolking teen Covid-19 ingeënt is. Ook hier bestaan ʼn totale gebrek aan natuurlike immuniteit vanweë vorige blootstelling aan die virus.

Prof. Kulldorff het in 2020, toe hy nog by Harvard was, saam met prof. Jay Bhattacharya, ʼn professor in Geneeskunde aan die Stanford-universiteit, en prof. Sunetra Gupta van die Universiteit van Oxford, die Great Barrington-verklaring opgestel waarin hulle gefokusde beskerming van bejaardes en kwesbare mense in die bevolking teen Covid-19 as alternatief bepleit vir streng algemene inperkingsmaatreëls. Dié verklaring is die afgelope twee jaar deur miljoene mense, onder wie talle dokters en gesondheidswetenskaplikes, onderteken.

Volgens Bhattacharya was die sluiting van skole die swakste besluit wat regerings tydens die pandemie geneem het. Die regerings van Swede en Noorweë het onlangs verslae gepubliseer wat hierdie mening bevestig.

Noorweë word beskou as een van die lande wat die pandemie die beste hanteer het. Dié land se regering het in Maart 2020 inperkingsmaatreëls ingestel, onder andere die sluiting van skole. Ná ses weke is egter besluit om die skole te heropen en daar is nooit van kinders verwag om maskers by skole te dra nie.

(Argieffoto: Unsplash)

Die Noorweegse regering het ʼn ruk gelede ʼn paneel aangestel om die land se hantering van die pandemie te ondersoek en die paneel se verslag is onlangs gepubliseer. Volgens die verslag was die vinnige heropening van skole die regte besluit juis omdat kinders nie ernstig deur Covid-19 getref is nie en kinders in skole vinnig immuniteit teen die siekte ontwikkel het. Die uiters negatiewe gevolge van lang skoolsluitings weens Covid-19 is besig om wêreldwyd gevoel te word

Die Noorweegse verslag wys ook daarop hoe belangrik dit was om weerlose mense teen blootstelling te beskerm, terwyl gesonder individue ʼn groot mate van normaliteit toegelaat moes word. Wat dit betref, het Noorweë beter as Swede gevaar. Terwyl Swede, net soos Noorweë, teen skoolsluitings gekant was, het die Swede nie betyds hul bejaardes beskerm nie, wat tot ʼn aanvanklike hoë sterftekoers onder ouer Swede gelei het. Terugskouend is albei lande dit eens dat streng inperkings en die dra van maskers ʼn beperkte rol in die bestuur van die pandemie gespeel het.

Die Noorweegse verslag verwys na ʼn kombinasie van onderlinge samewerking en vertroue onder die bevolking, gekombineer met ʼn doeltreffende inentingsprogram en die geleidelike ontwikkeling van natuurlike immuniteit wat alles ʼn rol gespeel het in dié land se lae sterftekoers weens Covid-19.

Wat China, Nieu-Seeland, Australië en Singapoer tans vir ons wys, is dat ʼn hoë inentingskoers nie voldoende is om Covid-19 van ʼn pandemiese fase na ʼn endemiese fase te laat oorgaan nie. Natuurlike immuniteit, veral onder gesonde en jonger mense, is ook noodsaaklik. Dit is waarskynlik ook die rede waarom Covid-19 nie meer enige wesenlike uitdaging in Suid-Afrika inhou nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Om na 15 weke steeds te wonder of jy die mensie wat jy verwek het wil aanvaar, is absoluut ongelooflik skrikwekkend wreed. Waarom in die bed spring met sommer net iemand en lukraak die gevolge te dump? Sommer so? Verwag die vroue dat mediese personeel saam moet speel en reeds gevormde klein mensies moet help doodmaak sodat mamma verder kan rinkink… tot volgende keer. Om met so ‘n persoon te wil trou na sulke argelose gedrag en dan te hoop sy haal nie weer die nuk uit nie…

ABDP ·

Ek stem saam Annie. Daar is geen moraliteit meer nie. Elkeen vir homself en wat hy/sy LEKKER vind om te doen al kos dit ‘n lewe. Waarom WIL mens saam elke tweede persoon of sommer enige persoon in die bed spring. Ek gril myself dood. Ek glo vas in kuisheid voor die huwelik. Nie omdat ek konserwatief is nie, maar omdat die Woord van God my so leer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.