Internasionale oorsig: Drie-kinders-beleid gaan nie China se demografie regruk

china-vlag

Die Chinese het ʼn groot probleem met ʼn verouderende bevolking en vrese dat die land nie in die toekoms genoeg mense gaan hê om al die werk te doen nie. (Argieffoto: pixabay)

Die Chinese regering het die afgelope week bekend gemaak dat ouerpare in dié land nou drie kinders mag hê. Dit is deel van ʼn poging om ʼn ernstige reeks demografiese uitdagings die hoof te probeer bied. China se streng beleid gedurende die 1980’s en 1990’s wat ouers verplig het om nie meer as een kind te kry nie, het tot ʼn wesenlike verlangsaming in bevolkingsgroei in China aanleiding gegee.

In 2015 is die beleid verander sodat ouers twee kinders mag hê. China se jongste sensusdata, wat elke tien jaar bekend gemaak word, is verlede maand vir die tydperk van 2010 tot 2020 uitgereik en dit wys dat die land se bevolkingsgroei in dié tydperk skerp afgeneem het tot slegs 0,53%.

Verder het die Chinese ʼn groot probleem met ʼn verouderende bevolking en vrese dat die land nie in die toekoms genoeg mense gaan hê om al die werk te doen nie, terwyl die uitdaging om die land se al groter wordende bejaarde bevolking te versorg nie sonder sterk ekonomiese groei te bowe gekom sal word nie.

Daar is egter volgens kenners in China min rede om te glo dat die regering se nuwe beleid tot ʼn toename in bevolkingsgroei gaan lei. Die Verenigde Nasies verwag dat die Chinese bevolking teen 2030 sal begin krimp.

Chinese het aan klein gesinne gewoond geraak, en die verstedeliking van die afgelope drie dekades het meegebring dat mense weens die koste van behuising en algemene lewenskoste in elk geval verkies om klein gesinne te hê.

China het tans een van die vinnigste verouderende bevolkings ter wêreld. Teen 2050 sal 39% van die Chinese bevolking bo aftree-ouderdom wees en daar word verwag dat die tendens van ʼn verouderende bevolking sal bly voortduur. Dit sal enorme ekonomiese uitdagings vir dié land skep. Ander lande, veral ontwikkelde lande soos Japan en die meeste Wes-Europese lande, sal egter ook oor die volgende twee tot drie dekades die probleem van ʼn verouderende bevolking en ʼn tekort aan arbeid begin ervaar.

Is Kamala Harris die volgende Hillary Clinton?

Kamala Harris. (Foto: John Locher/AFP)

Die Demokratiese Party in die VSA het toenemend ʼn obsessie met ras, geslag en al die toenemend ingewikkelde demografiese kategorieë van ʼn meer diverse VSA. Die party het daarin geslaag om die eerste swart president in die VSA verkies te kry, en hoewel die party voortdurend daarna streef om meer vroue en persone uit minderheidsgroepe verkies te kry, is die groot volgende doelwit ʼn vrouepresident. Daar word reeds van president Harris gepraat, verwysende na die huidige adjunkpresident, Kamala Harris.

Wat baie Demokrate egter vergeet, is dat toe Barack Obama in 2008 deur Demokrate tot hulle presidentskandidaat verkies is, Demokrate hom bo Hillary Clinton verkies het. Ná Obama se twee redelik suksesvolle termyne het Clinton in 2016 weer ʼn beurt gekry. Hierdie keer was die Demokrate oortuig dat die eerste swart president, ʼn Demokraat, deur die eerste vrouepresident, ook ʼn Demokraat, opgevolg sou word. Dit het nie gebeur nie.

Verskeie studies in die VSA het reeds bewys dat dit nie soseer met geslag te doene gehad het nie, maar eerder met Clinton se rekord en haar persoonlikheid. Dit maak nie saak of Kamala Harris ʼn Indiese naam, ʼn Hindoe-moeder, ʼn swart vader of ʼn Joodse man het nie. Dit maak ook nie saak of sy ʼn vrou is nie. Wat wel saak maak, is of sy genoeg vertroue by ʼn meerderheid Amerikaanse kiesers inboesem om deur hulle tot president verkies te word.

In daardie opsig is Harris besig om in die Hillary van 2016 te ontwikkel. Sy word die Demokrate se volgende demografiese obsessie-geskenk aan die Republikeinse Party.

Terwyl die Republikeine in die VSA sonder twyfel meer moeite moet doen om in ʼn meer diverse VSA kandidate van verskillende agtergronde te verkies, bly die belangrikste vrae steeds of ʼn kandidaat bekwaam is en of sy/haar persoonlikheid en aanslag tot kiesers spreek.

Hillary Clinton was nooit baie gewild in die VSA nie. Hoewel miskien belese en intelligent, was sy egter ook ʼn uiters polariserende figuur. Haar termyn as minister van buitelandse sake het bewys dat sy baiekeer oordrewe selfvertroue gehad het wat meer as een keer tot swak besluite gelei het.

Dit is nog te vroeg om te voorspel hoe Kamala Harris se termyn as adjunkpresident gaan ontwikkel, maar tot dusver is haar prestasie ondergemiddeld. Die belangrikste opdrag wat sy tot dusver van Biden gekry het, was om die krisis op die grens met Mexiko te hanteer. Tot dusver misluk sy egter daarin om ʼn oplossing vir die enorme probleem van onwettige immigrasie te vind. Haar gesprek met die Mexikaanse president, wat regstreeks uitgesaai is, was ook nie baie indrukwekkend nie en hy het duidelik met baie groter gemak en diepte oor die kwessies gepraat.

Harris het ʼn rekord as staatsaanklaer en prokureur-generaal in Kalifornië en is duidelik intelligent en bekwaam. Sy het ʼn baie kort loopbaan as senator gevolg voordat sy adjunkpresident geword het. Sy het dus byna geen ervaring in die wetgewende of uitvoerende funksies van regering nie. In haar hantering van die grenskrisis kom die gebrek aan ervaring duidelik na vore.

Dit lyk toenemend onseker of Joe Biden in 2024 weer die Demokrate se kandidaat vir president sal wees. Sy ouderdom tel eenvoudig net te swaar teen hom. Dit bring mee dat daar met groeiende sekerheid voorspel kan word dat Harris die Demokrate se kandidaat in 2024 gaan wees. Tans lyk sy na ʼn geskenk wat op ʼn skinkbord vir die Republikeine gelewer word. Net tyd sal egter kan bepaal of dit so gaan bly. Die Republikeinse Party het steeds enorme uitdagings en sukkel om verby die Trump-era te tree, en alles hang af van die party se vermoë om in 2024 self ʼn bekwame, ervare en inspirerende presidentskandidaat te kan lewer.

Azerbaidjan en Armenië stuur weer op oorlog af

Die regering en weermag van Azerbaidjan is die afgelope paar weke besig om die grense van die vredesooreenkoms wat einde verlede jaar met Armenië gesluit is, te toets. Verlede week het soldate van Azerbaidjan die grens tussen die twee lande oorgesteek en ses soldate van Armenië gevange geneem. Intussen blyk dit dat Azerbaidjan se soldate steeds voortgaan om skermutselings met Armeniërs op die grens tussen dié twee lande uit te lok.

Terwyl Azerbaidjan ʼn outoritêre regering het wat toenemend aggressief optree, ervaar Armenië politieke onstabiliteit in aanloop tot die vroeë verkiesing wat op 20 Junie plaasvind. Die regering van Azerbaidjan buit die situasie uit en verskeie grensoortredings is die afgelope paar weke aangemeld.

Byna 7 000 mense is verlede November in ʼn oorlog tussen dié twee lande dood. Rusland het uiteindelik ʼn vredesooreenkoms help onderhandel en sedertdien help sowat 2 000 Russiese soldate om die vrede te probeer bewaar. Dit lyk egter asof die Russe nie baie lus is om verder by dié konflik betrokke te raak nie.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk is tans die enigste Westerse leier wat hom sterk teen Azerbaidjan se aggressiewe optrede uitgespreek het. Hy het ʼn paar dae gelede gesê dat Azerbaidjan sy soldate uit Armenië se grondgebied moet onttrek en dat die land moet ophou om die noodlot te tart.

Intussen weier Azerbaidjan steeds om soldate van Armenië wat tydens verlede jaar se oorlog gevange geneem is, vry te laat. Die outoritêre leier van Azerbaidjan, pres. Ilham Aliyev, het onlangs ʼn afgryslike openbare uitstalling van die skedels van Armeense soldate wat in verlede jaar se oorlog dood is, geopen met ʼn waarskuwing dat sy land gereed is om meer grondgebied by Armenië af te neem.

Aliyev het in ʼn toespraak na dele van die suide van Armenië verwys as ʼn gebied wat volgens hom histories by Azerbaidjan tuishoort. Dit is ook duidelik dat Azerbaidjan pogings wil aanwend om die grens tussen die twee lande in die suide verder na wes te verskuif en om ʼn korridor tussen Azerbaidjan en die enklawe van Nachitsjewan te skep. Terwyl die ooreenkoms van November verlede jaar net ʼn  tydelike skietstilstandooreenkoms is, moet die twee lande binnekort verder oor ʼn meer permanente oplossing onderhandel. Dit is duidelik dat Azerbaidjan op die voorvoet is om meer grondgebied by Armenië te probeer afneem.

Armenië is in ʼn slegte posisie weens sy swak ekonomie, krimpende bevolking, demotivering ná verlede jaar se verkiesingsnederlaag en die voortdurende politieke onstabiliteit. Min Armeniërs het vertroue in hulle regering of enige opposisieparty om werklik ʼn langtermynoplossing daar te stel vir die veiligheidsbedreiging wat deur Azerbaidjan veroorsaak word.

Intussen is die Amerikaanse regering en die meeste ander Westerse lande stil oor die opbou van spanning in die Kaukasus-streek en die moontlikheid dat oorlog weer tussen Azerbaidjan en Armenië kan uitbreek. Verskeie Christen-organisasies oor die hele wêreld, asook die Armeense diaspora, het die afgelope paar maande steun probeer werf vir die saak van Armenië, maar in ʼn post-Christelike Westerse wêreld is min regerings bereid om wesenlike stappe te doen om Armeniërs se reg op hulle historiese grondgebied, waaronder Nagorno-Karabach, te beskerm.

Charles Michel, president van die Europese Raad, het die afgelope week ʼn beroep op Azerbaidjan en Armenië gedoen om saam te werk om grensgeskille op te los. Die VSA en Rusland het saam met Frankryk binne die sogenaamde Minsk-groepering ʼn soortgelyke beroep op dié twee lande se leiers gedoen. Of dit egter genoeg is om hernude konflik te voorkom, is onseker, en met Turkye wat Azerbaidjan toenemend bystaan, het Armenië wesenlike rede tot kommer oor die veiligheid van sy mense.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.