Internasionale oorsig: Duitsers kry regering waarvoor hulle gestem het

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber/AP)

Kiesers in Duitsland het in 2005, 2009, 2013 en 2017 vir ʼn regering wat deur Angela Merkel en haar Christen-Demokratiese Unie (CDU) gelei is, gestem.

In September vanjaar het kiesers die CDU, ten spyte van Merkel se gewildheid onder die Duitsers, egter gestraf en het die party sy swakste verkiesingsuitslag tot nog toe behaal. Die groei in steun wat die sentrumlinkse Sosiaal-Demokrate (SPD), die linkse Groen Party en die liberale Vrye Demokrate (FDP) van kiesers gekry het, bring mee dat dié drie partye se koalisie in ooreenstemming is met die wense van die meerderheid van Duitse kiesers. Die SPD, FDP en Groen Party het die afgelope week ná byna twee maande se koalisie-onderhandelinge ʼn ooreenkoms bereik.

Olaf Scholz, die leier van die SPD en die Duitse minister van finansies van die afgelope paar jaar, sal vroeg in Desember as Duitsland se nuwe bondskanselier ingehuldig word. Annalena Baerbock, die leier van die Groen Party, word Duitsland se volgende minister van buitelandse sake en Christian Lindner, die leier van die FDP, word die nuwe minister van finansies.

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Die koalisie-ooreenkoms wat tussen die drie partye bereik is, fokus veral op die stryd teen klimaatsverandering, een van die temas waaroor Duitse kiesers baie sterk voel. Die ooreenkoms bepaal dat die gebruik van steenkool as energiebron teen 2030 in Duitsland uitgefaseer moet word en dat nuwe diesel- en petrolvoertuie vanaf 2035 nie meer toegelaat sal word nie. Daar word wel in die ooreenkoms uitsonderings gemaak vir voertuie wat alternatiewe brandstowwe gebruik.

Die koalisievennote beplan enorme investering in alternatiewe energie met alternatiewe energiebronne wat teen 2030 in 80% van Duitsland se energiebehoeftes moet voorsien. Die huidige doelwit is 65%. Dit beteken dat 2% van Duitsland se grondoppervlakte vir nuwe windturbines gebruik gaan word, dat sonpanele op alle geskikte dakke reg oor Duitsland aangebring moet word en dat verskeie groot windplase aan die kus van die Noordsee ontwikkel sal word. Die koste hiervan gaan enorm wees en dit is nie duidelik hoe Duitsland daarvoor gaan betaal nie.

Annalena Baerbock. (Foto: ANNEGRET HILSE/POOL/AFP)

Intussen sal Duitsland heelwat meer kernkrag uit Frankryk en ook meer aardgas uit Rusland moet invoer om in sy energiebehoeftes te voorsien namate kernkragstasies en steenkoolkragstasies in Duitsland gesluit word. Energiepryse in Duitsland sal na verwagting oor die volgende dekade skerp styg, veral om vir die ontwikkeling van alternatiewe energie te betaal. Die groot vraag is of die Duitse kiesers steeds hierdie inisiatiewe, waarop veral die Groen Party in koalisie-onderhandelinge aangedring het, sal ondersteun as hul elektrisiteitsrekeninge oor die volgende dekade met heelwat meer as inflasie gaan styg.

Die FDP het ook sy sin ten opsigte van sommige van sy eise gekry. Scholz en die SPD se verkiesingsbelofte dat belasting op die rykste Duitsers met ʼn nuwe welvaartbelasting verhoog sou word, sal nie voortgaan nie nadat die FDP, wat veral die steun van die ryker Duitsers geniet, daarop aangedring het dat daar van so ʼn belasting afgesien word. Die koalisie het ook ooreengekom dat daar nie veel belastingverhogings ingestel sal word nie.

Die koalisievennote het die afgelope week egter erken dat al die nuwe bestedingsplanne, ook beloftes oor enorme infrastruktuurontwikkelings, insluitende breëband-internet-ontwikkelings, slegs gefinansier sal kan word deur staatskuld aan te gaan as belastingkoerse nie verhoog word nie. Werkloosheidsvoordele gaan ook verbeter word, wat tot meer druk op die Duitse staatskas gaan lei.

Die SPD se verkiesingsbelofte van ʼn styging in die minimum loon gaan wel deurgevoer word. Dit beteken dat die minimum loon in Duitsland van €9,60 tot €12 verhoog sal word. Dit gaan tot ʼn skerp toename in arbeidskoste in Duitsland lei, wat weer tot verdere verskuiwings in die vervaardiging van Duitse goedere na byvoorbeeld Oos-Europa, waar baie Duitse maatskappye reeds fabrieke het, kan lei.

Die nuwe koalisieregering onderneem ook om minstens 400 000 nuwe huise per jaar te bou om die woningnood in Duitse stede te probeer verlig. Ook hier is dit onduidelik hoe so ʼn ambisieuse maatskaplike bouprojek gefinansier gaan word.

Christian Lindner (Foto: Tobias Schwarz/AFP)

Met Lindner as nuwe minister van finansies kan verwag word dat spanning maklik in die koalisie kan ontstaan. Lindner en die FDP het in die verkiesingsveldtog aan kiesers belowe dat die party in ʼn nuwe regering verantwoordelike fiskale beleid sal bly handhaaf. Daarteenoor het die SPD en die Groen Party groot bestedingsplanne wat deur enorme nuwe skuld gefinansier sal moet word.

Of Duitsland se buitelandse beleid wesenlik gaan verander, is nie duidelik uit die koalisie-ooreenkoms nie. Baerbock het duidelik aspirasies om Duitsland meer krities teenoor onder meer Rusland en China te posisioneer. Dit gaan waarskynlik meestal tot retoriek beperk bly. Dit is wel moontlik dat Duitsland meer steun aan Taiwan kan verleen, soos wat die VSA ook tans doen, en dat dit die verhouding tussen Duitsland en China meer gespanne kan maak.

Olaf Scholz is ʼn redelike versigtige politikus en het in September se verkiesingsveldtog belowe om Merkel se beleid en regeerstyl grootliks voort te sit sou hy die nuwe kanselier word. Die kans dat Scholz Merkel se invloedryke posisie in Europese en globale politiek gaan ewenaar is egter skraal. Met ʼn ingewikkelde koalisieregering, beperkte buitelandse blootstelling en wesenlike binnelandse uitdagings gaan Duitsland se Europese en globale politieke invloed oor die volgende jaar waarskynlik beperk wees.

Einde van Erdogan-era dalk in sig in Turkye

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

Turkye se ekonomiese krisis het die afgelope twee weke verder verdiep en dit lyk asof Turkse kiesers uiteindelik gereed is om die rug op dié land se staatshoof te draai ná sy jarelange ondermyning van die land se internasionale politieke en ekonomiese belange.

Recep Tayyip Erdogan regeer Turkye reeds sedert 2003. Sedert hy eerste minister, en later president, van Turkye geword het, het Erdogan en sy Regs- en Ontwikkelingsparty (AKP) Turkye toenemend outoritêr begin regeer met ʼn reuse-aanslag op onafhanklike demokratiese instellings soos die media, burgerlike organisasies, universiteite en die howe. Erdogan se arrogansie en sy vervreemding van dekadelange buitelandse bondgenote het die afgelope twee jaar ook groeiende ekonomiese probleme vir Turkye veroorsaak.

Die afgelope tyd het Erdogan ook by Turkye se sentrale bank begin inmeng, en ten spyte van hoë inflasie druk op die bank geplaas om rentekoerse te verlaag. Verlede week is die Turkse uitleenkoers vir die derde keer binne drie maande verlaag ten spyte daarvan dat die inflasiekoers verlede maand 20% was.

Sedert verlede week se rentekoersverlaging het die Turkse lira reeds 20% van sy waarde teen die Amerikaanse dollar verloor. Die lira het vanjaar reeds 45% van sy waarde teen die dollar verloor, en die verkope van ingevoerde goedere soos duur selfone is die afgelope week in Turkye gestaak. Die afgelope tien jaar het die lira 75% van sy waarde teen die dollar verloor. Vanaf 2014 tot 2020 het die BBP per capita in Turkye van 12 000 Amerikaanse dollar tot 8 500 dollar gedaal.

Die verswakking van die lira, hoë inflasie en baie swak ekonomiese groei veroorsaak enorme uitdagings vir miljoene Turke. Die ergste hiervan is die skerp styging in lewenskoste. In reaksie hierop het een van Erdogan se bondgenote, die AKP-parlementslid Zulfu Demirbag, die afgelope week gesê dat Turke maar net minder moet eet. Dit bewys die arrogansie van die Erdogan-regime en tot watter mate die AKP en sy leiers uit voeling met die lewens van gewone Turke is.

Die afgelope paar dae het protesoptrede in die grootste stad, Istanboel, en die hoofstad, Ankara, begin toeneem, te midde van ʼn skerp daling in die steun wat Erdogan en sy regering onder Turkse kiesers geniet.

Volgens ʼn onlangse peiling voel 81% van Turke dat die land se ekonomie swak bestuur word. Selfs 61% van die AKP-ondersteuners dink so. Slegs 38% van Turke is tevrede met Erdogan se leierskap – die laagste ooit. Indien ʼn verkiesing vandag sou plaasvind, en mits dit vry en regverdig sou wees, sal Erdogan sonder twyfel verloor. Die volgende verkiesing is egter veronderstel om eers in 2023 plaas te vind en Erdogan weier om ʼn vroeë verkiesing uit te roep.

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Erdogan het die afgelope 15 jaar ook Turkye se verhouding met verskeie voormalige bondgenote versuur. Terwyl sy verbale aanvalle op die Weste tot swakker verhoudings met die VSA en Europa aanleiding gee, het Erdogan ook talle brûe in die Midde-Ooste verbrand, met lande soos Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Egipte wat baie skepties oor Erdogan se motiewe is.

Met die nuwe Duitse regering wat binnekort by die Merkel-administrasie oorneem, kan ook verwag word dat geskilpunte tussen Turkye en Duitsland en die Europese Unie anders hanteer sal word. Merkel was bekend daarvoor dat sy Erdogan met handskoene hanteer het en dikwels geskille tydelik besleg het. Ná haar vertrek gaan die verhouding tussen Turkye en Wes-Europa sonder twyfel verander.

Ook die VSA is versigtig vir Erdogan, veral nadat Turkye verdedigingstelsels by Rusland begin aankoop het, in plaas daarvan om dit by sy Navo-bondgenoot, die VSA, aan te koop. Die Amerikaanse president, Joe Biden, het vanjaar reeds twee moontlike ontmoetings met Erdogan ontduik, en ʼn onlangse kort ontmoeting tydens die G20-beraad het op byna niks uitgeloop nie.

Turkye is steeds een van die belangrikste internasionale rolspelers en ook die 20ste grootste ekonomie ter wêreld. Onder Erdogan het baie lande en hulle leiers egter toenemend versigtig vir die Turke geraak en is die land se invloed besig om steeds af te neem terwyl sy ekonomie onder groot druk verkeer. Ten spyte van die aktiewe ondermyning van demokrasie in Turkye lyk dit egter of genoeg Turke slim genoeg is om te besef dat die belangrikste oplossing vir Turkye se probleme sal wees om van Erdogan ontslae te raak. Daarvoor kan 2023 nie vinnig genoeg aanbreek nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
annie

Duitsland hou vol met patetiese en onimposante leierskap sedert Hitler dwaas verby en dommer as dom voort gewoed het. Hoewel die ekonomie ietwat geklim het na 1948 het grootdoenerigheid voortgeduur met ‘n magtige hand oor die hele Europa. Maar soos die klimaat verander en die sneeu die plat vaal landskap nie meer optower nie, so val die Duitse brousels plat tot smakeloos. Die wiel draai.