Internasionale oorsig: Ekonomie kan Biden en Demokrate sink

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die inflasiekoers in die VSA het in Oktober tot 6,2% gestyg. ʼn Gemiddelde kosmandjie in Amerika kos vandag 25% meer as ʼn jaar gelede. Die gemiddelde prys vir ʼn gelling petrol het van $2 in April 2020 die afgelope week tot $3,44 gestyg. Die gemiddelde huisprys in die VSA het oor die afgelope 12 maande met 16,8% gestyg. Volgens ʼn studie wat ook die afgelope week gepubliseer is, het lewensversekeringspremies die afgelope 12 maande met 15% gestyg. Gewone Amerikaners voel die stygende lewenskoste aan hulle sakke en gee die regering die skuld daarvoor.

Die gerespekteerde Amerikaanse koerant, die Wall Street Journal (WSJ), het vroeër die afgelope week ʼn omvattende peiling wat onder Amerikaanse kiesers gedoen is, bekend gestel. ʼn Groot meerderheid van Amerikaanse kiesers is pessimisties oor hul land se toekoms en is veral pessimisties oor ekonomiese vooruitsigte. Daarmee saam blameer hulle president Joe Biden se beleid vir hoë inflasie, werkskepping wat verlangsaam en die VSA se groeiende staatskuld. Stygende lewenskoste is die enkele grootste drywer van kiesersongelukkigheid.

Biden geniet in die WSJ-peiling nog die steun van 41% van Amerikaanse kiesers, maar 57% is ontevrede met sy werksprestasie. Biden en die Demokrate se groot uitdaging is egter Amerikaanse kiesers se prioriteite. Die meeste Amerikaners beskou die ekonomie as die belangrikste prioriteit, en heelwat meer kiesers voel dat die Republikeine beter gerat is om die land se ekonomiese uitdagings aan te pak as die Demokrate.

Sowat 63% van Amerikaanse kiesers sê dat die land tans in die verkeerde rigting beweeg. Volgens 61% beweeg die ekonomie in die verkeerde rigting. Sowat 65% van kiesers glo dat die land se grensbeheerkrisis verder gaan versleg. Sowat 70% is daarvan oortuig dat die inflasieprobleem gaan vererger, en byna 75% van kiesers is daarvan oortuig dat die land se knaende misdaadprobleme, veral in stedelike gebiede, verder gaan toeneem.

Die ekonomie, grensbeheer en misdaad is ook, volgens kiesers, van hulle belangrikste prioriteite, en ʼn meerderheid van kiesers voel dat al drie hierdie probleme beter deur die Republikeine as deur die Demokrate opgelos kan word. Dit voorspel enorme uitdagings vir die Demokrate in aanloop tot volgende jaar se middeltermynverkiesing, en selfs in aanloop tot die volgende presidentsverkiesing in 2024.

Die meeste kiesers het vertroue in die Demokrate se hantering van die koste en toegang tot goeie mediese sorg, die hantering van onderwysuitdagings en die hantering van die Covid-19-pandemie. Dit lyk egter toenemend asof hierdie dinge nie volgende jaar kiesers se keuses soveel gaan beïnvloed soos die ekonomie, grensbeheer en misdaad nie.

Biden fokus die afgelope tyd heelwat op buitelandse skakeling en beleid. Die G20-beraad in Rome, die daaropvolgende klimaatsberaad in Glasgow, en virtuele berade en vergaderings met onder andere Xi Jinping en Wladimir Poetin is deur sy administrasie gebruik om te sê dat Biden die VSA se leidinggewende posisie op die globale verhoog versterk en uitbou.

Daar is egter twee probleme met Biden se fokus op buitelandse beleid. Eerstens is dit tans nie ʼn belangrike prioriteit vir ʼn groot meerderheid van Amerikaanse burgers nie. Amerikaners is bekommerd oor stygende lewenskoste, ekonomiese beleid, onwettige immigrasie, misdaad en ander sake nader aan die huis. Wat in Oekraïne of Taiwan gebeur, is vir hulle minder belangrik.

Tweedens het Biden en sy administrasie enorme skade gely met die gebeure in Augustus in Afganistan. ʼn Minderheid van Amerikaners vertrou Biden om in konfliksituasies die regte besluite te neem. Amerikaners is bekommerd oor China se groeiende invloed in Asië en die Chinese se aggressiewe optrede, maar baie Amerikaners twyfel of Biden weet wat nodig is om te doen om dié en ander krisissituasies op te los. Daar het min konkrete stappe en besluite uit Biden se onlangse gesprekke met Jinping en Poetin gekom, en Amerikaners is onseker of Biden weet wat om te doen sou Rusland Oekraïne binneval of sou China Taiwan aanval.

In ʼn peiling wat Maandag deur TIPP bekend gemaak is, sê slegs 22% van Demokrate (kiesers wat ondersteuners van die Demokratiese Party is) dat hulle wil hê Biden moet in 2024 weer hulle presidentskandidaat wees. Slegs 12% wil hê dat Kamala Harris, die huidige adjunkpresident, die kandidaat moet wees. Daar is ook geen duidelike alternatief vir Biden of Harris nie. Terwyl Biden se gewildheid sedert sy inhuldiging in Januarie skerp gedaal het, het Harris se gewildheid selfs skerper afgeneem en is sy nou die ongewildste adjunkpresident sedert die korrupte Spiro Agnew in 1976 as adjunkpresident moes bedank. Demokrate is dit dus eens dat nie Biden of Harris in 2024 hulle kandidaat vir die presidentskap moet wees nie, maar hulle weet ook nie wie die beste alternatief sal wees nie.

Pres. Joe Biden (Foto: Filippo MONTEFORTE/AFP)

Terwyl die middeltermynverkiesing, wat twee jaar na ʼn presidentsverkiesing plaasvind, gewoonlik reeds moeilik is vir die party wat in beheer van die Withuis is, lyk dit asof volgende jaar se verkiesing besonder moeilik vir die Demokrate kan uitdraai. Die goewerneursverkiesings vroeg in November in Virginia en New Jersey het reeds ʼn groot swaai na die Republikeine aangedui. Voorstedelike kiesers, vroue en selfs minderhede het in albei deelstate persentasiegewys skerp na die Republikeinse goewerneurskandidate geswaai in vergelyking met verlede jaar se presidentsverkiesing.

Heelwat kan oor die volgende paar maande gebeur wat Biden se aansien onder kiesers kan verbeter. Biden se onvermoë om die middelgrond op te soek en vanuit die sentrum ʼn meer optimistiese toekomsbeeld aan Amerikaners te probeer verkoop, maak ʼn herstel in sy steunvlakke egter onwaarskynlik.

Die Republikeine het egter ook genoeg probleme van hulle eie. Die voormalige president Donald Trump is besig om ʼn burgeroorlog in verskeie deelstate in die party te veroorsaak deurdat hy eis dat ʼn kandidaat moet erken dat verlede jaar se verkiesing gesteel is, en indien ʼn kandidaat weier om dit te doen, dan steun Trump ʼn ander kandidaat. Dit bring mee dat sommige uiters bekwame sittende Republikeinse goewerneurs, senatore en lede van die Huis van Verteenwoordigers deur Trump-lojaliste uitgedaag gaan word.

Die middeltermynverkiesingsveldtog het reeds stadig maar seker begin afskop en ʼn paar interessante maande lê in die Amerikaanse politiek voor. Die belangrikste syfer uit die afgelope week se WSJ-peiling is egter die feit dat slegs 30% van onafhanklike kiesers (wat nie as Republikeine of Demokrate geregistreer is nie) nog vir Biden steun. Biden is dus besig om gematigde (dikwels vroulike en voorstedelike) kiesers se steun te verloor. Sou hierdie tendens voortduur, sal die Republikeine in ʼn uitstekende posisie wees om volgende jaar beheer oor albei huise van die Amerikaanse Kongres te verkry en om in 2024 met die regte kandidaat (nie Trump nie) weer die Withuis te verower.

Biden se demokrasie-beraad sonder ʼn doelwit of uitkomste

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Die Amerikaanse president het die afgelope week ʼn groot virtuele beraad oor demokrasie aangebied, met 112 lande van reg oor die wêreld wat na die beraad genooi is. Terwyl Biden enorme uitdagings in sy eie land ervaar, probeer hy duidelik met verskeie globale inisiatiewe die persepsie skep dat hy internasionale leiding neem in ʼn tyd waar demokrasie reg oor die wêreld op die agtervoet is en waar daar min sterk leiers in die demokratiese wêreld na vore tree.

Daar was egter vanuit die staanspoor uitdagings met Biden se beraad. Terwyl die motief was om oor demokrasie, die bevordering daarvan en globale samewerking in die versterking van demokratiese instellings te praat, was Biden se motief onseker en in party opsigte selfs verdag.

Die afgelope twee jaar was nie goed vir demokrasie in die wêreld nie. Beide die gerespekteerde Amerikaanse organisasie Freedom House en die Economist Intelligence Unit wat jaarliks, onafhanklik van mekaar, demokrasie in die wêreld monitor, het die afgelope tyd gewaarsku dat demokrasie op byna elke kontinent agteruit boer. Dat die wêreld se voorste demokrasieë dus die inisiatief moet neem om demokrasie te bevorder, maak sin.

Biden se besluit om egter demokratiese lande soos Hongarye, Tunisië, Singapoer en Thailand nie na die beraad te nooi nie, maar wel die Demokratiese Republiek van die Kongo, Niger, Irak, Pakistan en Angola te nooi, maak bitter min sin. Waarom Rwanda nie genooi is nie, sal niemand presies weet nie omdat die Biden-administrasie die kriteria vir wie genooi is, nie bekend wou maak nie. Die Amerikaners het om verskeie redes hulle mes in vir Hongarye en Tunisië, en speel ʼn spel van magsverhoudinge in Asië en Afrika met die insluiting en uitsluiting van sommige lande. Lande wat die afgelope tyd bande met Rusland en China gesmee het, is duidelik uitgelaat.

In The Economist se nuutste demokrasie-indeks is die Demokratiese Republiek van die Kongo tweede op die lys van mees ondemokratiese lande ter wêreld. Niger is ook nie juis demokraties nie. Uit 167 lande op die lys is Tunisië, in die 54ste posisie, en Hongarye, in die 55ste posisie, egter uitgesluit omdat die Biden-administrasie ʼn byltjie met albei lande te slyp het.

Die Brookings Institute het Biden se keuse van 112 lande wat na die beraad genooi is, as “vreemd” beskryf. Lande wat nie uitgenooi is nie, het ook die beraad afgemaak as ʼn poging van die VSA om globale magsverhoudinge te manipuleer.

Die Amerikaanse regering bied die afgelope tyd graag die een beraad ná die ander aan, maar die vraag moet gestel word watter praktiese uitkomste bereik word om demokrasie werklik te bevorder. Is die agenda van die afgelope week se beraad bloot om Amerika se rol as leidinggewende demokratiese wêreldmag te bevestig, of is die Biden-administrasie van plan om demokrasie in praktyk te bevorder? Soos verwag, het daar nie veel van die beraad gekom nie en blyk dit net nog ʼn poging van Biden en sy desperate span politieke raadgewers te wees om die aandag van al die mislukkings van die huidige Amerikaanse regering af te lei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Groen Ghoen ·

So het elke huis maar sy eie kruis om saam te karwei? Dalk ly Amerika aan ernstige “Biden blues.” Amerikaners gee hoog op vir hul reg op vryheid. Biden se obsessie met o.a gedwonge Covidregulasies kom vir hom duur te staan.

casper ·

Hoe gouer die nar ouetehuis toe verplaas word hoe beter!!!

Alfred E Neuman ·

Hoe gouer dié oue narhuis toe verplaas word hoe beter.

annie ·

Biden, teen alle tekens in, wil as die roemrykste president te wêreld vir alle tye bekend staan. G’n mens word werklik roemryk omdat hy dit wou wees nie. Leuens help ook nooit om ‘n mooi grafskrif uit te kerf nie. Biden volg fout na fout op met krisis op krisis. Die CIA met die hulp van Navo het Pandora se ou kissie met sy sleutel, in 1945 diep weggebêre, uitgesnuffel. Dit lê op Biden se bedkassie.

Tubac ·

Die Demokrate het n ryke geskiedenis van swak geld bestuur. Kon nog nooit die land se geldsake reg hanteer nie. Dit het n Trump gekos om dit te verbeter. Toe hulle sien dat dit aan die rykes minder inkomste gaan besorg, word hy die muishond. Nou begin die lot wat vir hulle gestem het n ander storie sing. Kry vir julle. Raai by wie leer Biden!

Frank ·

Donald Trump was die beste president en hy sal weer die president word.

Treurwilger ·

Ironies hoe die “regte kandidaat, (maar tog net) nie Trump” die 2024 verkiesing vir die Republikeine kan wen.
In die nuutste Harvard Poll is Donald Trump by verre, met ‘n 67% stempersentasie, Republikeinse stemgeregtigdes se keuse vir die Withuis.
Die VSA het onder sy leiding “in die regte rigting beweeg”, maar establishment politici en media het nie ‘n benul gehad hoe om ‘n president te hanteer wat nié uit die Washington ‘establishment’ kom en voortdurend verkeerde politieke geluide maak. Terwyl Biden tans so maklik is om te verteer.
Daar is nie ‘n oplossing vir’n land en mense wat nie gehelp wïl wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.