Internasionale oorsig: Enige nuwe kernooreenkoms met Iran sal probleme net uitstel

Onderhandelinge tussen Iran en ses ander lande oor ʼn kernooreenkoms is die afgelope week in Wene, Oostenryk, hervat. (Foto: EU-afvaardiging in Wene/AFP)

Onderhandelinge tussen Iran en ses ander lande oor ʼn kernooreenkoms is die afgelope week in Wene, Oostenryk, hervat. Terwyl onderhandelaars aandui dat vordering gemaak is, het die regering van Israel Donderdag ʼn ernstige beroep op Westerse lande gedoen om nie met die onderhandelinge voort te gaan nie omdat die huidige Iranse regering volgens Israel nie vertrou kan word nie.

Iranse onderhandelaars het egter Donderdag gesê dat hulle twee voorstelle gemaak het: Die een stel voor dat Westerse sanksies teen Iran uitgefaseer moet word en die tweede behels ʼn proses waarvolgens Iran verhoed sal word om ʼn atoombom te bou, terwyl die land steeds ʼn kernprogram vir ander doeleindes kan bedryf.

Terwyl Iran die afgelope week in Wene direk gesprek gevoer het met onderhandelaars van Brittanje, Frankryk, Duitsland, Rusland en China, het die land steeds geweier om direkte gesprekke met die afgevaardigdes van die VSA te voer. Iran het in 2015 ʼn kernooreenkoms met hierdie ses lande onderteken, maar in 2018 het die Trump-administrasie die VSA aan die ooreenkoms onttrek en is streng nuwe sanksies teen Iran ingestel wat sedertdien enorme skade aan die land se ekonomie aangerig het.

Hoewel onderhandelaars die afgelope week die persepsie probeer skep het dat daar wel groot vordering gemaak word, bestaan daar steeds heelwat skeptisisme oor die moontlikheid daarvan om ʼn nuwe ooreenkoms te bereik.

Richard Haass, een van die VSA se mees gesoute ouddiplomate en ʼn voormalige adviseur van Colin Powell toe hy die VSA se minister van buitelande sake was, het die afgelope week gesê dat die kanse baie skraal is dat ʼn nuwe ooreenkoms met Iran bereik kan word.

Volgens Haass was die 2015-ooreenkoms – hoewel Iran dit weliswaar getrou nagekom het – in elk geval slegs tydelik van aard met die meeste bepalings van die ooreenkoms wat ná tien tot 15 jaar sou verval, wat dit in elk geval vir Iran moontlik sou maak om ʼn atoombom te bou.

Satellietbeelde van Iran se kernfasiliteit in Isfahan. (Foto: Maxar Technologies/Reuters)

Daar is veral twee geopolitieke vraagstukke wat hier op die spel is. Die een is die moontlike bedreiging wat Iran vir Israel en selfs vir Westerse lande inhou as dié land ʼn atoombom sou bou. Die tweede is Iran se stryd om mag in die Midde-Ooste en dié land se mededinging met ander rolspelers soos Turkye, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate om invloed in die streek. Sou Iran daarin slaag om ʼn atoombom te bou, sou een of meer van dié lande waarskynlik dieselfde wou doen – wat ʼn gevaarlike kernwapenwedloop in die streek kan laat ontwikkel.

Die Biden-administrasie, die Europese Unie, asook Rusland en China wil almal graag sien dat ʼn nuwe kernooreenkoms so gou moontlik bereik word. Hoewel Iran se nuwe uiters konserwatiewe Islamitiese regering die onderhandelinge aanvanklik skoorvoetend benader het, verkeer dié land onder soveel ekonomiese druk dat die Raisi-regering nie juis ʼn ander keuse het as om toegewings te maak nie.

Daar is egter ʼn politieke risiko vir sowel die VSA as Iran in die mate waartoe hulle toegewings sal maak. Die persepsie dat die Biden-administrasie sag optree teen lande wat die VSA, maar in Iran se geval natuurlik ook Israel, bedreig, is besig om onder Amerikaanse kiesers toe te neem. Ebrahim Raisi is in Junie tot Iranse president verkies met die steun van anti-Amerikaanse fundamentaliste en sy regering se beweegruimte is ook beperk. Hierdie politieke risiko’s kan die onderhandelinge verongeluk.

Indien die partye egter wel binnekort ʼn ooreenkoms bereik, is die kanse goed dat dit, soos in die geval van die ooreenkoms in 2015, slegs Iran se aspirasies om ʼn atoombom te bou effens gaan uitstel. Daarmee gepaardgaande dring Israel, met sy wesenlike steun in die Amerikaanse kongres, natuurlik daarop aan dat Iran ook sy invloed in onder meer Libanon, Sirië en die Gaza-strook moet inperk. Die kanse dat dit deel van ʼn kernooreenkoms sal uitmaak, bestaan egter nie. Dit beteken dat enige kernooreenkoms wat bereik kan word, belangrike korttermynoplossings vir die Weste en Iran in hul problematiese verhouding kan inhou, maar dat die wesenlike langtermynverskille nie hanteer sal word nie.

Tekens dat VSA en Wes-Europa wil inmeng in Hongaarse verkiesing

Viktor Orban (Foto: Attila KISBENEDEK/AFP)

Hongarye se minister van buitelandse sake, Péter Szijjártó, het onlangs in ʼn onderhoud met Financial Times gewaarsku dat die Biden-administrasie reeds besig is met planne om in volgende jaar se Hongaarse verkiesing in te meng en die uitslag te beïnvloed. Die Amerikaners het die afgelope dekade gereeld in verkiesings in Oos-Europese lande soos Oekraïne, Moldowa, Serwië en vroeër vanjaar in Bulgarye, ingemeng.

Terwyl die Amerikaanse regering en linkse groepe in die VSA reeds maniere vind om opposisiepolitici in Hongarye in aanloop tot die verkiesing in April 2022 finansieel te ondersteun, beplan lede van die Europese parlement, wat die huidige Hongaarse regering vyandiggesind is, om in aanloop tot die verkiesing op Hongarye toe te sak ten einde kiesers te oortuig om vir die opposisie te stem.

Die huidige Hongaarse premier, Viktor Orbán, en sy Fidesz-party regeer Hongarye sedert 2010. Vier jaar gelede het die Fidesz-party meer as 49% van die stemme op hom verenig en daarmee saam met sy konserwatiewe koalisievennoot die Christen-Demokratiese Volksparty, ʼn tweederdemeerderheid in die Hongaarse parlement verkry. Die Hongare het ʼn gemengde kiesstelsel met kiesafdelings waar die kandidaat wat die meeste stemme in die kiesafdeling behaal het die kiesafdeling wen. Die Hongaarse parlement het 199 lede waarvan 106 in kiesafdelings verkies is en die orige 93 proporsioneel verkies word.

Hongarye se opposisiepartye was tot onlangs verdeeld en sluit in liberale, voormalige kommunistiese linkse en ekstreem regse partye. Sedert die vorige verkiesing in 2018 het byna al die opposisiepartye egter begin saamwerk in ʼn poging om van Orbán en Fidesz ontslae te raak. Opposisiepartye en hul leiers word veral deur die skatryk linkse Hongaars-Amerikaanse sakeman George Soros en sy talle organisasies in die VSA en Europa ondersteun.

In 2019 het die opposisiepartye hul eerste groot deurbraak bewerkstellig toe die linkse leier van Dialoog vir Hongarye, Gergely Karácsony, tot burgemeester van Boedapest, die Hongaarse hoofstad, verkies is. Karácsony se oorwinning was ʼn verrassing en hy het 50,8% van die stemme op hom verenig en daardeur die dienende Fidesz-burgemeester onttroon.

In Mei vanjaar het ses opposisiepartye van uiteenlopende ideologiese agtergrond ʼn ooreenkoms onderteken waarvolgens hulle in volgende jaar se verkiesing saam in elke kiesafdeling slegs een kandidaat sal stel om sodoende te verhoed dat opposisiepartye die anti-Fidesz-stem verdeel.

Hoewel die meeste opposisiepartye links of liberaal is, is die een party wat uitstaan die ekstreem regse Jobbik-party wat homself die afgelope twee dekades regs van Fidesz geposisioneer het. Die leierskap van Jobbik het egter so ʼn groot afkeur vir Orbán en Fidesz dat hulle ingestem het om met voormalige kommuniste, die Groenparty en liberale partye saam te werk.

Fidesz het vir die grootste deel van Oktober en November in die peilings voorgeloop, maar die afgelope paar dae het meer as een peiling gewys dat die gesamentlike opposisie die voortou begin neem. Net soos in talle ander Westerse lande word die Hongaarse regering tans deur die uitdagings van hoër inflasie en ʼn nuwe vlaag van Covid-19 in die gesig gestaar. Inflasie in Hongarye was in Oktober 6,5% en verbruikersvertroue het gedurende November tot die laagste vlak sedert April gedaal omdat inflasie die meeste Hongare se sakke raak.

Die lewensgehalte van die meeste Hongare het die afgelope 11 jaar onder ʼn Fidesz-regering dramaties verbeter. Die land het een van die laagste inkomstebelasting- en maatskappybelastingkoerse ter wêreld. In albei geld ʼn vaste koers van slegs 9%. Die land se ekonomiese en fisieke infrastruktuur het die afgelope 11 jaar ook drasties verbeter en groot maatskappye soos BMW, Audi, Mercedes-Benz en Samsung is almal besig om fabrieke in Hongarye te bou, of het reeds groot fabrieke in die land.

Die werkloosheidskoers in Hongarye is slegs 3,9%, wat van die laagste werkloosheidskoerse in Europa is. Daar word trouens groot arbeidstekorte in verskeie bedrywe ondervind. Soos wat die geval in talle ander Westerse lande is, speel die ekonomie egter ook in Hongarye ʼn belangrike rol in verkiesings en dit was juis Fidesz se sukses om Hongarye sedert 2010 finaal van sy kommunistiese verlede te bevry wat tot dié party se verkiesingsukses sedertdien aanleiding gegee het.

Die Hongaarse regering het die afgelope twee weke verskeie stappe aangekondig om die impak van inflasie en die nagevolge van die pandemie op gewone Hongare te help verlig. Brandstofpryse is vasgepen, minimum lone word verhoog, pensioenvoordele word verbeter en gesinne kry vanaf 2022 wesenlik verbeterde finansiële steun van die regering.

Nuus oor Hongarye, veral in die VSA en Wes-Europa, is egter die afgelope jaar of wat oorheers deur bewerings dat die Orbán-regering toenemend outoritêr optree, dat demokrasie in Hongarye bedreig word, dat die regering al hoe meer korrup raak en dat die regering teen minderhede diskrimineer. Dit is natuurlik alles slegs bewerings met bewyse daarvoor wat beperk, of totaal afwesig is. Die regering se weiering in 2015 en 2016 om onwettige immigrante uit die Midde-Ooste en Afrika in te neem het die eerste spanningslyne met liberale Wes-Europa bevestig.

Die Orbán-regering se stappe om Hongarye se Christelike waardes in stand te hou, tradisionele gesinne te bevorder en Hongarye se negatiewe demografiese tendens op te los, nie deur massa-immigrasie uit Derdewêreldlande nie, maar eerder deur die bevordering van groter gesinne, het linkse groepe in die VSA en Wes-Europa woedend gemaak.

Die Biden-administrasie bied volgende week ʼn beraad in die VSA oor die demokrasie aan. Hongarye is nie na die beraad genooi nie. Intussen doen verskeie instellings in die VSA en Wes-Europa groot moeite om die persepsie onder Hongaarse burgers te bevorder dat Orbán en Fidesz besig is om Hongarye te isoleer en dat dit in die belang van Hongarye is om van Orbán ontslae te raak. Die VSA en verskeie Wes-Europese lande werk aktief aan die beïnvloeding van kiesersentiment in Hongarye.

Daar is verskeie redes waarom die huidige Hongaarse regering ʼn bron van irritasie vir die VSA en Wes-Europa is. Die eerste is Hongarye se konserwatiewe ingesteldheid met ʼn sterk fokus op tradisionele, Christelike waardes. Hongarye se weiering om Moslem-immigrante in te neem, sluit hierby aan.

Die Amerikaners en talle Europese regerings is egter ook ongelukkig met die diplomatieke pragmatisme van die Hongare. Hongarye het goeie verhoudinge met lande soos Rusland, China, Turkye en selfs Iran. Terwyl Wes-Europa nog gesukkel het om ʼn inentingsprogram teen Covid-19 aan die gang te kry, het Hongarye reeds entstowwe by Rusland en China begin aankoop.

Nog ʼn rede waarom die Europese Unie Hongarye, en sommige ander lande in Sentraal- en Oos-Europa, probeer isoleer en hulle politiek probeer beïnvloed, hou verband met die groter wordende samewerking tussen lande in dié streek. Die Visegrád-groep, bestaande uit Hongarye, Pole, die Tsjeggiese Republiek en Slowakye, bestaan reeds vir drie dekades, maar werk die afgelope paar jaar toenemend saam op die gebied van verdediging, kultuur, ekonomie en energie.

Mense waai Hongaarse vlae terwyl hulle na ‘n toespraak luister van premier Viktor Orban ter herdenking van die Hongarye-rewolusie . (Foto: Attila KISBENEDEK/AFP)

Ander lande in Sentraal-Europa, soos Oostenryk, Slowenië en Serwië, het ook die afgelope ruk gereeld aan aktiwiteite van die Visegrád-groep begin deelneem. Hongarye en Pole geniet ook die steun van Roemenië en Bulgarye, beide EU-lidlande. Die Europese Unie wil nie hê dat ʼn blok van meer konserwatiewe, tradisionele lande in Sentraal- en Oos-Europa gevestig word wat die huidige liberaal linkse meerderheid in die Europese Unie kan bedreig nie.

Daar is geweldig baie op die spel in aanstaande jaar se verkiesing in Hongarye. Sou die opposisie die verkiesing wen, is dit nog onseker hoe hulle gaan regeer, veral omdat die ses partye wat saamwerk op verskeie gebiede min met mekaar gemeen het. Nadat aanvanklik aanvaar is dat Karácsony, of ʼn ander linkse kandidaat die ses partye se gesamentlike premierskandidaat sou wees, is daar egter baie strategies besluit dat Péter Márki-Zay, ʼn onafhanklike burgemeester van ʼn dorp in die suidooste van Hongarye, hul kandidaat sal wees.

Márki-Zay was voorheen ʼn lid van Fidesz en het homself al herhaaldelik as polities regs en kultureel konserwatief beskryf. Hy en sy vrou het sewe kinders en is getroue, praktiserende Rooms-Katolieke. Sedert sy aanwysing as opposisiekandidaat het hy egter reeds onderneem om Hongarye se bande met die Europese Unie te versterk, om selfdegeslaghuwelike te wettig en om verskeie konserwatiewe wette wat deur Fidesz ingestel is, te herroep. Hy het onlangs sover gegaan om te beweer dat Jesus eintlik ʼn linkse persoon was.

ʼn Verbete stryd oor die toekoms van Hongarye sal oor die volgende vier tot vyf maande woed. Westerse media, nieregeringsinstellings en selfs regerings gaan waarskynlik direk en indirek alles in hul vermoë doen om ʼn einde aan die Orbán-regering te maak. Vir mense wat sterk voel oor die behoud van die Westerse beskawing, Christelike Europa en Hongarye se ryk geskiedenis van meer as ʼn duisend jaar sal hierdie verkiesing ʼn maak-of-breek-verkiesing wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Catch-22… Soros en die nuwe liberale Duitse kanselier is twee karperde wat Europa kan omkeer. Biden dink hy is vreeslik woke met $oros se aansporing en droom hy bekeer Iran en klits Hongarye om. Verkeerde raadgewers en boetie se ambisies in Ukraïne gaan die oom die pot laat mis sit. Dit gaan ‘n lang jaar wees… ’22.

casper ·

1. Ons weet dat Iran wil graag vir Israel uitwis.
2. Ons weet Iran is onbetroubaar.
3. Ons weet hulle is besig om uraan te verryk.
4. Ons weet dat die hoe vlak van uraan verryking nie ‘n doel het in kern kragsentrales nie maar net vir ‘n atoom bom.

So as ons dan nou al die dinge weet het julle net een van 2 keuses ne.
a. Los hulle dat hulle die kenbomme maak of
b. stop hulle nou !!

As julle regtig nie weet wat om te doen nie staan opsy en Israel sal die probleem oplos !!!!!

groenboer ·

Die weste se inmengery in die Midde-Ooste en Oos-Europa herinner bietjie aan die voortdurende inmengery in die 19de eeuse Boererepublieke deur Brittanje. Dit het op die ou end op ‘n vernietigende oorlog uitgeloop, wat ook aan Brittanje self reuse-skade aangerig het.

Biden en sy pelle is besig om met vuur te speel…

Treurwilger ·

Baie interessant.
Dit wil al meer lyk asof die Visegrád-groeplande ‘n uiteindelike toevlugsoord vir die tradisionele, konserwatiewe Westerling kan word, in ‘n al meer onstuimige multi-kulturalistiese kookpot.
Hongaarse taallesse dalk goeie idee. Dit is nou ás Biden nie die oorlogsmasjinerie weer olie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.