Internasionale oorsig: EU-arrogansie bereik nuwe hoogtes in stryd teen Poolse regering

Dinsdag se debat in die Europese Parlement volg op ʼn uitspraak van die Poolse konstitusionele tribunaal waarvolgens Poolse wette voorrang bo EU-verdrae geniet. (Foto: Ronald Wittek/AFP)

Die vraag oor die soewereiniteit van die 27 lidlande van die Europese Unie is Dinsdag in die Europese Parlement in Straatsburg, Frankryk, op die spits gedryf toe die Poolse premier, Mateusz Morawiecki, sy land se standpunt dat die nasionale grondwet van ʼn EU-lidland voorrang bo verdrae en ander wette van die Europese Unie geniet, probeer verdedig het.

Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het ʼn hewige aanval op Pole geloods en het tydens die debat beweer dat Pole slegs as ʼn demokrasie funksioneer solank as wat dit deel van die Europese Unie is en aan die EU se verdrae voldoen.

Dinsdag se debat in die Europese Parlement volg op ʼn uitspraak van die Poolse konstitusionele tribunaal waarvolgens Poolse wette voorrang bo EU-verdrae geniet. Morawiecki het spesiaal na Straatsburg gereis om sy land se standpunt te gaan verdedig, maar is Dinsdagmiddag druipstert daar weg nadat Von der Leyen en verskeie EU-parlementslede hom oor die verdediging van Poolse soewereiniteit geroskam het.

Die vraagstuk oor die soewereiniteit van EU-lidlande is nie iets nuuts nie. Dit was een van die hoofredes waarom Brittanje ʼn paar jaar gelede besluit het om die EU te verlaat. Terwyl lande in Wes-Europa soos Nederland, Frankryk, Duitsland en België ten gunste van groter integrasie is, is daar baie EU-lidlande wat bekommerd is oor die wegkalwing van hul grondwetlike soewereiniteit deur die groeiende sentralisering van politieke mag binne die Europese Unie.

Terwyl Brittanje, en ʼn groot deel van die Britse kiesers, altyd skepties oor Brittanje se EU-lidmaatskap was, is dit totaal anders gesteld met Pole. Meer as 87% van Poolse burgers is positief oor Pole se lidmaatskap van die EU en Morawiecki het self in sy toespraak voor die Europese Parlement aangedui dat sy regering dit nie oorweeg om Pole se lidmaatskap van die EU te beëindig nie. Anders as in Brittanje sal dit vir Pole redelik maklik wees om hom aan die EU te onttrek met slegs ʼn meerderheid van parlementslede in albei huise van die Poolse parlement wat so ʼn besluit sal moet ondersteun en die president wat dit sal moet bekragtig.

Die uittredende Duitse kanselier, Angela Merkel, het die afgelope week weer gevra dat die geskil tussen die EU en Pole deur dialoog opgelos moet word en dat die EU nie nou stappe teen Pole doen nie. Von der Leyen se uiters aanvallende en arrogante toespraak Dinsdag het egter die kloof tussen die EU en die Poolse regering dramaties vergroot.

Von der Leyen het dit duidelik gestel dat die EU nie van plan is om met Pole oor dié land se soewereiniteit in gesprek te tree nie. Sy het dit eerder duidelik gemaak dat die EU oor verskeie opsies beskik om Pole as lidland te straf. EU-befondsing van projekte in Pole sal gestaak word sou die EU besluit om ʼn dissiplinêre proses teen Pole in te stel.

Met die verlies aan steun wat sentrumregse partye in Duitsland, Nederland, België en Frankryk die afgelope paar jaar ondervind, bestaan daar vrae oor die omvang van Von der Leyen se steun in Europa en oor watter magsbasis sy beskik. Tot dusver was Merkel en Emmanuel Macron haar groot ondersteuners met die Duitsers en Franse wat saam die septer in die EU geswaai het. Heelwat Europeërs is egter steeds ontevrede met die wyse waarop die president van die Europese Kommissie deur die Europese Raad (staatshoofde van die 27 lidlande) aangewys word en die feit dat die president van die kommissie nie deur burgers van Europa verkies word nie.

Ná die Verenigde Koninkryk se uittrede uit die EU het ernstige vrae daaroor ontstaan of nog lande oor die volgende paar jaar hul EU-lidmaatskap gaan opsê. Veral lande in die Mediterreense streek soos Griekeland, Frankryk en selfs Italië het ʼn hoë persentasie (tussen 38% en 47%) van die burgery wat teen voortgesette EU-lidmaatskap gekant is. Nie een van hierdie lande oorweeg egter tans om die EU te verlaat nie.

Dit was egter EU-lidlande in Sentraal- en Oos-Europa, eerder as dié in die suide, wat die afgelope ruk toenemend met die EU begin bots het. In die meeste lande in Sentraal- en Oos-Europa is daar ʼn groot meerderheid burgers wat ten gunste van EU-lidmaatskap is, terwyl die meeste van hierdie lande egter skepties is oor groter EU-integrasie, en dus die wegkalwing van EU-lidlande se politieke soewereiniteit.

In Junie vanjaar het die staatshoofde van 17 van die 27 EU-lidlande ʼn skerp bewoorde brief oor gay-regte onderteken wat, sonder dat Hongarye by naam daarin genoem is, duidelik ʼn reaksie op onlangse nuwe wetgewing in Hongarye is. Opvallend egter was die weiering van tien EU-lidlande se staatshoofde om die brief te onderteken. Dié tien lande is Pole, Tsjeggië, Slowakye, Hongarye, Slowenië, Roemenië, Bulgarye, Kroasië, Litaue en Portugal. Afgesien van Portugal is die ander nege EU-lidlande, wat in praktyk deur die nie-ondertekening van die brief aangedui het dat die EU nie sogenaamde EU-waardes op lidlande kan afdwing nie, ʼn magtige blok lande in Sentraal- en Oos-Europa.

Terwyl Pole hom nie aan die EU wil onttrek nie, kan die EU dit ook nie bekostig om Pole uit te skop en daardeur een van die ekonomies snelgroeiendste en invloedrykste lidlande in Sentraal-Europa te verloor nie. Dit voorspel eerder dat die spanning in die EU-leierskap, ondersteun deur ʼn meerderheid van die EU-parlementslede uit Wes-Europa en lande in Sentraal- en Oos-Europa wat meen dat die EU nie liberale waardes op hulle kan of mag afdwing nie, oor die volgende paar jaar eerder groter gaan word. Kiesers in Europa moet vroeg in 2024 weer vir EU-parlementslede stem en die vraagstuk oor die balans tussen die waardes, reëls en regulasies wat die EU op lidlande wil afdwing en lidlande se politieke soewereiniteit gaan waarskynlik een van die belangrikste kwessies in dié verkiesing wees.

Konserwatiewe Christen-Demokratiese partye verloor verder veld in Europa

Tot so onlangs as tien jaar gelede het meer as 20 van die 28 lande wat toe lid van die Europese Unie was ʼn sentrumregse konserwatiewe party as deel van hul regering gehad. In die meeste gevalle was hierdie gematig-konserwatiewe partye ook die grootste party in hul onderskeie lande.

Sedertdien het die sentrumregse Republikeine in Frankryk baie steun verloor; die Christen-Demokratiese Appèl in Nederland boer reeds meer as ʼn dekade lank net agteruit nadat dit lank die grootste party in Nederland was; en die sentrumregse Christen-Demokratiese partye in Vlaandere en Wallonië (deel van België) het ook die meeste van hul steun verloor. In Italië is sentrumregse partye byna heeltemal uitgewis. In Duitsland het die Duitse Christen-Demokratiese Unie (CDU) die verkiesing in September vanjaar verloor en sy laagste stempersentasie nog behaal.

In die Europese Parlement het die sentrumregse Europese Volksparty (EPP), wat hoofsaaklik uit Christen-Demokratiese partye bestaan, nog 36,4% van die stemme in die Europese verkiesing in 2004 behaal. In 2009 het dit tot 29,4% gekrimp; in 2014 tot 23,8%; en in 2019 tot 21%. Sou ʼn Europese verkiesing vandag plaasvind, sal die EPP se partye saam minder as 20% van die stemme in die EU se 27 lidlande behaal.

Die grootste deel van sentrumregse partye se verlies aan steun kan toegeskryf word aan steun wat aan nuwe regse partye soos die Alternatief vir Duitsland, die Partij voor de Vrijheid en Forum voor Democratie in Nederland, die Nieuw-Vlaamse Alliantie in Vlaandere, die Konserwatiewe Volksparty van Estland en Lega en Forza Italia in Italië afgestaan is. In Spanje het die steun van die nuwe regse party Vox, wat in 2013 gestig is, tot 15% van die stemme gegroei. Die meeste van hierdie regse of nasionalistiese partye het die afgelope twee dekades tot stand gekom.

Ander ouer regse partye soos Vlaams Belang (voorheen Vlaamsblok) in Vlaandere, Rassemblement National (voorheen Front National) in Frankryk, die Vryheidsparty van Oostenryk en die Sweedse Demokrate het die afgelope dekade uitstekend daarin geslaag om hul boodskap te herverpak en het baie steun by sentrumregse partye in hul lande afgerokkel. In Vlaandere is Vlaams Belang tans die grootste party in peilings. In Swede kan die Sweedse Demokrate in aanstaande jaar se verkiesing die grootste party word en in Frankryk bied Marine le Pen se Rassemblement National reeds ernstige mededinging vir pres. Emmanuel Macron en sy liberale En Marche!-party.

Daar is enkele uitsonderings op die verval van sentrumregse Christen-Demokratiese partye in Europa. In Oostenryk kon die jong Sebastian Kurz die Oostenrykse Volksparty herposisioneer en kon dié party in 2017 en 2019 gemaklike verkiesingsoorwinnings behaal. Kurz het egter onlangs weens ʼn skandaal as kanselier van Oostenryk bedank.

In Griekeland kon die bekwame leier Kyriakos Mitsotakis ná talle nederlae vir die Nuwe Demokrasie-party, dié sentrumregse party herposisioneer en in 2019 het die party ʼn gemaklike verkiesingsoorwinning behaal. Sowel die Volksparty van Oostenryk as die Nuwe Demokrasie in Griekeland kom uit die Christen-Demokratiese groepering van partye in Europa, maar kon die verlies aan steun omkeer.

In albei gevalle het die partye in ʼn groot mate na hul meer konserwatiewe, regse wortels teruggekeer en daarmee partye aan hul regterkant van ʼn geleentheid ontneem om te groei. Terwyl albei partye die afgelope paar jaar ʼn streng beleid oor onwettige immigrasie aanvaar het, het hulle ook weer tradisionele Christelike waardes waarop die Christen-Demokratiese groepering van partye ná die Tweede Wêreldoorlog in Europa ontwikkel het, na die hoofstroompolitiek teruggebring. Hulle het ook daarin geslaag om, ten spyte van ʼn beweging na regs, hul partye meer professioneel en modern vir ʼn jonger kieserskorps aan te bied.

Presies dieselfde is besig om in Spanje te gebeur met die redelik konserwatiewe Volksparty wat ook na sy meer regse, konserwatiewe, waardegedrewe wortels begin terugkeer en wat tans in alle peilings voorloop. In Duitsland heers daar sedert die onlangse verkiesing ʼn hewige debat in die Christen-Demokratiese Unie (CDU) oor of die party ʼn fout begaan het om onder Merkel se leiding té ver na links te beweeg. Die CDU se sustersparty in die deelstaat Beiere, die Christen-Sosiale Unie (CSU), is veel meer konserwatief, meer suksesvol en wil duidelik sien dat die CDU ook na sy meer konserwatiewe wortels terugkeer.

Die CDU, soos talle ander Christen-Demokratiese partye in Europa, het die afgelope twee dekades toenemend na links beweeg met die aanvaarding van verskeie linkse of sentrumlinkse beleidsrigtings soos strenger omgewingsregulasies en enorme investering in alternatiewe energie, die wettiging van gay-huwelike, hoër minimum lone en ander welsynsvoordele, die verkleining van militêre besteding en die inneem van miljoene vermeende vlugtelinge en asielsoekers.

In Sentraal- en Oos-Europa speel die meer nasionalistiese regse partye die afgelope dekade of twee ʼn toenemende rol in die politiek en regerings wat tot groeiende spanning met die sentrumlinkse en sentrumregse politieke blokke aanleiding gee. In die Europese Parlement is daar twee regse groeperings wat hulself regs van die EPP posisioneer. Die Europese Konserwatiewes en Hervormers is ʼn snelgroeiende groep van partye wat matig Euroskepties is en dus gekant is teen groter Europese integrasie en die opwenteling van mag van lidlande na die EU. Die meer radikale en regse Identiteit- en Demokrasie-groep bestaan ook uit groeiende partye wat hulself verder na regs posisioneer, maar wat ook steun by hoofsaaklik sentrumregse partye wegrokkel.

Gepaard met meer as tien jaar se voortdurende verlies aan steun ervaar die Christen-Demokrate in Europa tans ook ʼn verlies aan leierskap. Met Merkel se uittrede uit die politiek in Duitsland en Kurz se bedanking as kanselier in Oostenryk het dié groepering van partye geen sterk leier wat met gesag en geloofwaardigheid mense in die hele Europa bymekaar kan bring en oplossings vir belangrike knelpunte kan help vind nie. Dit voorspel niks goeds vir die krimpende Christen-Demokrate regdeur Europa nie.

Uiteindelik sal Christen-Demokratiese partye voor ʼn keuse te staan kom: Hulle sal harder met sentrumlinkse en linkse partye vir steun moet meeding, of hulle sal hul konserwatiewe wortels moet herontdek en die gaping aan hul regterkant, wat tans deur nuwe regse partye gevul word, moet verklein. Intussen skep die verval van die Christen-Demokrate, wat reeds sewe dekades lank die grootste ideologiese blok van politieke partye in Europa is, groot uitdagings oor hoe die toekoms van Europa gaan lyk en dit ontneem Europa ook van sterk, waardegebaseerde en noodsaaklike leierskap.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nici ·

Ek glo nie Hitler sou die miljoene immigrante verduur het nie.

Dirk Mostert ·

Die EU is die proto-wereldregering saam met die V.N.

Charl ·

Wie dink von der Leyen is sy, ”God’s gift to mankind” ?? So daal die Christelike en morele waardes maar net verder, die EU is ‘n klug en ‘n gevaar (soos hier in Pole se geval).

Ian ·

Gee tyd. Die instroming van immigrante en gepaardgaande verlies aan werk vir inheemse burgers gaan nog die EU se doodsteek wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.