Internasionale oorsig: EU-uitstappie na Moskou misluk

Josep Borrel. (Foto: François WALSCHAERTS/various sources/AFP)

Die gewaagde, dalk selfs dapper, besoek van die Europese Unie se beleidshoof vir buitelandse sake, Josep Borrell, verlede week aan Moskou, het misluk en is ’n verdere terugslag vir die leierskap van die Europese Unie wat reeds die afgelope weke onder toenemende druk verkeer.

Borrell se besluit om na Moskou te vlieg en met die Russiese minister van buitelandse sake, Sergei Lavrov, samesprekings te voer, was – in sy eie woorde – altyd ’n riskante stap. Ná afloop van dié twee se samesprekings het Lavrov egter op ’n mediakonferensie met Borrell aan sy sy so ver gegaan om die Europese Unie as ’n onbetroubare vennoot te beskryf, en die uitgeslape Lavrov het die mediakonferensie gebruik om oor Borrell te domineer en ’n duidelike boodskap aan die EU te stuur dat Rusland nie deur Wes-Europa voorgeskryf gaan word nie.

Terug in Brussel moes Borrell bontstaan om beskuldigings van lede van die Europese Parlement oor sy besoek te beantwoord. Sowat 70 parlementslede van linkse en regse partye het so ver gegaan om Borrell, ’n voormalige Spaanse minister van buitelandse sake, te versoek om uit die Europese Kommissie-leierskap te bedank.

Die verhouding tussen die EU en Rusland is reeds sedert 2014 baie swak en dit hou veral verband met gebeure in die Oekraïne. Die EU en ander Westerse lande beskuldig Rusland van betrokkenheid by seperatistegroepe in die ooste van die Oekraïne, en die EU het Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland ten sterkste veroordeel. Rusland daarteenoor sê dat sy betrokkenheid in die ooste van die Oekraïne en sy anneksasie van die Krim-skiereiland die gevolg was van ’n anti-Russiese regering wat met die hulp van Westerse lande op ondemokratiese wyse in die Oekraïne aan bewind gekom het.

Sedert die 2014-krisis is Rusland uit die G8-groep van lande geskop en is sanksies deur talle Westerse lande teen Rusland ingestel. Gereelde berade en vergaderings tussen Rusland en die EU is opgeskort en die verhouding tussen Wes-Europa en Rusland is sedertdien uiters gespanne.

Alexei Navalny. (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Die afgelope paar weke het die verhouding verder verswak met Europese leiers wat die Russiese regering se hantering van die opposisieleier, Alexei Navalny, veroordeel het en so ver gaan om te eis dat Navalny en honderde van sy ondersteuners wat onlangs in hegtenis geneem is, vrygelaat word. Rusland het verlede week met Borrell se besoek ook drie EU-diplomate wat aan betogings teen Navalny se inhegtenisname deelgeneem het, uit Rusland geskop.

Dinsdag moes Borrell in ’n toespraak in die Europese Parlement walgooi, en het hy gesê dat hy later vandeesmaand aan die ministers van buitelandse sake van al 27 EU-lidlande sal voorstel dat nuwe sanksies teen Rusland ingestel moet word. Huidige sanksies het reeds handel tussen Wes-Europa en Rusland groot skade berokken met Russiese, maar ook Europese maatskappye, wat skade ly.

Albei partye is dit eens dat ’n oplossing vir die probleem gevind moet word. Die een probleem is egter dat die EU volledig daarvan oortuig is dat die oplossing slegs by Rusland berus en dat dit bloot net Russiese aggressiewe en ondemokratiese praktyke is wat tot die swak verhouding aanleiding gegee het. In werklikheid kan die breuk in die verhouding tussen die Weste (Europa en die VSA) en Rusland teruggespoor word tot die vroeë 2000’s en NAVO se besluit om sy lidmaatskap, invloed en fisieke teenwoordigheid tot op die grens van Rusland, deur die Baltiese State, die Oekraïne, Moldawië en Georgië, uit te brei. Dit was een van die faktore wat in 2008 tot ’n oorlog tussen Rusland en Georgië aanleiding gegee het.

Die spanning tussen Rusland en Georgië, en Rusland se besetting van twee provinsies van dié land, die voortdurende toutrekkery tussen pro-Russiese en pro-Westerse politici in Moldawië, die voortslepende krisis in die Oekraïne en verlede jaar se gebeure in Belarus is alles bewyse van Rusland se behoefte om ’n veilige buffer van pro-Russiese lande tussen homself en die Weste, veral Navo-lidlande, te vestig.

Dit is van groot belang vir die stabiliteit van Europa en Wes-Asië dat ’n konstruktiewe verhouding tussen Westerse lande en Rusland daargestel moet word. Daarvoor is dit nodig dat beide partye hul foute erken en doelgerig daaraan begin werk om oplossings daarvoor te vind. EU-leiers is verkeerd om die vinger net na Rusland te wys. Die Russiese regering sal hom egter ook met groter erns moet verbind tot demokrasie en politieke stabiliteit op sy westelike en suidwestelike grense. Die huidige verswakkende verhouding tussen die Weste en Rusland is onnodig en hou groot veiligheids- en ekonomiese risiko’s in.

Betogings by universiteite in Turkye ná politieke aanstellings

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Die outoritêre regering van president Recep Tayyip Erdogan in Turkye het nou ook begin om politieke aanstellings in topposisies by dié land se universiteite te maak. Erdogan se onlangse besluit om die dekades lange gebruik dat aanstellings van rektors en departementshoofde by universiteite op grond van meriete geskied, te staak en dit deur politieke aanstellings te vervang, lei tans tot groeiende betogings en opstande by universiteite.

Erdogan het in Januarie by twee universiteite lede van sy regerende AKP-party in topposte aangestel. By die Bogazici-Universiteit het dit tot grootskaalse betogings aanleiding gegee met akademici wat tydens die inhuldigingseremonie van die nuwe rektor hulle rûe in stille protes na hom gedraai het.

Studente neem sedert 4 Januarie aan betogings teen hierdie politieke aanstellings deel en die studentebetogings is tot dusver met polisiegeweld beantwoord, met byna 200 studente wat in hegtenis geneem is. Intussen versprei die protes oor die hele Turkye met mense in talle stede en dorpe wat elke aand om 21:00 saam hul vensters oopmaak en op potte en panne slaan om hul protes teen die politieke aanstellings by universiteite te toon.

Erdogan se ingrepe by Turkse universiteite is die jongste in ’n reeks stappe die afgelope dekade waarin demokratiese praktyke en instellings toenemend ondergrawe word en sy regering al hoe meer outoritêr optree.

Erdogan het die afgelope paar jaar van die meeste onafhanklike media in Turkye ontslae geraak terwyl hy burgerlike groepe ondermyn het en opposisiepartye verswak het. Waar Turkye twee dekades gelede ’n moderne Westerse demokrasie in die Midde-Ooste en Wes-Asië was, is dié land nou ’n mislukkende demokrasie waarin demokratiese prosesse en burgerlike vryhede en deelname daagliks onderdruk word. Turkye se uitstekende onafhanklike universiteite is maar net die jongste slagoffers van Erdogan se outoritêre bewind.

Harde verkiesingsveldtog lê in Frankryk voor

Emmanuel Macron (Foto: Ludovic MARIN / POOL / AFP)

Terwyl politieke ontleders in Europa tans fokus op die verkiesing volgende maand in Nederland en die Duitse federale verkiesing wat waarskynlik teen einde September gaan plaasvind, toon peilings in Frankryk tans ’n kop-aan-kop-stryd in dié land waar kiesers volgende jaar na die stembus moet gaan.

Tussen 8 en 23 April 2022 sal die Franse presidentsverkiesing plaasvind met ’n waarskynlike tweede ronde twee weke daarna. ’n Kandidaat moet ’n volstrekte meerderheid behaal om as president verkies te word. Byna 48 miljoen geregistreerde kiesers in Frankryk sal aan dié belangrike verkiesing deelneem, wat eerstens ’n referendum oor die huidige president, Emmanuel Macron, se prestasie van die afgelope paar jaar gaan wees, maar ook ’n verkiesing oor die toekoms van die Franse republiek gaan behels.

Die kop-aan-kop-stryd is egter nie tussen Frankryk se sentrumregse en -linkse twee partye wat vir byna 70 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog die politiek in Frankryk gedomineer het nie, maar wel ’n herhaling van die 2017-verkiesing toe die nuweling, Macron, teen die populisties-regse Marine Le Pen in die tweede ronde te staan gekom het. Die verkiesing in 2017 was die eerste sedert die einde van die oorlog waarin beide die kandidate van die sentrumlinkse Sosialiste en die sentrumregse Republikeine nie tot die tweede ronde deurgedring het nie.

Terwyl Macron as jong, nuwe, gematig-liberale politikus in 2017 gemaklik teen Le Pen gewen het, het Macron se blink ster – wat in 2017 meegebring het dat hy sowat twee derdes van die stemme in die tweede ronde op hom verenig het – intussen drasties begin verdof. In 2019 se verkiesing vir die Europese Parlement het Le Pen se Rassemblement National (voorheen die Front National) eerste geëindig en die meeste setels van alle Franse partye gewen. Die party het net meer as 23% van die stemme in dié verkiesing gewen. In ’n Ipsos-peiling wat verlede week bekend gemaak is, loop Le Pen tans voor tussen agt kandidate vir die Franse presidentskap, en verenig sy tans 26% van die stemme op haar. Macron is ’n kortkop agter haar in die tweede plek. ’n Harris-peiling van ’n week vantevore het bykans dieselfde resultaat voorspel.

Marine Le Pen. (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Beide die Ipsos- en Harris-peilings wys ook dat Le Pen volgende jaar in ʼn tweede ronde van die verkiesing beter teen Macron gaan vaar as in 2017. In die Ipsos-peiling wen Macron met 56% teen 44% van die stemme. In die Harris-peiling wen hy naelskraaps met 52% teen 48%.

Sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die Franse politiek gedomineer deur twee hoofpartye, die Sosialistiese Party van, onder andere, Francois Mitterrand en Francois Hollande, en die Republikeine van Charles de Gaulle, Jacques Chirac en Nicolas Sarkozy. Sedert 2017 het dié twee partye se steun egter tot onder 10% elk teruggesak weens swak leierskap, verdeeldheid en selfs ’n skeuring en afsplintering wat plaasgevind het. Gewone Franse kiesers se vervreemding van die regerende elite het ook daartoe bygedra. Albei partye het in die 2019- Europese verkiesing meer as die helfte van hul setels verloor.

In volgende jaar se verkiesing sal die sentrumlinkse en sentrumregse blokke weer eens erg verdeeld wees en dit is reeds duidelik dat Macron en Le Pen die beste kans staan om tot die tweede ronde deur te dring. In die verlede, soos in 2017, is Le Pen van ’n oorwinning weerhou weens samewerking tussen byna al die ander partye om te verhoed dat hul ondersteuners vir haar stem. Linkse en regse partye het dus verenig teen Le Pen en ten gunste van Macron, al het baie van hulle ook nie juis ooghare vir Macron se beleidsvoorstelle nie.

In volgende jaar se verkiesing mag dit anders wees. Waar Macron in 2017 ’n opwindende, intelligente en jong nuwe leier was wat met groot belofte na vore getree het, is die meeste Franse tans egter baie negatief oor sy politieke prestasies. Die voortslepende ekonomiese uitdagings in Frankryk gepaardgaande met ernstige vrae oor die gevolge van dekades se massa-immigrasie skep ’n geleentheid vir die anti-immigrasie, identitêre en ekonomies populistiese Le Pen om in ’n tweede ronde van die verkiesing ’n baie sterker uitdaging aan Macron te bied as in 2017. Die vraag wat ook tans in Frankryk gedebatteer word, is tot watter mate ander partye ook weer volgende jaar bereid sal wees om teen Le Pen saam te span.

’n Besonder interessante verkiesingstryd lê oor die volgende 14 maande in Frankryk voor en die vraagstukke oor hoe Frankryk oor die volgende dekades moet lyk, sal met dié veldtog bespreek word. Die kandidaat met die beste antwoorde kan waarskynlik vir die volgende vyf jaar as president van Frankryk verkies word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerkind ·

Die ou wêreld is op sy kop gedraai… Wat reg is en was, is vandag verkeerd. Dit is duidelik dat, soos hier ook die geval is, demokrasie net op papier bestaan en sodra die verkose “paar” in beheer is, raak dit ‘n (versteekte) outokrasie…. Mense moet wakker word en OPSTAAN! Dit wat in my eie land gebeur is NIE waarvoor ek gestem het of belowe was nie… of hoe FW??

Dries ·

Ek kan nie wag vir Jaco en Rhoda se feitelike kommentaar en voorspellings rakende die onsuksesvolle empeachment van president Trump

Luister ·

Teen wat voel Rusland moet hy homself beskerm? Al wat die Weste wil hê, is dat hulle moet begin ontspan en ophou dink die Weste wil hulle ou landjie hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.