Internasionale oorsig: Europa keer terug na inperkings

Oostenrykse burgers neem hul kinders om teen die koronavirus ingeënt te word. (Foto: Joe Klamar / AFP)

Met twee-derdes van alle nuwe Covid-19-gevalle wêreldwyd wat in Europa alleen aangemeld word, het verskeie Europese lande die afgelope week streng nuwe inperkingsmaatreëls aangekondig. Bykans 70% van Europa se inwoners is reeds teen Covid-19 ingeënt en daarom fokus regerings op dié kontinent op maatreëls om mense wat nie ingeënt is nie, te dwing om ingeënt te word of om hulle heeltemal uit openbare plekke te hou.

Ten spyte van ʼn skerp toename in die voorkoms van Covid-19 in die meeste Europese lande, bly die sterftesyfer weens Covid-19 steeds redelik laag. In Duitsland het 65 000 mense Donderdag positief getoets. Die meeste Duitse deelstate het intussen streng nuwe reëls ingestel om die verspreiding van die virus te probeer beperk.

In Oostenryk, waar ʼn streng inperking van oningeënte mense ʼn paar dae gelede aangekondig is, het die regering Vrydag aangekondig dat die inperkingsmaatreëls nou vir alle burgers sal geld. Dit is van die strengste maatreëls in die hele Europa. Van Februarie volgende jaar sal inenting vir alle Oostenrykers verpligtend wees.

Ook in Nederland, Tsjeggië, Denemarke, Swede, Italië, Spanje, Griekeland en nog Europese lande is strenger maatreëls ingestel. Dit verhoed veral mense wat nie ingeënt is nie om restaurante, kroeë, sommige winkels en openbare fasiliteite te besoek. In sommige lande moet sake-ondernemings ook vroeër sluit en word mense aangemoedig om weer van die huis af te werk.

Dit is egter ook duidelik dat baie Europeërs nie kans sien vir hernude inperkingsmaatreëls nie. In Oostenryk, Kroasië, Italië en Nederland was daar die afgelope paar dae betogings teen die nuwe inperkingsmaatreëls. Protesoptrede teen verpligte inenting neem ook in verskeie dele van Duitsland toe. Met die voorkoms van Covid-19 wat waarskynlik oor die volgende paar weke verder oor die hele Europa gaan toeneem, kan aanvaar word dat ʼn onstuimige tyd vir dié kontinent voorlê.

Geen nuwe inperkings in die VSA

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Verskaf)

Die afgelope twee weke het die voorkoms van Covid-19 met 33% in die VSA toegeneem. Op Donderdag het bykans 95 000 mense in die VSA positief vir Covid-19 getoets. In teenstelling met wat in Europa gebeur, weier die meeste Amerikaanse deelstate egter om weer nuwe streng inperkingsmaatreëls in te stel en 12 deelstate het tot dusver enige vorm van verpligte of vereiste inenting heeltemal verbied, wat beteken dat geen werkgewer of instelling teen enigiemand mag diskrimineer wat nie ingeënt is nie.

Tot dusver is 196 miljoen Amerikaners, oftewel 71% van die land se volwasse bevolking, volledig ingeënt, terwyl 82% minstens gedeeltelik ingeënt is. Die huidige toename in die voorkoms van Covid-19 kom egter voor onder mense wat nie ingeënt is nie, sowel as onder diegene wat reeds volledig ingeënt is.

Vermont in die noordooste van die VSA is die enkele Amerikaanse deelstaat met die hoogste inentingskoers. Tog was daar die afgelope week ʼn 31%-toename in Covid-19-gevalle in Vermont, spesifiek onder mense wat volledig ingeënt is.

Terwyl nuwe Covid-19-gevalle in die VSA die afgelope week met 33% toegeneem het, het sterftes egter met 1% gedaal. Dit is waarskynlik die enkele grootste voordeel van inenting, naamlik dat dit hospitalisasie en sterftes dramaties verlaag.

Die Biden-administrasie het Donderdag, ná ʼn hofuitspraak teen hom, ook verpligtinge op werkgewers met 100 of meer werknemers minstens tydelik opgeskort. Biden het ʼn ruk gelede aangekondig dat alle werkgewers met meer as 100 werknemers dit van hul werknemers sal moet vereis om ingeënt te wees. Intussen het ʼn federale appèlhof in Louisiana beslis dat dit ongrondwetlik is. Talle Amerikaanse deelstate is tans in hofsake teen die federale regering gewikkel om verpligte inenting te probeer voorkom.

Die Amerikaanse beroepsveiligheid- en gesondheidsadministrasie het Vrydag bekend gemaak dat die implementering en afdwinging van die Biden-administrasie se inentingsvereistes vir eers gestaak word. Dit lyk toenemend of Biden se verpligte inentings nie gaan slaag nie.

Anders as in die meeste Europese lande, verkies Amerikaners dat gesondheidsorgbesluite op ʼn gedesentraliseerde vlak geneem moet word. Uiteindelik lyk dit ook asof die verdere hantering van die Covid-19-pandemie in die VSA deur deelstate en plaaslike regerings en instellings bestuur sal word en dat federale regulasies al hoe moeiliker afgedwing sal kan word. Terwyl Europa die volgende paar maande meer inperkings en drakoniese reëls gaan beleef, is die kanse skraal dat dieselfde in die VSA sal gebeur.

Boere wen in Indië

Die foto wat in Januarie 2021 geneem is, wys boere wat deelneem aan ‘n betoging in Delhi teen omvattende landbouhervormingsplanne van die regering (Foto: Money SHARMA/AFP)

Meer as ʼn jaar nadat die regering van premier Narendra Modi omvattende landbouhervormings in Indië aangekondig het, moes Modi die afgelope week druipstert erken dat die Indiese boere se protes teen die hervormings geslaag het en dat die drie wette wat verlede jaar in die Indiese parlement goedgekeur is, nou herroep word.

Oor die afgelope meer as 12 maande is 750 Indiese boere in protesoptrede dood en het honderde duisende voortdurend aan protesoptrede teen die hervormings deelgeneem. Sedert die einde van kolonialisme word groothandelaankope en prysbepaling van landbouprodukte in Indië deur die staat hanteer. Modi en sy regering wou dit dereguleer en was daarvan oortuig dat dit tot groter mededinging, beter produktiwiteit en uiteindelik beter pryse vir die boere sou lei.

Meer as die helfte van Indië se bevolking van 1,4 miljard werk in die landboubedryf en Modi se regering wil graag sien dat die landboubedryf moderniseer en beter praktyke, wat tot hoë opbrengste per hektaar sal lei, begin toepas. Die boere in Indië was egter nie hiervoor te vinde nie.

Hulle het maande lank snelweë om die hoofstad Delhi versper, terwyl hulle probeer het om die land onregeerbaar te maak. Die boereprotes het ook sy politieke tol begin eis met Modi wat heelwat steun, veral onder landelike kiesers, verloor het. Uiteindelik het hy die afgelope week aangekondig dat die hervormings nie meer deurgevoer gaan word nie en dat die drie wette wat reeds verlede jaar goedgekeur is, nou herroep word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nici

Ek sou wou verstaan hoekom die Indiese boere die wette, wat tot hul voordeel sou strek, verwerp het.

Anel

Wat ek wil weet, die Europeers is meeste ingespuit, maar nog steeds is dit hulle wat die meeste siek word. Wat sê dit van die gemors wat hulle die mense spuit. En almal dra maskers, maar nig steeds word die spul siek. Net soos hier. As die maskers nou so fantasties was, hoekom word die wat ditdra, seker as hulle slaap ook, die meeste siek. Ons wat die goed die minimum dra het nie eens ‘n loop neus neus. So hoe nou? Lyk of van die Amwerikaners wel die lig begin sien!

Rupert Ashford

Nou begin die effektiwiteit van die entstowwe duidelik raak, en die winter in die noordelike halfrond het nog nie eers ordentlik begin nie. Die nonsens dat die entstowwe “jou pad na vryheid en geen inperkings” is, is net dit – nonsens. Die entstowwe stop ook nie die verspreiding van COVID nie en ingeentes sowel as ongeentes kan dit versprei. Dit help wel dat ingeentes in meeste gevalle ligter simptome het maar ook nie noodwendig nie. Daarom is ongeentes ook nie ‘n gevaar vir ingeentes nie, maar is dit eerder andersom. So, dit behoort elke mens se eie besluit te wees… Lees meer »