Internasionale oorsig: Europa skarrel om erge energiekrisis te verhoed

Olaf Scholz (Foto: Tobias SCHWARZ/AFP)

Die Europese Unie se verbod op die invoer van steenkool uit Rusland het Donderdag in werking getree. Die EU se 27 lidlande sal voortaan steenkool uit eie myne, maar natuurlik ook van ander lande soos Australië, die VSA en verskeie Afrika-lande, insluitende Suid-Afrika, moet aankoop.

Die Duitse bondskanselier, Olaf Scholz, het Donderdag tydens die gereelde somer-mediakonferensie die oorlog in Oekraïne en die gevolge van die oorlog as sy regering se grootste enkele uitdaging beskryf. Reg oor Europa is lande besig om noodmaatreëls te tref om ’n ernstige energiekrisis teen die winter later vanjaar te voorkom.

Scholz het aangekondig dat tien Duitse steenkoolkragstasies wat die afgelope paar jaar gesluit is, reeds tydelik heropen het en dat nog kragstasies oor die volgende paar maande mag heropen. Die Duitse regering oorweeg dit om die gebruik van kernkrag, wat aan die einde van vanjaar tot ʼn einde sou kom, te verleng. Intussen word aanlegte om vloeibare aardgas te hanteer in die Duitse Noordsee gebou, met twee aanlegte wat reeds teen die winter gereed sal wees. Vloeibare aardgas sal ook vanaf Nederland en Engeland met pypleidings na Duitsland vervoer word.

Aan die begin van Augustus het die EU ʼn besluit goedgekeur waarvolgens alle EU-lidlande die gebruik van gas met 15% moet verminder. Terwyl hittegolftoestande die afgelope weke in verskeie Europese lande geheers het, is verskeie stappe ingestel om elektrisiteitsverbruik te verminder. In Spanje mag lugversorging nie kouer as 27 grade Celsius gestel word nie, terwyl verskeie lande, insluitende Frankryk en Duitsland, die gebruik van straatligte verminder. In Nederland is alle burgers versoek om nie langer as vyf minute te stort nie en Nederlanders moet ook die gebruik van lugversorgers en tuimeldroërs heeltemal laat vaar.

Die Belgiese regering het reeds besluit om die gebruik van kernkragstasies te verleng, terwyl lande met wesenlike kapasiteit om vloeibare gas in te voer, soos Nederland, Frankryk en Brittanje, reeds die bestelling vir vloeibare gas uit lande soos Noorweë, Nigerië, Algerië, die VSA en Katar verhoog het.

Die Italiaanse regering het ʼn omvattende ooreenkoms met die regering van Algerië gesluit om nie net invoere van vloeibare gas te verhoog nie, maar ook om nuwe gasvelde vinniger te ontwikkel. Sedert Junie vanjaar het Italië se gasinvoere uit Rusland reeds met meer as 50% afgeneem omdat dié land alternatiewe bronne kon vind.

ʼn Navorsingsgenoot verbonde aan Columbia Universiteit in New York, Tatiana Mitrova, het verlede week gesê dat die energiekrisis in Europa binne die konteks van ʼn Europese oorlog gesien moet word. Terwyl ʼn oorlog in Oekraïne voortwoed, is die hele Europa reeds daarby betrek. Volgens haar is die stappe wat regerings tans doen om ʼn ernstige energiekrisis teen die winter te verhoed, tekenend van ekonomiese omstandighede in oorlogstye.

Mitrova waarsku dat die situasie nog wesenlik kan versleg en dat drastiese stappe ʼn moontlikheid is, soos gedwonge rantsoenering, prysbeheer, die opskorting van energiemarkte en die sluiting van hele nywerheidsektore, veral dié wat energie-intensief is. Terwyl die meeste gewone Europese burgers oor stygende energiepryse bekommerd is, gaan die groter probleem later vanjaar ʼn tekort aan energie, en in sommige gevalle ʼn totale gebrek aan energiebronne, wees.

Terwyl Europese lande skarrel om meer steenkool, olie en gas uit ander lande as Rusland in te voer, sal dit byna deur die bank teen ʼn hoër koste geskied. Die invoer van vloeibare gas met skepe is twee tot drie keer duurder as die invoer van gas deur pypleidings uit Rusland.

Professor Christian Schweiger van die Chemnitz Universiteit van Tegnologie in Duitsland het die afgelope week gesê dat politici die bekommerdste moet wees oor die gevolge van stygende energiepryse op huishoudings en hoe gewone mense, veral armer Europeërs, daarop gaan reageer.

Energiepryse in Europa het die afgelope paar maande dramaties gestyg. In Nederland het ʼn studie die afgelope week bevind dat minstens ʼn kwart van burgers teen die winter nie hulle basiese energieverbruik sal kan bekostig nie. Die groothandelprys van gas in Europa het tot €200 per megawatt-uur gestyg, Dit is agt keer meer as die €25 per megawatt-uur van ʼn jaar gelede.

Scholz het aangekondig dat sy regering aan ʼn finansiële pakket werk om die gevolge van hoë energiepryse teen te werk. Die Franse parlement het twee weke gelede ʼn soortgelyke pakket goedgekeur. In ander Europese lande is daar ook druk op politici om prysbeheer op energie in te stel. Die Hongaarse regering het vroeër vanjaar vir enkele maande die prys van elektrisiteit en brandstof tydelik vasgepen.

Die groot vraag tans is of lande in Sentraal- en Oos-Europa wat deel van die EU is, in solidariteit met die res van Europa by die EU se planne gaan inval. Veral die Hongaarse regering maak heftig kapsie daarteen. Lande soos Hongarye, Slowakye en Tsjeggië is baie afhanklik van olie en gas uit Rusland en het nie gemaklike toegang tot hawens om vloeibare gas in te voer nie.

Volgens modellering van die Internasionale Monetêre Fonds kan die energieprobleme in Europa die komende winter tot ʼn ekonomiese inkrimping van 1,8% in die EU-gebied lei. Lande in Sentraal- en Oos-Europa se ekonomieë kan egter met 6% krimp sou hulle nie toegang tot ander energiebronne kry nie. Dit is daarom vir die Europese Unie ʼn prioriteit dat die las van die energietekorte tussen al 27 lidlande verdeel moet word. Ten spyte van protes uit onder andere Spanje, Portugal, Hongarye en Ierland slaag die EU tans nog daarin om al 27 lidlande te laat saamwerk om energieverbruik te verlaag en alternatiewe energiebronne te vind.

(Foto: Daniel ROLAND/AFP)

Scholz het aangekondig dat sy regering ook stappe doen om die ontwikkeling van alternatiewe energiebronne te versnel. Dit sluit in die vinnige bou van groot windkragparke in die see noord van Duitsland. Die IMF verwag dat die opwekking van hernubare energie vanjaar met 15% in Europa kan toeneem en dat daar volgende jaar selfs ʼn groter toename kan wees.

Die Europese Kommissie het onlangs voorgestel dat die 27 EU-lidlande teen ʼn koste van €210 miljard die opwekking van elektrisiteit uit hernubare energiebronne tot 45% teen 2030 verhoog. Dit behels byna ʼn verdubbeling van waar dit tans is. EU-lidlande moet ook teen 2030 hulle energieverbruik met 13% verminder.

Dit is egter duidelik dat die meeste Europeërs reeds die pyn van die skerp styging in energiepryse ervaar. Selfs al slaag baie planne om alternatiewe energiebronne in die plek van Russiese steenkool, olie en gas te vind, sal dit steeds hoë energiepryse veroorsaak. Die gevolge hiervan is stygende inflasie en ernstige druk op gebruikers, wat selfs tot protes aanleiding kan gee. Verlaagde energietoevoer aan groot nywerhede kan ook baie slegte gevolge vir die Europese ekonomie inhou. Daarmee saam word die kans op ʼn EU-wye resessie drasties verhoog.

Dit is duidelik dat die EU en die meeste Europese lande pro-aktief optree om ʼn komende energiekrisis by te lê. Die moeilike vraag is of die huidige solidariteit tussen Europese lande volgehou kan word totdat daar oor die volgende vyf tot tien jaar ʼn meer permanente plaasvervanger vir energie-invoere uit Rusland ontwikkel kan word.

Erdogan, Turkye gebruik Oekraïne-oorlog om globale aansien te verhoog

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Die pro-regeringskoerant Daily Sahab in Turkye het die afgelope week in ʼn hoofartikel na die grootste Turkse stad, Istanboel, as die globale sentrum van diplomasie verwys. Hoewel so ʼn opmerking feitelik nie korrek is nie en duidelike regeringspropaganda is, bevestig dit egter die huidige Turkse president, Recep Erdogan, se strategie om die oorlog in Oekraïne te gebruik om Turkye se rol as tussenganger tussen die Weste, Rusland en selfs die Ooste verder uit te bou.

Die grootste deurbraak vir die Turke was die onlangse ooreenkoms wat in Istanboel onderteken is en wat die hervatting van graanuitvoere uit Oekraïne moontlik maak. Die Turkse regering bied homself toenemend aan as tussenganger tussen Oekraïne en Rusland, maar ook tussen sy Westerse bondgenote en lande soos Rusland, Iran en Oosterse lande met wie Turkye goeie bande het.

Die Turkse wapenvervaardigingsbedryf, en veral Turkse aanvalshommeltuig-vervaardigers, maak groot geld uit die oorlog in Oekraïne. Die weermag van Oekraïne gebruik geld wat deur die VSA en verskeie Europese lande geskenk word om wapens en veral hommeltuie by die Turke aan te koop.

Intussen koop Turkye goedkoop gas by Rusland aan om in sy eie energiebehoeftes te voorsien. Verlede jaar het 45% van Turkse gas uit Rusland gekom en vanjaar sal dit waarskynlik selfs heelwat meer wees. Stygende gas-, steenkool- en oliepryse raak Turkye egter ook negatief.

In 1952 het Turkye by die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) aangesluit in die hoop om daardeur nader aan Westerse lande te beweeg. Dit moes ook as ʼn veiligheidswaarborg teen die Sowjetunie dien aangesien die Sowjetunie ʼn veiligheidsbedreiging vir die Turke ingehou het. In die 1950’s was Turkye heelwat meer pro-Westers as vandag en was daar selfs sprake van ʼn volwaardige integrasie van Turkye binne die Westerse kultuur en die Europese ekonomie.

Die afgelope twintig jaar het Erdogan ou Ottomaans-Islamitiese nasionalisme in Turkye laat herleef en het hy dikwels die Weste as vyand eerder as vriend van Turkye geposisioneer. Dit het tot talle diplomatieke geskille tussen Turkye en onder andere die VSA, Duitsland, Frankryk en Nederland gelei.

Tog het Erdogan min rede om sy land uit Navo te onttrek. Sy groot voordeel met Navo-lidmaatskap is lankal nie meer die verdediging van Turkye of integrasie in die Weste nie, maar eerder Turkse invloed binne die globale magstryd wat tans afspeel. Volgens die mees onlangse Global Firepower-ranglys van lande se militêre vermoë het Turkye die elfde sterkste weermag ter wêreld. Die Turke is dus in ʼn baie sterk posisie om self hulle eie grondgebied te verdedig.

Daarmee saam het Erdogan geen behoefte meer vir Turkse integrasie in Europa nie. Hy sien Turkye se rol nou eerder as ʼn brug tussen Wes en Oos. Terwyl Turkye met Navo-lande saamwerk, werk hy ook met Rusland en Iran saam in die oorlog in Sirië en in die hantering van ander konfliksituasies in die Midde-Ooste en Wes-Asië.

ʼn Belangrike presidentsverkiesing vind volgende jaar op 18 Junie in Turkye plaas. Erdogan beplan om weer as kandidaat te staan. Sy gewildheid het egter die afgelope paar jaar skerp afgeneem en daar is genoeg rede om te glo dat hy volgende jaar se verkiesing teen ʼn geloofwaardige kandidaat kan verloor.

Erdogan het die afgelope twee dekades sy visier op demokratiese instellings in Turkye gestel en vandag is daar byna geen onafhanklike media oor wat die regering kritiseer nie. Ook nie-regeringsorganisasies, universiteite en die howe is deur Erdogan gekaap terwyl duisende van sy opponente tans tronkstraf uitdien.

Die hoofrede vir Erdogan se verlies aan steun is weens die swak Turkse ekonomie. Inflasie in Turkye het in Julie tot byna 80% gestyg. Die tekort op Turkye se lopende rekening het in die eerste helfte van vanjaar tot $32,4 miljard toegeneem. Die Turkse lira het ook reeds vanjaar baie veld verloor teen die vernaamste geldeenhede soos die dollar en die euro.

Die Turkse toerismebedryf het nog net gedeeltelik herstel met Westerse toerisme wat gedeeltelik deur toeriste uit armer Oos-Europese, Midde-Oosterse en Asiatiese lande vervang is. Dit beteken dat die inkomste uit toerisme nog nie herstel het nie. Westerlinge is nie net skepties oor vakansies in Turkye nie, maar Westerse beleggers bly ook steeds weg uit die land. Direkte buitelandse beleggings in Turkye het tydens die eerste helfte van die jaar verder gedaal.

Met hoë inflasie, ʼn stagnante ekonomie, ʼn baie swak geldeenheid, lae uitvoere, ʼn daling in beleggings uit die buiteland, toerisme wat nie herstel nie en stygende energiekoste is die meeste Turke besig om armer te raak en is daar miljoene Turke wat sukkel om te oorleef. Dit is hierdie einste armer Turke wat die afgelope twee dekades die basis van Erdogan se politieke steun uitgemaak het.

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

Terwyl die Turkse ekonomie sukkel, is Erdogan se oplossing die aanblaas van Turkse nasionalisme en die uitbou van Turkye se rol as ʼn magtige en suksesvolle globale rolspeler. Erdogan hoop dat kiesers wat nie vir hulle verblyf en elektrisiteit kan betaal nie, volgende jaar steeds vir hom sal stem omdat hy respek op die globale verhoog afdwing.

Turkye se kat-en-muisspeletjie met Swede en Finland in dié twee lande se poging om by Navo aan te sluit, is ʼn bewys dat Erdogan sy rol in Navo sal gebruik om respek af te dwing. Swede het die afgelope week onder druk van Erdogan geswig en ʼn Turkse burger wat in Swede woon, aan Turkye uitgelewer. Turkye het steeds nie Swede en Finland se toetrede tot Navo amptelik goedgekeur nie.

Turkye sal soos wat die oorlog in Oekraïne voortduur, probeer om sy rol as tussenganger verder te versterk. Dit is egter ʼn ope vraag oor of globale aansien genoeg sal wees om Erdogan volgende jaar in die verkiesing oor die wenstreep te dra. Daarmee saam ontstaan die vraag oor of die verkiesing enigsins vry en regverdig sal wees, en vir hoe lank die Weste Turkye sal toelaat om by Navo, maar ook in die stryd tussen die Weste en Rusland, met sy magsvertoon voort te gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lourens ·

En die groot verskil is dat Europa die krisis voorsien en maatreëls in plek stel om dit te voorkom. Hier in SA leef ons al sedert 2008 daarmee, en steeds is niks gedoen nie; inteendeel, dit is nou erger as toe.

VaalDonkie ·

Nee ou bul. Europa sit self met ‘n effense probleempie want hulle wil nie kernkrag gebruik nie, en daai son en wind gaan nie in hul komende winter kan voorsien nie. En dan wil hulle ook nie Rusland se steenkool en gas aanvaar nie.

Hulle dink mos sanksies werk net een kant toe. So much for “smart” people.

Groen Ghoen ·

Hallo November en Desember, om van Februarie nie eens te praat nie. ‘n Duur winter in Europa gaan seker ‘n nog duurder somer in die Suide wees?

Andrew ·

En nou keur ons regerging die bou van steenkool myne goed wat nie gebou moet word, met groot euro “bribe” geld. SA moet eintlik russiesie steenkool inbring en net so weer uitvoer , dan hoef ons land nie “opgechop” te word nie. Koste vir Europa gaan dieselfde wees

Andrew ·

En nou gaan Europa die straat ligte verminder , want die derduisende asielsoekers wat die paar lande ingeneem het het aangebied om as burgerlike oppasers van die nuwe “donker zones” op te tree.

Hennie Biebouw ·

Tydens ‘n toespraak aan die Verenigde Nasies in 2018 het Donald Trump Duitsland gewaarsku teen die gevare daarvan om van Russiese olie en gas afhanklik te word. Hulle het dit afgelag.
Snaaks hoe géén hoofstroom mediahuis dit erken nie.
Selfs Kanada se grootste vyand, Justin Trudeau en die Duitse Bondskanselier ontmoet mekaar eersdaags om na “oplossings” te soek vir Duitsland se energiekrisis.

Mens kan maar net wonder wanneer die meriete van ‘n saak, en nie die opinie voorbehou jeens die boodskapper, weer sal begin hoogty vier…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.