Internasionale oorsig: Europese Kommissie op agtervoet ná entstofdrama

Die vlag van die Europese Unie. (Argieffoto: pixabay)

Die Europese Kommissie se reaksie op kritiek dat die verkryging en verspreiding van entstowwe in Europa té stadig verloop, het die afgelope week tot groter onenigheid tussen die Europese Unie (EU) en die Britse regering gelei. Terwyl ander lande soos die Verenigde Koninkryk, die Verenigde State en Israel die afgelope ses weke met redelike groot sukses begin het om miljoene burgers in te ent, het die EU se program om burgers van die 27 lidlande in dié blok gesamentlik in een projek in te ent, baie stadig begin.

Die EU, en veral die president van die Europese Kommissie, se reaksie hierop was ʼn aanval op farmaseutiese maatskappye en in die besonder op die Britse maatskappy AstraZeneca.

Ursula von der Leyen, president van hierdie kommissie, het selfs sover gegaan as om invoere uit Ierland, via Noord-Ierland, na Brittanje te blokkeer. Dit het verlede Vrydag tot ʼn geskil tussen haar en die Britse premier, Boris Johnson, aanleiding gegee. Von der Leyen het egter binne ure aan Johnson se eise toegegee en haar besluit om van artikel19 van die Noord-Ierland-Brexit-protokol gebruik te maak, herroep.

Burokratiese rompslomp

(Foto: Graeme Robertson/AFP)

Intussen het dit duidelik geword dat die EU se tekort aan entstowwe hoofsaaklik te make het met burokratiese rompslomp, die verlies aan vervaardigingskapasiteit van entstowwe in Europese lande die afgelope dekade of twee en die strategie van die EU om laer pryse, eerder as vinnige lewering, tydens onderhandelinge met farmaseutiese maatskappye voorop te stel.

Die bykans desperate optrede van die EU-leierskap die afgelope paar dae hou verband met groot onrustigheid onder gewone burgers in verskeie Europese lande weens die voortslepende pandemie en die gevolge van die inperkingsmaatreëls. Terwyl betogings die afgelope paar weke in Nederland, Frankryk, Italië, Spanje en nog EU-lidlande teen inperkingsmaatreëls plaasgevind het, het restaurant-eienaars in Pole en Italië begin om hul restaurante te heropen in weerwil van reëls wat hulle verbied om dit te doen.

Leiers in Europa het reeds aan die einde van verlede jaar alle hoop op ekonomiese herstel op die vinnige beskikbaarstelling van entstowwe geplaas. Die EU het Dinsdag bekend gemaak dat die ekonomieë van die 19 lande wat deel van die Eurosone uitmaak in die vierde kwartaal van verlede jaar met 0,7% gekrimp het, terwyl die meeste ander lande in die wêreld in dié kwartaal groei ervaar het.

Hierdie inkrimping was ʼn direkte gevolg van nuwe, strenger inperkingsmaatreëls.

Die Eurosone se ekonomieë het verlede jaar met 5,1% ingekrimp en daar word nou reeds verwag dat ekonomiese herstel in die hele Europa langer gaan neem as wat tot so onlangs as ʼn paar maande gelede verwag is. Met die huidige streng inperkingsmaatreëls wat in die meeste Europese lande geld, is dit moontlik dat die hele EU-gebied in die eerste kwartaal van vanjaar ʼn verdere ekonomiese inkrimping kan ervaar.

Ekonome by Oxford Economics het die afgelope week gesê dat ekonomiese herstel in Europa nou regstreeks aan die tempo van inenting teen die koronavirus gekoppel kan word.

Die politieke gevolge van die pandemie lei tans tot groeiende afkeer onder Europese burgers van die EU-leierskap. Von der Leyen, wat reeds voor die pandemie nie besonder gewild was nie, se leierskap word toenemend bevraagteken.

Slegs sowat 3% van die EU-lidlande se bevolking het tot dusver een inspuiting van ʼn entstof teen Covid-19 gekry. Daarteenoor het sowat 15% van Britte en bykans 10% van die Amerikaanse bevolking reeds hul eerste inenting ontvang.

Met verkiesings in verskeie Europese lande (waaronder Nederland en Duitsland) later vanjaar, kan die EU se hantering van die pandemie ook nasionale politieke tendense in lidlande beïnvloed en kan dit vir politieke leiers nodig raak om vingers na Brussel te wys in ʼn poging om verkiesings in hul eie lande te wen.

Koninkryk nie meer so ‘verenig’

(Foto: Justin Tallis/AFP)

Nadat die Verenigde Koninkryk (VK) uit die EU getree het, toon verskeie peilings dat daar groeiende steun in Skotland, Noord-Ierland en selfs in Wallis is vir uittrede uit die VK.

Die onafhanklikheidsbewegings in dié drie streke van die VK kan ʼn groot uitdaging vir die regering van Boris Johnson in die aanloop tot 2024 se verkiesing inhou.

Johnson verdien lof vir sy suksesvolle hantering van die Brexit-sage en sy regering se vermoë om Britse burgers tans teen Covid-19 in te ent. Johnson-ondersteuners gaan selfs so ver om, waarskynlik tereg, daarop te wys dat dit juis danksy die feit dat die VK nie meer deel van die EU is nie, dat dié land sy burgers vinniger as die res van Europa kan inent.

Hoewel die VK se inentingsprogram een voordeel van Brexit is, hou onafhanklikheidsbewegings in Skotland, Wallis en Noord-Ierland egter vol dat die ekonomiese gevolge van Brexit negatief is.

Johnson slaag nie op die oomblik daarin om hierdie openbare sentiment teen te werk nie.

Die afgelope paar maande het die steun vir die onafhanklikheid van Skotland en Wallis en vir Noord-Ierland se heraansluiting by Ierland skerp toegeneem.

In Skotland gaan kiesers op 6 Mei na die stembus om vir 129 lede van die Skotse parlement te stem. Die huidige regerende links-nasionalistiese Skotse Nasionale Party (SNP) loop gemaklik voor in peilings en gaan waarskynlik ʼn volstrekte meerderheid in dié verkiesing behaal.

Die SNP se steun is tans baie hoog in Skotland en die party se leier, Nicola Sturgeon, kry veral lof vir haar hantering van die pandemie. Sturgeon eis reeds dat die VK ʼn nuwe onafhanklikheidsreferendum vir Skotland moet toelaat, maar Johnson weier volstrek.

In peilings wat die afgelope ses maande gehou is, kom steun vir Skotse onafhanklikheid deurgaans op tussen 52% en 56% te staan.

Sou die SNP op 6 Mei gemaklik wen en hy sy steun daarna behou, kan dié party heelwat setels in die 2024-verkiesing in die VK wen en sal die party daardeur nóg groter druk op ʼn nuwe Britse regering kan plaas om tot ʼn referendum in te stem.

In 2014 het 55% van die Skotte teen onafhanklikheid gestem, maar die steun vir onafhanklikheid het sedertdien konstant toegeneem. Dit is veral onder die jong Skotte wat daar groot steun vir onafhanklikheid is.

ʼn Peiling wat in Januarie in Noord-Ierland gedoen is, toon vir die eerste keer dat ʼn meerderheid van mense in Noord-Ierland nou ten gunste van hereniging met Ierland is.

Veral jonger mense in Noord-Ierland is sterk ten gunste hiervan.

Selfs in Wallis, ʼn land in die VK wat veel nader aan Engeland staan, is daar groeiende steun vir onafhanklikheid met ʼn peiling in Januarie wat getoon het dat een uit elke vier Walliesers ten gunste van onafhanklikheid is. Hoewel dit ver van ʼn meerderheid is, is daar ʼn duidelike toename in steun onder die Walliesers vir onafhanklikheid. Die uitdaging in Wallis is wel dat meer as 20% van mense wat in Wallis woon, in Engeland gebore is en sterk ten gunste van eenheid in die Verenigde Koninkryk is.

Terwyl honderde duisende mense oor die VK tans daagliks teen Covid-19 ingeënt word, gaan die Britse premier oor die volgende drie jaar sy hande vol hê om die ekonomiese gevolge van die pandemie te bestuur, Brittanje se uittrede uit die Europese Unie verder te bestuur met onder meer handelsonderhandelinge wat met verskeie lande voorlê, terwyl hy oproepe om onafhanklikheid in Skotland en pogings om Noord-Ierland weer by Ierland in te lyf, met groot moeite en omsigtigheid sal moet teenwerk.

Indien Johnson nie hierdie uitdagings te bowe kom nie, is sy kanse op herverkiesing in 2024 baie skraal en kan die einde van die VK, soos ons dit tans ken, nader wees as wat baie mense dalk wil erken.

Italië probeer verkiesing vermy, maar teen watter prys?

Die Italiaanse eerste minister, Giuseppe Conte. (Foto: Alberto Pizzoli/AFP)

Die afgelope week het die regering van die Italiaanse premier, Giuseppe Conte, finaal tot ʼn einde gekom toe hy nie ʼn nuwe koalisie in die Italiaanse parlement kon saamstel nie. Conte se regering het sowat twee weke gelede tot ʼn val gekom toe die voormalige premier Matteo Renzi sy redelike klein Italia Viva-party aan die regeringskoalisie onttrek het.

Die Italiaanse president het Woensdag die voormalige voorsitter van die Europese Sentrale Bank, Mario Draghi, gevra om te probeer om ʼn nuwe regering vir Italië saam te stel om vervroegde verkiesings te probeer voorkom. Pres. Sergio Mattarella is bekend daarvoor dat hy, soos wat die geval met Conte en Renzi was, graag ʼn tegnokraat van buite die georganiseerde politiek nader om, wanneer ʼn politieke krisis in Italië ontstaan, te help om ʼn regering te vorm.

Draghi geniet aansienlike geloofwaardigheid danksy sy vorige posisie by die Sentrale Bank, maar hy gaan steeds ʼn opdraande stryd hê om ʼn meerderheid van parlementslede te kry om ʼn regering saam te stel. Terwyl die populistiese Vyfsterbeweging hom nie steun nie, het die sentrum-linkse Demokratiese Party wel sy steun belowe.

Die vraag is of Draghi steun van enige van die regse partye kan verwag.

Drie regse partye geniet volgens peilings tans 50% van die Italianers se steun en hierdie partye sal almal graag eerder ʼn vervroegde verkiesing wil hê om ʼn nuwe regse koalisieregering saam te stel. Linkse partye probeer om dit te voorkom, maar dit gaan moeilik wees sonder die steun van die Vyfsterbeweging.

Sou Draghi naelskraaps daarin slaag om ʼn nuwe koalisieregering saam te stel, sal dit die 70ste regering sedert die demokratisering van Italië in 1946 wees. Daar bestaan egter min hoop dat so ʼn regering self lank staande sal bly weens die uiteenlopende politieke posisies van partye wat vir ʼn koalisieregering nodig is. Soos talle ander Europese lande het Italië die afgelope paar jaar ʼn groot versplintering van politieke partye ervaar en dit is moeilik vir ʼn staatshoof om voortdurend uiteenlopende partye en leiers in ʼn koalisieregering bymekaar te hou.

Italië is steeds een van die lande in Europa wat die hardste deur die pandemie getref is. Die Italiaanse ekonomie is waarskynlik reeds weer in ʼn resessie en die land se staatskuld raak tans aan 160% van die bruto binnelandse produk. ʼn Begrotingstekort van bykans 10% word vir vanjaar voorspel en enige nuwe premier gaan ʼn enorme uitdaging hê om hierdie ekonomiese probleme die hoof te bied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Therese ·

Jaco Kleynhans se Internasionale Oorsig is altyd voortreflik!

EU : “burokratiese rompslomp” + “verlies aan vervaardigingskapasiteit” = “Globalisme”.

Lagwekkend hoe dit nou ontvou met die inenting-drama.

Europa, geniet die self-veroorsaakte afhanklikheid van ander, veral van China.
Net mense met waardes en beginsels gee om vir die ellende in Chinese ‘sweatshops’!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.