Internasionale oorsig: Europese leiers soek oplossings vir lang lys uitdagings

(Foto: Daniel LEAL-OLIVAS / AFP)

Leiers van die 27 Europese Unie-lidlande het die afgelope week vergader om onder meer die Brexit-onderhandelinge, die hantering van die Covid-19-pandemie, uitdagings met die goedkeuring van die EU se begroting, ambisieuse planne om klimaatsverandering teen te werk, moontlike sanksies teen Turkye en die toekomstige verhouding tussen Europa en die VSA te bespreek.

In die EU probeer Europese leiers konsensus bewerkstellig oor wat dié unie se strategie in sy verhouding met ʼn nuwe Amerikaanse regering volgende jaar moet behels. Die mislukking van onderhandelinge tussen die EU en die Verenigde Koninkryk is ook ʼn bron van groot kommer vir talle Europese leiers weens die onsekerheid oor die wyse waarop handel en die beweging van mense tussen Brittanje en die Europese vasteland vanaf 1 Januarie geraak sal word nadat die tussentydse reëling tussen die partye verval het en ʼn nuwe verhouding, waaronder ʼn moontlike handelsooreenkoms, nog gesluit moet word.

Pres. Donald Trump se beleid die afgelope vier jaar waarin hy ook in die verhouding tussen die VSA en Europa Amerika se belange vooropgestel het, het tot ʼn noodsaaklike beroep deur die Franse president, Emmanuel Macron, vir groter Europese soewereiniteit aanleiding gegee. Pres. Trump het Europese leiers kort ná sy verkiesing in 2016 reguit gekonfronteer met Europese lande se onwilligheid om vir hulle eie veiligheid verantwoordelikheid te neem en hulle gemaan om meer geld aan verdediging te bestee.

Pres. Macron sien hierin ʼn geleentheid vir Europa om minder afhanklik van die VSA te wees, asook ʼn nuwe, meer realistiese verhouding met die VSA daar te stel. Hy word deur sommige Europese leiers, onder wie Mark Rutte van Nederland, ondersteun. Die Nederlandse politikus en huidige adjunkpresident van die Europese Kommissie, Frans Timmermans, het reeds in 2014, toe hy die Nederlandse minister van buitelandse sake was, gesê dat Europa nie vir altyd van die VSA vir sy verdediging afhanklik kan bly nie.

Die Duitse kanselier, Angela Merkel, het haar egter die afgelope 15 jaar beywer vir die behoud van die status quo en sy het pres. Barack Obama grootliks daarvan oortuig. Die vraag is nou of die aangewese Amerikaanse president, Joe Biden, weer volledig na die Obama-era van ʼn transatlantiese verhouding sal probeer terugkeer.

Leiers soos Macron wil eerder sien dat ʼn nuwe, eietydse transatlantiese verhouding ontwikkel moet word. Europese leiers het tans geen konsensus hieroor nie. Die uitdaging vir leiers in die Europese Unie is om die verdeeldheid tussen lidlande oor wat die toekomsvisie van Europa moet wees sodanig te bestuur dat dit nie op belangrike terreine soos die Brexit-onderhandelinge, die hantering van konflik met Turkye of selfs die praktiese inwerkingstelling van ʼn ekonomiese hulppakket tot ʼn dooiepunt aanleiding gee nie.

Daar is wel tydens die afgelope beraad ʼn ooreenkoms met Pole en Hongarye oor die EU se begroting bereik. Dit lyk ook toenemend asof die EU sanksies teen Turkye gaan instel omdat Turkye nie wil saamwerk aan ʼn oplossing vir die konflik in die oostelike Middellandse See-gebied nie.

EU se vergadering met Afrika-leiers weer uitgestel

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

ʼn Virtuele beraad tussen Europese leiers en leiers van verskeie Afrika-lande wat Woensdag moes plaasvind, is onbepaald uitgestel. Die beraad wat reeds in Oktober moes plaasvind, maar wat weens die pandemie uitgestel is, is vroeër vandeesweek op versoek van die voorsitter van die Afrika-unie, pres. Cyril Ramaphosa, op kort kennisgewing uitgestel.

Volgens die Afrika-unie was daar te min verbintenisse deur staatshoofde wat aan die beraad sou deelneem en daar was na bewering ook verskille oor die agenda. Die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, en die hoof van die Europese Raad, Charles Michel, sou aan Woensdag se beraad deelgeneem het.

Samewerking tussen die EU en Afrika-lande is noodsaaklik vir die hantering van ernstige veiligheids-, ekonomiese en maatskaplike uitdagings op die Afrika-kontinent. Die wyse waarop Afrika-leiers egter samewerking met Europese lande benader, en hulle verbintenis tot die volgehoue ontwikkeling van goeie verhoudinge en handels- en ander bande met Europese instellings en leiers stel teleur.

Die groot re-migrasie na Oos-Europa en die Midde-Ooste

Die Internasionale Organisasie vir Migrasie het onlangs data bekend gemaak oor die miljoene immigrante en gasarbeiders wat uit onder meer Wes-Europa en ryker Golflande na Oos-Europa en die Midde-Ooste teruggekeer het. Met die aanbreek van die Covid-19-pandemie in Maart en die skerp afname in ekonomiese aktiwiteit in verskeie gevorderde ekonomieë het mense wat die afgelope paar jaar in lande soos Engeland, verskeie Wes-Europese lande en Golflande soos Katar, die Verenigde Arabiese Emirate, Bahrein en Saoedi-Arabië gaan werk het, na hulle lande van herkoms teruggekeer.

Verskeie Oos-Europese lande het sedert hulle by die Europese Unie aangesluit het, ʼn groot bevolkingsverlies ervaar namate mense groener weivelde in Wes-Europa gaan soek het. Miljoene mense uit onder meer Pole, Roemenië, Bulgarye, Hongarye en Slowenië het tot onlangs in Wes-Europa in laagbesoldigde beroepe gewerk. Aangesien dit maklik vir burgers van verskillende EU-lidlande is om tussen lande te beweeg en te werk, het die uitbreiding van die EU na Oos-Europa tot ʼn enorme bevolkingsverskuiwing aanleiding gegee.

Rumen Radev, president van Bulgarye. (Foto: NIKOLAY DOYCHINOV / AFP)

Volgens owerhede in Bulgarye het 550 000 Bulgare egter sedert Maart vanjaar na Bulgarye teruggekeer en oorweeg baie van hierdie mense dit om permanent in Bulgarye aan te bly. Die regering in die Oekraïne, nie ʼn EU-lidland nie maar wel ʼn groot bron van arbeid vir veral Pole en Hongarye, asook sommige Wes-Europese lande, sê ook dat derduisende burgers wat in ander lande gewerk het nou teruggekeer het.

Oos-Europese lande beleef reeds etlike jare ʼn groot krisis weens bevolkingsverlies met hele dorpe, veral in plattelandse gebiede, wat leeggeloop het. Terwyl Oos-Europese lande groot ontvangers van geld uit die Europese Unie is, verkeer die meeste lande in Oos-Europa in ʼn demografiese krisis weens die emigrasie van veral jong mense. Oos-Europese lande is ook meestal teen immigrasie uit ontwikkelende lande gekant. Die huidige terugkeer van burgers weens die wêreldpandemie kan ʼn geleentheid vir Oos-Europese lande inhou.

Ryk Golflande maak ook op groot skaal van goedkoop arbeid uit die Midde-Ooste en Asië gebruik. In Katar is daar byvoorbeeld meer gasarbeiders as wat die algehele bevolking van Katar uitmaak. Miljoene gasarbeiders uit lande soos Pakistan, Afganistan, Indië en Bangladesj het die afgelope paar maande ook na hulle lande van herkoms teruggekeer weens ʼn groot ekonomiese afswaai namate konstruksieprojekte gestaak is, internasionale lughawens hulle aktiwiteite afgeskaal het en toerisme bykans tot stilstand gekom het.

Meer as 2,1 miljoen Indiërs het na Indië teruggekeer en meer as 600 000 Afgane het na Afganistan teruggekeer. Die probleem in baie van hierdie Midde-Oosterse en Asiatiese lande is egter dat nie net die immigrante en gasarbeiders nie, maar ook baie van hulle families, afhanklik was van die inkomste wat hulle in hulle gaslande verdien het. Daar is eenvoudig nie in hulle tuislande vir hulle werk of enige ander inkomstegeleenthede nie. Dit plaas ekstra druk op die lande se maatskaplike en ander dienste.

Dit is nog onseker tot watter mate die re-migrasie van die afgelope paar maande volgehou gaan word. Wat egter duidelik is, is dat die pandemie gewys het tot watter mate die huidige afhanklikheid van goedkoop arbeid uit arm lande tot ander probleme aanleiding gee. In Europa het die tyd aangebreek vir die EU en veral Wes-Europese lande om armer Oos-Europese lande te help om die geweldige demografiese verlies daar teen te werk.

Moenie te vinnig van Noord-Korea vergeet nie

Aan die einde van pres. Barack Obama se tweede termyn as Amerikaanse president in 2016 was Noord-Korea se ontwikkeling van langafstandmissiele en die land se kernprogram een van die VSA se grootste buitelandse beleidsuitdagings. Kort nadat pres. Donald Trump sy intrek in die Withuis geneem het, het die spanning op die Koreaanse skiereiland verder geëskaleer en is daar selfs van ʼn grootskaalse oorlog gepraat.

Sedertdien het Trump tydens drie ontmoetings met die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-oen, daarin geslaag om die spanning te verlig. Die Suid-Koreaanse president, Moon Jae-in, het ook met diplomatieke stappe ʼn groot bydrae tot die verligting van spanning met Noord-Korea gelewer.

Kim Jong Oen (Foto: Korean Central News Agency/Korea News Service via AP)

Tydens die laaste ronde onderhandelinge tussen die VSA en Noord-Korea verlede jaar in Stockholm, Swede, is daar egter geen vordering vir ʼn langtermyn-vredesooreenkoms gemaak nie en vrese bestaan dat Noord-Korea binnekort weer kan begin om langafstandmissiele te toets wat nie net die veiligheid van Suid-Korea, Japan en ander Asiatiese lande kan bedreig nie, maar selfs die weskus van die VSA kan bereik.

Terwyl die VSA en Navo se fokus die afgelope tyd grootliks na Chinese aggressie verskuif het, is dit duidelik dat daar steeds rede bestaan om oor Noord-Korea se militêre opbou bekommerd te wees. Die VSA en Suid-Korea se verhouding is baie sterk, maar Suid-Korea was die afgelope tyd nie deel van Amerikaans-geleide militêre samewerking met Japan, Indië en Australië nie. Suid-Korea is duidelik versigtig om aggressie by die Noord-Koreane uit te lok.

Hoewel Noord-Korea se ekonomie onder groot druk verkeer en die land waarskynlik oor ʼn beperkte vermoë beskik om grootskaalse oorlog teen Suid-Korea of ander lande te voer, bly die onvoorspelbare gedrag van Jong-oen en sy binnekring ʼn groot uitdaging. Hoe ʼn Biden-administrasie se Koreaanse beleid gaan lyk, is nog onseker, maar die VSA kan nie die fout maak om Noord-Korea uit die oog te verloor nie. Biden sal waarskynlik groter klem wil plaas op menseregte in Noord-Korea wat onderhandelinge met dié land selfs moeiliker sal maak.

Staking deur Indiese boere vererger

Die staking en betogings deur tienduisende Indiese boere het die afgelope week verder in omvang toegeneem nadat nog ʼn poging om die geskil oor landbouhervormings deur onderhandelings by te lê, misluk het.

Die Indiese eerste minister, Narendra Modi, se Bharatiya Janata-party, ʼn konserwatiewe Hindoe- nasionalistiese party, het ʼn tyd gelede nuwe wetgewing voorgestel waarvolgens huidige regulasies in die landboubedryf afgestel sal word en boere self hulle produkte sal kan bemark. Die wetgewing maak ook voorsiening vir groter privaat beleggings in die landboubedryf. Die landboubedryf in Indië geniet omvattende prys- en ander beskerming, maar is ook streng gereguleer wat kapitaalinvestering bemoeilik.

Narenda Modi (Foto: IVAN SEKRETAREV / POOL / AFP)

Modi beskou die hervormings as ʼn positiewe stap om die Indiese landboubedryf meer mededingend te maak, maar baie boere vrees dat groot privaat rolspelers in die landboubedryf betrokke kan raak en kleiner boere uit die bedryf gedruk kan word.

Boere het sedert September op die Indiese hoofstad Nieu-Delhi begin toesak en snelweë en treinspore versper in ʼn poging om sodanige chaos te veroorsaak dat die Indiese regering met hulle moet onderhandel. Volgens die Indiese spoordiens het hy reeds 300 miljoen Amerikaanse dollar aan inkomste weens die versperring van spoorlyne verloor. Groot ontwrigting is ook deur die versperring van snelweë veroorsaak.

Modi is egter oortuig daarvan om met die hervormings voort te gaan en geen einde is nog vir die stryd tussen die boere en die Indiese regering in sig nie.

Stryd om beheer van die Arktiese streek neem toe

Terwyl Navo-lidlande oor die toekomstige doelwitte van Navo en maniere om die Weste teen Russiese en Chinese aggressie te beskerm, beraadslaag, neem die stryd om die beheer van die Arktiese streek (oftewel Noordpoolstreek) toe. Weens die verwarming van die Arktiese Oseaan raak die Arktiese streek van groter strategiese belang.

Aan die een kant neem skeepsvragvervoer deur die Arktiese streek voortdurend toe, juis omdat die gebied weens die afwesigheid van seeys vir ʼn groter deel van die jaar vir skepe toeganklik is. Aan die ander kant is die Arktiese streek, soos tydens die Koue Oorlog, van belangrike strategiese waarde vir die VSA, Rusland en China. Die Russiese vloot het die afgelope paar jaar sy teenwoordigheid in die gebied wesenlik uitgebrei en die Amerikaners besef dat dit van groot belang is dat hulle dieselfde doen. Ook China se teenwoordigheid in die gebied het die afgelope tyd tot kommer by Amerikaanse militêre en politieke leiers gelei.

Pres. Donald Trump gaan voort met werk in sy hospitaalsuite in die Walter Reed- nasionale mediese sentrum. (Foto: Joyce N. Boghosian/The White House via AP)

Pres. Donald Trump se opmerking verlede jaar dat hy graag sal wil sien dat die VSA Groenland koop, was nie toevallig nie. Groenland en die Faroëreilande is deel van die Deense Koninkryk, maar het heelwat outonomiteit en maak saam met Ysland en die noorde van die Verenigde Koninkryk die deurgang tussen die Noord-Atlantiese Oseaan en die Arktiese Oseaan uit.

Die Amerikaanse regering het die afgelope twee jaar sy betrokkenheid in die Faroëreilande wesenlik uitgebrei met verskeie besoeke deur die Amerikaanse ambassadeur in Denemarke aan die klein eilandnasie van 52 000 mense. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het ook onlangs met die Faroëreilande se minister van buitelandse sake byeengekom.

Die Faroëreilande is, anders as Denemarke, nie deel van die Europese Unie nie en het noue handelsbande met Rusland en China. Die land het sy besluit om ʼn Chinese maatskappy te gebruik om 5G-tegnologie vir die eilandstaat op te rig, herroep nadat die Amerikaanse regering wesenlike druk op hulle geplaas het.

China is reeds jare lank die enkele moondheid wat die grootste belegging in die uitbreiding van sy vloot maak en die Chinese vloot het reeds meer skepe as die Amerikaanse vloot, hoewel die Amerikaners se skepe heelwat groter en meer gevorderd as die Chinese s’n is.

Die wêreldmagstryd gaan oor die volgende paar jaar ook op see plaasvind en die Arktiese streek gaan bepaald ʼn rol speel. Die VSA, deur sy weermagbasisse in Alaska saam met Kanada, die Verenigde Koninkryk en ander Navo-lidlande in Europa probeer ʼn proaktiewe poging aanwend om Rusland en China se teenwoordigheid in die streek te beperk. Die strategiese ligging van klein landjies soos Groenland, Ysland en die Faroëreilande kan hier ʼn belangrike rol speel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SomeOne ·

ek glo die reeling vir die beraad is nie 10 dae tevore gereel nie, maar ongelukkig is ramaposa se beleid om alles op KORT kennisgewing te kansselleer

Jaco ·

Kan Trump eerder in sy privaat hoedanigheid die Wes-Kaap by SA se regering koop? Die ekonomiese voordele sal VER beter wees as Groenland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.