Internasionale oorsig: Europese Raad tree op teen Belarus, Turkye

EU-lede tydens ‘n vergadering in Brussel. (Foto: John Thys/AP)

Die staatshoofde van die 27 lidlande van die Europese Unie het Donderdag en Vrydag in Brussel, België, vergader om kwessies wat tans uitdagings op die Europese kontinent bied, te bespreek.

Griekeland en Ciprus het reeds voor die vergadering daarop aangedring dat die EU stappe teen Turkye moet doen nadat dié land die afgelope tyd toenemend aggressief in die oostelike Middellandse See-gebied opgetree het en naby aan die kus van Griekeland met gasontginningswerk begin het.

Die EU was ook die afgelope tyd onder druk om sterker teen die regering van pres. Aleksander Loekasjenko in Belarus op te tree ná die omstrede verkiesing waarin Loekasjenko in Augustus herkies is. Die onderdrukking van opposisiegroepe en die gebruik van geweld teen betogers het daartoe aanleiding gegee dat verskeie lande, waaronder die VSA, Kanada en Brittanje die afgelope tyd stappe teen die regering van Belarus begin doen het.

Die Europese Raad het Vrydagoggend, ná ure lange gesprekke tussen die staatshoofde, aangekondig dat sanksies teen sowat 40 senior regeringsleiers van Belarus, uitsluitend pres. Loekasjenko, ingestel gaan word. Die EU dring ook daarop aan dat ʼn nuwe verkiesing in Belarus gehou word en dat die gewelddadige optrede teen betogers en opposisiegroepe onmiddellik gestaak word.

Belarus bied reeds jare lank ʼn groot uitdaging vir Europa omdat dié land as die laaste outokratiese regime in Europa beskou word. Belarus is egter van groot belang vir Rusland omdat dit ʼn buffer tussen Rusland en die Europese Unie en Navo-lande bied. Solank Rusland die regering van Loekasjenko ondersteun, kan daar aanvaar word dat Europese sanksies nie tot ʼn politieke verandering aanleiding sal gee nie.

Hoewel Griekeland en Ciprus daarop aangedring het dat sanksies teen Turkye ingestel moet word, het die Europese Raad besluit om homself net sterk teen Turkye se optrede in die oostelike Middellandse See uit te spreek. Die EU dring ook daarop aan dat Turkye in ʼn dialoog met ander lande in die streek saamwerk om ʼn oplossing vir die geskil te vind. Sou Turkye nie saamwerk nie, sal die EU nie anders kan as om sanksies in te stel nie. Terwyl pres. Emmanuel Macron van Frankryk op sterker optrede teen Turkye aangedring het, het Angela Merkel van Duitsland vir sagter optrede gevra in die hoop dat die geskil deur dialoog opgelos kan word.

Die 27 staatshoofde het Vrydag hulle maandelikse beraad afgesluit met gesprekke oor die EU-gebied se industriële samewerking en digitalisering in Europa. Die staatshoofde het ook bevestig dat dit noodsaaklik is dat die EU se nuwe begroting en die ekonomiese herstelfonds so gou moontlik ingestel word. Daar bestaan steeds nie konsensus tussen die 27 lidlande van die EU oor die voorwaardes vir die uitbetaling van geld uit die herstelfonds nie. Sommige Wes-Europese lande vereis dat streng voorwaardes oor die regstaat ingestel moet word en dat lande wat nie daaraan voldoen nie, geen toekennings uit die fonds moet kry nie.

Turkye staan in pad van vrede in Suid-Kaukasië

Turkye se steun aan Azerbeidjan kompliseer die situasie. (Foto: Armeniese weermag/AP)

Die oorlog wat ʼn paar dae gelede tussen Azerbeidjan en Armenië oor beheer van die enklawe Nagorno-Karabach uitgebreek het, het die potensiaal om in ʼn streeksoorlog te ontaard, met Turkye wat anders as in die verlede meer direkte steun aan Azerbeidjan bied. Dit laat vrae ontstaan oor wat lande soos Rusland en Iran, albei bondgenote van Armenië, kan doen om die oorlog te help beëindig.

Min mense sal op ʼn kaart kan aantoon presies waar Nagorno-Karabach, of Artsakh soos die etniese Armeniërs wat reeds eeue lank daar woon dié oorloggeteisterde enklawe noem, geleë is. Nadat die Russiese weermag in die 1920’s beheer oor die suidelike Kaukasusstreek (Georgië, Armenië en Azerbeidjan) oorgeneem het, het Joseph Stalin besluit om Nagorno-Karabach by Azerbeidjan in te deel.

Dekades lank het dit nie juis saak gemaak nie omdat al hierdie lande deel van die Sowjetunie was. Met die einde van die Sowjetunie en die onafhanklikheid van Armenië en Azerbeidjan het Nagorno-Karabach, wat geen etniese, taalkundige, geloofs- of kulturele bande met Azerbeidjan het nie, onafhanklikheid verklaar. Die Republiek van Artsakh is in 1991 uitgeroep. Azerbeidjan het met oorlog geantwoord en die weermag van die klein nuwe republiek is deur Armenië ondersteun. Ná die dood van duisende mense en met nog derduisende mense wat vir hulle lewe moes vlug, het die weermag van Armenië teen 1994 daarin geslaag om Azerbeidjan se weermag uit die gebied te verdryf. Die grens tussen die gebied en Azerbeidjan word streng bewaak. Vandag woon daar slegs sowat 150 000 mense in die gebied. Oorloë het enorme skade aan infrastruktuur veroorsaak en armoedevlakke is baie hoog. Byna alle inwoners van die streek vereenselwig hulle met Armenië en wil nie deel van Azerbeidjan wees nie.

Terwyl geen land Artsakh as onafhanklike staat wil erken nie, het dié enklawe hom die afgelope 26 jaar grootliks self regeer met die hulp van Armenië. Terwyl skermutselings al gereeld voorgekom het, is die afgelope week se konflik die ergste sedert die oorlog van die vroeë 1990’s.

Wat die situasie vanjaar kompliseer, is Turkye se ondersteuning aan Azerbeidjan. Turkye, onder leiding van pres. Recep Tayyip Erdogan, het die afgelope paar jaar toenemend by konflik in die Midde-Ooste, Noord-Afrika en Wes-Asië betrokke geraak. Dit word gedryf deur Erdogan se benadering dat Turkse nasionalisme lewendig sal bly solank Turkye in hierdie streke sy belange aggressief bly beskerm en uitbrei. So het Turkye die afgelope paar jaar direk by konflik in Sirië en Libië betrokke geraak.

Turkye en Armenië het nog nooit ooghare vir mekaar gehad nie. Turkye weier steeds om die Turkse volksmoord op die Armeense volk te erken, ten spyte daarvan dat die meeste Westerse lande dit wel erken. Turkye beset ook steeds belangrike gebiede in die ooste van Turkye waarop Armenië aanspraak maak en wat van groot belang vir die Christelike Armeniërs is. Dit sluit in die berg Ararat wat sedert ʼn oorlog in 1920 tussen Turkye en Armenië net binne die Turkse grens geleë is en vanuit Armenië gesien kan word, maar nie besoek kan word nie. Die grens tussen Turkye en Armenië is gesluit en die twee lande het geen diplomatieke bande nie.

Sou Turkye, Rusland en selfs Iran by die konflik oor Nagorno-Karabach betrokke raak, kan dit in ʼn dodelike streeksoorlog ontaard. Terwyl die VSA, Europa, China, Rusland en nog lande van oor die wêreld die geweld van die afgelope week veroordeel het en vir ʼn onmiddellike skietstilstand gevra het, het die tyd aangebreek dat Westerse lande Turkye se dreigende optrede regstreeks veroordeel en die mense van Nagorno-Karabach se reg op selfbeskikking erken. Stalin se besluit om die gebied by Azerbeidjan in te deel was ʼn fout wat reggestel moet word. Westerse leiers moet ʼn slag die moed aan die dag lê om teen Turkye, en daarmee saam ook teen Azerbeidjan se aggressie in die streek, op te tree.

Wankelrige Belgiese regering ingehuldig

Alexander de Croo is die nuwe eerste minister van België. (Foto: Virginia Mayo/AP)

België het ʼn nuwe regering en ʼn nuwe eerste minister. Terwyl die vorige drie eerste ministers van België afkomstig was uit die Franssprekende suide van die land, is die nuwe eerste minister, Alexander de Croo, lid van die liberale party van Vlaandere, Open VLD. De Croo is hierdie week as nuwe eerste minister ingehuldig. Die nuwe regering bestaan uit ʼn koalisie van sewe uiteenlopende partye. Aan Vlaamse kant is daar die liberales, saam met die streek se sosialiste, Christen-demokrate en Groenes. Aan die Waalse kant is dit die sosialiste, liberales en Groenes. De Croo se party is slegs die vierde grootste van die sewe koalisievennote.

België se vorige koalisieregering het aan die einde van 2018 tot ʼn val gekom toe die grootste party in Vlaandere en België, Die Nieu-Vlaamse Alliante (N-VA), onttrek het. ʼn Oppasser-regering het België sedertdien geregeer. In Mei verlede jaar was daar ʼn verkiesing in België waarin daar ʼn groot verskuiwing na links in Wallonië en ʼn verskuiwing na regs in Vlaandere was, wat onderhandelinge vir ʼn regering baie moeilik gemaak het.

De Croo was sedert die einde van 2018 deel van die oppasser-regering as adjunkpremier en minister van finansies. De Croo het egter geen mandaat van kiesers in België om ʼn regering te lei nie. Sy party het in verlede jaar se verkiesing minder as 10% van die stemme in België gekry en is maar die vierde grootste party in Vlaandere.

Tot verlede week is verwag dat die leier van die Sosialistiese Party in Wallonië, Paul Magnette, die nuwe eerste minister sou word. Dit sou egter beteken dat hy die vierde opeenvolgende eerste minister uit Wallonië sou wees, en die Christen-demokrate (CD&V) van Vlaandere het daarop aangedring dat die nuwe eerste minister ʼn Vlaming moet wees. De Croo is dus eerder ʼn kompromis as eerste minister en hy was niemand se eerste keuse nie; hy is eerder die kandidaat wat die beste deur al die partye verduur kan word.

Sy uitdagings is uiteenlopend. Eerstens sal De Croo sy seweparty-koalisie bymekaar moet hou. Die sosialiste wil hoër pensioene en meer besteding aan welsyndienste sien, en die Groenes wil hê kernkrag moet afgeskaal word en dat België ʼn groot investering in alternatiewe energie moet maak. Die liberale party wil verhoed dat nuwe belastings ingestel word en die Christen-demokrate wil veral landelike gemeenskappe in Vlaandere se belange en behoeftes beskerm.

De Croo se regering het uit nood ontstaan en uit die behoefte vir België om uiteindelik weer ʼn stabiele regering ingestel te kry. Daar is egter min rede om te glo dat die nuwe regering suksesvol gaan wees met soveel uitdagings.

China verskerp uitlokkende gedrag in seestraat van Taiwan

(Foto: Unsplash)

Die Chinese lugmag het gedurende September tientalle kere met vegvliegtuie oor die seestraat van Taiwan gevlieg en daardeur Taiwan se lugverdedigingsone oortree.

Die Chinese regering het die afgelope week sy aanspraak herhaal dat hy Taiwan as deel van China beskou en dat Taiwan geen aanspraak op die seestraat van Taiwan en enige lugruim oor die seestraat het nie. Die afgelope tyd het die VSA sy verhouding met Taiwan versterk in ʼn poging om ʼn sterk koalisie van lande te ontwikkel wat Chinese aggressie in Asië teenstaan.

Volgende week sal die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, verskeie lande in Asië besoek om hierop voort te bou. Die Trump-administrasie is daarvan oortuig dat hulle Indië, Japan, Suid-Korea en nog lande in Asië kan oortuig om ʼn gesamentlike front teen China te vorm.

Die vraag ontstaan egter wat die VSA en sy bondgenote in Asië sal doen indien Taiwan deur China aangeval sou word. Sal die Amerikaanse weermag Taiwan te hulp snel?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Arnold ·

Erdogan van Turkye is nou geruime tyd besig om die EU te tart en veral Griekeland. Hy moet in die bek geruk word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.