Internasionale oorsig: Frankryk kondig ‘reddingsplan’ vir Afrika aan

Pres. Emmanuel Macron en pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

ʼn Beraad wat verlede week in Parys, Frankryk, onder leiding van die Franse president Emmanuel Macron aangebied is, het beslis dat ʼn omvattende ekonomiese reddingsplan, ʼn soort “New Deal”, vir Afrika deur ryker en veral Westerse lande saam met internasionale instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds ontwikkel moet word.

Volgens ʼn ooreenkoms wat tydens die beraad bereik is, sal die IMF vanjaar minstens 33 miljard dollar aan Afrikalande beskikbaar stel, met Westerse lande wat deur Macron aangemoedig is om hierdie bedrag tot 100 miljard dollar te help verhoog.

Daar is ook tydens die beraad besluit dat 40% van die bevolking in Afrika vanjaar nog teen Covid-19 ingeënt moet word en dat Afrikalande gehelp moet word om self entstowwe op groot skaal te vervaardig.

Terwyl daar op die beraad veral op die pandemie en die ekonomiese gevolge daarvan gefokus is, is die kernoorsake van die meeste probleme in Afrika nie werklik aangepak nie.

Terwyl entstowwe en toegang tot skuld tydelike verligting sal bring, moet die ware probleme wat Afrika teister, naamlik swak regerings, outoritêre leiers, korrupsie, die afwesigheid van eiendomsreg, uitgediende ideologiese denkrigtings en ʼn kultuur wat nie tot ekonomiese groei, hoër produktiwiteit en beter benutting van hulpbronne aanleiding gee nie, aangepak word. Voordat dit nie gebeur nie, sal ʼn ware langtermynoplossing vir Afrika se agterstand nie gevind kan word nie.

Entstowwe teen Covid-19 is moreel en veilig om te gebruik

Volgens die onlangse Nids-Cram-peiling onder 7 000 Suid-Afrikaners is 29% van Suid-Afrikaanse burgers, maar ’n verstommende 42% van Afrikaanssprekendes huiwerig om teen Covid-19 ingeënt te word. Daar is nogal ’n sterk parallel tussen die Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika se huiwerigheid en konserwatiewes in die VSA waar 41% van Republikeinse Party-ondersteuners ook vroeër vanjaar gesê het dat hulle huiwerig is om ingeënt te word. Ook in Europa is dit veral meer konserwatiewe Christene wat huiwerig is om teen die virus ingeënt te word.

Dit is egter nie ’n algemene verskynsel nie en in ’n uiters konserwatiewe land soos Hongarye is mense baie meer positief oor die geleentheid om teen die virus ingeënt te word. Hongarye het naas die piepklein Ciprus die tweede hoogste koers van inentings in Europa met meer as 8 miljoen dosisse wat reeds toegedien is – 78 dosisse per 100 burgers van die land. Hongarye het ’n konserwatiewe regering en premier wat mense op ’n positiewe wyse aanmoedig om ingeënt te word.

In die VSA is dit veral die mees konserwatiewe deelstate in die suide van die land soos Mississippi, Alabama en Louisiana waar die inentings stadig vorder, terwyl dit heelwat vinniger gaan in noordoostelike, liberale deelstate soos Vermont, Rhode Island en Connecticut.

Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, het vroeër vanjaar op Fox News ’n ernstige pleidooi aan sy ondersteuners gelewer om hulle te laat inent. Trump se administrasie het ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van entstowwe in die VSA. Volgens Trump is entstowwe veilig en is dit die regte ding om teen die virus ingeënt te word.

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Indien ’n mens egter die data oor die VSA beter gaan ontleed, raak dit duidelik dat dit nie net ’n verdeling tussen konserwatiewe en liberale Amerikaners is nie. In uiters konserwatiewe deelstate soos Suid-Dakota, Iowa en Nebraska het byna 50% van burgers reeds minstens een inenting ontvang. Wat waar is oor suidelike deelstate, is dat selfs ’n groter persentasie van swart Amerikaners in baie van hierdie state huiwerig is om ingeënt te word, as wit konserwatiewes. Huiwerigheid om ingeënt te word, hou waarskynlik eerder verband met die inligting oor entstowwe wat mense tot hul beskikking het en die netwerke waarbinne mense oor hul besluit om ingeënt te word, beïnvloed word. Sosiale media speel ’n groot rol in die verspreiding van korrekte, maar veral ook verkeerde inligting oor entstowwe.

Daar is verskeie redes waarom mense wêreldwyd huiwerig is om ingeënt te word. Vir baie Christene is dit ’n morele vraag wat verband hou met die gebruik van stamselle van geaborteerde fetusse in die ontwikkeling van entstowwe. Daar is egter geen stamselle in entstowwe wat vervaardig word nie; hierdie morele dilemma is al deur heelwat teoloë weerlê.

Die tweede rede is ’n wye reeks samesweringsteorieë wat op WhatsApp, Telegram, Facebook en ander sosialemediaplatforms die rondte doen. Dit sluit meestal fopnuus in soos foto’s van mense wat masels het, of iemand wat brandwonde opgedoen het en bewerings dat die persoon so lyk (erge uitslag of lelike wonde) nadat hy/sy ingeënt is. Nog samesweringsteorieë beweer dat mense deur die entstowwe ’n mikroskyfie kry waardeur een of ander nuwe wêreldmag hulle kan beheer. Nog ’n bewering dat sommige entstowwe ’n mens se DNS kan wysig, is ook van alle waarheid gestroop, maar word steeds deur sommige mense op sosiale media verkondig. Al hierdie verregaande stories en ’n lang lys ander is reeds oor en oor verkeerd bewys.

Die belangrikste rede waarom mense egter huiwerig is om ingeënt te word, is die mees geldige rede en dit is die vraag oor of die entstowwe wat tans beskikbaar is, veilig is en dus veral of dit deeglik genoeg getoets is. Hier het die voorkoms van, onder meer, bloedklonte by sommige mense wat ingeënt is, tot ’n geloofwaardigheidsuitdaging aanleiding gegee.

Tot dusver is bykans 1,6 miljard dosisse entstof wêreldwyd toegedien. Dit verteenwoordig sowat 20 dosisse per 100 mense in die wêreld. Daar word tans 16 entstowwe wêreldwyd gebruik, maar in die meeste lande is daar slegs enkele entstowwe nog goedgekeur aangesien entstowwe deur ’n toetsproses gaan voordat goedkeuring vir die gebruik daarvan verleen word.

Die eerste omstredenheid oor ’n entstof en die vorming van bloedklonte het ontstaan toe 25 mense in die Verenigde Koninkryk en verskeie Europese lande bloedklonte ontwikkel het nadat die AstraZeneca entstof, wat in samewerking met die Universiteit van Oxford ontwikkel is, aan hulle toegedien is. Nege mense is weens die bloedklonte dood. Dit het gevolg nadat 20 miljoen mense met die entstof ingeënt is. Intussen het die gevalle van mense met bloedklonte tot 242 gestyg en die sterftes weens bloedklonte tot 49.

Ná ’n deeglike oorsig deur die Europese medisyne-agentskap is daar onlangs bevind dat daar nie noodwendig ’n direkte verband tussen die entstof en die sterfte van hierdie nege persone was nie. Sedertdien gaan meer as 160 lande voort om die AstraZeneca-entstof te gebruik en in al hierdie lande is daar ’n skerp afname in die voorkoms van Covid-19 soos wat die inentings toeneem.

Die ander entstof wat ook deur omstredenheid geraak is, is die Johnson&Johnson-entstof wat deur die Janssen- farmaseutiese maatskappy ontwikkel is. Ses gevalle van persone wat bloedklonte ontwikkel het, is in die VSA gerapporteer nadat 6,8 miljoen dosisse van die entstof gebruik is. Ná deeglike oorsig is daar besluit om met die gebruik van dié entstof voort te gaan.

Die bewering wat graag deur entstof-skeptici op veral sosiale media gemaak word, is dat die entstowwe wat tans wêreldwyd gebruik word, nie behoorlik getoets is nie omdat dit vinnig beskikbaar gestel moes word. Dit is ook nie waar nie. Entstowwe wat tans in die VSA en Europa gebruik word, is almal deur intensiewe toetsfases. Hoewel die toetsfases vinniger plaasgevind het, was daar steeds omvattende ondersoeke na die veiligheid en effektiwiteit van hierdie entstowwe. Vrae bestaan nog oor entstowwe uit veral China, en die Russiese Sputnik V-entstof is ook nog nie deur alle Westerse lande goedgekeur nie.

Terwyl dit ’n goeie en korrekte beginsel is om te sê dat die gebruik van entstowwe vrywillig moet wees, ontstaan daar ’n groot uitdaging sou ’n wesenlike deel van ’n bevolking, meer as 20 tot 30%, nie bereid wees om ingeënt te word nie. In so ’n geval kan die bereiking van groepimmuniteit onmoontlik raak. Daarom is dit nodig dat mense hulself deeglik vergewis van die entstowwe wat tans wêreldwyd beskikbaar is, die prosesse van toetsing wat dit deurgaan het en die resultate wat dit reeds in ander lande gelewer het.

Wanneer ’n mens enige berig oor entstowwe ontvang, is dit ook nodig om die bron daarvan te ondersoek en om deeglik te probeer bepaal of die inhoud feitelik korrek is. Verder moet elke persoon die risiko van moontlike newe-effekte opweeg teen die risiko om Covid-19 te kry en baie siek te word, of selfs daaraan te sterf.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Manie

Afrika kan en wil nie gered word nie, die poging is ‘n vermorsing van tyd en geld.

Adam Adriaan

Tyd gaan ons leer dat hierdie ‘n baie fyn beplande operasie is. Wees net geduldig. Hou dit wat hier gesê word ingedagte stroomaf

Andrew

En daar gaan ons alweer. Europa is nog nie van hul koloniale “beterwetende” houding ontslae nie. Wat Marcon hiermee duidelik sê is dat Afrikane nie in staat is om hulself te help nie so nou moet Europa en die IMF hulle handjies kom vashou. Reddingsplan beteken net werk vir julle konsultante teen Euro/Dollars , hand om die blaas met bee fronts wat teen lear koerse kan vervaardig as in Europa (aangesien China nou van die kaart gaan wees rakende westerse vervaardiging van die entstowwe) .

Andrew

SA het juis n lening van die IMF ontvang so payback time. SA het die kennis en moes self die goed ontwikkel en vervaardig. As daar die politiese wil was.