Internasionale oorsig: Geen lig aan die einde van die tonnel in Mianmar

Betogers word in Yangon met traangas verjaag. (Foto: Sai Aung Main / AFP)

Twee maande ná die militêre staatsgreep in Mianmar is dit duidelik dat die politieke krisis in dié land nog lank kan voortduur. Meer as 500 burgerlikes is die afgelope twee maande deur die veiligheidsmagte doodgeskiet omdat hulle aan vreedsame betogings teen die staatsgreep deelgeneem het.

Die Amerikaanse regering het die afgelope week alle handelsooreenkomste met Mianmar opgeskort. Dit volg op die instel van sanksies teen Mianmar se junta deur Amerika en ander Westerse lande.

Die Tatmadaw, soos wat die weermag in Mianmar genoem word, is ʼn magtige instelling met 500 000 soldate wat opgelei is om enige burgerlike opstand te onderdruk. Verlede Saterdag, die bloedigste dag nóg die afgelope twee maande, is 100 onskuldige burgerlikes, onder andere twee kinders, deur die Tatmadaw doodgeskiet.

Die Tatmadaw speel ʼn sentrale rol in Mianmar sedert dié land se onafhanklikheid van Brittanje in 1948. Vir langer as sewe dekades het die Tatmadaw minderhede in Mianmar onderdruk, ʼn stryd gevoer teen kommunisme en enige poging om demokrasie in te stel, met geweld beveg.

Die werklikheid is egter dat die Tatmadaw weinig steun onder die burgery in Mianmar geniet. Mianmar het ʼn besonder jong bevolking en die meeste jongmense in die land is ten gunste van demokrasie. Dit het in 2012 tot ʼn semi-demokratiese verkiesing gelei, hoewel die weermag steeds ʼn wesenlike aantal setels in die parlement vir homself gereserveer het.

Die weermag se steun het egter sedertdien nog verder gedaal en in verlede jaar se verkiesing het die Tatmadaw ʼn groot loesing by die stembus gekry. Dit het tot die militêre staatsgreep en die gewelddadige onderdrukking van vreedsame burgerlike protes aanleiding gegee.

Die Tatmadaw beskik oor groot finansiële hulpbronne en koop steeds wapens aan by Rusland en China. Hoewel Westerse sanksies en die opskorting van handelsooreenkomste nie die junta gaan oortuig om hul beheer oor Mianmar op te gee nie, is dit wel belangrik dat die Tatmadaw en sy leiers geïsoleer moet word en dat Rusland en China vir hul steun aan dié skrikbewind ontbloot moet word.

Verandering in Mianmar sal slegs deur binnelandse druk en groter isolasie van die Tatmadaw en sy leiers teweeggebring kan word. Terwyl lande soos Rusland, China en selfs Indië die geweld ignoreer en die militêre regime steeds ondersteun, kan verwag word dat meer bloedvergieting gaan plaasvind. Die betogers in Mianmar verdien egter om deur soveel as moontlik lande en groepe in die wêreld wat pro-demokrasie is, ondersteun te word.

China en Iran teken samewerkingsooreenkoms

Die Iran se minister van buitelandse sake, Mohammad Javad Zarif (regs) en sy Chinese eweknie, Wang Yi, staan vir ‘n foto nadat hulle op 27 Maart 2021 ‘n ooreenkoms in die hoofstad Teheran onderteken het. (Foto: AFP)

Die ooreenkoms wat verlede week tussen Iran en China onderteken is en op ekonomiese- en veiligheidsamewerking fokus, behoort Westerse lande, veral die VSA, tot kommer te stem. Amerika het die afgelope paar jaar probeer om Iran deur sanksies te isoleer, terwyl Westerse lande ook nie wil hê dat China sy invloed in die Midde-Ooste uitbrei nie. Met die ooreenkoms tussen Iran en China kan albei hierdie doelwitte onder druk kom.

Die ooreenkoms bepaal dat Iran goedkoop olie aan China sal verskaf in ruil vir Chinese beleggings in Iran se finansiële bedryf en infrastruktuur in dié land. Die Chinese het die afgelope paar jaar versigtig met Iran omgegaan omdat China reeds goeie bande met Arabiese lande in die Midde-Ooste (soos Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate) het, en nie hierdie verhoudinge wil benadeel deur met hul aartsvyand Iran saam te werk nie.

Die Chinese se besluit om wel ʼn ooreenkoms met Iran te sluit, is vir die Chinese waarskynlik van groter simboliese waarde omdat dit ʼn duidelike boodskap aan die VSA stuur. Sowel China as Iran het ook onlangs hul bande met Rusland verstewig en tussen dié drie lande kan ʼn bondgenootskap ontstaan wat wesenlike geo-politieke invloed in veral die Midde-Ooste, maar ook in ander wêrelddele kan hê.

China kry tans sowat 17% van sy olie uit Saoedi-Arabië en 10% uit Irak, terwyl die land net 3% van sy olie uit Iran invoer. China het ook sterk bestaande bande met Israel, veral op die terrein van intelligensie-samewerking. Die Chinese het die ooreenkoms met Iran dus versigtig benader en slegs hul minister van buitelandse sake opdrag gegee om dit te hanteer, in plaas daarvan dat president Xi Jinping self betrokke geraak het.

Die Chinese regering wil duidelik Amerika se invloed in die Midde-Ooste beperk en probeer dit doen deur strategiese verhoudinge met verskeie lande in die streek te sluit. Vir Iran lê die grootste waarde van die ooreenkoms met China daarin dat dié land ʼn teenvoeter vir Amerikaanse sanksies vind.

Iran het die afgelope paar jaar sy invloed in lande soos Irak, Libanon, Jemen en Sirië verder uitgebrei en steun die Palestyne ook aktief. Terwyl Israel en Soennitiese lande, soos Saoedi-Arabië, Iran se invloed wil beperk, kan samewerking met Rusland en China dit vir Iran moontlik maak om sy invloed selfs verder uit te brei, wat ʼn invloed kan hê op die toekoms van lande wat tans in oorloë gewikkel is, soos Sirië en Jemen.

Met dié ooreenkoms stuur China ook ʼn boodskap aan Arabiese lande in die Persiese Golf dat hul noue samewerking met die VSA ʼn herfokus van China kan meebring. ʼn Mens moet egter daarteen waak om té veel in die ooreenkoms te lees of om te verwag dat die ooreenkoms verhoudinge in die Midde-Ooste onmiddellik kan raak. Vir die huidige is die gevolge van die ooreenkoms grootliks simbolies, maar indien samewerking tussen Iran, China, Rusland, en moontlik selfs Turkye, op die langer termyn in die streek kan ontstaan, kan dit verreikende gevolge vir die Midde-Ooste inhou.

Dit is wel belangrik om verwikkelinge soos dié tesame met die binnelandse politiek in Iran dop te hou ten einde dié land se rol in die streek oor die volgende paar jaar te verreken. Later vanjaar sal kiesers in Iran na die stembus gaan om Iran se volgende president te verkies en die Amerikaanse sanksies, Iran se kernprogram en samewerking met ander lande in die streek kan ʼn invloed op stempatrone hê.

China gaan Taiwan waarskynlik vroeër eerder as later aanval

Vlag van China. Argieffoto

Verlede naweek het 20 Chinese vegvliegtuie oor die Taiwanse lugruim gevlieg. Dit is die meeste ooit en bevestig China se toenemende aggressie jeens die onafhanklike, demokratiese eilandstaat wat die Chinese as deel van China beskou.

Dit het verlede week ook bekend geword dat Taiwan begin het om langafstandmissiele op groot skaal self te vervaardig. Die afgelope vier jaar het Taiwan ook heelwat nuwe moderne wapentuig by die Amerikaners aangekoop. Taiwan berei homself duidelik voor vir ’n moontlike aanval deur China.

Op 23 Maart het die Amerikaanse vlootadmiraal, John Aquilino, voor die Amerikaanse kongres getuig dat hy verwag dat Taiwan vroeër eerder as later deur China aangeval gaan word. Aquilino het gesê dat die VSA moet voorberei om sy bondgenoot Taiwan te help verdedig, sou China besluit om Taiwan aan te val.

Die Amerikaanse regering, Navo, Europese lande en die ander sterk moondhede in Asië, soos Japan, het tot dusver daarvan weggestuur om te sê presies wat hulle sal doen sou China Taiwan aanval.

Veertien lande kritiseer verslag oor Covid-19

Die WGO se hoofkwartiere in Genéve. (Foto: Fabrice Coffrini/ AFP)

Die regerings van Australië, Kanada, die Tsjeggiese Republiek, Denemarke, Estland, Israel, Japan, Letland, Litaue, Noorweë, Suid-Korea, Slowenië, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State het vroeër vandeesweek die verslag van 120 bladsye van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) oor die oorsprong van die nuwe koronavirus in ʼn gesamentlike verklaring gekritiseer.

In die VSA het sommige politici die WGO se verslag selfs as Chinese propaganda afgemaak. Die 14 lande se verklaring kritiseer veral die gebrek aan onafhanklike evaluering deur die WGO en die feit dat die verslag swaar staatmaak op inligting wat deur die Chinese owerhede aan die organisasie verskaf is.

Die WGO-verslag kom tot die gevolgtrekking dat dit steeds nie moontlik is om presies te bepaal waar en hoe die virus ontstaan het nie. Een rede hiervoor kan natuurlik die Chinese se onwilligheid wees om die nodige inligting aan die WGO beskikbaar te stel. Die verslag dui dit egter glad nie aan nie en herhaal in baie gevalle dieselfde argument as wat die Chinese regering die afgelope 13 maande oor die oorsprong van Covid-19 aangevoer het.

Die Withuis het verder as die ander 13 lande gegaan en het pertinent gesê dat die verslag op foutiewe inligting, wat deur China aan die WGO verskaf is, gebaseer is. Die Biden-administrasie het ook China se onwilligheid gekritiseer om groter toegang tot bronne in China aan die WGO te gee.

Die grootste deel van die verslag wat Dinsdag bekendgestel is, is gebaseer op ʼn besoek van ʼn internasionale span wetenskaplikes vroeër vanjaar aan die stad Wuhan, waar Covid-19 die eerste keer opgespoor is.

Die verslag ontleed wel vier moontlike wyses waarop die virus kon ontstaan en versprei het. Die WGO voer aan dat die mees waarskynlike oorsprong ʼn oordrag van vlermuise na mense deur ʼn onbekende tussenganger was. Die verslag sê egter ook dat die virus moontlik direk van vlermuise na mense oorgedra is. Die moontlikheid dat die virus in bevrore voedsel wat vanaf ʼn ander land in China aangekom het – ʼn onbewese propaganda-argument wat gereeld deur die Chinese regering gevoer word – word ook in die verslag bespreek.

Die verslag kom egter wel tot die gevolgtrekking dat dit hoogs onwaarskynlik is dat die virus uit ʼn laboratorium in Wuhan ontsnap het. Hierdie argument word egter nie deur geloofwaardige bronne ondersteun nie.

Die Amerikaanse regering het reeds in 2018 gewaarsku dat veiligheidsprobleme by die Wuhan-Instituut vir Virologie (WIV) tot ʼn pandemie aanleiding kan gee. Dié instituut het in 2018 reeds navorsing oor koronavirusse gedoen en inligting wat onder die aandag van die Amerikaanse regering gekom het, het tot dié waarskuwing gelei.

Die WGO se onvermoë om die werksaamhede van die WIV beter te ondersoek, plaas ʼn demper op die geloofwaardigheid van hul verslag. Die meeste inligting in die verslag is suiwer gebaseer op onderhoude met Chinese wetenskaplikes. Die WGO het min direkte ondersoek in China uitgevoer.

Die verslag kom wel tot die gevolgtrekking dat heelwat meer navorsing nodig is voordat ʼn finale gevolgtrekking oor die oorsprong van die virus gemaak kan word.

Kan inflasiekoers die volgende groot krisis in Westerse lande meebring?

inflasie

Foto: Pixabay.com

Beleggers en ekonome in die VSA en Europa is toenemend bekommerd oor die moontlike skerp styging in inflasie. Volgens die jongste fondsbestuurder-opname van die Bank of America is inflasie tans in die VSA ʼn groter bron van kommer onder fondsbestuurders as Covid-19.

In Europa is vrese vir ʼn skerp styging in inflasie ook besig om toe te neem. Die voormalige president van die Bundesbank in Duitsland, Alex Weber, het die afgelope week gewaarsku dat die risiko van inflasie tans buitensporig groot is en dat inflasie in Europa reeds vanjaar skerp kan begin styg.

Amerikaanse staatskuld het verlede jaar die vinnigste sedert die Tweede Wêreldoorlog toegeneem en in die eerste drie maande van vanjaar het staatskuld steeds verder toegeneem. Indien rentekoerse verhoog moet word om inflasie te beveg, kan dit tot nuwe ekonomiese probleme aanleiding gee.

Die bekende ekonoom, Milton Friedman, het in 1970 gesê dat inflasie slegs geskep kan word wanneer daar ʼn vinniger toename in kontant as in produksie in ʼn land is. Met die groot ekonomiese hulppakkette wat tans in die VSA en Europa beskikbaar gestel word, is dit presies wat tans gebeur.

In Europa het staatskuld tot ʼn gemiddeld van 100% van die bruto binnelandse produk (BBP) toegeneem, met veral suidelike lande soos Italië, Portugal en Spanje wat in die moeilikheid kan beland, sou die Europese Sentrale Bank rentekoerse moet verhoog. Hoewel die presidente van die Amerikaanse Federale Reserweraad en die Europese Sentrale Bank vrese vir inflasie probeer besweer, is daar sterk redes waarom inflasie wel kan toeneem.

Die meeste Westerse lande het die afgelope tien jaar sedert die finansiële krisis van 2008 tot 2009 baie lae inflasie, meestal van laer as 2% per jaar, ondervind. Dit het meegebring dat mense die bedreiging van inflasie begin onderspeel het. Dieselfde het in die 1960’s in die VSA gebeur, voordat inflasie in die vroeë 1970’s die hoogte ingeskiet het en dit in 1974 tot 12% en teen 1980 tot 14% gestyg het. ʼn Soortgelyke herhaling van hardnekkige inflasie kan uiters negatiewe gevolge vir Westerse ekonomieë inhou.

Italië se staatskuld het onlangs tot meer as 3 biljoen euro (meer as 160% van BBP), gestyg. Dié land se nuwe premier, en self ʼn voormalige president van die Europese Sentrale Bank, Mario Draghi, het egter verlede week gesê dat dit tans heeltemal normaal is vir ʼn Europese land om sy staatskuld te verhoog. Duitsland, Spanje en Frankryk se staatskuld styg ook, en volgens Draghi is dit nie nou die tyd om oor staatskuld bekommerd te wees nie.

Die probleem met so ʼn argument is natuurlik dat, sou inflasie styg en rentekoerse verhoog moet word, Italië sy skuld moeiliker as ʼn land soos Duitsland sal kan bly diens.

Die Europese Unie het ook onlangs besluit om die sogenaamde “algemene ontsnappingsklousule” van die EU se skuldreëls van die eurosone tot 2023 te verleng. Eurosone-lande hoef dus vir die volgende twee jaar steeds nie aan dié reëls oor skuldvlakke te voldoen nie.

Madis Müller, ʼn lid van die Europese Sentrale Bank se raad, het vandeesweek egter gesê dat Europese lande nie net op subsidies aan armes en werkloses en op sukkelende sakeondernemings moet fokus nie, maar ook ernstig moet besin oor wat nodig is om goeie ekonomiese groei vir die volgende paar jaar te verseker sodat staatskuld wel gediens kan word.

In die VSA word stewige ekonomiese groei, beter as in Europa, vir vanjaar verwag. Jamie Dimon, uitvoerende hoof van JP Morgan Chase, het onlangs op Bloomberg TV gesê hy verwag dat die Amerikaanse ekonomie vanjaar baie sterk gaan groei en dat dit druk op inflasie kan plaas. Daarmee saam verwys hy na die 1,5 triljoen dollar wat Amerikaners verlede jaar gespaar het en wat moontlik vanjaar bestee kan word, wat aanleiding tot meer kontant in die ekonomie kan gee. Dit, gepaardgaande met Biden se enorme hulppakket, kan die perfekte storm vir ʼn toename in inflasie skep.

Tans is daar min tekens van ʼn prystoename in die VSA of Europa. Dit sou egter vir politieke leiers en reserwebanke wys wees om die bedreiging wat ʼn skielike toename in inflasie inhou, te verreken.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Therese

Interessant hoe kragdadig en uitgesproke die Biden-administrasie nou skielik teenoor China en die Wuhan-virus is, nadat president Trump geen, maar géén, ondersteuning gekry het toe hy vroeg-vroeg gevra het dat die oorsprong en oorsaak dringend en deeglik ondersoek moet word.
‘n Jaar later en enige sogenaamde ondersoeke is só mosterd na die maal dis nie eers snaaks nie.
Australië, wat ook op ‘n onafhanklike ondersoek aangedring het, se uitvoerprodukte word tans deur ‘n wraaksugtige China geboikot sonder enige optrede deur die Wêreldhandelsorganisasie, of enigiemand anders.
Wat ‘n globale klug is alles tog nie.