Internasionale oorsig: Geen terugkeer na vooroorlogse periode meer moontlik

‘n Smeulende motorwrak lê voor ‘n kinderhospitaal in Oekraïne wat onder ‘n Russiese aanval deurgeloop het. (Skermgreep: Oekraïnse polisie/AFP)

Die foto’s van ʼn kinderhospitaal in die stad Marioepol in die suidooste van Oekraïne wat deur Rusland gebombardeer is, het bevestig wat die meeste kenners die afgelope twee weke begin besef, naamlik dat geen terugkeer na die vooroorlogse orde in Oekraïne, in die verhouding tussen Rusland en die Weste, en die magsbalanse in grensgebiede tussen Rusland en die res van Europa meer moontlik is nie.

Rusland en sy president, Wladimir Poetin, het net te veel van ʼn kans gewaag met die oorlog en hulle bereidwilligheid om enorme verwoesting te saai. Daarmee saam is persepsies oor Rusland wêreldwyd groot skade berokken en is die laaste bietjie vertroue tussen Rusland en die Weste byna volledig uitgewis.

Die Weste se ekonomiese oorlog teen Rusland gaan nie deur ʼn skietstilstandooreenkoms omgekeer word nie en het reeds verdiep. Europa maak planne om voedselsekerheid te verbeter en om sy energie-afhanklikheid van Rusland te verlaag. ʼn Propaganda-oorlog kring reeds uit tot kuberoorlogvoering en ʼn langdurige konflik wat anders as die Koue Oorlog gaan lyk, maar wat weer eens die Weste teen Rusland opstel, terwyl die rol van ander rolspelers soos China nog onseker is.

Reeds voor die oorlog was Oekraïne ʼn land met groot uitdagings. Die land se bevolking het die afgelope drie dekades van 52 miljoen tot 44 miljoen burgers gekrimp, en die kans dat die miljoene vlugtelinge wat nou die land verlaat ná die oorlog almal sal terugkeer, is skraal. Met die enorme beskadiging van infrastruktuur sal die heropbou van Oekraïne, wanneer ook al die oorlog eindig, ʼn enorme taak wees.

In Rusland het Poetin twintig jaar lank voorberei om sy drome van ʼn groot Russiese Ryk wat weer deur die Weste gerespekteer word, te verwesenlik. Hy het soveel op die spel geplaas dat hy nie meer groot toegewings kan maak nie. Sou hy in sy doelstellings in Oekraïne misluk, sal dit sy politieke einde beteken. Die geskiedenis van Rusland bewys dit. Hy het dus al hoe minder opsies. Die een opsie behels juis meer aanvalle op burgerlike teikens in Oekraïne en selfs meer gewelddadige oorlogvoering om Oekraïne op sy knieë te dwing. Daarmee saam kan Poetin met tyd selfs sy oorlogvoering na ander lande uitbrei. Alles is moontlik as jy Poetin se denke verstaan.

Dit laat slegs twee alternatiewe. Die een is ʼn skikking waar almal, ook Poetin, toegewings sal moet maak. Poetin lyk egter onwillig om dit te doen. Die ander alternatief is een waar Poetin verloor deur óf uit Oekraïne te moet onttrek, om welke rede ook al, óf deurdat hy deur sy eie land as president vervang word.

Lede van die Oekraïnse weermag hergroepeer na ‘n terugvegpoging teen Russiese magte in die Lugansk-streek. (Foto:
Anatolii Stepanov/AFP)

Dit lyk onwaarskynlik dat die weermag van Oekraïne, ten spyte van talle suksesse die afgelope twee weke op die slagveld, uiteindelik die oorlog kan wen. Dit beteken egter nie dat Rusland met ʼn militêre oorwinning wel in sy doelwitte sal slaag nie. ʼn Militêre oorwinning vir die Russe sal tot groot onstabiliteit in Oekraïne en selfs Rusland lei en kan die hele Oos-Europa destabiliseer.

ʼn Terugkeer na die era voor die oorlog is nie meer moontlik nie. Die waarskynlikste scenario nou is een waar ʼn korttermynooreenkoms met slegte langtermyngevolge bereik word, byvoorbeeld ʼn skietstilstandooreenkoms wat gesluit word, en dan moet Oekraïne neutraal staan tussen Rusland en die Weste. Daar sal ekonomiese en maatskaplike verval in Oekraïne wees, die stryd tussen Rusland en die Weste sal verdiep, en ʼn era van onsekere geopolitieke verhoudinge sal voorlê.

ʼn Alternatiewe langtermynoplossing is steeds nodig. Daarvoor sal die leiers van die VSA en Europa saam met die Russe om ʼn tafel moet sit en hulle verhouding herbedink. Dit lyk tans onwaarskynlik, hoewel die Franse president Emmanuel Macron die afgelope week juis gesê het dat so ʼn ooreenkoms nou nodig is. Dit sal na alle waarskynlikheid eers slegter moet gaan voordat dit beter kan gaan. Die gevolg hiervan gaan die hele wêreld raak.

Poetin-selfvertroue niks nuuts

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Vir byna 1 000 jaar is Rusland se geskiedenis gekenmerk deur heersers met baie selfvertroue wat oorloë aanpak met die doel om hulle eie eer te herstel of hulle magsposisie te versterk. Dikwels, ook in ander ryke en lande, het hierdie heersers hulle eie vermoë oorskat. George W Bush het dit in 2001 bewys toe hy gedink het oorloë in Irak en Afganistan sal slegs enkele weke duur.

Poetin se selfvertroue, en sy vertroue op die Russiese weermag, is op ʼn paar belangrike elemente gebou. Eerstens het Poetin groot vertroue in die modernisering van Rusland se weermag wat sedert 2008 onderneem is en sowat 159 miljard dollar per jaar gekos het. Waarvan Poetin egter nie bewus is nie, is die vlakke van korrupsie wat met hierdie moderniseringsveldtog gepaard gegaan het.

Tweedens het Poetin ongekende vertroue in Russiese militêre strategie, veral ná Rusland se vinnige anneksasie van die Krimskiereiland in 2014 en die Russe se suksesvolle betrokkenheid in Sirië om dié land se burgeroorlog in die guns van Bashar al-Assad te swaai. Poetin was oortuig dat die Russiese generaals ʼn plan gereed sou hê om Oekraïne binne enkele dae ná ʼn inval te verower. Dit het nie gebeur nie. Twee generaals en baie Russiese soldate is reeds dood, en die Russiese weermag verloor daagliks tenks en wapentuig in ʼn lompe uitvoering van sy oorlogsplanne in Oekraïne.

Keiser Wilhelm II van Duitsland voor die Eerste Wêreldoorlog, Adolf Hitler voor die Tweede Wêreldoorlog, Kim Il-sung voor die Koreaanse Oorlog, Leonid Brezjnef van die Sowjetunie met hulle inval in Afganistan, en Saddam Hoesein met sy oorloë teen Iran en Koeweit het almal vanuit ʼn posisie van oordrewe selfvertroue gewerk en het uiteindelik bloedneus gekry. George W Bush se oordrewe selfvertroue het die VSA enorme skade berokken en het sy politieke nalatenskap vir altyd besoedel.

Pres. Wladimir Poetin (Foto: Andrey Gorshkov /SPUTNIK/AFP)

Poetin loop egter in die voetspore van Rusland se tsaars, keisers en kommunistiese leiers wat oor die eeue heen Rusland se geografie en meesterlike militêre vermoë as dié land se twee sterkste voordele gevestig het. Twee weke voor Rusland se aanval op Oekraïne het dié land se weermaghoof, Valery Gerasimov, nog teenoor ʼn Britse afvaardiging gespog dat hy hoof van die tweede magtigste weermag ter wêreld is. Dit is nou dieselfde weermag wat die afgelope twee weke sukkel-sukkel voortploeter teen Oekraïne se veel kleiner, amateuragtige weermag.

Poetin se selfvertroue beteken egter dat hy nie sommer sal opgee voordat ʼn beslissende militêre oorwinning behaal is nie. Sy ego sal niks minder kan duld nie, selfs nie as dit teen ʼn enorme prys vir Rusland sowel as Oekraïne geskied nie. Die huidige omsingeling van stede soos Kharkiv en Marioepol en toenemende aanvalle op burgerlike teikens, skep humanitêre krisisse en selfs ʼn groter vlugtelingkrisis reg oor Europa. Poetin sal nie rus voordat Kiëf val nie, selfs al moet die hele stad platgevee word en duisende mense hulle lewens verloor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MT ·

Jy belig ‘n paar goeie punte, Jaco, maar die moontlike redes en oorsake vir hierdie konflik word myns insiens nog steeds op die verkeerde plekke gesoek.

Hierdie konflik kon vermy gewees het, sou die Weste nie Rusland sedert die val van kommunisme volkome geisoleer het nie.

Die Russe veg op die oomblik vir erkenning en verlore eer, en sal seker nie stop totdat iets daarvan – al is dit op ‘n verwronge manier – herwin word nie.

En oor die lompe manier waarop die Ruse veg; dit was tog altyd so! ‘n Ses pond hamer is ook – op die ou end – net so effektief soos ‘n skelpel.

Terloops, die eerste wat tydens ‘n oorlog sterf, is die Waarheid. Ek neem ALLE statistiek wat vanuit die oorlogsone stroom met ‘n knippie sout.

Lourens ·

Ek stem 110% saam. Die feit dat mense die ware oorsaak nie raak sien nie verstom my. Die feit dat net een kant se nuus vir ons gewys word maak dit ook moeilik om die ware skaal van die verliese van die Russiese weermag te sien. Om die waarheid in die middel te vind moet jy die propaganda van beiede kante kan sien

Luister ·

MT, jy praat van die Russe wat veg vir erkenning en eer. Jy mis die punt dat dit eintlik Poetin is wat veg vir erkenning en eer soos wat die ou USSR of Russiese Ryk gehad het. As jy mooi kyk, gaan dit oor persoonlik ego. Baie Russe wil nie hierdie oorlog hê nie.

MT ·

Wel, die inwoners van die twee wegbreek state van Oekraïne sou met jou verskil.

Poetin verteenwoordig ongelukkig die gevoel van by verre die meeste Russe. Ek weet dis bykans onmoontlik om te glo, maar kyk na die volle beeld van die laaste 15 jaar.

Marthinus W ·

Die Kalifornier, dr Peter Lavelle, se dat, toe hy Rusland en Russies begin studeer het, moes hy elke toespraak uit die Sowjetunie verbatim leer, analiseer, en verstaan. Vandag se “Rusland-kenners”, volgens hom, lees net n opsomming van die toespraak in die Washington Post, en dan dink hulle hulle verstaan Rusland en hul leiers. [Hy werk al amper 20 jaar in Moskou, en in sy RT program, CrossTalk, kry hy mense soos John Mearsheimer, wyle Stephan F Cohen, Graham Allison, Gilbert Doctorow, John Laughland, Roy McGovern, om die sake eerlik, openlik te bespreek.]

Ek bestudeer Rusland en haar leiers al meer as 10 jaar, en ek het nog nooit gehoor of gelees dat Poetin van n “groot Russiese Ryk” praat nie. Inteendeel, hy is baie realisties, en pragmaties. Hy het wel gese dat Rusland n unieke beskawing is [die Slawiese, Ortodokse samelewing, wat nie die Reformasie, Renaissance, Kruistogte, beleef het nie.]

Marthinus W ·

Oekraine het nie n “amateuragtige weermag” nie. Die afgelope agt jaar is hulle opgelei deur van die wereld se beste militere eenhede, soos die Amerikaanse Green Berets, en Britse SAS. Dit sou vreemd wees indien hulle nie goed sou veg nie. Die Oekrainers, soos die Russe, was nog altyd dapper vegters.

Kief word op kaarte so onlangs soos die 18de eeu aangedui as “Little Russia”; hulle word “Little Russians” genoem, soos wat die mense van Belarus “Wit Russe” genoem word. Hulle is almal familie, en Amerika en NAvo wil n familietwis ontketen weens onkunde, gierigheid. Kief is hierdie lande se moederstad, soos wat Kaapstad ons almal se moederstad is. Dis waarom die Russe opdrag gegee is om minimale skade aan te rig. [Op my eerste dag tydens diensplig by 2 Veldgenieregiment in Bethlehem, het ek die term “minimum geweld” gehoor. Jy moet die minste moontlike geweld gebruik om n aksie suksesvol af te handel.]

Andries ·

Oekraine se weermag mag baie dinge wees, maar amateuragtig is beslis ‘n foutiewe woordkeuse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.