Internasionale oorsig: Gemengde nalatenskap vir pragmatiese Merkel

Angela Merkel. (Foto: Markus Schreiber/AP)

Die afgelope 16 jaar was Angela Merkel die politieke gesig van Duitsland. In baie opsigte het sy ook die de facto- politieke leier van Europa geword en namate haar invloed gegroei het, het sy prosesse agter die skerms by die Europese Unie, asook in die verhouding tussen Europese lande en tussen Europa en die res van die wêreld beheer. Oor minder as ’n maand gaan kiesers in Duitsland na die stembus om haar opvolger te verkies.

Hoewel Merkel ’n blywende invloed op Duitsland gehad het, is haar nalatenskap gemeng. Haar party se verlies aan steun by die stembus is dalk selfs ’n direkte gevolg van haar hardkoppigheid om self die politieke leierskapstryd in haar party te beheer. Die Christen-Demokratiese Unie (CDU) het die afgelope twee dekades net een leier, naamlik Merkel, geken.

Angela Merkel het in April 2000 op 46-jarige ouderdom die leier van die CDU geword. Sy is reeds in 1990, ná die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland, vir die eerste keer tot die Duitse Bundestag vir ’n kiesafdeling uit Oos-Duitsland verkies. Die jong Merkel het ’n goeie indruk by die Duitse kanselier Helmut Kohl gemaak en is in 1991 deur hom as minister van vroue en jeugsake aangestel. In 1994 het sy minister van omgewing, natuurbewaring en atoomveiligheid geword.

Merkel het tydens die 1990’s as Kohl se “Mädchen” (meisie) bekend gestaan weens hulle noue samewerking en die wyse waarop hy haar as jong, onervare politikus in sy kabinet aangestel en haar deel van sy binnekring gemaak het. Kohl was van 1982 tot 1998 kanselier van Duitsland en nadat hy die 1998-verkiesing verloor het, het hy as partyleier bedank.

Dit was ook in hierdie tyd dat Merkel die geleentheid benut het om groter mag in die CDU te kry. Sy het teen Kohl gedraai en is in 1998 tot sekretaris-generaal van die CDU verkies. Toe Kohl se opvolger as partyleier, Wolfgang Schäuble, in 2000 onder ’n wolk van omstredenheid as partyleier uittree, het Merkel die geleentheid aangegryp en is sy tot leier van die CDU verkies. Sy het ook die opposisieleier in die Bundestag geword.

Angela Merkel, die Duitse kanselier, beantwoord Woensdag vrae tydens ʼn sitting van die Bundestag, die Duitse parlement, in Berlyn, Duitsland. (Foto: Markus Schreiber, AP)

Tydens die 2005-verkiesing het Merkel Duitsland se ernstige ekonomiese probleme tot haar voordeel benut. Hoewel die CDU onder haar leiding in die 2005-verkiesing nog 3,3% steun, en 22 van sy setels in die Bundestag verloor het, het die regerende Sosiaal-Demokrate (SPD) van Gerhard Schröder 4,3% steun en 29 setels verloor. Die CDU se 226 setels was net vier meer as die SPD se 222, maar Merkel is die geleentheid gegee om haar eerste regering te vorm. Sy sou dit in koalisie met die SPD doen. In 2009 het die CDU nog 1,4% steun verloor, maar weens die SPD se inploffing kon Merkel weer ’n regering saamstel. Hoewel die CDU in 2013 sy beste steun onder Merkel se leierskap gekry het, was dit nie genoeg om alleen ’n regering te vorm nie en was ’n koalisie met die SPD weer nodig. In 2017 het die CDU weer eerste geëindig, maar die party het baie steun aan die regse Alternatief vir Duitsland afgestaan.

Wat elke verkiesing sedert 2005 bewys het, was dat Angela Merkel se politieke aanvoeling haar selde in die steek gelaat het. Sy kon as leier van die CDU byna twee dekades lank oorleef, al het haar party soms groot verliese gely. Een groot verlies wat die CDU die afgelope twee dekades gely het, is ’n verlies aan tweede- en derdevlak- opkomende leiers.

In 2018 het Merkel aangekondig dat sy as leier van die CDU gaan uittree en gevolglik ook nie in 2021 weer as kandidaat vir kanselier namens die CDU sal staan nie. Tydens ’n leierskapstryd in 2018 is Annegret Kramp-Karrenbauer, ’n minister in Merkel se kabinet, naelskraap deur die CDU-kongres tot partyleier verkies nadat Merkel druk op kongresgangers geplaas het om vir Kramp-Karrenbauer te stem. Haar opponent, Friedrich Merz, het in aanloop tot die kongres gemaklik voorgeloop.

Annegret Kramp-Karrenbauer en Angela Merkel. (Michael Kappeler/dpa via AP)

In Februarie 2000 het Kramp-Karrenbauer haar uittrede as leier van die CDU aangekondig. Nadat die konferensie waar haar opvolger aangewys moes word telkemale uitgestel is, is nog ’n Merkel-bondgenoot, die premier van Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, as partyleier aangewys.

Laschet geniet baie min steun onder lede van die CDU en is ook in die hele Duitsland, en selfs in sy eie deelstaat, baie ongewild. Wat sy leierskap wel bevestig het, is dat Merkel sou bepaal wie haar as leier van die CDU sou opvolg. Tydens die meer as twee dekades van haar leierskap het Merkel van baie talentvolle politici in die CDU ontslae geraak wat nie lojaal teenoor haar was nie en een van die gevolge van Merkel se leierskap is ’n groot verlies aan ’n sterk tweede en derde vlak van leierskap binne die CDU.

Merkel verdien baie krediet vir die koelkop-wyse waarop sy, sedert sy in 2005 kanselier geword het, Duitsland deur verskeie krisissituasies gelei het. Haar vermoë om met haar politieke opponente, en in besonder die SPD, saam te werk om Duitsland se ekonomie ná 2005 reg te ruk is een voorbeeld daarvan.

Daarmee saam het Merkel egter baie van die kernwaardes van die CDU opgesê. Haar besluit om in 2015 meer as een miljoen sogenaamde vlugtelinge, meestal jong mans uit die Midde-Ooste en Afrika, in Duitsland te verwelkom, het Duitsland vir altyd verander. Sedert Merkel in 2005 kanselier van Duitsland geword het, was daar oor die jare ’n voortdurende toename in emigrasie na Duitsland met die gevolg dat sowat ’n kwart van mense wat vandag in Duitsland woon nie van Duitse etniese afkoms is nie.

Terwyl Merkel tydens die Europese finansiële krisis leierskap in Europa getoon het en daarin kon slaag om Europa deur die krisis te help lei, het sy die verdeeldheid tussen noordelike en suidelike lande in Europa help beklemtoon. Verlede jaar het Merkel nog ’n keer weggestap van ’n basiese CDU- (en selfs Duitse) beginsel toe sy ingestem het dat die Europese Unie namens sy lidlande ’n enorme skuldlas kon aangaan om ’n ekonomiese hulppakket te ontwikkel wat Europa uit die ekonomiese krisis weens die pandemie moes help.

President Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

In 2014 toe Rusland die Krimskiereiland van die Oekraïne geannekseer het en Russiesgesinde separatiste in konflik met die weermag van die Oekraïne betrokke geraak het, het Merkel leiding geneem in optrede teen Rusland, maar ook in dialoog met Rusland en pres. Wladimir Poetin. Merkel is een van min staatshoofde in Europa wat daarin kon slaag om ’n goeie verhouding met Poetin te bly handhaaf.

Hoewel die Duitse ekonomie onder Merkel se leierskap redelik goed presteer het, is daar baie ernstige vrae oor die toekoms. Die afgelope twee dekades was daar ’n enorme agteruitgang van infrastruktuur in Duitsland. Prof. Stefan Legge, ’n Duitse professor in ekonomie aan die Universiteit van St. Gallen in Switserland, het onlangs verwys na die feit dat slegs 10% van brûe in Duitsland in ’n goeie toestand is. Van Duitsland se eens stiptelike treine is byna niks oor nie, met passasiers- en goederetreine wat byna altyd laat is. Die land se paaienetwerk het ook oor die afgelope paar jaar weens ’n tekort aan instandhouding drasties agteruitgegaan.

Volgens Legge moet Merkel ook die skuld kry vir Duitsland se agterstand in die ontwikkeling van digitale- en kommunikasie-infrastruktuur. Selfoonopvangs, internetspoed en die beskikbaarheid van moderne digitale netwerke in Duitsland is van die swakste in die ontwikkelde wêreld en in Europa.

Merkel sal binnekort nie meer die gesig van Duitsland of Europa wees nie. Waar ’n Amerikaanse president die afgelope 15 jaar waarskynlik vir Merkel sou nader indien hy met Europa wou praat, is dit onseker wie die volgende sterk leier van Europa gaan wees. Die kanse is goed dat Duitsland ná volgende maand se verkiesing ook ’n verswakte nuwe bondskanselier, wat die steun van min Duitsers sal geniet, gaan hê.

Angela Merkel. (AP Photo/Czarek Sokolowski)

Merkel het Duitsland deur verskeie krisisse gestuur. As gelowige het Merkel in 2011 gesê dat Duitsland nie ’n probleem van “te veel Islam” het nie, maar wel ’n probleem van “te min Christenskap”. Oor die “te min Christenskap” was Merkel waarskynlik korrek, maar oor die gevolge van massa-immigrasie en die geweldige toename in Duitsland se Moslembevolking sal die oordeel nog in die toekoms gevel moet word.

Merkel laat ’n uiters verswakte CDU na. Sy laat ’n Duitsland met ’n verkrummelde infrastruktuur na. Sy laat ’n Duitsland sonder ’n duidelike toekomsvisie en sonder duidelike samebindende faktore na. Sy laat ’n Duitsland met ’n snelgroeiende Moslembevolking na.

Sy laat egter ook ’n Duitsland na wat in Europa en die hele wêreld gerespekteer word. Onder Merkel se leierskap het Duitsland ’n gereserveerde maar kragdadige posisie in wêreldpolitiek ingeneem. Dit is onwaarskynlik dat haar opvolger Duitsland se posisie in die wêreld sal kan volhou. Dit sal sleg vir Duitsland en Europa wees.

Kanse vir linkse regering raak groter in Nederland

Mark Rutte. (Foto: Sem van der Wal/ANP/AFP)

Meer as ses maande ná die Nederlandse verkiesing op 17 Maart het dié land steeds geen nuwe regeringskoalisie nie. Die vorige regering onder leiding van premier Mark Rutte regeer steeds Nederland terwyl onderhandelinge vir ’n nuwe koalisie voortduur. Die afgelope week het leiers van die grootste partye weer byeengekom in ’n poging om die dooiepunt in onderhandelings te probeer bylê.

Gebeure die afgelope paar weke bevestig egter die moontlikheid dat ’n nuwe koalisieregering, met ’n meerderheid linkse politieke partye, al hoe waarskynliker word, veral nadat dit aan die lig gekom het dat Sigrid Kaag, die leier van die tweede grootste party in Nederland, Democraten 66 (D66), tydens die somervakansie die leiers van twee linkse partye by haar huis ontvang het om oor ’n moontlike linkse koalisieregering samesprekings te voer.

Die Nederlandse politieke toneel is toenemend versplinter met 17 partye, die meeste ooit, wat in Maart tot die Nederlandse parlement, die Tweede Kamer, verkies is. Dié 17 partye deel die 150 setels wat dit baie moeilik maak om ’n stabiele koalisieregering te vorm.

Mark Rutte is reeds sedert Oktober 2010 die premier van Nederland en probeer tans om sy vierde regering saam te stel. Tydens die verkiesing in 2010 het Rutte sy party tot ’n naelskraapse oorwinning oor die Partij voor de Arbeid gelei. Sedertdien het Rutte daarin geslaag om verskeie koalisieregerings met linkse en regse partye saam te stel.

Tydens Maart se verkiesing kon Rutte weer daarin slaag om sy party, die konserwatief-liberale Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD), eerste te laat eindig. Met 34 setels is die VVD tans gemaklik die grootste party en die party het selfs in Maart se verkiesing met een setel gegroei.

Die links-progressiewe D66 het met vyf setels gegroei en is tans met sy 24 setels die tweede grootste party in die Nederlandse parlement. Weens die meeste partye se onwilligheid om met die derde grootste party, die regse Partij voor de Vrijheid, in ’n koalisie saam te werk, moet ander kleiner partye gevind word om ’n koalisieregering wat die steun van minstens 76 van die 150 parlementslede het, saam te stel.

Die afgelope vier jaar het Rutte se VVD saam met D66, die Christen-Democratisch Appèl (CDA) en die sosiaal-konserwatiewe ChristenUnie in ’n koalisieregering regeer. Die CDA, eens die grootste party in Nederland, was die grootste verloorder in Maart se verkiesing en het vierde geëindig met slegs 15 setels. Sedertdien verkeer die party in chaos met een van sy gewildste parlementslede, Pieter Omtzigt, wat die party verlaat het.

Sigrid Kaag (links) saam met Jean Asselborn, Luxembourg se minister van buitelandse sake. (22 Mei 2018). Foto: AP Photo/Geert Vanden Wijngaert

Die huidige leier van D66 is Sigrid Kaag, ’n voormalige diplomaat en simpatiseerder van die Palestyne. Haar man, Anis al-Qaq, is ’n voormalige politikus van die Fatah-beweging in die Palestynse Wesoewer. D66 stel wetgewing voor waarvolgens mense sal kan besluit om onder sekere omstandighede hulle eie lewe te laat beëindig. Die ChristenUnie is sterk hierteen gekant en weier om in ’n koalisieregering saam te werk waar so ’n wet voorgelê word.

Die afgelope week het Kaag aan Rutte gesê dat sy ’n ongekende vyfparty-koalisie tussen die VVD, D66, CDA en die twee linkse partye, die Partij voor de Arbeid en Groenlinks, voorstel. Die VVD en CDA is albei ongemaklik daarmee om in ’n regering met die PvdA én Groenlinks te tree en veral die ekstreemlinkse standpunte van Groenlinks is vir albei partye moeilik om hulle mee te versoen.

Rutte verkies ’n voortsetting van sy huidige koalisieregering, maar met Kaag wat weier om verder met die ChristenUnie saam te werk, is so ’n opsie van die tafel. Die vraag is tot watter mate Rutte aan Kaag se eise vir ’n koalisieregering met ’n meerderheid linkse partye sal toegee.

Sowat 60% van Nederlandse kiesers het in Maart vir sentrumregse en regse partye gestem. Partye soos die PVV, Forum voor Democratie, Ja21, Staatkundig Gereformeerde Partij en BoerBurgerBeweging is almal regse partye wat tans uit die koalisie-onderhandelinge gelaat word.

Sou Rutte aan Kaag se eise toegee, kan dit tot heelwat meer linkse regeringsbeleid aanleiding gee, wat vir die gematig-konserwatiewe kiesers van die VVD tot ongemak kan lei. Die CDA, lank bekend as die stem van kiesers buite Nederland se groot stede, verkeer tans in ’n bestaanskrisis en verloor die meeste van sy kiesers aan ander konserwatiewe partye. Sou die CDA saam met linkse partye in ’n koalisie tree, kan die party nog meer steun verloor. Die CDA staan tans op slegs ses setels in peilings.

Die Nederlandse parlement. (Foto: pixabay)

Die Nederlandse parlement heropen op Maandag 6 September ná ’n vakansie van byna twee maande. Die historiese parlementskompleks, Binnenhof in Den Haag, word oor die volgende ses jaar gerestoureer en die Nederlandse parlement het tydens die vakansie tydelik verskuif na ’n ander gebou in Den Haag wat ook aan die Nederlandse regering behoort en wat vantevore staatsdepartemente gehuisves het.

Dit is egter duidelik dat daar teen die heropening van die parlement op 6 September nog nie ’n nuwe regeringskoalisie gereed gaan wees nie. Heelwat partye in die parlement, asook gewone Nederlanders is ongelukkig met die trae pas van koalisie-onderhandelinge. D66 het die afgelope tyd in peilings heelwat steun verloor, waarskynlik onder meer weens dié party se eise vir ’n links-gedomineerde koalisieregering.

Met Angela Merkel wat binnekort as kanselier in Duitsland uittree, pres. Emmanuel Macron in Frankryk wat voor ’n uitdagende herverkiesingstryd te staan kom, en min ander sterk leiers in Europa kan en wil Rutte ’n groter rol in Europese politiek speel. Daarvoor het hy egter ’n stabiele koalisieregering nodig. Met D66 wat toenemend die septer in koalisie-onderhandelinge swaai, kan dit egter moeiliker raak om binnekort so ’n nuwe regering te vorm. Intussen geniet Rutte egter steeds die steun van ’n meerderheid Nederlanders wat vertroue in sy regeerstyl het.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Of Merkel, wat meer gedoen het vir Moslems as vir Christene, as ‘n ware Christen onthou sal word, sal net die tyd leer. Die Duitsers het ook niks vir die Jode omgegee nie… en erger… Wat is die volgende grootse heldedaad wat die Duitse gaan aanpak? Hul kerke afbreek om die Nuwe -Era-Aanhangers te plesier?

Marthinus W ·

Merkel is n Christen.n Paar jaar gelede, tydens die hoogtepunt van die immigrantekrisis, is Merkel tydens `n onderhoud gevra waarom sy die Moslems beskerm. Haar antwoord was dat Duitsland godsdiensvryheid het, en haar taak is om alle gelowe te beskerm. Toe se sy, ek sien dat julle Christene nie meer gereeld kerk toe gaan nie, en nie altyd optree soos Christene nie, miskien moet julle bietjie selfondersoek doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.