Internasionale oorsig: Geweldsmisdaad steeds groot probleem vir Biden, Demokrate in VSA

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Die voortslepende krisis met geweldsmisdaad in die VSA is besig om een van die belangrikste kwessies in aanloop tot die Amerikaanse middeltermynverkiesing in November vanjaar te raak. Die afgelope twee weke was daar ’n hernude vlaag skietvoorvalle in veral groot Amerikaanse stede. In ’n nuwe peiling sê 60% van geregistreerde kiesers in die VSA dat hulle ontevrede met president Joe Biden se hantering van dié misdaadkrisis is.

Gedurende 2020 was daar ’n styging van 30% in moorde in die VSA. Verlede jaar se statistiek is nog nie beskikbaar nie, maar in talle groot Amerikaanse stede het plaaslike regerings oor ’n verdere styging in misdaad berig.

Terwyl die internasionale nuus deur die oorlog in Oekraïne gedomineer word, blyk dit egter dat Amerikaanse kiesers in die komende Amerikaanse middeltermynverkiesings, soos tydens die meeste Amerikaanse verkiesings, op plaaslike kwessies soos die ekonomie, immigrasie en misdaad gaan fokus. ’n Groot meerderheid van Amerikaanse kiesers is ontevrede met die huidige ekonomiese omstandighede in hulle land. Inflasie en die stygende lewenskoste pla baie Amerikaners veral, soos ook in die meeste ander Westerse lande.

Terwyl die ekonomie waarskynlik in November die belangrikste kwessie in verkiesingsveldtogte reg oor die VSA gaan wees, speel veiligheid altyd ’n rol. Amerikaners se persepsie is toenemend dat hulle in hulle land weens onwettige immigrasie en die toename in geweldsmisdade in veral stede onveiliger is.

Ernstige skietvoorvalle is verlede naweek in Louisiana, Florida, Virginia en Arkansas aangemeld. Drie weke gelede was daar in New York en Washington DC voorvalle waarin haweloses deur ’n gewapende man geskiet is. In Chicago sterf daar byna elke dag mense in die ergste geweld in dié stad sedert die 1990’s.

Demokrate in die Amerikaanse kongres het hulself ook geen guns bewys toe hulle bygedra het tot negatiewe persepsies oor die polisie nie. Duisende polisielede het die afgelope paar jaar die diens verlaat en pogings om die polisiediens in verskeie stede af te skaal of selfs te sluit het die indruk geskep dat Demokrate nie ernstig oor misdaadbekamping is nie.

(Foto: Xinhua/Li Muzi)

Gedurende die 1990’s was daar ook ’n groot probleem met geweldsmisdaad in Amerika se groot stede. Dit is uiteindelik hokgeslaan deur streng polisiëring wat ’n groot uitbreiding van die polisiemag, maar ook ’n sterk mandaat aan die polisie, beteken het. In New York het dié stad se burgemeester Rudy Giuliani juis tussen 1993 en 1996 daarin geslaag om die getal moorde met 69% te verlaag. Tydens sy tweede termyn tot 2001 het dit selfs verder gedaal.

Suksesvolle vervolging en swaar straf het ook twee dekades gelede ’n belangrike rol in die stryd teen geweldsmisdaad gespeel. Daar is egter ook ’n duidelike korrelasie tussen die misdaadprobleem en algemene maatskaplike probleme in veral minderheidsgemeenskappe in stedelike gebiede in die VSA.

Biden het nadat hy tot president verkies is, aangedui dat hy ’n strategie gaan ontwikkel om die misdaadprobleem hok te slaan. Dit lyk egter nie of sy regering daarin slaag om kiesers te oortuig dat hulle ’n werkbare plan teen die huidige misdaadkrisis het nie.

Demokrate in die Amerikaanse senaat en huis van verteenwoordigers vrees reeds dat hulle hul meerderheid in November se verkiesing kan verloor. Terwyl ’n nederlaag waarskynlik deur ekonomiese kwessies meegebring sal word, is daar goeie rede om te glo dat die misdaadkrisis ook tot ’n oorwinning vir Republikeine in November sal bydra.

Suid-Korea kry ’n konserwatiewe president

Yoon Suk-yeol (Foto: JUNG YEON-JE/POOL/AFP)

Yoon Suk-yeol, die Donald Trump van Suid-Korea, is vroeër vandeesmaand met ’n klein meerderheid tot die volgende president van die vierde grootste ekonomie in Asië verkies. Hy sal die huidige liberale president, Moon Jae-in, in Mei vanjaar opvolg.

Yoon het hom tot sterk konserwatiewe waardes verbind en is tydens die verkiesingsveldtog deur Westerse joernaliste met Donald Trump vergelyk. Hy is sterk ten gunste van vryemarkbeginsels en neem sterker standpunt as sy voorganger teen onbillike Chinese handelspraktyke in.

Hy het ook tydens die veldtog gesê dat hy die VSA sal toelaat om kernwapens in Suid-Korea te plaas sou die bedreiging wat Noord-Korea inhou verder toeneem. Hy stel ook ’n meer kragtige buitelandse beleid vir Suid-Korea voor, met sterker militêre samewerking tussen die Weste en Japan.

Yoon wil ook arbeidsregulasies verslap, en wette en regulasies wat volgens hom op feminisme gebaseer is en teen mans diskrimineer, kanselleer. Dit sluit in die sluiting van die regeringsdepartement vir geslagsgelykheid. Meer as 60% van mans jonger as 30 het vir Yoon gestem. ’n Groot meerderheid van jong mans in Suid-Korea voel dat wette wat geslagsgelykheid bevorder teen hulle diskrimineer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

… en dis alles Putin se skuld… En Trump s’n, natuurlik. Kan Hillary tog nie volgende keer die president wôrre nie? Please! Dink net watter groot verskil sy sou kon gemaak het. Biden is net te ordentlik met die wrede vyande van SY USA. En sy adjunk probeer daagliks nog uitvind waar sy haar bevind. Sy is te besig vir ander bog.

Heinrich

Die hele liberale denkwyse daar is besig om hulle in te haal. Ons suffer al jare hier omdat kriminele meer menseregte het as slagoffers.