Internasionale oorsig: Het China oor die nuwe koronavirus gejok?

Die Wuhan- instituut van virologie. (Foto: Hector RETAMAL/AFP)

Sedert Covid-19 verlede jaar deur die wêreld begin versprei het en in ’n pandemie ontaard het, is daar wyd bespiegel oor die oorsprong van die virus. Hoewel die konsensus is dat dit in China ontstaan het, het oudpres. Donald Trump van die VSA verlede jaar beweer dat die virus uit ’n laboratorium in die stad Wuhan, waar eksperimente op koronavirusse gedoen is, gekom het.

China het hierdie bewerings ten sterkste ontken en tydens verlede jaar se Amerikaanse verkiesingsveldtog het Joe Biden die bewering deur Trump ook as snert afgemaak. Intussen het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vroeër vanjaar ’n ondersoek na die oorsprong van die virus gedoen en dit het ’n besoek aan die stad Wuhan, waar die virus die eerste keer gediagnoseer is, ingesluit. Baie lande, insluitende die VSA was egter nie tevrede met die ondersoek wat deur die WGO uitgevoer is nie.

Intussen het die gesaghebbende Wall Street Journal ’n paar dae gelede ’n eksklusiewe ondersoek deur dié koerant bekend gemaak, wat onder meer die skokonthulling ingesluit het dat drie navorsers van die Wuhan- instituut van virologie in November 2019 in ’n hospitaal in dié stad opgeneem is nadat hulle siek geraak het. Die moontlikheid, wat deur die Chinese verwerp is, dat die virus uit die instituut ontsnap het, word nou nie meer as ’n wilde samesweringsteorie afgemaak nie.

Die afgelope week het pres. Joe Biden opdrag gegee dat verdere ondersoek hieroor gedoen moet word. Terwyl Biden die VSA se lidmaatskap aan die WGO herstel het, nadat Trump Amerika aan dié organisasie onttrek het, lyk dit egter of die Biden-administrasie druk op die WGO gaan plaas om beter navorsing oor die oorsprong van die virus te doen.

Terwyl die Amerikaanse regering se hoofviroloog, dr. Anthony Fauci ’n paar maande gelede die moontlikheid dat die virus in ’n laboratorium in China kon ontstaan het en uit die laboratorium kon ontsnap het, verwerp het, het hy ’n paar dae gelede in ’n televisie-onderhoud gesê dat dit nou deur die Amerikaanse regering as ’n moontlikheid beskou word.

Daar is die afgelope week in die Amerikaanse media beweer dat dié land se regering moontlik reeds vir maande oor inligting beskik dat die instituut in Wuhan die virus in eksperimente geskep het en dat dit per ongeluk na mense in die instituut oorgedra is, en so versprei het. Dit is moontlik dat die storie in Wall Street Journal ’n gevolg van ’n beplande inligtinglekkasie deur die regering is. Daar kan egter net bespiegel word of ons ooit presies sal weet wat gebeur het.

Inentings vorder stadigste in Afrika

(Argieffoto: Ted S. Warren/AP)

Slegs 2% van mense in Afrika het tot dusver een dosis van ’n entstof teen Covid-19 ontvang. Van die 1,8 miljard dosisse entstof wat reeds wêreldwyd toegedien is, is slegs 25 miljoen in Afrika toegedien.

Noord-Amerika is tans die vasteland met die beste inentingskoers met byna 60 entstowwe per 100 burgers wat al toegedien is. In Europa is dit byna 46 per 100, in Suid-Amerika 27 en in Asië 21.

Byna 300 miljoen dosisse entstof is reeds in die VSA toegedien met 50% van Amerikaners wat reeds een dosis ontvang het en 40% wat reeds twee dosisse entstof ontvang het. In Israel het 60% van burgers reeds een dosis ontvang en 57% al twee dosisse. Ander lande wat ook reeds meer as 50% van hulle burgers ingeënt het, is onder meer die Verenigde Arabiese Emirate, die Verenigde Koninkryk, Chili en Hongarye.

Die meeste Afrika-lande wag vir entstowwe wat deur die globale Covax-inisiatief aan armer lande beskikbaar gestel gaan word. Daar word beplan om teen die einde van vanjaar twee miljard dosisse deur dié skema beskikbaar te stel.

Die voorlopers in Afrika is tans die Seychelle, Marokko, Mauritius en Ekwatoriaal Guinee wat almal reeds meer as tien dosisse per 100 burgers toegedien het. Suid-Afrika is tans in ’n klaaglike 29ste plek op die lys van Afrikalande en sak, ten spyte van die tweede fase van sy inentingsprogram wat onlangs afgeskop het, steeds af op die lys soos wat talle ander Afrika-lande vinniger hulle bevolkings begin inent.

VSA en Iran wil ewe graag nuwe kernooreenkoms sluit

‘n Missiel word tydens ‘n militêre oefening gelanseer. Foto: WANA (West Asia News Agency) via REUTERS

Terwyl ’n aankondiging oor ’n nuwe kernooreenkoms tussen die VSA, Iran, China, Rusland en verskeie Europese lande waarskynlik binnekort gemaak gaan word, is dit duidelik dat hoewel die partye almal die indruk skep dat hulle nie toegewings sal maak, sou dit nie tot hulle voordeel wees nie, die VSA én Iran die afgelope twee weke tydens onderhandelinge in Wene, Oostenryk wel sulke toegewings gemaak het.

In die openbaar het die Amerikaanse regering ook aangedui dat hy bereid sal wees om binnekort te begin om sanksies teen Iran uit te faseer. Iran se minister van buitelandse sake, sowel as die president van Iran, Hassan Rouhani, het aangedui dat hulle bereid is om na nuwe bepalings, wat afwyk van die 2015-ooreenkoms, te kyk mits dit tot hulle voordeel is. Die voordeel vir Iran lê natuurlik opgesluit in die verligting van ekonomiese sanksies wat dié land se ekonomie die afgelope drie jaar enorme skade berokken het en grootliks handel met die Weste beëindig het.

Die VSA verkeer steeds onder druk van Israel om nie tot ’n nuwe ooreenkoms met Iran in te stem nie, maar dit is duidelik dat die Amerikaners tevrede daarmee is sou Iran tot sommige strenger maatreëls in ’n nuwe ooreenkoms instem. Die Biden-administrasie wil minder in die Midde-Ooste betrokke wees en deur minstens Iran vir ’n paar jaar te verhoed om ’n kernwapen te ontwikkel, is vir die Amerikaanse regering tans voldoende.

Hoewel Iran se leiers opruiende toesprake lewer, besef hulle dat die sanksies teen hulle land tot ’n einde gebring moet word selfs indien dit ’n hele reeks toegewings in ’n nuwe ooreenkoms sou insluit. Sedert die VSA hom in Mei 2018 aan die vorige ooreenkoms onttrek het en sanksies teen Iran ingestel is, het Iran se uitvoere dramaties afgeneem en het die land toenemend afhanklik van handel met Rusland en China geword. Rusland en China se betrokkenheid in Iran word egter deur ’n spesifieke agenda gedryf en die leiers van Iran besef dat dit nie ’n gesonde situasie is nie. Verlede jaar was byna die helfte van al Iran se uitvoere na China.

Die afgelope paar jaar se Amerikaanse sanksies het Iran se ekonomie sodanig verswak dat Iran gedwing kan word om verskeie sterker bepalings in ’n nuwe ooreenkoms te aanvaar. Dit gaan waarskynlik presies wees wat die inhoud van ’n nuwe ooreenkoms sou bepaal. Intussen verkies Iran op 18 Junie ’n nuwe president en is dit nog onseker hoe ’n nuwe, waarskynlik meer konserwatiewe leier die onderhandelinge sal hanteer, sou ’n ooreenkoms teen dié datum nog nie bereik wees nie.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Michael ·

Amerika skuld nog `n antwoord op die ontstaan van die vigs virus. Hulle het gese dit is in Afrika van wilde diere (aape) an mens oorgedra is. Vigs het eerste in Kalifornia uitgebreek. Voordat Biden druk op iemand plaas moet hy sy huis skoon kry en eerlik wees.

Charles ·

Hierdie virus is in die Whuhan instituut vir virologie geskep, befonds deur dr Fauchi, en toe op die wereld losgelaat.

Marthinus W ·

n Moontlikheid bestaan dat soldate van ander lande dit kon inbring.

Wuhan was gasheer vir die 2019 World Military Games (18 – 27 Oktober). Meer as 9000 soldate van 109 lande het deelgeneem. Amerika se deelnemers het besonder swak vertoon, en het slegs die 35ste posisie behaal. Vyf van hulle is opgeneem met “malaria”-tipe simptome. Hulle het 300 meter van die mark waar die virus uitgebreek het, gebly; 42 werknemers van die hotel waar hulle gebly het, is met die virus besmet. Voor hulle China toe is, het hulle naby Fort Detrick in Maryland, Amerika se biologiese oorlogvoeringslaboratorium, geoefen.n “Vape-epidemie” het in Amerika gedurende Augustus 2019 uitgebreek. n Maand tevore is Fort Detrick gesluit weens "ongeruimdhede".n Harvard-professor, Charles Lieber, is gearresteer, weens sy navorsing.

Tubac ·

Die skrywer het so reg in die media se strik getrap met aanhalings wat in China en die VSA gepubliseer is. China sal nooit die waarheid vertel nie. Waar is die wetenskaplikes wat die aap uit die mou gelaat het in China? Die navorsing in die VSA was gemik om die soldate se uithouvermoe te verbeter. Wat wel waar is, is dat dit n flop uitgedraai het. Indien dit so n epidemie was in die VSA, waarom het dit nie die hele VSA getref nie, aangesien baie van die soldate ook in ander State woonagtig was? Spekulasie sal nie antwoorde gee nie en net verder fopnuus versprei. Die waarheid sal wel uitkom.

Groen Ghoen ·

Indien die virus uniek mensgemaak is deur genetiese manipulasie is dit tog heel logies dat die “entstof” die genetiese materiaal van die virus onskadelik moet stel? Die ontwikkelaars van die entstowwe was waarskynlik die heeltyd daarvan bewus dat die virus mensgemaak is.

Dirk Mostert ·

Nee, Wuhan met ‘n laboratorium is gekies as reklame om die fop-pandemie bekend te stel. Dat daar buitelandse TV-dekking was met lyke op straat en werkers met ruimtepakke wat strate en mure skrop, was geen toeval nie. Ten spyte van die Chinese Nuwejaarsvierings in Januarie was daar geen CV19 gevalle in ander Chinese stede nie. Gates en Fauci is die meesterbreine agter ‘n virus wat nie bestaan nie.

Dirk Mostert ·

A thesis could be written on “A Comparison of the Covid-19 Pandemic and Anthropogenic Global Warming (AGW)”. The latter, invented by 2 Americans, Al Gore (ex vice-president) and Michael Mann (pseudo-scientist at NASA), ‘mutated’ to “climate change” in 1999, when 21 years of cyclical warming, following after 39 years of global cooling, ended. AGW, which is irreconcilable with the laws of thermodynamics, laws of chemistry, and geological, historical, even meteorological evidence, was considered by scientists as the worst hoax in history until 18 months ago. The same individuals and organizations are propagating both phenomena.

JB ·

Hulle kan maar gaan kyk ,gaan niks kry. Hulle moes na Trump geluister het. DIT is te Laat

Thom ·

Toe hy gesê het dat dit heeltemaal in orde is om vroue teen hul sin te betas ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.