Internasionale oorsig: Het COP26 misluk sonder Jinping en Poetin?

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het Dinsdagaand met sy vertrek uit Skotland, waar hy die eerste twee dae van die Verenigde Nasies se 26ste klimaatsberaad, ook bekend as COP26, bygewoon het, harde woorde vir die presidente van China en Rusland, Xi Jinping en Wladimir Poetin, gehad weens hulle besluit om nie die beraad by te woon nie.

Jinping en Poetin het ook nie die voorafgaande G20-beraad in Rome, Italië, bygewoon nie. Sedert die uitbreek van Covid-19 het Jinping China nog nie een keer verlaat nie en sy versoek om Maandag en Dinsdag deur ’n videoverbinding aan COP26 se leiersberaad deel te neem, is afgekeur. Sowat 120 staatshoofde van reg oor die wêreld het dié twee dae lange onderdeel van die groter COP-beraad bygewoon.

China is tans die grootste besoedelaar in die wêreld en geen globale poging om lugbesoedeling en spesifiek die vrystelling van koolstof te verminder, kan sonder China se deelname geslaagd wees nie. China se kweekhuisgasvrystelling was in 2019 reeds tweedubbel dié van die VSA. Tussen 2000 en 2018 het China se jaarlikse vrystelling van kweekhuisgasse verdriedubbel en China is tans verantwoordelik vir een derde van alle kweekhuisgasvrystelling.

Tydens die veelbesproke 2015-beraad in Parys het die destydse Amerikaanse president, Barack Obama, en Jinping vooraf op teikens vir die verlaging van kweekhuisgasvrystellings ooreengekom. Vanjaar het so iets nie gebeur nie en twyfel bestaan of die beraad wat volgende week eindig weer groot en ambisieuse ooreenkomste sal bereik, soos met die Parys-akkoord in 2015.

Rusland, nog een van die grootste besoedelaars ter wêreld, het hom ook nog nie tot nuwe planne verbind nie en Poetin het slegs ’n video na COP26 ingestuur wat tydens ’n kleiner gesprek oor bosbou gespeel is. In 2015 het meer as 190 lande tot die Parys-akkoord ingestem.

Die afgelope week se toesprake, veral deur staatshoofde, wat die aandag van die internasionale media wou trek, was weer dun aan argumente oor volhoubare pogings om die omgewing te bewaar en het eerder gefokus op die tipiese apokaliptiese klankgrepe dat die wêreld op ’n klimaatkatastrofe, iets wat nie bewys kan word nie, afstuur.

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Andy Wong)

Wêreldleiers soos Jinping en Poetin het deur hulle afwesigheid ’n sterk boodskap aan veral Westerse leiers gestuur. Die Chinese ministerie van buitelandse sake het in reaksie op Biden se aanval op Jinping gesê dat “slagspreuke nie ’n plaasvervanger vir optrede is nie.” Sedert die 2015-ooreenkoms, waarvan China ’n ondertekenaar was, het dié land min vordering gemaak om sy eie klimaatsdoelwitte te bereik. Skeptici het die afgelope week gesê dat die res van die wêreld min vertroue in China se verbintenis om klimaatsverandering te beveg, moet hê.

Dit is egter ook duidelik dat die groeiende politieke spanning tussen die Weste en China, die huidige energiekrisis in die Noordelike Halfrond en ekonomiese uitdagings in baie wêreldstreke ná Covid-19, vir baie lande min ruimte vir duur en moeilike omgewingsinisiatiewe laat. Dit skep min ruimte vir ’n groot nuwe klimaatsooreenkoms binne die volgende paar dae in Glasgow.

Energiekrisis in Europa wys dat kernkrag deel van oplossing moet wees

Die vlag van die Europese Unie. (Argieffoto: pixabay)

Tien lidlande van die Europese Unie het die Europese Kommissie gevra om kernkrag voortaan as ʼn energiebron met ʼn lae koolstofvoetspoor te erken. Dié groep, gelei deur Frankryk, voer aan dat kernkrag deel van Europa se toekomsplanne moet wees nadat die huidige energiekrisis Europese lande se afhanklikheid van gasinvoere uit Rusland bewys het.

Buiten Frankryk is dit hoofsaaklik lande in Sentraal- en Oos-Europa, waaronder Pole, Hongarye, Bulgarye, Kroasië, Tsjeggië, Roemenië, Slowakye, Slowenië en Finland, wat dié inisiatief steun. Al tien hierdie lande gebruik kernkrag, met Frankryk waar kernkrag vir meer as 70% van dié land se energiebehoefte verantwoordelik is.

In 14 EU-lidlande word kernkrag nie gebruik nie, en in die meeste van hierdie lande is daar steeds ʼn groot afhanklikheid van steenkoolkragstasies. In drie EU-lidlande, Oostenryk, Duitsland en België, is daar oor die afgelope paar jaar besluit om kernkrag uit te faseer.

Die Europese Unie en sy lidlande bied groot subsidies vir maatskappye wat energiebronne met ʼn lae koolstofvoetspoor ontwikkel. Kernkrag is tot dusver hiervan uitgesluit. Die toegang tot subsidies is een van die redes waarom groot windkrag- en sonkragprojekte reg oor Europa ontwikkel word. Die huidige energiekrisis het egter bewys dat wind- en sonkrag in baie lande nog geen plaasvervanger vir kernkrag en selfs steenkoolkragstasies kan wees nie. Die gevolg is groter afhanklikheid van ingevoerde aardgas.

Terwyl die COP-beraad in Glasgow plaasvind, is die debat oor hernubare energiebronne die afgelope week verder opgeskerp met baie ontleders wat sê dat Duitsland ʼn groot fout gemaak het om onder leiding van Angela Merkel kernkrag uit te faseer. Die laaste kernkragstasie in Duitsland moet volgende jaar sluit, wat dié land se afhanklikheid van Russiese aardgas nog verder gaan verhoog.

Terwyl Duitsland besig is om sy kernkrag uit te faseer, word 25% van dié land se elektrisiteit steeds deur steenkoolkragstasies voorsien. Steenkoolkrag is dié vuilste manier om elektrisiteit op groot skaal op te wek. Tog gaan Duitsland nie binne die volgende dekade van steenkoolkragstasies ontslae raak nie.

Tydens Merkel se laaste besoek as kanselier van Duitsland aan Frankryk die afgelope week, was dit duidelik dat Europa, en veral Duitsland, se energie-uitdagings deel van haar nalatenskap gaan wees. Terwyl Duitsland en Frankryk die afgelope jare saam vir die meeste beleidsformulering in Europa verantwoordelik was, handhaaf dié twee lande totaal verskillende standpunte oor kernkrag. Die huidige energietekorte en afhanklikheid van Russiese gas gaan waarskynlik die Franse se standpunt oor die toekoms van kernkrag eerder reg bewys.

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

Merkel het in 2011 na die Fukushima-ramp in Japan, aangekondig dat Duitsland kernkrag teen 2022 gaan uitfaseer. Sy het dié stap gedoen om omgewingsaktiviste en Duitsers wat oor die veiligheid van kernkrag bekommerd is, tevrede te stel. Haar besluit is egter nie op feite gebaseer nie. Reg oor Frankryk word 50 kernkragreaktors daagliks op veilige wyse gebruik.

Veral Duitsland en België het die afgelope tyd kernkrag drasties afgeskaal en daardeur meer afhanklik van aardgas en steenkool geraak. In België, waar kernkrag tot onlangs vir 50% van energiebehoeftes verantwoordelik was, word kernkragstasies ook gesluit.

Die vraagstuk oor veiligheid van kernkrag het natuurlik gevolg op die insident by Fukushima in 2011, en voor dít die Tsjernobil-kernramp in 1986. Tog is kernkrag een van die veiligste maniere om elektrisiteit te produseer met slegs 0,07 sterftes per terawatt-uur (TWh) wat globaal opgewek word. By die opwekking van steenkoolkrag is daar 24,6 sterftes per terawatt-uur en met olie is die sterftes 18,4. Net windkrag is effens veiliger as kernkrag met 0,04 sterftes, maar min lande in die wêreld sal binne die volgende dekade of twee deur windkrag in sy volle energiebehoeftes kan voorsien.

Die debat oor energiebronne met ʼn lae koolstofvoetspoor duur voort, maar dit raak duideliker dat baie lande soos Frankryk nie gaan oorgee aan kernkrag nie, en dat kernkrag, wat veral in Europa die afgelope dekade ʼn kleiner rol begin speel het, nie sommer net uitfaseer gaan word nie.

Bosnië en Herzegowina dreig om finaal uitmekaar te spat

Die vlae van Bosnië en Herzegowina
voor die parlement in Sarajevo. (Foto: ELVIS BARUKCIC/AFP)

Die laaste saamgeflanste oorblyfsel van die voormalige Joegoslawië, Bosnië en Herzegowina, dreig om finaal uitmekaar te spat nadat die regering van die Serwiese Republiek (ook bekend as Republika Srpska en om nie verwar te word met die aparte land Serwië nie) onlangs geskille tussen die etniese groepe van dié land op die spits gedryf het en die leier van die Serwiërs in Bosnië verlede week gedreig het om van Bosnië los te breek.

Die afgelope week is daar in veral Europa gevrees dat Rusland sy vetoreg in die Verenigde Nasies se veiligheidsraad sou gebruik om die huidige EU-vredesmagte se teenwoordigheid in Bosnië te beëindig. Die EU het in 2004 die vredesoperasie in Bosnië by Navo oorgeneem.

Nadat ’n afgewaterde mosie in die Veiligheidsraad oor die verlenging van die vredesmag vir nog een jaar volgens Rusland en China se voorkeure aangepas is, is dit goedgekeur. Daar is egter net 600 soldate uit hoofsaaklik Hongarye, Turkye en Kroasië in Bosnië, en hierdie vredesmag beskik oor ’n uiters beperkte vermoë om werklik vrede in Bosnië te verseker, sou die land opbreek.

Bosnië en Herzegowina was tot 1991 deel van Joegoslawië, waarna dit onafhanklikheid verklaar het en in 1992 deur die weermag van Serwië binnegeval is. Na ’n oorlog van drie jaar is vrede in 1995 in Dayton, Ohio in die VSA, gesluit. Die gevolge van die vredesooreenkoms was onder andere dat Bosnië en Herzegowina ’n federale staat in twee entiteite, Republika Srpska (wat hoofsaaklik uit etniese Serwiërs en gevolglik Ortodokse Christene bestaan) en die Federasie van Bosnië en Herzegowina (bestaande uit Moslem Bosniërs en Katolieke Kroate) verdeel is.

’n Hoë Verteenwoordiger vir Bosnië en Herzegowina is ook in 1995 ingestel en hierdie persoon word vanuit Europa aangestel en het die hoogste gesag in die land. Die Serwiërs in die Republika Srpska voel egter dat die kantoor van hierdie oppergesag na meer as 25 jaar tot ’n einde kan kom. Die huidige Hoë Verteenwoordiger is die Duitser Christian Schmidt en die Serwiërs is ook ontevrede met sy onlangse aanstelling.

Die Republika Srpska het onlangs meer as 100 wetsvoorstelle in die Bosniese parlement ingedien om verkiesings, grensbeheer en ander kwessies waaroor die Serwiese minderheid in Bosnië sterk voel, te hanteer. Milorad Dodik, wat sedert 2006 leier van die Serwiërs en ook lid van die presidensie van Bosnië en Herzegowina (drie lede met een Bosniër, een Kroaat en een Serwiër) is, het ook onlangs gedreig om die Serwiërs uit Bosnië se weermag te onttrek en ’n eie weermag vir die Republika Srpska op te rig.

Terwyl die grootste dele van die Republika Srpska by die land Serwië (oos van Bosnië) ingelyf kan word, kan die grootste deel van Bosnië waar etniese Kroate woon, gemaklik by Kroasië ingelyf word, wat die Bosniërs sal agterlaat. Die vrees bestaan egter in die VSA en Europa dat so ʼn opbreek van Bosnië tot ʼn hernude oorlog in die Balkan kan lei.

Rusland en Serwië is die twee grootste bondgenote van die Republika Srpska en daar is al baie bespiegel oor hoe ’n moontlike opbreek van Bosnië kan uitspeel. Die land is grootliks ’n sameflansing van drie verskillende streke, elk met sy eie etniese groep, geloof en taal en daar is byna niks wat dié drie groepe saambind nie. Die land het ook in praktyk drie presidente wat nie in die belange van Bosnië optree nie, maar wel in belange van die etniese groep wat hulle verteenwoordig.

Die VSA en die EU het verlede week spanne in Bosnië gehad om die huidige geskille te probeer bylê, maar dit is duidelik dat slegs ’n pleister elke keer op drie ledemate wat nie saamhoort nie, geplak word om dit weer bymekaar te hou. In ’n era waar veral die VSA en Europa meestal teen die opbreek van etniese diverse lande is, is dit onseker hoe die toekoms van Bosnië gaan uitspeel.

Die afgelope weke se hernude krisis het egter bevestig dat die 1995‑vredesooreenkoms en elke stap daarna slegs tydelik van aard was. Rusland is ook sterk gekant teen die EU en Navo se uitbreiding in die Balkan-streek en is gevolglik ’n sterk ondersteuner van die Serwiërs se strewe na onafhanklikheid.

Swede kry dalk binnekort vroulike eerste minister

Magdalena Andersson (Foto: Jonathan NACKSTRAND/AFP)

Swede se huidige minister van finansies, Magdalena Andersson, is Donderdag tydens die konferensie van Sosiaal-Demokrate in Swede as dié party se nuwe leier aangewys. Sy volg die huidige Sweedse eerste minister, Stefan Löfven, as partyleier op. Daar word verwag dat Löfven binnekort as eerste minister sal bedank, en dat Andersson hom dan kan opvolg, sou sy die steun van ʼn meerderheid van parlementslede kan kry.

Andersson is bekend vir haar sterk standpunt oor fiskale dissipline en saam met die ministers van finansies van Nederland, Oostenryk en Denemarke het sy die afgelope tyd leiding in Europa geneem in die stryd teen groterwordende staatskuld van EU-lidlande. Dié vier lande het ook verlede jaar gesamentlik skuld, wat deur die 27 EU-lidlande onderneem is, vir ʼn Covid-19- ekonomiese hulppakket teengestaan.

Andersson beskryf haarself as die mees spaarsamige minister van finansies in Europa. Ten spyte van talle stemme in haar sentrumlinkse party ten gunste van hoër belasting en meer staatskuld, weier Andersson om tot sulke toegewings in te stem.

Dit is egter nog geen uitgemaakte saak dat sy eerste minister gaan word nie. Die Sosiaal-Demokrate (SDF) beheer slegs 100 van die 349 setels in die Sweedse parlement, en sy sal die steun van die Groenparty en die Linkse Party moet kry om as die nuwe eerste minister bevestig te word.

Swede hou volgende jaar in September verkiesing, en die regse Sweedse Demokrate toon al ʼn geruime tyd sterk groei in die peilings. Ook die liberaal-konserwatiewe Gemagtigde Party, tans die tweede grootste in Swede, hoop om volgende jaar deel van ʼn nuwe regering te word.

Swede het die afgelope dekade honderde duisende Moslem-vlugtelinge ingeneem wat tot groeiende frustrasie met die huidige regering gelei het. ʼn Interessante paar maande lê vir die Sweedse politiek voor, en sou Andersson binnekort eerste minister word, sal ʼn groot taak vir haar voorlê te midde van skerp styging in misdaad wat veral deur immigrante en vlugtelinge gepleeg word. Daarmee saam sal sy haar party se groot bestedingsplanne moet beheer om nie verder steun onder Sweedse kiesers te verloor nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Jacobus ·

Asof, enigiemand hulle steur aan die invertibraat, Biden. China het lank reeds besluit dat hulle elke ons steenkool wat wērerdwyd op die mark kom op te slurp en steeds aangaan om klein steenkool opwekkers te bou. Rusland is massief en het sy eie probleme.

groenboer ·

Die COP-berade is in elk geval altyd blote omgewingsteater – ‘n leë gebabbel wat selde lei tot enigiets meer as onuitvoerbare beloftes, en ‘n kans vir Greta Thunberg om vir die kameras te poseer. Xi en Poetin was heeltemal reg om nie hul tyd daarmee te mors nie.

Intussen het die groenkrag-gogga nou ons eie regering ook gebyt. Maak maar gereed vir beurtkrag tot in lengte van dae…

annie ·

Biden wil voor sy dood nog WO3 ontketen en Rusland via die Ukraïne aanvat. Hy kla reeds oor Rusland se militêre oefeninge langs die grens maar Navo doen dit wel oorkant. Die eintlike plan is om Rusland se gasbronne e myne by te kom. Navo brand om ‘n gek van homself te gaan maak soos Napoleon… Of dalk erger. Natuurlik is die CIA & kie en die EU te vinde vir Biden se siniele waandrome sodat die spul USA-grootbekke hul vuilwerk loop doen. Biden is dwaas en gevaarlik en dis hoekom hulle van hom hou.

Dirk Mostert ·

Die Westerse wapenvervaardigers was en is agter alle oorloe om hulself te verryk.

Dirk Mostert ·

Bravo vir China en Rusland wat hul distansieer van die onwetenskaplike aardverwarming-propagete en die G20 (NWO)-kliek.

Anna-marie ·

Jaco, vertel bietjie wat het met Biden gebeur toe hy met Camilla gestaan en gesels het. (Kenners sê dis die mees verstaanbare ding wat hy nog ooit gesê het)

Marthinus W ·

Biden het `n cortege van 85 voertuie gehad, en al die leiers het ingevlieg in privaatstralers wat 50% van alle vliegtuigemissies veroorsaak. Eienaars van privaatstralers betaal ook nie koolstofbelasting soos lugrederye nie. Poetin praat feitlik elke dag oor klimaatverandering, en hoe dit Rusland affekteer, en hy HET cop26 se voorstel van “deforestation” aanvaar namens Rusland. By die G20 was sy boodskap dat Rusland werk om aardverwarming te stop, aangesien 60% van die land in die permafrostgebied is. By cop26 het Rusland se adjunkpremier gemeld dat Rusland $1,3 triljoen spandeer om die land te onskep na omgewingsvriendelik energiebronne. Jaco, jy sien wat jy wil sien; jy sien en lees nie die waarheid nie.

Pieter ·

Kernkrag is die voor die hand liggende oplossing, mees betroubaar. Ongelukkig verg dit kundigheid en dissipline om te bestuur, iets wat kortkom in Suid Afrika.

CA ·

Somme gemaak oor hoeveel opwekkers nodig is om beduidende hoeveelheid fossielbrandstowwe te vervang? En wat dit sal kos? En hoe lank dit neem om op dreef te kry op ‘n skaal wat sal help? Ja, alles help, maar die tyd van volop, bekostigbare energie is verby. Skaal energieverbruik drasties af terwyl ons al hierdie nuwe goed bou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.