Internasionale oorsig: IMF waarsku oor wisselende ekonomiese herstel

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het die afgelope week sy kwartaallikse ekonomiese groeiverwagtings vir die wêreld en vir onderskeie lande bekend gemaak. Hoewel die IMF steeds verwag dat die globale ekonomie vanjaar met 6% gaan groei, het dié instelling wel sommige lande se verwagtinge opwaarts en ander s’n afwaarts aangepas. Die globale ekonomie het verlede jaar met 3,2% gekrimp.

Terwyl die IMF Suid-Afrika se ekonomiese groeiverwagting van 3,1% tot 4% opwaarts aangepas het, hoofsaaklik weens Suid-Afrika se beter as verwagte inentingsprogram, is daar ernstige kommer dat die onlangse onluste hierdie ekonomiese herstel kan benadeel. Suid-Afrika benodig in elk geval heelwat beter ekonomiese groei om ná verlede jaar se katastrofiese inkrimping te herstel.

Dit is egter die rykste lande ter wêreld wat volgens die IMF die vinnigste gaan herstel. Die Amerikaanse departement van handel het Donderdag bekend gemaak dat dié land se ekonomie tydens die tweede kwartaal van vanjaar met 1,6% gegroei het en daarmee tot die omvang van voor die pandemie herstel het. Die IMF voorspel dat die Amerikaanse ekonomie vanjaar met ʼn allemintige 7% gaan groei. Die IMF se voorspelling vir die Amerikaanse ekonomie is 0,6% beter as wat hy in April voorspel het.

Saam met die VSA verwag die IMF ook baie sterk ekonomiese groei van 7% in die Verenigde Koninkryk. Dit is 1,7% beter as wat die verwagting in April was en is die enkele grootste opwaartse aanpassing wat die IMF in sy voorspelling gemaak het.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die verwagting vir ontwikkelde, ryk lande is groei van 5,6% vanjaar, wat 0,5% beter is as wat die IMF nog in April voorspel het. Die IMF sê egter dat die per capita-inkomste in ontwikkelde lande weens die pandemie met 2,8% gedaal het en dat dit nog ʼn hele tyd gaan duur voordat inkomstevlakke heeltemal herstel het.

Die IMF skryf die goeie groeiverwagtinge vir ontwikkelde lande hoofsaaklik toe aan ryker lande se suksesvolle inentingsprogramme. Sowat 40% van mense in ontwikkelde lande is reeds volledig teen Covid-19 ingeënt. Ontwikkelde lande het tot dusver per capita drie keer meer inentings as ontwikkelende lande soos Suid-Afrika toegedien.

Terwyl die verwagting vir ontwikkelde lande opwaarts aangepas is, het die IMF sy voorspelling vir ontluikende en ontwikkelende lande met 0,4% tot 6,3% verlaag. Die grootste probleme met ekonomiese herstel in hierdie kategorie is in Indië, Indonesië, Maleisië, die Filippyne, Thailand en Viëtnam. Al hierdie lande se groeiverwagtings is afwaarts aangepas.

Die IMF het ook sy groeiverwagting vir China met 0,3% tot 8,1% afwaarts aangepas. Dit hou hoofsaaklik verband met dié land se besluit om af te skaal met betrekking tot groot openbare ontwikkelingsprojekte.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die IMF verwag steeds gemiddelde ekonomiese herstel vir groot ekonomieë soos dié van Duitsland (3,6%), Italië (4,9%) en Frankryk (5,8%), veral weens hierdie lande se lang, uitgerekte en streng inperkings en die groot verlies wat al drie lande steeds weens die gebrek aan toerisme-aktiwiteit ly.

Die IMF het wel ernstige kommer oor die Indiese ekonomie uitgespreek. Indië het die tweede grootste bevolking ter wêreld, is die wêreld se grootste demokrasie en het die vyfde grootste ekonomie. Dié land se ekonomiese groeiverwagting is van 12,5% tot 9,5% afwaarts aangepas. Indië is vroeër vanjaar deur ʼn baie erge vlaag van Covid-19-besmettings en gevolglike streng inperkingsmaatreëls getref. Die land sukkel ook steeds om sy inentingsprogram wesenlik uit te brei nadat hy in elk geval later as die meeste ander groot ekonomieë daarmee begin het.

Daar is ʼn duidelike korrelasie tussen lande se vermoë om hul bevolkings suksesvol teen Covid-19 in te ent en die mate waartoe ekonomiese herstel opwaarts of afwaarts deur die IMF aangepas is. Suid-Afrika se grootste handelsvennote, die VSA, China en Europa, gaan almal vanjaar sterk ekonomiese groei ervaar en dit sal nóg ʼn verspeelde kans wees indien ons nie daarin slaag om hierdie lande se groei in groter uitvoere vir ons plaaslike produsente te omskep nie.

Verenigde Koninkryk byna by groepsimmuniteit

Boris Johnson. (Foto: Matt Dunham/AP)

Toe die Britse eerste minister Boris Johnson drie weke gelede aangekondig het dat sy land van 19 Julie alle inperkingsmaatreëls gaan afskaf sodat die lewe in die VK weer na normaal kan terugkeer, is hy deur talle politici, mediese kenners en kommentators daaroor veroordeel.

Johnson se argument was eenvoudig dat daar genoeg entstowwe beskikbaar is sodat enigiemand wat ingeënt wil word, dit kan doen, en met reeds hoë vlakke van inentings was sy regering daarvan oortuig dat die tyd aangebreek het vir Britte om met die virus te begin saamleef.

Kort na die aankondiging was daar ʼn skerp toename in nuwe Covid-19-gevalle in Brittanje, wat tot groter kommer oor ʼn moontlike toename in sterftes kon lei, wat weer groter druk op die regering sou meebring om inperkingsmaatreëls terug te bring. Die afgelope week het egter bewys dat die Britse regering reg was met sy besluit om alle maatreëls op te hef.

Terwyl daar op 15 Julie 60 000 positiewe toetse in die Verenigde Koninkryk was, het dit intussen met 36% afgeneem. Daaglikse sterftes was ook die afgelope week konstant minder as 100 per dag.

Die kantoor vir nasionale statistiek in die VK het die afgelope week aangedui dat 92% van volwassenes in dié land nou teenliggaampies teen die koronavirus het. Dit beteken dat 73% van alle burgers van die VK nou immuun teen die virus is. University College in Londen het in ʼn afsonderlike studie gesê dat 87% van die Britse bevolking nou immuun teen die virus is.

Die hoofrede hiervoor is natuurlik die suksesvolle inentingsprogram. Meer as 88% van volwassenes het reeds minstens een inenting ontvang en meer as 71% is volledig ingeënt. Meer as 83 miljoen dosisse entstof is reeds toegedien, wat dit een van die grootste en suksesvolste inentingsveldtogte teen Covid-19 ter wêreld maak.

Kenners voorspel dat die virus se verspreiding in die VK byna heeltemal tot ʼn einde kan kom indien nog 10% van die bevolking ingeënt word. Die VK is een van die lande in die wêreld met die minste weerstand teen inentings teen die koronavirus, en daar is die afgelope week steeds tussen 150 000 en 200 000 mense per dag ingeënt.

Tunisië, laaste blom van Arabiese Lente, wil ook verwelk

Tunisië se president, Kais Saied. (Foto: AFP)

Tunisië se president, Kais Saied, het verlede Sondag dié land in ʼn politieke krisis gedompel deur die eerste minister, Hichem Mechichi, af te dank en die hele parlement te skors. Saied het daarmee die uitvoerende gesag van sy land oorgeneem en die land in ʼn ernstige grondwetlike krisis gedompel.

Die afgelope paar dae is nog senior regeringslui afgedank, insluitende die land se prokureur-generaal, die uitvoerende hoof van die openbare uitsaaier en die hoof van die weermag.

Saied is ʼn voormalige dosent in konstitusionele reg en is in 2019 in ʼn  oorweldigende sege as president van Tunisië verkies. Hy is allerweë beskou as ʼn gemagtigde leier wat sy land op die pad na groeiende demokrasie sou help. Sy optrede die afgelope paar dae het egter presies die teenoorgestelde vermag.

In Desember 2010 het die selfmoord van Mohamed Bouazizi, ʼn verarmde straatverkoper, tot enorme protesoptrede gelei. Bouazizi het selfmoord gepleeg nadat ʼn regeringsamptenaar die handelsware wat hy verkoop het, gekonfiskeer het. Dit het skokgolwe deur Noord-Afrika en die Midde-Ooste gestuur en klem geplaas op die swaarkry van miljoene mense wat onder outokratiese regerings ly.

Uiteindelik het die Arabiese Lente hieruit voortgespring met miljoene mense in hoofsaaklik Arabiese lande wat in opstand teen outokratiese regerings en diktators gekom het. Mettertyd het die meeste lande weer in hulle ou gewoontes verval, behalwe Tunisië. In Tunisië het ʼn lewendige demokrasie tot stand gekom en vind demokratiese verkiesings sedert die Arabiese Lente plaas.

Tunisië se vlag. Argieffoto: Pixabay.com

Tunisië is ʼn kleiner land in Noord-Afrika, tussen Algerië en Libië. Die grootste deel van die land het goeie, bewerkbare grond en die land het groot landboupotensiaal. Behalwe vir landbou speel toerisme, mynbou, die dienstesektor en vervaardiging ook ʼn belangrike rol in dié land se ekonomie.

Tunisië is oor die afgelope paar jaar telkemale deur die Wêreld Ekonomiese Forum as die mededingendste ekonomie in Afrika beskryf. Freedom House beskryf Tunisië as die enigste vrye land in Noord-Afrika omdat dié land sedert die Arabiese Lente ʼn volkome demokratiese staat is. Tunisië is ook een van die top-Afrikalande in die menslike ontwikkelingsindeks en het van die hoogste per capita-inkomste op die vasteland.

Die koms van demokrasie het egter by die jong bevolking van Tunisië enorme verwagtinge geskep waaraan geen demokratiese regering tot nou vinnig genoeg kon voldoen nie. Die land is steeds baie arm, is in sy streek redelik geïsoleerd en word deur die Weste as geostrategies onbelangrik bestempel.

Die Libanees-Amerikaanse joernalis Hisham Melhem het Tunisië se demokratiese wonderwerk die afgelope paar jaar as uitsonderlik beskou omdat dié land, anders as ander Arabiese lande, suksesvol tussen ʼn sogenaamde nasionale veiligheidstaat en die uitdagings van sogenaamde “politieke Islam” kon deurstuur om uiteindelik ʼn volwaardige demokrasie te vestig.

Die vraag is of die afgelope paar dae se gebeure hierdie demokratiese wonderwerk gaan vernietig. Die Amerikaanse regering en die Europese Unie het ʼn ernstige beroep op Saied gedoen om die demokrasie in sy land te herstel. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake het gevra dat Saied die dialoog tussen alle politieke deelnemers moet volhou.

Intussen lyk dit egter nie of Saied hieraan gehoor gaan gee nie. Dit sal ʼn tragedie vir Afrika en die Arabiese wêreld wees indien die vordering wat in Tunisië gemaak is, nou alles verlore gaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Klip ·

More Jaco, dankie vir die berig. N Vraag, wat en wie is die IMF en waar pas hulle in? Wie beheer hulle en wat en wie gee hulle die reg om oor ander lande se geld en groei uitsprake to maak?

Jaco ·

Goeiedag, Die Internasionale Monetêre Fonds het 190 lidlande en maak werklik baie goeie voorspellings oor onder andere ekonomiese groei verwagtinge. ‘n Mens sou baie kritiek kon lewer maar breedweg speel die IMF ‘n belangrike rol om ekonomiese stabiliteit te bevorder.

CA ·

Jaco, onlangs het jy hier uitvoerig verduidelik hoe “gevaarlik” China is en dat dié diktatorskap deur demokrasië sterker teengestaan moet word. Vandag verduidelik jy weer hoe belangrik dit is dat ons nie ons kanse moet verspeel met hierdie belangrike handelsvennoot nie. Kan jy asseblief verduidelik hoe ons regering – saam met die arrogante Weste – enersyds China moet kap oor hulle interne sake, en terselfdertyd handelsooreenkomste op die beste terme vir ons plaaslike produsente moet probeer onderhandel.

Jaco ·

Dit is belangrik om te onderskei tussen twee verskillende sake. Ja ek is oortuig dat China ‘n bedreiging vir Westerse demokrasie inhou omdat China aktief sy invloed in kwesbare lande uitbrei, maar ook diktators en outokratiese leiers ondersteun en demokrasie op verskeie maniere in Asië, die Midde-Ooste, Latyns-Amerika en Afrika teenwerk. Wat SA se handel aanbetref: Ons grootste handelsvennote is China, die EU en die VSA. Hierdie lande se ekonomieë gaan almal vanjaar baie vinnig groei. Ons uitvoerders behoort hieruit baat te vind, maar die onlangse opstande, probleme by hawes, swak paaie, ens belemmer dit. Daarmee saam is dit tragies hoe internasionale investering in ons mynbousektor byna opgedroog het. Ons landboubedryf het enorme potensiaal om baie meer produkte uit te voer maar kry geen ondersteuning en word eerder deur onsekerheid (grondbesit), onveilige omstandighede, die wisselende geldeenheid, swak infrastruktuur en dienslewering, ens in die wiele gery.

Petrus Albertus ·

“. Suid-Afrika se grootste handelsvennote, die VSA, China en Europa, gaan almal vanjaar sterk ekonomiese groei ervaar en dit sal nóg ʼn verspeelde kans wees indien ons nie daarin slaag om hierdie lande se groei in groter uitvoere vir ons plaaslike produsente te omskep nie. ”
Hierdie is die aanhaling waarna jy verwys, direk geknip en geplak uit die artikel.
1. Dit konstateer die bestaande feit – China is een van Suid-Afrika se drie grootste handelsvennote.
2. Al drie hierdie vennote se ekonomieë gaan sterker groei as ontwikkelende ekonomieë vir die afsienbare toekoms.
3. Suid-Afrika sal ons kanse moet optimaliseer om NIE NET met China handel te dryf nie maar met al 3, en spesifiek gerig op uitvoere.
Ek dink nie dit weerspreek die gevaar wat China vir liberale demokrasieë inhou, om ook uit te wys dat dit in ons eie beste belang is om ons uitvoere te verhoog nie.

Marthinus W ·

Die IMF is na die Tweede Wereldoorlog. tydens die Bretton Woods-vergaderings, geskep. Die afgelope paar dekades is die IMF ‘n knuppel in die VSA se wapentuig vir Wereldheerser. Alles wat die IMF kwytraak moet dus met ‘n knippie sout geneem word. Veral Amerika se vyande, word gewoonlik afgekraak. Paul Krugman het Amerika n jaar of twee tevore ampern “failed state” genoem, ons lees daagliks hoe erg dit gaan, maar die IMF se hulle groei is 7%? En China s’n is laer?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.