Internasionale oorsig: Is ons nou nader aan ʼn Verenigde State van Europa?

Die Duitse bondskanselier Angela Merke praat met Emmanuel Macron, president van Frankryk. (Foto: John Thys, Pool Photo via AP)

Die vraag of 21 Julie 2020 onthou sal word as die datum waarop ʼn belangrike tree nader aan fiskale integrasie tussen lidlande van die Europese Unie (EU) gegee is, is die afgelope week in verskeie lande gevra.

Op Dinsdagoggend 21 Julie om 05:30, ná meer as vier dae se marathononderhandelings, het die regeringshoofde van die 27 lidlande van die EU ʼn ooreenkoms vir ʼn multijaarbegroting en ʼn ekonomiese herstelfonds bereik.

Die belangrikste verskuiwing waarop ooreengekom is, is dat die Europese Unie €750 miljard op internasionale markte sal gaan leen. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die EU dat gesamentlike skuld aangegaan sal word. Dit sou egter verkeerd wees om te dink dat dié stap lidlande van die EU noodgedwonge nader aan ʼn fiskale of selfs ʼn politieke eenheid bring. Die verdeeldheid in Europa en tussen lidlande van die EU is groter as ooit tevore en die besluit om wel €750 miljard se gesamentlike skuld aan te gaan, is eerder uit nood as uit ʼn ware droom van ʼn verenigde Europa gebore.

Uiteindelik gaan die implementering van die hulppakket ʼn groot toets vir samewerking in Europa wees en sal vertroue tussen die lidlande van die EU getoets word. Die afloop van verlede naweek se onderhandelinge sal ook ʼn belangrike impak op die nasionale politiek in Nederland, Duitsland en verskeie ander Europese lande hê.

Hierdie uitgawe van die weeklikse internasionale oorsig fokus dan ook juis hoofsaaklik op die politieke gebeure van die afgelope week in verskeie Europese lande en die verwagtinge vir die toekoms.

Europese Unie-lidlande bereik ooreenkoms oor begroting en herstelfonds

(Foto: Stephanie Lecocq, Pool Photo via AP)

Ná twee jaar se onderhandelinge tussen leiers van die lidlande van die Europese Unie is ʼn begroting van €1 074 triljoen vir die tydperk van 2021 tot 2027 goedgekeur. Saam met die begroting is ʼn ekonomiese herstelfonds van €750 miljard goedgekeur. Meer as €300 miljard van die herstelfonds sal as toelaes aan lidlande wat die ergste deur die Covid-19-pandemie geraak is, betaal word, terwyl die res van die geld in die vorm van lenings aan lidlande beskikbaar gestel sal word.

Die toelaes word gekoppel aan ekonomiese hervormingsmaatreëls waaraan lande moet voldoen. Toelaes sal slegs aan ʼn lidland betaal word indien daardie land aan ʼn stel ekonomiese hervormingsvoorwaardes voldoen. Dit is hierdie punt wat waarskynlik oor die volgende paar jaar tot toenemende spanning tussen EU-lidlande aanleiding gaan gee. Lande uit die suide en ooste van Europa meen dat lande uit die weste en noorde vir hulle wil voorskryf hoe hul lande regeer moet word en dat die vereistes hul soewereiniteit bedreig. Lande soos Nederland en Oostenryk is egter van mening dat hul burgers die hele tyd lande in die suide en ooste moet bly finansier terwyl daardie lande nie fiskale dissipline aan die dag lê nie.

Italië bied groot ekonomiese en politieke uitdagings vir Europa

Italië se eerste minister Giuseppe Conte. (Foto: John Thys, Pool Photo via AP)

Nadat die Verenigde Koninkryk uit die Europese Unie onttrek het, is Italië nou die derde grootste ekonomie in Europa en die agste grootste ekonomie in die wêreld. Terwyl die Italiaanse ekonomie steeds groot en indrukwekkend is, is ekonomiese agteruitgang in Italië reeds vir jare ʼn knaende probleem.

Die Italianers se ekonomiese probleme het reeds voor die finansiële krisis van net meer as ʼn dekade gelede begin en word veral gedryf deur onvolhoubare begrotingstekorte, groeiende staatskuld, laer produktiwiteit as in talle ander Europese lande, korrupsie en politieke onstabiliteit.

Twintig jaar gelede het Italië vyf van die twintig rykste stede in Europa volgens per capita-inkomste gehad. Vandag het Italië net een stad (Milaan) onder die top twintig in Europa.

Italië se staatskuld is vandag die tweede grootste in Europa (uitgedruk as persentasie van die bruto binnelandse produk [BBP]). Terwyl werkloosheid en armoede in Italië toeneem, het die land ʼn krimpende bevolking met lae geboortes, hoë sterftes (weens ʼn ouerwordende bevolking) en ʼn stygende emigrasiekoers. In 2019 het 16% meer Italianers hul land verlaat as in 2018.

Rutte kan langsdienende Nederlandse premier word

Mark Rutte. (Foto: Stephanie Lecocq, Pool Photo via AP)

Die Nederlandse premier, Mark Rutte, moes op die afgelope beraad van EU-lidlande in Brussel ʼn fyn spel speel. Terwyl ʼn groot meerderheid van Nederlanders ten gunste van Nederland se lidmaatskap van die Europese Unie is, heers daar wel ʼn soort sagte EU-skeptisisme onder baie Nederlanders, veral wanneer dit kom by Nederland se finansiële bydrae tot die EU.

Nederland is een van die lande in Europa met die hoogste produktiwiteit en hoogste aftree-ouderdom. Dit is met reg dat baie Nederlanders voel dat mense in die suide van Europa ekonomiese probleme oor hulself bring weens lae produktiwiteit, lae aftreeouderdom, heelwat korrupsie en laer belastingkoerse.

Rutte sal in Oktober vanjaar reeds vir tien jaar die premier van Nederland wees. In dié tydperk het hy sy land uit die finansiële krisis gelei, terreurbedreigings bestuur, die immigrasiekrisis van 2015 hanteer en uiteindelik sterk ekonomiese groei moontlik gemaak. Volgende jaar, op 17 Maart, sal Nederlanders na die stembus gaan om nuwe lede vir die Tweede Kamer (laerhuis van die Nederlandse parlement) te verkies.

Sou Rutte se Volksparty vir Vryheid en Demokrasie (VVD) in volgende jaar se verkiesing eerste eindig en ʼn koalisieregering vorm, sal Rutte waarskynlik sy vierde regering kan vorm. Tot dusver was Ruud Lubbers met sy termyn van 1982 tot 1994 die Nederlandse premier met die langste termyn. Sou Rutte volgende jaar ʼn nuwe Nederlandse regering vorm, sal hy waarskynlik die langsdienende premier in die geskiedenis van Nederland word. Rutte is baie gewild in Nederland met ʼn meerderheid van Nederlanders wat tevrede is met sy leierskap.

Merkel is gewilder as ooit tevore maar wie gaan haar opvolg?

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

Dit is nie net Nederland waar ʼn belangrike verkiesing volgende jaar plaasvind nie, maar in sy buurland Duitsland sal kiesers ook in ʼn federale verkiesing ʼn nuwe regering kan kies. Anders as in Nederland het die Duitse kanselier, Angela Merkel, reeds keer op keer bevestig dat sy nie weer vir nog ʼn termyn as kanselier beskikbaar sal wees nie. Merkel dien reeds sedert 2005 as bondskanselier van Duitsland en was ook vanaf 2000 tot 2018 leier van die Christen-Demokratiese Unie (CDU).

Merkel geniet tans die steun van 70% van Duitsers. Haar party, die CDU, staan ook baie sterk in peilings met steun van byna 40%. Daar is egter baie onsekerheid oor wie Merkel as kanselier gaan opvolg. Die premier van Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, wil graag die leier van die CDU word, maar hy geniet beperkte steun in Duitsland. Daar is ook baie kritiek op sy hantering van die Covid-19-pandemie in sy deelstaat.

Ander kandidate soos Norbert Röttgen, voorsitter van die Duitse parlement se komitee vir buitelandse sake en Friedrich Merz, ’n konserwatiewe prokureur en voormalige parlementslid, geniet ook min steun.

Die afgelope week het meer invloedryke persone binne die CDU begin voorstel dat die leier van die CDU se susterparty in die deelstaat Beiere hom as bondskanselierkandidaat beskikbaar moet stel. Markus Söder, die 53-jarige premier van Beiere en leier van die Christen-Sosiale Unie (CSU) is tans baie gewild in Beiere en in die hele Duitsland.

Die CDU en CSU stel tydens elke verkiesing saam ʼn bondskanselierkandidaat voor, maar geen leier van die CSU is al ooit tot kanselier verkies nie.

Macron benodig ʼn wonderwerk in Frankryk

Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Olivier Matthys, Pool)

Terwyl kiesers in Nederland en Duitsland volgende jaar na die stembus gaan, sal die Franse eers in 2022 ʼn presidentsverkiesing hê. President Emmanuel Macron is tans baie ongewild in Frankryk en in peilings loop hy en die regse politikus, Marine Le Pen, kop aan kop.

Werkloosheid in Frankryk het voor die Covid-19-pandemie tot 7,8% gedaal en Macron se teiken van ʼn werkloosheidskoers laer as 7% teen 2022 het heeltemal bereikbaar gelyk. Dit lyk egter nou onmoontlik met die Europese Kommissie wat voorspel dat Frankryk se ekonomie vanjaar met 10,6% gaan krimp, een van die ergste inkrimpings van alle lidlande van die Europese Unie. Daar word verwag dat werkloosheid in Frankryk in die komende maande gaan styg en dat armoede wesenlik gaan toeneem.

Weens ʼn skerp styging in spandering gaan die Franse regering se skuldlas, wat voor die pandemie reeds 100% van die land se BBP beloop het, tot meer as 120% styg. Macron het onlangs tydens die Bastilledag-herdenking in Parys gewaarsku dat ʼn paar moeilike maande vir Frankryk voorlê. Die kombinasie van strukturele probleme soos ʼn kort werkweek, oorregulering, ʼn enorme staatsdiens en burokrasie en onmededingende arbeidspraktyke, tesame met die ekonomiese gevolge van die Covid-19-pandemie gaan waarskynlik Frankryk se ekonomiese herstel verlangsaam. Dit voorspel niks goeds vir Macron se kanse om in 2022 herkies te word nie.

Nog geen ooreenkoms tussen Britte en Europese Unie in sig

Die Britte en die Europese Unie kon weer eens nie daarin slaag om hul verskille tydens die pas afgelope ronde van onderhandelinge by te lê nie. Indien ʼn ooreenkoms nie teen September tussen die Verenigde Koninkryk (VK) en die EU bereik word nie, sal die tussentydse ooreenkoms tussen die twee partye, waarvolgens die VK nog soos ʼn lid van die EU behandel word in soverre dit onder meer handel en die beweging van mense aangaan, op 31 Desember verval en sal daar vanaf 1 Januarie 2021 geen ooreenkoms bestaan nie.

Die Britte verkies ʼn reeks mini-ooreenkomste met die EU, soos wat ook die geval tussen die EU en Switserland is, terwyl die EU eerder een enkele ooreenkoms, wat alle toekomstige reëlings sal bevat, voorstaan. Presies hoe die Verenigde Koninkryk en lidlande van die EU op ekonomiese terrein gaan meeding, is een van die huidige strydpunte. Die VK dring aan op ʼn vrye handelsooreenkoms wat sy maatskappye vrye toegang tot die Europese mark gee, terwyl maatskappye uit die EU-gebied dieselfde toegang sal geniet. Die EU dring egter daarop aan dat Britse maatskappye aan ʼn reeks vereistes moet voldoen om vrylik sake te kan bly doen in Europa.

Steun vir Skotse onafhanklikheid neem toe

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Om die Britse premier te wees, is geen eenvoudige taak nie. Boris Johnson het die afgelope paar maande sy hande vol gehad om die Covid-19-pandemie te probeer bestuur terwyl sy land baie kwaai daardeur geraak is.

Intussen heers daar toenemende verdeeldheid tussen Engeland, Wallis, Skotland en Noord-Ierland. Brexit skep vrese in Noord-Ierland oor hoe die beweging van mense en goedere van volgende jaar af hanteer gaan word. In Skotland, waar ʼn meerderheid van burgers ten gunste van EU-lidmaatskap is, brand die vlam van vryheid hoër as in ʼn lang tyd.

In onlangse peilings is ʼn meerderheid van Skotte nou ten gunste van Skotse onafhanklikheid en die Skotse premier, Nicola Sturgeon, dring daarop aan dat ʼn nuwe onafhanklikheidsreferendum gehou moet word. Johnson weier dat so iets gebeur en beskou die Skotse onafhanklikheidsvraagstuk as ʼn afgehandelde saak nadat ʼn meerderheid van die Skotse kiesers in 2014 teen onafhanklikheid gestem het.

Sowat 54% van die Skotte steun tans onafhanklikheid. Sou geen ooreenkoms tussen die Britte en die Europese Unie bereik word nie, sal steun vir Skotse onafhanklikheid waarskynlik verder toeneem. Daar is egter tans min rede vir Johnson om versoeke vir ʼn tweede Skotse onafhanklikheidsreferendum toe te staan.

Verhouding tussen Europa en Turkye versleg verder

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

ʼn Paar jaar gelede is daar nog gepraat oor die moontlike toelating van Turkye as lidland van die Europese Unie. Turkye, as moderne sekulêre staat was ʼn bondgenoot van die Weste en ʼn kernrolspeler in die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo).

Verskeie gebeure, hoofsaaklik gedryf deur die Turkse president, Recep Erdogan, se Islamitiese en nasionalistiese beleidsrigtings, het die verhouding laat versleg. Turkye se aggressiewe optrede die afgelope ruk in die Mediterreense streek gee egter nou aanleiding tot versoeke vir ʼn totale herskikking in die verhouding tussen Europa en Turkye.

Die onlangse besluit om die Hagia Sofia weer in ʼn moskee te omskep, was ʼn duidelike simboliese klap van Erdogan wat op die Weste gemik is. Turkye is ook voortdurend besig om die bou van moskees in Westerse lande te finansier en om Turkse gemeenskappe in Europese lande te mobiliseer.

Daar is nou al hoe meer stemme in Europa wat vra dat daar herbesin word oor die verhouding tussen die Europese Unie en Turkye. Daar is selfs politici wat vra of dit nog ʼn goeie idee is dat Turkye deel is van Navo. Aggressiewe optrede teenoor Griekeland en Ciprus gaan egter van die EU begin vereis om sterker stappe, insluitende sanksies, teen Turkye te oorweeg.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Therese ·

Báie interessant!
Verrassend ook dat Italië die derde grootste ekonomie in die EU is. Aansporing tot groter gesinne, soos tans in Hongarye, is dalk ‘n goeie idee vir Italië.
Europa het sedert die instroming van die Res van die Wêreld veel van sy bekoring verloor vir my.
Diversiteit vernietig na my mening daardie uniekheid wat elke afsonderlike land ‘n paradys op sy eie gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.