Internasionale oorsig: Isis bedreig steeds; Suid-Korea tree sterkste uit pandemie

Yoshihide Suga (Foto: AP Photo/Eugene Hoshiko)

Japan bly bondgenoot van Weste in Asië

Die nuwe premier van Japan, Josjihide Soega (71), is vandeesweek deur ʼn meerderheid in die Japanse laerhuis verkies. Soega, ʼn oncharismatiese maar ervare en gerespekteerde politikus, was die veiligste keuse vir die land se konserwatief liberale party, die Liberaal Demokratiese Party (LDP).

Met die besluit om Soega te kies, het die LDP ʼn versigtige keuse vir ʼn stabiele voortsetting van die beleid van die voormalige premier, Shinzo Abe, gemaak. Daar kan dus allerweë verwag word dat Japan se huidige goeie verhoudinge met die Weste voortgesit sal word.

Onder Abe is Japan se bande met die VSA verder versterk, ʼn vryhandelsooreenkoms onlangs met die Verenigde Koninkryk gesluit en bande met die meeste Westerse lande versterk. Abe het egter ook probeer om Japan se verhouding met Rusland en China goed in stand te hou en het inderdaad groot moeite gedoen om Rusland gereeld te besoek.

Terwyl die Japannese bekommerd is oor China se aggressiewe optrede in Asië, was Japan se grootste geskil die afgelope ruk met Suid-Korea. Die Koreane eis vergoeding vir die tyd toe Japan oor hulle regeer het en Japan verwerp die eise. Dit het tot ʼn afname in samewerking en handel tussen die twee lande aanleiding gegee.

Japan is tans die land in die wêreld met die oudste bevolking. Vanweë ʼn baie trae bevolkingsaanwas en beperkte immigrasie sukkel Japan om ekonomiese groei te bevorder en ondervind die land voortdurend probleme met deflasie.

Soega het beperkte ervaring in buitelandse skakeling en in die lig van die huidige ekonomiese krisis in Japan kan verwag word dat hy meer op binnelandse sake gaan fokus en hom minder as sy voorganger met buitelandse verhoudinge sal besig hou. Daar is egter min rede om te glo dat Japan se sterk verhouding met die Weste enigsins onder Soega skipbreuk sal ly.

Isis is nog lank nie uitgeknikker nie

Argieffoto ter illustrasie (Foto: ANA)

Die harde les wat die Bush-administrasie in die VSA in 2002 geleer het, is dat jy ʼn oorlog teen ʼn terreurgroep kan wen, maar dat die uitwissing van ʼn terreurgroep heelwat moeiliker is. Anders as in ʼn oorlog tussen state waar die een staat uiteindelik oor die ander seëvier en beheer oor die verloorder se staatsinstrumente verkry, is hedendaagse terreurgroepe nie aan ʼn staat gekoppel nie en beskik hulle oor die besonderse vermoë om, wanneer nodig, aan te pas en in afgeleë, moeilik bereikbare en uiters onherbergsame plekke te hergroepeer. Dit is presies waarmee die Islamitiese Staat van Irak en Sirië (Isis), wat soms ook net die Islamitiese Staat genoem word, deesdae besig is.

Op 25 Augustus het Isis ʼn aanval op ʼn Russiese weermagkonvooi in ʼn afgeleë, sentrale gebied van Sirië van stapel gestuur. ʼn Russiese generaal is in dié aanval dood. Die aanval, wat as ʼn groot verrassing vir die Russe gekom en hulle duidelik onverhoeds betrap het, het vrese bevestig dat Isis besig is om in die Siriese woestyn te hergroepeer.

Op 7 September het die Siriese Organisasie vir Menseregte bekend gemaak dat Isis die voorafgaande week verskeie afsonderlike aanvalle in die woestyngebied wes van Deir ez-Zor in Palmyra, die gebiede oos van Homs en die gebiede om Raqqa uitgevoer het.

Die Russiese lugmag het die afgelope week verskeie aanvalle op Isis-teikens in die Raqqa-woestyn van stapel gestuur as vergelding op die aanval van 25 Augustus, maar ook in ʼn poging om die terreurgroep te verhoed om weer ʼn houvas in afgeleë dele van die Raqqa-provinsie te kry.

Volgens ʼn onlangse verslag van die Amerikaanse Departement van Verdediging is Isis besig om in Irak en Sirië te herorganiseer. Hoewel die poging in Irak tot dusver nie baie suksesvol was nie, slaag die organisasie wel daarin om in afgeleë woestyngebiede van Sirië te hergroepeer, manskappe op te lei en vir aanvalle in Sirië maar ook oorsee te beplan. Isis het die afgelope ruk ook sy aktiwiteite in Afganistan en Libië aansienlik uitgebrei met aanvalle op soldate in Afganistan wat byna weekliks plaasvind.

Nadat die Amerikaanse weermag teen laat verlede jaar grootliks uit die noorde van Sirië onttrek het en die rol van Amerikaanse soldate deur Siriese, Turkse en Russiese soldate vervul moes word, het Isis met sy guerrilla-aanvalle uit die woestyn begin. Volgens die Amerikaanse verslag wat deur die spesialis-verdedigingsintelligensieagentskap opgestel is, het Isis die afgelope paar maande ʼn groot aantal vegters in afgeleë woestyngebiede van Sirië laat saamtrek. Wapentuig en ammunisie is ook aangevul en daar is begin met die beplanning van aanvalle op soldate van veral Rusland en Sirië. Moontlike aanvalle op buitelandse teikens word glo ook beplan. Sou daar nie indringend opgetree word nie, kan die voorkoms van terreuraanvalle in veral Westerse lande weer opvlam.

Kan Brics sink weens die krisis tussen China en Indië?

Subrahmanyam Jaishankar, minister van buitelandse sake in Indië, Vrydag gedurende ‘n BRICS-videokonferensies vanuit Nieu-Delhi. (Foto: ANI Photo)

Later vanjaar sal die leiers van die Brics-lande, naamlik China, Indië, Rusland, Brasilië en Suid-Afrika, in Rusland vergader om die jaarlikse prioriteite vir hulle Brics-samewerking te bespreek. Die klub van ontwikkelende ekonomieë het in 2009 ontstaan toe die leiers van China, Indië, Rusland en Brasilië besluit het om ʼn alternatiewe groepering vir Westerse groepe te begin.

In 2010 is Suid-Afrika genooi om hom ook by Bric aan te sluit en het die klub se naam sy ‘s’ aan die einde bygekry. Sedertdien vergader dié vyf lande se leiers jaarliks en word omvattende standpunte geformuleer, beleidsvoorstelle gemaak en ambisieuse doelwitte gestel. Indien ʼn mens egter die uitkomste van die Brics-voorstelle die afgelope dekade evalueer, is dit duidelik dat min wesenlike verskille na vore getree het.

Die Chinese beskou Brics as ʼn projek om veral lande wat ryk is aan hulpbronne naby aan hom te hou, terwyl Suid-Afrika se doel met Brics-lidmaatskap internasionale aansien en toegang tot veral die Chinese en Indiese markte is. In praktyk het die vyf lande egter eerder die afgelope tien jaar verder van mekaar af wegbeweeg. China en Indië toon ekonomiese groei bo die wêreldgemiddeld terwyl Rusland, Brasilië en Suid-Afrika se ekonomiese groei jaar ná jaar laer as die wêreldgemiddeld is.

Die afgelope vyf maande se spanning tussen China en Indië in ʼn afgeleë grensgebied van die Himalaja-bergreeks en die afgelope weke se militêre opbou deur albei lande in dié streek, ondanks beloftes om die teenoorgestelde te doen, is besig om dié twee lande verder van mekaar af te dryf. China en Indië is ook die twee sterkste ekonomiese magte in Brics en die huidige geskil sal ongetwyfeld ʼn skadu gooi oor vanjaar se Brics-beraad. Sou die huidige konflik tot oorlog aanleiding gee, kan dit die einde van Brics beteken.

Suid-Korea kom sterkste uit pandemie

Weermaglede ontsmet die straat voor die stasie in Daegu, Suid-Korea. (Foto: Kim Hyun-tai/Yonhap via AP)

Die regering in Suid-Korea het die afgelope week gesê dat hulle nou verwag dat dié land se ekonomie vanjaar met slegs een persentasiepunt gaan krimp. Dit is, naas China, die beste verwagting vir ekonomiese groei van die 20 grootste ekonomieë in die wêreld.

Terwyl die Covid-19-pandemie en die streng maatreëls wat lande oor die wêreld ingestel het om die verspreiding van die virus te stuit tot die grootste globale ekonomiese insinking sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog aanleiding gegee het, is daar lande wat redelik onaangeraak deur die krisis gaan kom.

Daar word verwag dat die ekonomieë van Europese Unie-lidlande vanjaar met agt persentasiepunte gaan krimp, terwyl die Amerikaanse ekonomie met vier persent kan krimp. Die verwagting vir ekonomiese inkrimping in ander groot ekonomieë soos Indië, Brasilië, Rusland, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australië en Turkye is heelwat erger.

Wat is die suksesverhaal van Suid-Korea? Dié land het net soos Swede min inperkingsmaatreëls ingestel toe die eerste gevalle van die koronavirus gediagnoseer is. Wat Suid-Korea egter reggekry het, was om vinnig op te tree deur gevalle op te spoor, seker te maak dat mense wat die virus het, geïsoleer word en dat die land se bevolking deelneem aan ʼn strategie om deur fisieke afstandhandhawing en goeie higiëne die verspreiding van die virus te stuit.

Terwyl Suid-Korea en die VSA op dieselfde dag hulle eerste geval aangemeld het, het Suid-Korea uiteindelik sewe sterftes per een miljoen inwoners weens Covid-19 aangemeld met die sterftekoers in die VSA wat tans op 600 sterftes per een miljoen inwoners staan.

Die geheim was eenvoudig om die virus se verspreiding vinnig en doeltreffend te keer. Dit het veroorsaak dat min maatreëls wat ekonomiese aktiwiteit kon benadeel, ingestel is. Volgens Google se mobiliteitsdata was daar nie juis met die uitbreek van die pandemie ʼn groot verskil in die beweging van mense in Suid-Korea nie. Mense het steeds gaan werk, kinders het steeds skool toe gegaan en die ekonomie is gevolglik min versteur.

Uitvoer en toerisme is natuurlik ernstig geraak, maar die regering van Suid-Korea was ook een van die eerstes wat ʼn omvattende hulppakket aan sakeondernemings wat hierdeur geraak is, aangekondig het. Werksverliese was dus minimaal. Verder het die land se regering ʼn innoverende nuwe geldlose betaalstelsel aangekondig. Elke landsburger het ʼn bedrag elektroniese geld gekry wat ook verbruikersbesteding gestimuleer het, maar ewe belangrik daartoe bygedra het dat minder fisieke geld in omloop was.

Teen volgende jaar word verwag dat die ekonomie van Suid-Korea weer gesonde groei sal toon en die klein inkrimping van 2020 sal vroeg in 2021 reeds uitgewis wees. Drakoniese inperkingsmaatreëls, soos dié wat Suid-Afrika gehad het, was duidelik onnodig en het ekonomiese skade veroorsaak wat jare gaan neem om weer te herstel.

Lesse vir Suid-Afrika uit Argentinië se ekonomiese gemors

Alberto Fernandez, president van Argentinië. (Foto: Juan Mabromata/Pool via AP)

Argentinië het die afgelope week uiteindelik ʼn skikking met sy skuldeisers bereik wat die negende keer dat dié land nie sy buitelandse skuld kan terugbetaal nie tot ʼn einde bring. Volgens die ooreenkoms sal die terugbetalings wat die Argentynse regering moet maak sowat 27% laer wees en die land word drie jaar gegee om ernstige hervormings in te stel om te verhoed dat die staatskuld weer op ʼn krisis uitloop.

Argentinië skuld buitelandse uitleners tans 323 miljard VSA-dollar. Die grootste skuldeiser is die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), terwyl die meeste privaat skuldeisers in die VSA is. Aangesien Argentinië reeds dekades lank ʼn jaarlikse begrotingstekort het wat deur buitelandse skuld aangevul word, het die land se staatskuld bly toeneem. Dit het elke derde of vierde jaar met ʼn nuwe betalingskrisis gepaardgegaan.

Die situasie is vererger deur die agteruitgang van die land se geldeenheid. Dit was egter nie altyd die geval nie. In 1913 was Argentinië nog een van die rykste lande ter wêreld met ʼn hoër per capita-inkomste as Frankryk, Spanje en Duitsland.

Staatsbesteding het oor die afgelope paar dekades egter skerp toegeneem en begrotingstekorte is toenemend met buitelandse skuld gefinansier. Dit het tot die verswakking van die land se geldeenheid aanleiding gegee, wat tot ʼn afname in buitelandse belegging en uiteindelik ʼn tekort aan buitelandse valuta gelei het. So het Argentinië sy vermoë verloor om sy skuld getrou terug te betaal. Die land se geldeenheid, die peso, het die afgelope twee dekades meer as driekwart van sy waarde verloor.

Die krisis het al sewe dekades gelede begin met ʼn toenemend sosialistiese regering en groter staatsbesteding. Die afgelope 60 jaar het die land ongeveer 30 lenings by die IMF gekry. Daar was gewoonlik streng vereistes oor besparing en fiskale dissipline aan hierdie lenings verbonde, maar die land se regering het keer op keer die voorwaardes verbreek en weer nuwe staatskuld aangegaan wat uiteindelik nie terugbetaal kon word nie.

Argentinië het sedert 1950 minder as vyf jaar nog ʼn begrotingsurplus gehad. Elke ander jaar was daar ʼn begrotingstekort met staatskuld wat net bly toeneem het. Weens ruim staatsprogramme sukkel die land met onbevredigende produktiwiteit en swak uitvoer. Beleggers is sku om in Argentinië te belê wat tot ʼn tekort aan buitelandse valuta lei. Suid-Afrika kan ʼn paar lesse hieruit leer, want ons is tans op feitlik dieselfde pad as waarop Argentinië hom bevind.

ʼn Harde Brexit word elke week meer waarskynlik

Brexit (Foto: Elionas2/Pixabay)

Net wanneer die politieke kommentators meen dat die Britse premier, Boris Johnson, sy hand heeltemal oorspeel het, verras hy hulle met ʼn volgende strategie. Verlede week het Johnson ʼn omstrede wetsontwerp aangekondig, wat sy regering die reg sal gee om die verdrag wat in Januarie tussen die Verenigde Koninkryk en die Europese Unie gesluit is, te verbreek, sou daar teen die einde van die jaar geen ooreenkoms tussen die partye wees nie.

Dié wetsontwerp is uit Europa en selfs die VSA veroordeel met opposisiepartye in die VK wat woedend was daaroor. Selfs in Johnson se Konserwatiewe Party het sowat 40 parlementslede kapsie daarteen gemaak. Vandeesweek het Johnson egter ʼn ooreenkoms met dié 40 lede bereik wat die party se parlementêre koukus ʼn vetoreg gee op enige veranderinge wat die regering moontlik sou wou aanbring. Daardeur het Johnson sy party, wat ʼn groot meerderheid in die parlement het, weer verenig en geniet hy nou die nodige steun om voor te berei op ʼn scenario waar Brittanje sonder ʼn ooreenkoms met die EU uit die Europese Unie tree.

Die belangrikste twee sake wat tussen die partye en die bereiking van ʼn ooreenkoms staan, is die mate waartoe die Britse regering deur subsidies en belastingvoordele sy eie ondernemings kan ondersteun. Die EU dring daarop aan dat ʼn handelsooreenkoms moet bepaal dat die VK steeds aan die EU se reëls en beperkings vir subsidies en belastingvoordele moet voldoen. Die Britte is sterk daarteen gekant omdat hulle aanvoer dat die hele rede vir die uittrede uit die EU juis was om van die EU se regulasies weg te kom. Daarteenoor is die EU bekommerd dat die Britte sodanige belastingvoordele en subsidies aan Britse maatskappye kan gee dat dit hulle meer mededingend teenoor Europese maatskappye sal maak.

Die belangrikste geskilpunt sedert die referendum in 2016 was die grens tussen Noord-Ierland (wat deel van die Verenigde Koninkryk is) en Ierland (wat ʼn lid van die Europese Unie bly). Volgens die Goeie Vrydag-ooreenkoms wat vrede in Noord-Ierland bewerkstellig het, mag daar nie ʼn harde grens tussen Ierland en Noord-Ierland ingestel word nie. Sou Ierland egter deel van die EU bly en Noord-Ierland nie, sal goedere en mense op die een of ander manier deur doeane moet gaan. Hoewel hierdie probleem nog nie heeltemal uitgestryk is nie, is Johnson se huidige voorstel dat ʼn harde grens nie ingestel word nie, maar dat Noord-Ierland, hoewel hy nie meer deel van die EU is nie, wel aan sekere EU-regulasies bly voldoen. Presies hoe dit gaan werk, is nog nie seker nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

… en Isis in Mosambiek?… Ons wil so graag ‘n Isisiet in sy swart nommertjie met ‘n vlag (wat waar vervaardig is?) geboei, se foto op die internet sien. Hoekom vang die wèreld of Navo (wat skynbaar ok van die huis af werk) nie ‘n slag een van die skarminkels nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.