Internasionale oorsig: Johnson op die agtervoet in Brittanje

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Verlede week het Boris Johnson, Britse premier, sy eie verkiesingsbelofte van 2019 verbreek deur belastingverhogings aan te kondig. Die afgelope week is die belastingverhogings deur ’n kabinetskommeling opgevolg, waarin onder andere Dominic Raab, minister van buitelandse sake (wat vir die Britte se ontruiming uit Afghanistan verantwoordelik was), uit sy pos verwyder en na ʼn minder belangrike portefeulje verskuif is.

Johnson het in Desember 2019 ’n groot verkiesingsoorwinning vir die Konserwatiewe Party verseker toe hy dié party se steun na tradisionele setels van die Arbeidersparty in armer werkersklas kiesafdelings uitgebrei het. Sedertdien het Johnson se gewildheid egter afgeneem saam met die Konserwatiewe Party se steun. Tydens Augustus het Johnson se persoonlike steun vir die eerste keer sedert hy premier geword het tot onder 50% gedaal. Die Konserwatiewe Party se steun is nou voortdurend rondom 40% en die party is slegs ’n kortkop voor die Arbeidersparty.

Uitdagings met die implementering van die Brexit-ooreenkoms is een van die redes vir die afname in steun vir Johnson en sy party. Veral tekorte aan sommige voedselprodukte, algemene arbeidstekorte en die uitdagings in die beweging van produkte tussen die Britse eiland en Noord-Ierland dra ook daartoe by.

Terwyl Johnson en sy regering die afgelope twee jaar uitbreidings op verskeie regeringsprogramme aangekondig het, voel al hoe meer tradisionele ondersteuners van die Konserwatiewe Party dat die party se leiers wegbeweeg van hulle beleid van ’n beperkte regering en lae belasting. Johnson se aankondiging dat sy regering belasting gaan verhoog, ten spyte daarvan dat die Konserwatiewe Party in 2019 in sy verkiesingsmanifes pertinent belowe het om geen belastings te verhoog nie, veroorsaak ook tans onrustigheid in ondersteuning aan die party.

Die hantering van die oorlog in Afghanistan – Brittanje het naas die VSA die meeste soldate daar gehad – het ook tot ’n afname in steun vir Johnson se regering gelei. Net soos in die VSA waar president Biden en sy regering baie steun verloor het en in Nederland, waar dié land se ministers van buitelandse sake en verdediging die afgelope week bedank het, voel baie Britte ook dat hulle regering die oorlog, sowel as hulle burgers se onttrekking uit Afghanistan, swak hanteer het.

Boris Johnson. Foto: (Lindsey Parnaby/Pool via AP)

Gerugte het selfs die afgelope week in die Britse media die rondte gedoen oor die moontlikheid vir ’n vervroegde verkiesing. Johnson het tans ’n groot meerderheid in die Britse parlement met die Konserwatiewe Party wat 363 setels het. Met die aankondiging van ’n kabinetskommeling waarin verskeie besonder konserwatiewe persone tot belangrike kabinetsposisies bevorder is, is die kanse vir ’n vroeë verkiesing tans skraal. Johnson se besluit om Liz Truss, pro-Brexit politikus, as die Konserwatiewe Party se eerste vroulike minister van buitelandse sake aan te stel, was duidelik ’n poging van Johnson om na onrustige parlementslede aan die regterkant van sy party se koukus uit te reik.

Johnson het oor die jare heen bewys dat hy gereeld, juis wanneer hy onderskat word of wanneer sy politieke loopbaan se einde reeds voorspel word, maar weer met nuwe inisiatiewe vorendag kan kom. Die volgende paar maande sal waarskynlik bepaal of die Johnson-regering staande gaan bly; die huidige onrustigheid in die Konserwatiewe Party hou tans die grootste bedreiging vir Johnson se politieke toekoms in.

Skerp swaai na links in Noorweë

Erna Solberg. (Foto: Håkon Mosvold Larsen/ NTB/AFP)

Die uitslag van die afgelope week se parlementêre verkiesing in Noorweë beteken dat al vyf Nordiese lande vir die eerste keer in 62 jaar linkse regerings sal hê. Die afgelope agt jaar het Noorweë ’n sentrumregse regering onder leiding van Erna Solberg (met die bynaam “Iron” Erna) gehad, maar Solberg se Konserwatiewe Party het in Maandag se verkiesing ’n groot nederlaag gely.

Al drie regse partye in Solberg se koalisieregering het groot steun aan linkse partye afgestaan. Die Konserwatiewe Party het nege setels verloor en het met 36 setels (20,4% van die stemme) tweede geëindig. Die mees regse party in Noorweë, die Party van Vooruitgang, het van hulle derde posisie in die vorige verkiesing in 2017 na ’n vierde plek teruggesak. Dié party het ses setels verloor en het met 13,5% van die stemme slegs 21 setels gewen. Die kleiner Christen Demokrate, wat ook deel van Solberg se koalisieregering was, het ’n rampspoedige verkiesing gehad en het vyf van sy agt setels in die parlement verloor.

Die Arbeidersparty het Maandag, net soos met die vorige verkiesing in 2017, eerste geëindig. Dié party het wel een setel verloor, maar sy 26,3% van die stemme en 48 setels maak hom nou gemaklik die grootste party in Noorweë.

In 2017 het die Arbeidersparty slegs twee setels meer as die Konserwatiewe Party gewen en dus kon hulle nie ’n koalisieregering gevorm kry nie. Na vanjaar se verkiesing is dit egter duidelik dat die Arbeidersparty ’n nuwe koalisieregering sal kan vorm. Verskeie linkse partye in Noorweë het groot veld gewen. Hiervan is die voormalige kommuniste van die Rooi Party die gelukkigste. Dié party se steun het tot 4,7% gestyg en die party kon van slegs een setel in die parlement tot agt groei.

Die Sosialistiese Linkse Party se steun het ook toegeneem en dié party kon 13 setels verower. Die Groenparty het van een setel tot drie gegroei.

Die grootste wenner van Maandag se verkiesing was egter die Sentrumparty – ’n gematigde landelike party wat veral ten gunste van desentralisering is, en wat vir die regte van boere en die landelike gemeenskappe intree. Die Sentrumparty is ook sterk Euroskepties, uitgesproke nasionalisties en ten gunste van streng proteksionistiese ekonomiese beleid. Die Sentrumparty het Maandag derde geëindig en het van 19 tot 28 setels gegroei, wat die sterkste groei in steun van alle partye is.

Die mees logiese nuwe koalisieregering sal waarskynlik tussen die Arbeidersparty, die Sosialistiese Linkse Party en die Sentrumparty wees. Dit sal beteken dat ’n sentrumlinkse regering Noorweë vir die volgende paar jaar sal regeer. Die Arbeidersparty het reeds aangedui dat hy bereid is om met alle partye oor ’n koalisie te onderhandel, maar dit is ook bekend dat dié party se leierskap negatief is oor samewerking met die ekstreemlinkse Rooi Party en die Groenparty omdat beide partye radikale eise stel. Die Rooi Party eis die nasionalisering van die meeste industrieë in Noorweë en die Groenparty is die enigste party wat eis dat alle gas- en olieontginning uitgefaseer moet word.

Noorweë is tans naas Rusland die tweede grootste produsent van olie en gas in Europa. Sowat 200 000 mense werk in die olie- en gasbedryf in Noorweë en dié bedryf is verantwoordelik vir 41% van die land se uitvoere en 14% van bruto binnelandse produk. Die Arbeidersparty besef dat dit nie sin sal maak om dié bedryf in die wiele te ry nie, maar dat strenger regulering en ’n vermindering aan nuwe verkenningswerk wel kiesers wat oor klimaatsverandering bekommerd is tevrede sal stel.

‘n Betoging teen klimaatsverandering in Switserland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

Klimaatsverandering het die verkiesingsveldtog in Noorweë oorheers en was die hoofrede waarom die konserwatiewe en regse party baie steun verloor het. Die bykanse histerie oor klimaat wat tans oraloor in Wes-Europa heers, dryf ook die verskuiwing na links, hoewel Noorweë se verkiesingsuitslag ook bewys dat meer gemagtigde partye soos die Sentrum- en Arbeiderspartye se minder radikale voorstelle groter aftrek kry as dié van die meer radikale partye.

Noorweë is reeds een van die voorlopers in die ontwikkeling van groen-energie in Europa. Sowat 98% van alle elektrisiteit in Noorweë word met hernubare bronne, veral hidro-elektrisiteit, opgewek. Tog het klimaatsverandering die afgelope paar jaar ’n politieke knelpunt in die land geword, waarby linkse partye duidelik in die afgelope week se verkiesing baatgevind het.

Noorweë se regering het in 1990 ’n soewereine welvaartsfonds opgerig waarin ’n deel van die land se inkomste uit die petroleumbedryf ingestort word. Die fonds het reeds bates van meer as $1,3 biljoen (trillion) en besit 1,4% van alle aandele op wêreldmarkte. Die fonds is so groot dat, sou dit vandag tussen die burgers van Noorweë verdeel word, elkeen $248 000 sou kon kry.

Daar is dus dubbelsinnigheid in Noorweë oor die petroleumbedryf. Aan die een kant wil ’n meerderheid kiesers sien dat daar meer gedoen moet word om op hernubare energie te fokus, maar ’n groot meerderheid is steeds ten gunste van die behoud of selfs stadige uitbreiding van die bedryf sodat die welvaartsfonds verder vergroot kan word, wat dan groot voordele vir toekomstige generasies sal inhou.

Terwyl kiesers in Noorweë Maandag ’n mandaat aan linkse partye gegee het om ’n nuwe regering te vorm, is die mandaat glad nie een om radikale beleid in te voer nie. Die uitdaging vir konserwatiewe partye om die grootste vraagstukke waaroor kiesers bekommerd is te beantwoord, is egter duidelik, en dit geld ook vir ander Noord-Europese lande soos Duitsland, waar kiesers volgende Sondag na die stembus sal gaan.

VSA bly steeds vir die meeste buitelandse besoekers gesluit

‘n Elektroniese padteken in Kalifornië in die VSA. Foto: (AP Photo/Mark J. Terrill)

Die Amerikaanse regering het die afgelope week bevestig dat dié land steeds nie sy grense vir besoekers uit die meeste lande in die wêreld gaan oopstel nie. Terwyl die meeste Europese lande asook Kanada reisbeperkings begin verslap, weier die VSA steeds om dit te doen.

Jeffrey Zients wat die Withuis se hantering van die Covid-19-pandemie koördineer, het aan die Amerikaanse reis- en toerisme-adviesraad gesê dat die regering tans aan ʼn kontakopsporingstelsel werk wat alle buitelandse besoekers sal moet gebruik nadat grense weer oopgestel is. Die Withuis oorweeg ook om dit ʼn vereiste te maak dat alle besoekers teen Covid-19 ingeënt moet wees.

Die Europese Unie-lidlande het byna almal die afgelope tyd reisbeperkings vir buitelandse besoekers verslap, met die meeste lande wat vereis dat mense ingeënt moet wees of minstens ʼn negatiewe toets vir Covid-19 moet toon om daarheen te mag reis. Ook Kanada het aan die begin van September sy grense vir buitelandse besoekers heropen op die voorwaarde dat hulle ingeënt moet wees.

Beide die Demokrate en Republikeine in die Amerikaanse Kongres is ten gunste van die huidige reisbeperkings. Een politieke kommentator het die afgelope week gesê dat die Demokrate dit steun uit vrees vir die virus, en dat die Republikeine dit steun uit vrees vir vreemdelinge wat moontlik die land wil binnekom of na die VSA wil immigreer. Die realiteit is egter dat dit steeds vir mense wat sake in die VSA wil doen, jongmense wat daar wil gaan studeer, of selfs persone wat daar wil gaan werk, moeilik is om toegang tot die land te kry. Hoewel verskeie uitsonderings wel toegelaat word, is die langdurige sluiting van die grootste ekonomie ter wêreld se grense onvolhoubaar.

Die reisbeperkings het ʼn negatiewe impak op die VSA se toerismebedryf gehad, maar dié land is minder afhanklik van toerisme as die meeste Europese lande. Met minder Amerikaners wat na die buiteland reis, het binnelandse vakansies ook vir ʼn groot deel van die verliese opgemaak. Daar is gevolglik min druk op die Amerikaanse regering om die reisbeperkings vinnig op te hef. ʼn Mens kan verwag dat dit moontlik eers aan die begin van 2022 gaan gebeur, en selfs dan steeds volgens streng voorwaardes.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Hier is groot moeilikheid aan’t broei na die blaps van die VSA, Brittanje en Australië met die oorlamse verdrag wat Frankryk uit druk omdat sy duikbote glo volgens Australië sub-standaard sou wees. Die kordate Franse potus wil die valbyl glo weer instel vir afvallige vriende.

Dirk Mostert ·

Die prys van aardgas het die laaste tyd skerp gestyg in Europa weens kragtekorte agv onbetroubare groenkrag.
Sprake van verpligte entings gaan Johnson en sy ewekniee in Europa stemme kos.

Stephen ·

Die Aarde het sy vervaldatum bereik en moet geskrap word. N nuwe planeet moet verrys. Niks maak meer sin nie . Die mens as die “bewaarder” van hierdie planeet het dit totaal opgemors.

Boerkind ·

Ek dink eerder die regerings as die “bewaarder” van hierdie planeet het dit totaal opgemors. Oral leuens, bedrog en korrupsie… Dit is die arme mense wat ly – regerings en regeerders leef lekker!

Andrew ·

Gaan Mexico toe, leer gebroke spaans en kry vir jou dalk n henna tatoo . Tan bietjie op die strand en chill vir so week, tan goed. Betaal n ou en vat n bus halfpad kalifornia toe, vat dan so bietjie n stap roete deur die natuur. Daar aangekom sal jy kan inkom sonder n vax pas en moontlik by die eerste dorpie vir jou een aanskaf met n spaanse naam. Dalk kan jy so een kry voor die grens by die bus drywer, kry maar nog een by die eerste dorpie net om seker te maak. Met daai pas sal jy moontlik stemreg kan kry en burgerskap onder n amnestie wet wat vir werkende pas draende immigrante burgerskap sal gee. Walaaa, US burger onder n jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.