Internasionale oorsig: Klimaatsverandering en die einde van Europa

‘n Betoging teen klimaatsverandering in Switserland. (Foto: Fabrice COFFRINI/AFP)

’n Briefskrywer in ’n Skotse dagblad verwys die afgelope week na die “globale katastrofe” wat tans deur klimaatsverandering veroorsaak word. Hy plaas dan al sy hoop op die komende COP26-konferensie wat vanaf 31 Oktober tot 12 November in Glasgow gaan plaasvind en waar politieke, omgewing- en ander leiers van reg oor die wêreld oor klimaatsverandering sal praat. Dit is nie net hierdie Skotse briefskrywer nie, maar ook talryke politieke leiers, joernaliste en akademici in Europa wat die afgelope tyd oor die komende katastrofe praat. Hoewel klimaatsverandering wêreldwyd bespreek word, het dit in Europa ’n obsessie geword en vrees mense dat dit tot die einde van die kontinent aanleiding kan gee.

Klimaatsverandering is ’n werklikheid. Dit was nog altyd ’n werklikheid. Daar was in die wêreld se geskiedenis nog nooit ’n periode waartydens die klimaat nie verander het nie. Die groot vraag tans is net tot watter mate klimaatsverandering deur menslike gedrag veroorsaak word.

Wat ons wel weet, is dat die mens stadig maar seker besig is om die aarde se natuurlike hulpbronne uit te put, te besoedel en te verwoes. Die enorme hoeveelheid plastiek wat in ons oseane ronddryf, eeue-oue woude in lande soos Brasilië, Roemenië en die sentrale dele van Afrika wat afgesaag word en die kwynende habitat van honderde bedreigde diere- en voëlspesies behoort vir ons almal onaanvaarbaar te wees. Ons almal kan en moet meer doen om die grond, water, lug, diere, voëls, visse en ander kosbare bronne waarvan ons eie bestaan afhanklik is, beter te beskerm.

Sedert die somer in die Noordelike Halfrond aangebreek het, hoor ons byna daagliks van hittegolftoestande. In die koel noordweste van die VSA en die westelike binneland van Kanada het twee hittegolwe aanleiding tot rekordtemperature gegee. Honderde mense is waarskynlik weens dié hittetoestande oorlede.

In Pakistan het kinders in skole flou geword weens temperature van diep in die veertig grade Celsius. Selfs in yskoue Kevo in Finland het die temperatuur verlede Sondag tot 33,6 grade Celsius, die warmste sedert 34,7 grade Celsius in 1914 gemeet is, gestyg.

Die afgelope week se brande en hittegolftoestande in groot dele van die suide van Europa het die gesprek oor klimaatsverandering in Europa net meer alarmisties gemaak. In Griekeland, Turkye, Spanje en Italië is temperature van bo veertig grade Celsius gerapporteer.

Kesseling, Duitsland. (Foto: Ferdinand Merzbach/AFP)

Sewe weke voor die federale verkiesing in Duitsland het klimaatsverandering nou die belangrikste enkele kwessie geraak wat die onderskeie politieke partye se veldtogte beïnvloed. Die onlangse vloede in die westelike dele van Duitsland word deur die grootste politieke partye aan mensgemaakte klimaatsverandering weens ’n styging in kweekhuisgasse toegeskryf en klimaatsverandering word deur hierdie politieke partye as die grootste vyand vir die toekoms van Europa beskou.

Vroeër vanjaar het die Amerikaanse vaktydskrif Scientific American in ’n artikel geskryf dat hulle voortaan nie meer van klimaatsverandering gaan praat nie, maar wel van ’n klimaatnoodtoestand. Die media se taalgebruik oor klimaatsverandering moet die gevoel van ’n katastrofe wat op ons voordeur is, hard en duidelik oordra.

Dr. Steven Koonin, een van die bekendste kenners oor klimaatsverandering in die VSA en ’n adjunkminister vir wetenskap in die administrasie van president Barack Obama, het vroeër vanjaar na die oordrewe kommer van mensgemaakte klimaatsverandering verwys. Volgens Koonin is dit eenvoudig verkeerd van politici, die media en baie akademici om veralgemenings te maak oor stygende temperature, die stygende seevlak, ys wat om die pole verdwyn, hittegolwe, storms, droogtes, vloede en veldbrande. Baie van die bewerings hieroor is eenvoudig nie waar nie. Volgens Koonin is dit ook verkeerd om die vrystelling van kweekhuisgasse die skuld vir alle natuurrampe te gee.

Die huidige paniek oor die klimaat eis dat daar radikale veranderinge ten opsigte van onder andere kweekhuisgasvrystelling gemaak moet word, ten einde ’n groot katastrofe te verhoed. Hierdie idee word egter nie deur deeglike wetenskaplike navorsing ondersteun nie.

ʼn Betoger by ʼn klimaatsveranderingprotesoptog in Londen. (Foto: Frank Augstein, AP)

Volgens Koonin bewys sy navorsing sowel as regeringsverslae dat hittegolwe in die VSA tans nie meer gereeld voorkom as in 1900 nie. Die vermindering van ys om Groenland vind ook nie tans teen ’n vinniger tempo as 80 jaar gelede plaas nie. Die suide van Europa is deur die afgelope paar eeue voortdurend deur hittegolwe en veldbrande geteister.

Dit is ’n feit dat die klimaat verander en ook dat mense ’n bydrae daartoe lewer. Die huidige politieke en media paniek oor die sogenaamde “klimaatkrisis” of “klimaatnoodtoestand” hou egter talle risiko’s in. Die eerste is dat dit die fokus op die beskerming van die aarde en natuurlike hulpbronne verskraal tot vrae oor kweekhuisgasse, temperatuurstygings en energie-opwekking.

Wat onlangse verkiesings, en sonder twyfel die komende verkiesing in Duitsland, egter bewys is dat, in veral Westerse lande en veral in Europa, die histerie om klimaatsverandering nou die primêre politieke prioriteit geword het. Die werksaamhede van instellings soos die Europese Unie en selfs die Verenigde Nasies bewys dit ook. Ons moet almal meer doen om ons omgewing te bewaar, maar ons moet waak teen idees soos dat die vervanging van ons huidige energiebronne met wind- en sonkrag die wêreld se probleme gaan oplos. Dit is ook onverantwoordelik en kortsigtig om elke natuurramp, soos die onlangse vloede in Duitsland, goedsmoeds aan klimaatsverandering toe te skryf. Die verandering van die klimaat is heelwat meer ingewikkeld en langdurig as dit.

Vloede krap Duitse verkiesingsveldtog deurmekaar

Lugfoto van Schuld, Duitsland (15 Julie 2021) (Foto: Christoph Reichwein / dpa / AFP) / Germany OUT)

Hoewel klimaatsverandering die afgelope paar maande een van die belangrikste kwessies in die Duitse verkiesingsveldtog was, het verlede maand se vloede waarin byna 200 mense gesterf het, nou veroorsaak dat die leiers van die drie voorste partye, almal oor hulle voete val om oor klimaatsverandering en wat hulle gaan doen om dit te stuit, te praat.

Ekonomiese herstel, die Covid-19-pandemie, Duitsland se inentingsprogram, die verbetering aan Duitsland se verouderende openbare infrastruktuurnetwerk, onwettige immigrasie en belangrike buitelandse kwessies soos die spanning tussen die Weste en onder andere China, Rusland en Iran het alles nou plek gemaak vir beskuldigings oor en drastiese voorstelle om die sogenaamde klimaatnoodtoestand af te weer.

Die Groenparty beskuldig dus die leier van die Christen-Demokrate, Armin Laschet, wat ook goewerneur is van een van die deelstate wat deur die vloede geraak is, Noordryn-Wesfale, daarvan dat sy weiering om ’n verlaging in spoedgrense op snelweë in sy deelstaat toe te staan, tot klimaatsverandering en gevolglik die onlangse vloede bygedra het. Verder beskuldig die Groenes ook vir Laschet daarvan dat hy nie betyds die steenkoolmyne in sy deelstaat laat sluit het om sodoende klimaatsverandering te beveg nie.

Omdat Duitsland ’n sterk federale stelsel het, word rampbestuur grootliks aan die deelstate se regerings oorgelaat. Die afgelope weke, sedert die vloede, is daar nou egter politici, veral aan die linkerkant van die politieke spektrum, wat vra dat hierdie en ander funksies na die federale regering gesentraliseer moet word.

Dit is veral die Groenparty, wat vir ’n kort rukkie vroeër vanjaar selfs voorgeloop het in peilings, wat graag wil hê dat klimaatsverandering, rampbestuur en die magte van die federale regering om in sogenaamde krisissituasies in te gryp, die debat in aanloop tot die federale verkiesing op 26 September moet domineer.

Die een eienskap wat Duitsland se agt kanseliers, wat sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog gedien het, gedeel het, was die noodsaak om krisisse te bestuur – die na-oorlogse krisisse, die Koue Oorlog, finansiële en talle ander krisisse. Duitse kiesers verkies dit om ’n kanselier te verkies wat krisisse kan bestuur.

Die Christen-Demokraat Konrad Adenauer sal vir altyd onthou word vir die heropbou van Wes-Duitsland na die oorlog. Sy opvolger, Ludwig Erhard, word onthou vir die transformasie van die Duitse ekonomie na ’n vryemarkekonomie wat tot grootskaalse welvaartskepping aanleiding gegee het. Helmut Kohl was verantwoordelik vir die hereniging van Wes- en Oos-Duitsland en die uitbreiding van die Europese Unie.

Natuurrampe soos die onlangse vloede is ook niks nuuts in Duitsland nie. Die Sosiaal-Demokraat Helmut Schmidt word onthou vir sy uitstekende hantering van die vloede langs die Elberivier in Februarie 1962. Gerhard Schröder het in Augustus 2002 beïndruk met sy hantering van erge vloede in die noorde van Duitsland.

Nie een van dié drie persone wat waarskynlik die volgende Duitse kanselier gaan word, het egter ’n bewese rekord in krisisbestuur nie. Dit is juis daarom dat al drie, Laschet van die CDU, Annalena Baerbock van die Groenparty en Olaf Scholz van die Sosiaal-Demokrate, die afgelope drie weke alles in hulle vermoë doen om Duitsers van hulle planne om natuurrampe in die toekoms beter te hanteer en lewensverlies te voorkom, probeer oortuig.

In ’n onlangse peiling het 45% van Duitse kiesers gesê dat hulle nie een van hierdie drie kandidate as kanselier verkies nie. Die werklikheid is egter dat een van die drie die volgende kanselier van Duitsland gaan word.

Armin Laschet. (Foto: Bernd von Jutrczenka/POOL/AFP)

Laschet is steeds die gunsteling om Angela Merkel op te volg. Die rede daarvoor is dat die meeste Duitsers die CDU as ’n veilige hand in die Duitse parlement, die Bundestag, beskou. Vertroue in Laschet het oor die afgelope twee weke egter van ’n swak 20% tot ’n patetiese 13% afgeneem. Indien Laschet verkies word, sal dit wees omdat kiesers ’n voortsetting van Merkel se beleid wil sien, hulle genoeg vertroue in die CDU as party het en hulle uiteindelik kwessies soos die ekonomie, infrastruktuur en buitelandse sake belangriker as klimaatsverandering ag wanneer hulle hul kruisies moet trek.

Baerbock is onervare en hoewel haar Groen-agenda tot baie Duitsers spreek, vrees hulle ook vir haar onvermoë om ingewikkelde kwessies, veral op die Europese en internasionale verhoog, te hanteer. Baerbock se dun CV gaan vir te veel Duitsers te veel van ’n risiko wees.

Scholz is tans die kandidaat wat die meeste vertroue inboesem. ’n Gematigde Sosiaal-Demokraat met ’n lang CV en ’n goeie rekord as Merkel se huidige adjunk, asook die minister van finansies, word weer deur sy party teruggehou. Die Sosiaal-Demokrate, wat eens op ’n tyd verkiesings kon wen, staan tans op slegs 15% in die peilings en het byna geen kans om eerste te eindig nie.

Laschet se CDU geniet tans 27% steun in die afgelope week se peilings en die Groenes 20% steun. Heelwat kan verander tot 26 September, veral indien Laschet nie daarin slaag om die politieke gesprek weg van klimaatsverandering te stuur nie.

Sou geen party daarin slaag om 30% van die stemme te kry nie, neem die kans ook toe dat die nuwe regering wat na die verkiesing gevorm moet word uit drie partye saamgestel sal moet word. Dit is hier waar die liberale, vryemark-gesinde en sake-georiënteerde FDP ’n belangrike rol kan speel. Hulle steun het die afgelope tyd skerp toegeneem en in enkele peilings kry hulle soveel as 12% tot 13% van die steun.

Met baie Duitsers wat ontsteld is oor die omvang van die onlangse vloede, die enorme skade en lewensverlies en verder daarvan oortuig is dat dit deur klimaatsverandering veroorsaak is, kan steunvlakke egter nog oor die volgende paar weke drasties verander. Tans lyk dit egter asof die CDU ’n swakkerige eerste plek gaan behaal en dat Laschet dan met die Groenparty, Sosiaal-Demokrate en FDP oor ’n koalisie, moontlik selfs met twee van hulle, sal moet praat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dirk Mostert ·

Die verwysing na Dr. Koonin bring balans in die debat. Dankie Jaco! Klimaatsverandering is natuurlik en kweekhuisgasse het niks daarmee te doen nie. Dieselfde wereldkoor, begelei deur die hoofstroommedia-orrel, sing die liedjies van die Covid-19 pandemie en aardverwarming. Terloops, ek het al bydraes in ‘n faktydskrif gelewer oor klimaatsverandering. Nie een van my wetenskaplike kennisse val vir die vals wetenskap nie.

Stephen ·

As n kind in Upington het ons gereeld temperature van 50C ondervind. Ek onthou die hoenders het van hulle stokke afgeval weens die hitte.
Dit was normaal en ek praat van 70 jaar gelede! Ek verstaan dat Upington nog steeds so warm word. Jy kon eiers bak op die sypaadjie.
My pa het altyd gese tussen Upington en die Hel is net voeltjiedraad.
Daar was baie minder mense in die wereld en die Industriele ontploffing was n vergesig. Nee wat. Dirk ek stem saam. Diegene wat so kla oor klimaatsverandering spring op die klimaat wa maar weet nie eintlik wat aangaan nie. Verder jaag die Linkse hoofstroom Media net die gemoedere op.
As al hierdie teorie waar was moes Upington nou n somertemperatuur van 90C ondervind het :)

Michael ·

Ek aanvaar jy is bietjie sarkasties met jou opmerking VaalDonkie, maar die tekens is tog daar dat Covid en klimaatverandering die voertuie na wereldwye kommunisme is

Keith ·

COP26- CO2 Tax Conference coming up. Guess Squirrel and Associates will be in full attendance.

Marianna ·

Gaan die mens nou weer gestraf word vir die aardverwarming wat ‘n natuurlike verskynsel is. Gaan soek eers die probleem by die industrie en beeste. Hulle soek nou weer iets om die mens mee in te perk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.