Internasionale oorsig: Koningshuis onder druk ná geniepsige onderhoud

Prins Harry en sy vrou Meghan tydens hul onderhoud met Oprah Winfrey. (Foto: Joe Puugliese/Harpo Productions/AFP)

Die Britse media het die afgelope week behoorlik gegons en een van die bekendste aanbieders op Britse televisie, Piers Morgan, het selfs by ITV bedank ná die herrie oor die onderhoud wat CBS News in die VSA uitgesaai het. In die onderhoud het prins Harry van Brittanje en sy vrou, Meghan, in ʼn onderhoud met Oprah Winfrey ʼn reeks beskuldigings teen die koningshuis gemaak.

Dit alles gebeur in ʼn tyd waarin koningin Elizabeth se man, die 99-jarige prins Philip, ná ʼn hartoperasie in ʼn hospitaal aansterk en daar steeds kommer oor sy gesondheid is. Die 94-jarige koningin Elizabeth kry waarskynlik ook swaar weens haar man se siekte en die ernstige bewerings wat veral Meghan teen die koningshuis gemaak het.

ʼn Briefskrywer in die Telegraph-koerant skryf die afgelope week dat Meghan skande oor die koningshuis gebring het deur naamlose mense van ongespesifiseerde misdade te beskuldig. Dit is waarskynlik ʼn raak opsomming van die televisie-onderhoud waarin veral Meghan omstrede bewerings teen die koningshuis gemaak het, soos dat sy nie ondersteuning gekry het toe sy sielkundige probleme ondervind het nie en daar selfs rassistiese opmerkings oor haar en Harry se eerste kind gemaak is.

Winfrey het egter vir Harry en Meghan toegelaat om dié wilde bewerings te maak sonder dat sy enigsins daarop aangedring het dat hulle meer besonderhede moet verskaf. Die onderhoud was uiteindelik ʼn politieke daad wat daarop gemik was om die koningshuis se aansien in Brittanje te verswak in ʼn tyd waarin die monarg reeds bejaard is en daar reeds heelwat persoonlike krisisse in die koninklike familie bestaan.

Ná die onderhoud het die koningshuis ʼn kort maar sterk verklaring uitgereik waarin die koningin duidelik gesê het dat sy besorg is oor Harry en Meghan, maar wanneer ʼn mens tussen die reëls lees, spreek die koningshuis duidelik sy ontsteltenis uit oor die onbewese bewerings oor mense wat nie by die naam genoem word nie.

Koningin Elizabeth II by Windsor-kasteel (24 Desember 2020) (Foto: Victoria Jones/POOL/AFP)

Die koningin se verklaring was ʼn waardige reaksie op ʼn televisie-onderhoud waarvoor Harry hom behoort te skaam. Meghan se rekord van politieke uitsprake, veral voordat sy met Harry getrou het, is reeds deeglik gedokumenteer.

In ʼn peiling wat vroeër hierdie week gedoen is, sê 36% van Britte dat hulle simpatie vir die koningin het na die televisie-onderhoud. Slegs 22% van Britte sê dat hulle simpatie vir Harry en Meghan het. Sowat 28% sê dat hulle nie vir enige van die twee partye simpatie het nie. Jonger en meer liberale Britte se simpatie is by Harry en Meghan, en meer konserwatiewe en ouer Britte se simpatie is by die koningin.

In nog ʼn meningspeiling het 47% van Britte gesê hulle voel dat Harry en Meghan se onderhoud met Oprah op CBS “onvanpas” was, terwyl slegs 21% gesê het dat hulle die regte ding gedoen het.

ʼn Oorgrote meerderheid van Britse burgers is steeds ten gunste van die behoud van die monargie. Verlede jaar het 62% van Britte hulleself ten gunste van die monargie uitgespreek, en hoewel die Harry/Meghan-onderhoud hierdie persentasie effens kan laat daal, sal ʼn meerderheid van Britte waarskynlik vir die afsienbare toekoms ten gunste van die behoud van die monargie wees. Die aansien van die Britse koningshuis het met hierdie jongste krisis skade gely, en die vraag begin sekerlik ontstaan oor wat van die koningshuis gaan word wanneer koningin Elizabeth tot sterwe kom.

Biden sit Trump-strategie met Quad-samewerking teen China voort

Pres. Joe Biden. (Foto: Jim Watson/AFP)

President Joe Biden het die afgelope week ʼn virtuele vergadering van staatshoofde van die VSA, Indië, Japan en Australië – die sogenaamde Quad – gelei. Dié vier lande het onder leiding van president Donald Trump verenig om teen die ekspansionistiese gedrag van China op te tree. Hoewel die Bush-administrasie reeds in 2007 ʼn soortgelyke inisiatief van stapel probeer stuur het, was dit eers die Trump-administrasie wat met sukses die vier lande aktief binne die “Quad” kon verenig.

Vroeër hierdie week het ʼn senior Amerikaanse admiraal gewaarsku dat China binne die volgende ses jaar waarskynlik Taiwan gaan aanval en probeer annekseer. China se aggressiewe optrede in die Suid-Chinese See en teen verskeie bure, soos Indië, is ook kommerwekkend. Die Trump-administrasie het verlede jaar probeer om nog lande by die inisiatief te betrek. Die vraag bestaan nou of die Biden-administrasie, wat duidelik besluit het om met die Trump-strategie jeens China voort te gaan, pogings gaan aanwend om ander lande in die streek te betrek.

Hoewel die doelwitte van die Quad nie direk na China verwys nie, is dit ʼn bekende feit dat die vier lande se samewerking ʼn direkte resultaat van Chinese aggressie is. Die vier lande het in Februarie weer bevestig dat hul gesamentlike prioriteite ‘n gedeelde verbintenis tot ‘n vrye en oop Indo-Stille Oseaan en ‘n reëlgebaseerde orde is. Verder verwys hulle ook na vryheid van navigasie, samewerking oor Covid-19, terrorismebestryding, maritieme veiligheid, humanitêre hulp, klimaatsverandering en kuberveiligheid.

Intussen het die Withuis aangekondig dat ʼn beraad tussen die VSA en China op 18 Maart in Alaska sal plaasvind. Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, sal dié land verteenwoordig. Druk neem toe op die Biden-administrasie om duideliker stappe teen China in te stel.

Enorme bestedingsplan in die VSA goedgekeur

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die Amerikaanse kongres het die afgelope week ʼn ekonomiese hulppakket van $1,9 biljoen (“trillion”) goedgekeur. President Biden het tydens die verkiesingsveldtog só ʼn pakket belowe. Hierdie pakket verteenwoordig ʼn enorme uitbreiding van die federale regering en sal die Amerikaanse staatskuld drasties verhoog.

Biden en Demokrate in die Amerikaanse kongres het voorstelle deur Republikeine om onnodige vermorsing in die pakket uit te sny, geïgnoreer en die pakket eenvoudig sonder enige steun van Republikeine goedgekeur. Peilings wys natuurlik dat die pakket gewild is onder gewone kiesers, maar dit is juis omdat dit gevul is met geld wat in allerhande regeringsprogramme uitgedeel word. Dit is natuurlik alles geld waaroor die Amerikaanse federale regering nie beskik nie en wat geleen moet word.

Die pakket is ook duidelik gemik op volgende jaar se middeltermynverkiesing, en ʼn groot deel van die geld gaan na deelstate en munisipaliteite, waarvan baie deur Demokrate beheer word, om hulle skuldlas te verminder. Die Komitee vir ‘n Verantwoordelike Federale Begroting het die afgelope week gesê dat slegs 1% van die hulppakket vir entstowwe teen die koronavirus bestem is, terwyl 5% vir die bestryding van die pandemie geoormerk is. Die res gaan vir allerhande regeringsprogramme en kontantbetalings aan Amerikaanse burgers. Ten minste 15% van die pakket hou op geen manier verband met die pandemie nie.

ʼn Deel van die hulppakket bepaal ook dat deelstate nie belasting mag verlaag indien hulle geld uit die hulppakket ontvang nie. Dit is daarop gemik om te verhoed dat Republikeinse state belastingverligting aankondig, selfs al sou daar by hulle ʼn begrotingsoorskot realiseer.

Die Republikeine het onder andere voorgestel dat $86 miljard se uitbetalings aan persone wat tronkstraf uitdien, uit die pakket gehaal word. Hulle het ook voorgestel dat ekstra werkloosheidsvoordele, bo-en-behalwe dit wat reeds betaal word, net tot einde Junie, in plaas van September, betaal moet word en dat net die armste Amerikaners kontantbetalings moet ontvang. Uiteindelik het die Demokrate al die voorstelle van die Republikeine in die Senaat verwerp, en 75% van alle Amerikaners sal ʼn tjek in die pos ontvang.

Bekgeveg tussen Britte en EU gaan voort

(Foto: Justin Tallis/AFP Photo)

Die president van die Europese Raad (die vergadering van staatshoofde van die 27 EU-lidlande), Charles Michel, het die afgelope week beweer dat Brittanje die uitvoer van AstraZeneca-entstowwe na Europa verhoed het. Die Britse premier Boris Johnson het heftig op hierdie bewerings gereageer, dit ontken en Michel daarvan beskuldig dat hy die EU se onvermoë om genoeg entstowwe aan te koop voor die deur van die Britte probeer gooi.

Die Britse regering het vandeesweek ook gesê dat verskeie Europese lande se pogings om die AstraZeneca-entstof wat saam met die Universiteit van Oxford in Brittanje ontwikkel is, te diskrediteer deur dit aanvanklik vir ouer mense se gebruik te weier, misluk het.

Italië het onlangs die eerste land ter wêreld geword om die uitvoer van entstowwe te blokkeer toe dié land se regering verhoed het dat 250 000 dosisse entstof wat in Italië vervaardig is, na Australië uitgevoer word. Intussen is dit duidelik dat die Britte geen uitvoere van entstowwe geblokkeer het nie. Johnson het gevra dat Michel om verskoning moet vra vir sy opmerking.

Spanning tussen die Verenigde Koninkryk en die Europese Unie duur steeds voort nadat die VK uit die EU getree het, aangesien daar steeds onopgeloste geskille oor verskeie punte bestaan.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Vrijburger ·

Ps. Moet nie verbaas wees as Megan haar ‘slagoffer status’ gebruik om ‘n politieke loopbaan van die grond af te kry nie. (Veral gegewe dat sy nie die werklike talent het om dit groot te maak in Hollywood nie.)

annie ·

Megan het al klaar die ball-game verloor want die ry vir vroulike presidente in die VSA strek van Mexiko tot by Kanada. Oupie Biden kon nie wag om Trump se idees oor te neem nie, buiten die muur, maar dis juis daai muur waarvoor hy nou baie dankbaar is. ‘n Paar bommetjies en die hele Suid-Amerika plak op sy voorstoep… en nou is sy waghonde ok nog gepos. Trump wat stel jy voor?

Therese ·

Puik oorsig, soos altyd!

Mag die UK die EU in die toekoms ore aansit met meer as net die belaglike entstof-resies.

Een mening is dat Oprah éintlik die sondebok in hierdie treurmare is, met die misbruik van twee duidelik ‘sielkundige gevalle’ om nuwe lewe in haar program te blaas.
Geneig om daarmee saam te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.