Internasionale oorsig: Kritiese rasteorie, teenpolisiesentiment en Biden-agenda

Pres. Joe Biden. (Foto: JIM WATSON/AFP)

Die afgelope week het ’n hele paar belangrike verkiesings in verskeie Amerikaanse deelstate plaasgevind. Die grootste verloorders was kritiese rasteorie en dié mense wat dit op skoolkinders wil afdwing, die teenpolisiesentiment onder sommige politici en die administrasie van Joe Biden se eens ambisieuse agenda wat vir baie Amerikaners net te veel te vinnig was en daarby só radikaal dat dit steeds al hoe meer kiesers vervreem.

Kritiese rasteorie is die afgelope tyd toenemend aktueel as deel van ’n groter debat oor rassepolitiek wat veral deur meer radikale politici in die Demokratiese Party en deur liberale instellings soos universiteite beoefen word. Ross Douthat skryf die afgelope week in The New York Times dat kritiese rasteorie aan die hart van nuwe progressiewe politiek in die VSA lê en dat die sterk invloed daarvan op onderrig in skole en naskoolse opleiding by veral universiteite ’n groter wordende groep Amerikaners, onder wie ook Demokrate en gematigde kiesers, ongelukkig maak.

Die idee dat wit mense om verskoning vir hulle eie geskiedenis moet vra, dat dele van die VSA se geskiedenis, waaronder literêre werke en kuns, uit skole, universiteite, biblioteke, openbare ruimtes en museums verwyder moet word, is die afgelope maande met groter dringendheid deur linkse politici, akademici en joernaliste aangemoedig. In Virginië het dit aan die lig gekom dat dié deelstaat se onderwyshoof radikaal-linkse boeke soos White Fragility en ’n akademiese verhandeling met die titel Foundations of Critical Race Theory in Education na openbare skole gestuur het.

Die Demokratiese Party se kandidaat vir goewerneur, Terry McAuliffe (hy was ook al voorheen goewerneur van Virginië), het tydens ’n debat oor die rol van kritiese rasteorie by skole opgemerk dat ouers geen rol het om in hulle kinders se skoolopvoeding te speel nie. Daarmee het hy sy eie veldtog ’n lelike hou in die maag gegee. Dít, tesame met ’n reeds bestaande krapperigheid onder kiesers oor die Biden-administrasie se radikale agenda, het kiesers nuut na die Republikeinse Party se kandidate laat kyk.

(Foto: Mike Simons/Tulsa World via AP)

In Virginië het kiesers vir die eerste keer sedert 2009 ’n Republikein tot goewerneur verkies, ten spyte daarvan dat Biden verlede jaar 10% meer stemme in Virginië as Trump gekry het. In New Jersey, waar Biden verlede jaar 16% meer stemme as Trump gekry het, het die Republikeinse Party se kandidaat vir goewerneur amper vir ’n opskudding gesorg. Die huidige Demokratiese goewerneur, Phil Murphy, het net meer as 1% stemme as sy opponent gekry.

Daar is geen tekort aan verkiesings in die VSA nie. Afgesien daarvan dat verkiesingsveldtogte in die VSA minstens ’n jaar lank duur en daar elke vierde jaar ’n presidentsverkiesing plaasvind en elke tweede jaar kongreslede verkies word, is die eerste belangrike verkiesing ná ’n presidentsverkiesing gewoonlik die een wat die afgelope week plaasgevind het. Virginië en New Jersey is die enigste twee Amerikaanse deelstate wat hulle goewerneurs presies ’n jaar ná ’n presidentsverkiesing verkies. Albei deelstate het in die afgelope vier presidentsverkiesings hulle steun aan die Demokratiese Party se kandidaat gegee.

Elke vierde jaar se verkiesings in Virginië en New Jersey gee ’n aanduiding van hoe kiesers in dié twee deelstate op die president se agenda reageer. Dit maak Glenn Youngkin se oorwinning in die Virginië-verkiesing uitsonderlik. Ook Demokrate se enorme verlies aan steun in New Jersey stuur ’n sterk boodskap aan Biden en Demokrate in die kongres dat radikale linkse beleid Republikeine mobiliseer, terwyl dit ongeaffilieerde kiesers en gematigde Demokrate ongemaklik maak.

Terwyl, soos verwag, linkse burgemeesters in stede soos New York en Boston verkies is, was daar egter ook binne die Demokratiese Party ’n hewige stryd tussen meer gematigde en radikaal-linkse kandidate met die meer gematigdes wat in talle burgemeesters- en ander verkiesings soos in Buffalo en Minneapolis gewen het.

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

In Minneapolis het ’n groot meerderheid van die kiesers ook teen die radikale voorstel, van ’n meerderheid van Demokrate in die stadsraad, gestem dat dié stad se polisiediens met ’n gemeenskapsveiligheidsdepartement vervang moes word. Sedert George Floyd verlede jaar op 25 Mei in Minneapolis oorlede is, gaan dié stad gebuk onder hoë misdaad en veral baie swart kiesers het die afgelope week gesê dat die Demokrate se radikale voorstel om die polisiedepartement te ontbind net tot meer misdaad aanleiding sal gee.

New York se nuwe burgemeester (’n Demokraat) is ’n voormalige polisiehoof en sterk ten gunste van die uitbreiding, eerder as aftakeling, van dié stad se polisiemag. In Seattle, een van die mees linkse stede in die VSA, het Bruce Harrell die burgemeestersverkiesing teen die radikaal-linkse Lorena Gonzalez gewen. Gonzalez het haar ook voorheen al ten gunste van die sluiting van Seattle se polisiediens uitgespreek.

Ann Davison het die eerste Republikein in 32 jaar geword wat tot ’n politieke posisie in Seattle verkies is. Sy is verkies tot dié stad se nuwe prokureur-generaal nadat haar Demokratiese opponent, Nicole Thomas-Kennedy, haar ook ten gunste van die volledige sluiting van die Seattle-polisiedepartement uitgespreek het. Davison se hele veldtog het oor wet en orde gegaan, én die noodsaak vir ’n sterk polisiemag en deeglike vervolging van misdadigers.

In Pennsilvanië, ’n deelstaat wat Biden ook verlede jaar gewen het, is P Kevin Brobson, ’n Republikein, tot dié deelstaat se hoogste hof verkies. In Texas het Republikeine nóg ’n setel, die derde sover vanjaar, in dié deelstaat se kongres by Demokrate afgeneem. In al hierdie gevalle het die kandidate se veldtogte om ’n afkeer van kritiese rasteorie en ’n baie sterk wet-en-orde-benadering, waar die polisie se integriteit en regte beskerm moet word, gewentel.

Foto:. (AP Photo/Brynn Anderson)

Die groot fokus Dinsdagaand (Woensdagoggend in Suid-Afrika) was egter op Virginië. Die afgelope paar jaar het die Demokrate Virginië se kongres beheer terwyl die goewerneur, luitenant-goewerneur en prokureur-generaal almal Demokrate was. Die afgelope week het Republikeine al drie posisies oorgeneem en ook beheer oor die kongres se laerhuis verkry deur ses sittende Demokrate te verslaan. Die hoërhuis in Virginië het nie vanjaar vakante posisies gehad nie.

Die drie kandidate wat die Republikeine genomineer het, en wat Dinsdag verkies is, bied ’n blik op watter soort kandidate die party nodig het om voortaan verkiesings te wen. Glenn Youngkin, die nuutverkose goewerneur, het geen ervaring in die politiek nie. Hoewel hy as ’n buitestander (iets waarvan baie Republikeine hou) beskou kan word en geen politieke rekord het nie, het hy ’n rekord as ’n suksesvolle beleggingsbestuurder wat saam met ’n vennoot ’n enorme bate-en-beleggingsbestuuronderneming in Washington D.C. opgebou het.

Youngkin is egter ook konserwatief, ’n Christen wat weekliks kerk bywoon en iemand wat vir tipiese Republikeine aanvaarbaar is. Terwyl Youngkin hom nie van Donald Trump, wat steeds in Virginië ongewild is, gedistansieer het nie, het hy ook nooit saam met Trump verskyn nie en het hy Trump se ongegronde bewerings oor verkiesingsbedrog in verlede jaar se presidentsverkiesing verwerp.

Youngkin se veldtog het tot groot mate dieselfde boodskap as Trump s’n gehad, maar sonder die slegte maniere wat baie kiesers van Trump weggedryf het. In die suidweste van Virginië, die mees konserwatiewe deel van dié deelstaat, het Youngkin Dinsdag selfs ’n groter persentasie stemme as Trump gekry. Dit was juis Trump wat in 2016 en verlede jaar daarin kon slaag om in armer, landelike gebiede wat voorheen afhanklik van mynbou was, enorme steun op hom te verenig. In sommige distrikte het Youngkin meer as 80% van die stemme gewen, die meeste van enige goewerneurskandidaat in die afgelope 100 jaar en ’n paar persentasiepunte beter as Trump se stemtotaal verlede jaar.

Die nuutverkose luitenant-goewerneur, Winsome Sears, is ook ’n nuwe ster in die Republikeinse Party. Sy is swart en in Jamaika gebore. Sy is ’n Christen, ’n voormalige soldaat in die Amerikaanse weermag, ’n ma en ’n uitgesproke konserwatiewe politikus. Sears sal die eerste swart vroueluitenant-goewerneur van Virginië word.

Virginië se nuwe prokureur-generaal is Jason S Miyares. Hy is ’n konserwatiewe man van Latyns-Amerikaanse afkoms. Sy ouers is Kubane en Miyares word ook Virginië se eerste prokureur-generaal van Latyns-Amerikaanse afkoms. Miyares het die Demokraat, Mark Herring, wat die afgelope agt jaar Virginië se prokureur-generaal was, uitgeskop. Herring het sy posisie die afgelope tyd benut om die kantoor van die prokureur-generaal in ’n aktivistiese linkse instelling te omskep en het baie kritiek uitgelok vir die talle hofsake wat hy tussen 2017 en 2020 teen die Trump-administrasie onderneem het.

(Foto: AP Photo/Matt Slocum)

Die afgelope week se verkiesings in die VSA het ’n paar goed bewys. Eerstens dat Joe Biden se presidentskap in groot moeilikheid verkeer. Tweedens dat die meeste Amerikaners ongemaklik is met radikaal-linkse politici, net soos wat hulle gekant is teen radikaal-regse politici, en dit het meegebring dat meer gematigde Demokrate soms meer radikale partygenote uitgestof het. Derdens het die afgelope week se verkiesing bewys dat kandidate met Trump se boodskap, maar met ’n meer afgeronde en aanvaarbare styl en ’n baie beter rekord van morele lewenswandel en openbare optrede, wel van Seattle tot in Virginië verkies kan word.

Niemand weet nog wát presies Donald Trump se volgende politieke skuif gaan wees nie. Hy beweer steeds weekliks dat die verkiesing verlede jaar gesteel is. Trump is gewild, maar nie gewild genoeg om verkiesings self, of vir kandidate wat hy in groot dele van die VSA steun, te wen nie. Sy rol in die toekoms van die Republikeinse Party kan vir dié party bepalend wees. Volgende jaar se middeltermynverkiesings hou die geleentheid vir die party in om weer beheer oor die Senaat en Huis van Verteenwoordigers te neem. Die vraag is egter of Trump billike, konserwatiewe kandidate, soos die afgelope week in Virginië, gaan toelaat om dit te vermag deur steun te gee waar nodig, maar ook afstand te hou wanneer dit vereis word.

Iran wil respek by Weste afdwing

Ebrahim Raisi. (Foto: Mohsen ESMAEILZADEH/ISNA NEWS AGENCY/AFP)

Onderhandelinge tussen Iran en Westerse lande (waaronder die VSA en verskeie Europese lande), met China en Rusland as partye tot die gesprek, sal op 29 November in Wene, Oostenryk, hervat word in ’n poging om ’n nuwe ooreenkoms te bereik, waarvolgens Iran se kernprogram beperk en internasionaal gemonitor kan word.

Die afgelope paar maande het geen onderhandelings plaasgevind nie, eerstens omdat vorige onderhandelings misluk het, en tweedens weens die presidentsverkiesing in Iran in Junie waarin die aartskonserwatiewe en anti-Westerse regsgeleerde, Ebrahim Raisi, tot president verkies is.

Die afgelope week se aankondiging dat onderhandelings hervat sal word, vind plaas ná heelwat verskuiwings in die magsbalans en verhoudinge in die Midde-Ooste. Terwyl ’n proxy-oorlog steeds gedeeltelik in plekke soos Sirië voortwoed, het die VSA hom sedert die laaste onderhandelings met Iran druipstert uit Afghanistan onttrek en is Amerika se militêre voetspoor in die Midde-Ooste en die Golf-gebied aan’t verklein.

Iran daarteenoor bou sterker verhoudings met Rusland en China, asook met lande in die Midde-Ooste met wie hulle verhouding die afgelope jare gespanne was. Iran, onder die regering van Raisi, volg ’n meer selfgeldende benadering, en die land se regering probeer sy ekonomie wegskuif van Westerse afhanklikheid na groter handel met en investering uit ander wêreldstreke.

Amerikaanse sanksies teen Iran het die afgelope paar jaar groot skade aan die land se ekonomie aangerig en Iran wil steeds sien dat die sanksies uitgefaseer word voordat ’n nuwe kernooreenkoms bereik kan word. Die Biden-administrasie is waarskynlik nou meer geneë om tot hierdie eise in te stem wat die kanse vir ’n nuwe ooreenkoms verbeter. Hoewel Iran deur ’n nuwe ooreenkoms verhoed kan word om kernwapens te vervaardig, kan Iran sterker uit so ’n ooreenkoms tree. Sy invloed in Irak, Sirië, Libanon en ander dele van die Midde-Ooste en Wes-Asië kan sodoende hierdeur vergroot word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Laat waai Brandon :-)

AW

Die mense in Amerika moet aanhou, Julle sal julleself Vernietig en Lande soos China en Rusland Glimlag Breëd !!!

Harley Davidson

Pres Trump is verneuk in die laaste verkiesing maar hy sal terug wees om die VSA ‘n beter plek te maak,hoekom biden moes wen is nog ‘n raaisel maar miskien is daar logika agter dit net tyd sal leer.

Human

Volgens die Bybel was net Jesus volmaak. Biden het net soos enige mens ook sy foute en probeur sy bes om 330 miljoen Amerikaners van alle geure en kleure gelukkig te hou en dan staan die res van die Mensdom ook nog in die ry om hand uit te hou vir hulp en ondersteuning. Trump was net eie ek en die hande en monde, wat hy ingepomp en dikgevoer het, was die van sy Gatgabbas en homself.

annie

‘n Mondvol en dit sê, maar of die meer konserwatiewe neiging in die VSA die wegholtrein sal kan stop is ‘n ope vraag. Biden (en Nancy) glo skynbaar dat hul jonger word met elke belaglike en radikale gier wat hul onderskryf. Van eie geslagskeuse tot die oorskryf van geskiedkundige feite om elke beswaarde beter te laat voel, die klimaat vir Greta (nie Garbo) se onthalwe as onderdanig aan die mens te verklaar en elke steenkooltjie (ongelukkig swart) ter helle te laat neerdaal. ‘Kinds’ was glo destyds ‘n woord in Afrikaanse woordeboeke maar sulke boeke is deur plaaslike beswaardes verban nadat…