Internasionale oorsig: Macron, Le Pen en Franse demokrasie kry pakslae in verkiesing

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk (Foto: Ludovic MARIN / AFP)

Tweederdes van Franse kiesers het verlede naweek besluit om tuis te bly in dié land se eerste ronde van belangrike streeksverkiesings. Die deelnamekoers was 16% laer as tydens die vorige streeksverkiesing ses jaar gelede en is die laagste in meer as drie dekades.

Pres. Emmanuel Macron se party het baie swakker gedoen as wat peilings voorspel het en kon skaars meer as 10% van die stemme kry, met ’n groot getal van die party se kandidate wat nie tot die finale ronde deurgedring het nie.

Macron se vernaamste opponent in volgende jaar se presidentsverkiesing, die regse Marine Le Pen, het Maandag haar party se prestasie ook as uiters teleurstellend bestempel. Sowat 75% van kiesers wat tipies vir Le Pen stem, het eenvoudig tuis gebly en nie gaan stem nie.

Die sentrumregse Republikeine wat tot 2012 die grootste party in Frankryk was, maar wat daarna byna heeltemal in duie gestort het, het die beste gedoen soos wat getroue landelike kiesers wat in elke verkiesing stem weer dié party by die stembus gaan ondersteun het. Nicolas Sarkozy was van 2007 tot 2012 president van Frankryk namens die Republikeine, maar ná sy nederlaag in 2012 het sy party ook baie steun verloor.

Terwyl ekstreem linkse partye ook baie steun verloor het, het die sentrumlinkse party wel beter as verwag gedoen. Terwyl een gevolgtrekking van die verkiesingsuitslag kan wees dat kiesers weer na die tradisionele sentrumlinkse en sentrumregse partye terugkeer, is ’n ander meer logiese gevolgtrekking waarskynlik bloot net dat harder linkse en regse partye se ondersteuners eenvoudig nie gaan stem het nie.

Wat wel waar is, is dat Macron tans op die agtervoet is. ’n Oorgrote meerderheid Franse het in peiling na peiling ’n afkeur in sy prestasie, en sy kanse om volgende jaar herkies te word lyk nie goed nie. Le Pen het die afgelope tyd haar party se sterk standpunte oor emigrasie, Frankryk se rol in die EU en ander omstrede sake wesenlik afgewater. Daarmee saam kom sy toenemend in media-onderhoude as swak voorbereid, sonder goeie planne en as oncharismaties voor.

Met die speelveld wat nog heeltemal oop is in aanloop tot volgende jaar se presidentsverkiesing is daar nou sterk kandidate van ander partye wat na vore begin tree. Terwyl die peilings tans wys dat Macron en Le Pen tot ’n finale ronde sal deurdring sou die verkiesing nou plaasvind, mag verlede naweek se verkiesing ander kandidate die hoop gee dat dit moontlik is om Macron én Le Pen uit te stof.

Die grootste verloorder in verlede naweek se verkiesing was egter nie Macron of Le Pen nie, maar wel die Franse demokrasie. ’n Meerderheid Franse kiesers is sodanig afkerig in hulle regering dat hulle nie eers tans die moeite doen om in ’n belangrike verkiesing te stem nie. Daar is ’n groot mate van mismoedigheid onder Franse weens die regering se hantering van die pandemie, voortdurende ekonomiese uitdagings, die Islamisering van meer en meer Franse woonbuurte en die voortdurende gevaar van Islamitiese terreur.

Die finale ronde van die streeksverkiesings gaan dalk ’n beter aanduiding van die Franse se politieke ingesteldheid gee, maar dit is duidelik dat Macron en Le Pen in die moeilikheid is en dat nuwe linkse en regse kandidate ’n goeie kans het om in volgende jaar se presidentsverkiesing vir ’n verrassing te sorg.

Breuk tussen liberale Wes-Europa en konserwatiewe Oos-Europa verdiep

(Argieffoto: Pixabay)

Sestien van die 27 Europese Unie-lidlande het die afgelope week ’n brief onderteken waarin sterk standpunt ingeneem word teen nuwe wetgewing wat onlangs in die Hongaarse parlement goedgekeur is. Dié wetgewing bepaal dat ouers in ooreenstemming met hul godsdienstige, filosofiese en opvoedkundige oortuigings self kan besluit watter seksuele onderrig hulle kinders kan ontvang.

Die nuwe wetgewing wat verlede week deur die konserwatiewe meerderheid in die Hongaarse parlement goedgekeur is, verbied die vertoon van sekere seksuele inligting en beelde aan kinders jonger as 18. Intussen het liberale politici in Wes-Europa, sowel as linkse drukgroepe in Hongarye dié wetgewing as ’n anti-LGBT politieke daad begin beskryf.

Leermateriaal wat seksuele dade, insluitende homoseksualiteit, sowel as inhoud oor nuwe liberale geslagskwessies bevat, word deur dié nuwe wet verbied. Die Hongaarse eerste minister, Viktor Orban, het Donderdag in ’n onderhoud met ’n Duitse nuusagentskap gesê dat sy regering die regte van homoseksuele Hongare beskerm en sal aanhou beskerm, en dat dit ’n basiese reg in Hongarye is om jou seksualiteit uit te leef. Hy het egter bygevoeg dat sy regering sterk daaroor voel dat ouers self verantwoordelikheid moet neem vir hulle kinders se seksuele onderrig en dat kinders teen pedofilie beskerm moet word.

’n Senior lid van die Hongaarse regering, Zoltán Kovács, het ook vroeër die week ’n beroep op die 16 EU-lidlande gedoen om die Hongaarse wet beter te bestudeer en hulle aanval op Hongarye terug te trek. Volgens Kovács verbied die wet enige visuele uitbeelding van seksualiteit en nie net homoseksualiteit nie. Daarom is die wetgewing volgens hom nie homofobies of heterofobies nie.

Ursula von der Leyen. (Foto: Olivier Hoslet, Pool Photo via AP)

Die onverkose president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, het sterk teen die Hongaarse wet te velde getrek en het dit in kontras met “Europese waardes” beskryf. Tog het 11 EU-lidlande besluit om nie deel van die skrywe waarin die Hongaarse wet verwerp is, te wees nie. Nog drie lande, Italië, Griekeland en Oostenryk, was aanvanklik versigtig en het eers na heelwat druk ingestem om dit te onderteken.

Die meeste Sentraal- en Oos-Europese lande insluitende Pole, Tsjeggië, Slowakye, Slowenië, Kroasië, Roemenië en Bulgarye het geweier om die verklaring te onderteken. Terwyl die waarnemende Nederlandse eerste minister, Mark Rutte, een van die drywers agter die inisiatief was, het die Nederlandse parlement Woensdag ’n mosie deur ’n lid van die Sosialistiese Party wat vra dat Nederland leiding moet neem om stappe teen Hongarye te neem, verwerp toe ’n meerderheid van parlementslede daarteen gestem het. Rutte se eie party het teen die mosie gestem.

Regdeur Europa word die regte van homoseksuele individue en persone wat ’n ander seksuele identiteit aanneem, beskerm. Terwyl uiters omstrede, en soms eksplisiete, seksuele onderrig in talle Wes-Europese lande egter reeds op jong kinders af geforseer word, is daar ’n duidelike weerstand hierteen in meer konserwatiewe lande in Sentraal- en Oos-Europa.

Terwyl die waardeskeiding tussen Wes- en Oos-Europa daagliks duideliker raak, is daar egter nog ’n belangrike Europese vraagstuk wat die afgelope week weereens ter sprake gekom het. Dit hou juis verband met die soewereiniteit van demokrasie, en onafhanklike EU-lidlande soos Hongarye.

Die vraag oor die mate waartoe die onverkose EU-leierskap, of selfs ’n meerderheid van EU-lidlande, hulle waardes op alle EU-lidlande kan afdwing is besig om te verdiep en ’n mens kan verwag dat hierdie punt in die volgende maande en jare een van die groot verdelingslyne in Europa kan raak. ’n Land soos Hongarye is pro-EU, maar wil sy soewereiniteit behou. Ander lande soos België, Luxemburg en Duitsland is pro-EU en is bereid om meer en meer soewereiniteit in die belang van Europese integrasie af te staan. Die spanning tussen hierdie twee denkrigtings gaan waarskynlik net bly vergroot.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

Is dit ‘n verassing dat die Europese Kommissie meer beheer oor ons kinders se opvoeding wil hé?

groenboer ·

Ek wonder nogal of Frankryk se lae stempersentasie nie ‘n simptooom van dieselfde probleem is nie: kiesers begin voel dat vir wie hulle ook al stem, op die ou end word hulle deur onverkose burokrate uit Brussels geregeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.