Internasionale oorsig: Macron nou gunsteling in Franse verkiesing; ‘rassistiese’ skoolname in VSA bekyk

Valérie Pécresse (Foto: JULIEN DE ROSA/AFP)

Die sentrumregse presidentskandidaat in Frankryk, Valérie Pécresse, se steun het die afgelope weke, ná talle flaters en verdeeldheid in haar party, skerp afgeneem en dit lyk toenemend of sy nie eers daarin gaan slaag om die tweede ronde van die presidentsverkiesing te haal nie. Dit beteken dat die huidige liberale Franse president, Emmanuel Macron, se kanse om in Mei herkies te word, wesenlik toegeneem het.

Kort nadat Pécresse in Desember die voorverkiesing van die konserwatiewe Les Républicains-party gewen het, het peilings getoon dat sy in die eerste ronde van die Franse presidentsverkiesing soveel as 20% van die stemme op haar kon verenig en daardeur tot die tweede en finale ronde teen Macron sou deurdring. Pécresse is die eerste vroulike presidentskandidaat van Les Républicains, ʼn party wat al legendariese presidente soos Jacques Chirac en Nicolas Sarkozy opgelewer het.

Pécresse het in Sarkozy se kabinet gedien en is tans die president van die Île-de-France-streek, wat Parys insluit. Sy het dus jarelange ervaring in die politiek en praat vier tale, insluitende Russies. Pécresse se grootste uitdaging is egter die feit dat sy met twee ander regse kandidate, Marine Le Pen en Éric Zemmour, om die sentrumregse en regse stem meeding. Pécresse het gevolglik die afgelope paar weke haar veldtog heelwat na regs verskuif en sterk standpunt teen massa-immigrasie en Islam in Frankryk ingeneem.

Sy het onlangs in ʼn media-onderhoud ook standpunt ingeneem oor Duitsland se sterk rol in Europese politiek en die manier waarop die Europese Unie funksioneer. Terwyl dit standpunte is wat steun onder regse kiesers geniet, het dit egter meegebring dat talle leiers in haar party hulle van haar gedistansieer en hulle steun aan Macron toegesê het. Terwyl Pécresse dus die steun van regse kiesers probeer werf, verloor sy die steun van sentrumregse kiesers.

Emmanuel Macron. Foto: (Loic Venance, Pool via AP)

In die Odoxa-peiling wat Donderdag bekend gemaak is, staan Macron op 24,5% steun. Sy steun het die afgelope jaar deurlopend tussen 24% en 26% gewissel. Le Pen is tweede op 18%, Zemmour geniet 14% van die kiesers se steun en Pécresse slegs 12%. Die linkse Jean-Luc Mélenchon staan op 11%. In die Elabe-peiling wat ook Donderdag bekend gemaak is, staan Macron op 24%, Le Pen op 15%, Pécresse op 14% en Zemmour op 13,5%.

Peilings in Januarie het gewys dat indien Pécresse na die tweede ronde teen Macron sou deurdring, sy daarin sal slaag om dit ʼn kop-aan-kop stryd te maak met een peiling wat Macron op 52% teenoor 48% vir Pécresse gehad het. Die Elabe-peiling van die afgelope week wys egter dat Macron nou vir Pécresse met 58% teen 42% sal klop, veral weens Pécresse se verlies aan sentrumregse steun.

Le Pen, wat vyf jaar gelede in die tweede ronde teen Macron gestaan het, sal weer baie sleg teen hom verloor, hierdie keer met 57% teen 43%. Zemmour sal met 64% teen 36% teen Macron verloor. Die drie regse kandidate geniet saam byna die helfte van kiesers se steun in die eerste ronde van die verkiesing, maar dit is slegs Pécresse wat ʼn kans sou staan om sentrumregse en regse kiesers in ʼn tweede ronde saam te snoer.

Pécresse se veldtog die afgelope paar weke was egter oninspirerend. Haar onvermoë om Sarkozy te oortuig om sy steun in die openbaar aan haar toe te sê, asook haar onvermoë om senior leiers in haar party te oortuig van haar strategie om na die tweede ronde deur te dring, laat vrae oor haar vermoë as kandidaat ontstaan. Sarkozy was ook nie verlede Sondag by haar veldtogbekendstelling in Parys teenwoordig nie.

Marine Le Pen. (Foto: AP Photo/Thibault Camus)

Macron geniet tans die steun van die meeste sentrumlinkse kiesers. Daarmee saam steun baie ander linkse en meer gematigde kiesers, selfs heelwat sentrumregses, hom ook. Die huidige sterk herstel van die Franse ekonomie, Macron se ekonomiese hervormings en belastingverlagings, die daling in werkloosheid en die feit dat Frankryk se inflasiekoers laer is as dié van talle ander Europese lande, help ook sy veldtog aan.

Pécresse het ʼn boodskap wat tot ʼn meerderheid van Franse behoort te spreek, maar sy sukkel om kiesers van haar egtheid te oortuig, en die feit dat twee meer regse kandidate saam 30% van die steun geniet, beteken dat Pécresse in aanloop tot die eerste ronde in April meer met Le Pen en Zemmour moet meeding as met Macron.

Pécresse steun ʼn desentralisering van politieke mag in Frankryk. Sy is ook sterk ten gunste van ʼn meer proteksionistiese ekonomiese beleid, sterker grensbeheer en streng wet en orde. Sou Pécresse haar huidige daling in steun nie kan stuit nie sal Marine Le Pen waarskynlik tot die tweede ronde teen Macron deurdring. In so ʼn geval verwag driekwart van Franse reeds dat Macron tot ʼn tweede termyn as Franse president verkies sal word. Heelwat kan egter nog oor die volgende weke in aanloop tot die eerste ronde op 10 April verander.

Kiesers in San Francisco skop aktivistiese onderwysleiers uit

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Kiesers in San Francisco, een van die VSA se mees liberale stede, het die afgelope week drie lede van dié stad se onderwysraad in ʼn herroepingsverkiesing uit hulle posisies verdryf nadat frustrasie oor onderwysbeleid in dié stad die afgelope paar weke tot heelwat protes gelei het. Alison Collins, Gabriela López en Faauuga Moliga is die afgelope tyd skerp veroordeel vir hulle langdurige sluiting van skole en hulle poging om 44 skole in San Francisco se name te verander omdat dié name kwansuis rassisties was. Al drie onderwysraadslede is Dinsdag deur meer as 70% van kiesers uit hulle posisies geskop.

In 2020 het 86% van kiesers in San Francisco vir Joe Biden gestem, en dié stad is bekend as een van die mees links-progressiewe stede in die VSA. Sowat ʼn kwart van die stad se inwoners is ook van Asiatiese afkoms, meestal Chinese. Dit is juis hierdie ouers wat die afgelope twee jaar toenemend ongemaklik geraak het met die sewe lede van die San Francisco Onderwysraad.

In die VSA is skole in distrikte opgedeel en word die onderwysrade van distrikte demokraties verkies. Hierdie onderwysrade beskik oor baie mag om onderwysbeleid in hulle distrikte te bepaal. Daar was egter die afgelope tyd ʼn skerp toename in die verpolitisering van onderwysrade, en ouers in verskeie dele van die VSA het in opstand gekom teen onderwysrade se drakoniese Covid-19-maatreëls, wat veral die langdurige sluiting van skole ingesluit het.

Die herroepingsverkiesing Dinsdag was die eerste in San Francisco sedert 1983 en is veral deur Asiatiese kiesers gedryf wat voel dat die onderwysraad met linkse politieke aktivisme besig is, terwyl leerlinge verder en verder agter raak en fondse nie aan die regte kwessies bestee word nie.

Die onderwysraad se poging om die name van 44 skole te verander, insluitende skole wat die name van George Washington, Abraham Lincoln en Kalifornië se senior (en redelik liberale) senator Diane Feinstein insluit, het verlede jaar skerp reaksie en hofsake van ouers uitgelok. Die onderwysraad het aangevoer dat hierdie name rassisties is. Ouers het egter gevoel dat die verandering van skole se name ʼn vermorsing van geld is.

San Francisco het 115 skole met ʼn totaal van 50 000 leerlinge. Die meeste van hierdie skole was vanaf Maart 2020 tot Augustus 2021 heeltemal gesluit. Dit het groot agterstande in onderrig veroorsaak, en studies het reeds bewys dat veral armer leerlinge ernstig hierdeur te na gekom is.

Glenn Youngkin en sy vrou Suzanne (Foto: ANDREW CABALLERO-REYNOLDS/AFP)

In November verlede jaar is Glenn Youngkin, ʼn Republikein in die deelstaat Virginia, as goewerneur verkies nadat hy die grootste deel van sy veldtog gebaseer het op ouers se reg om oor onderwysbeleid te besluit. Youngkin se veldtog was juis gebaseer op onderwysrade se volgehoue sluiting van skole, die verpligte dra van maskers en toenemende linkse propaganda wat in leerplanne ingesluit word sonder dat ouers ʼn reg kry om daaroor te besin.

Ouers in San Francisco het die afgelope week tydens die verkiesing gesê dat hulle wil sien dat onderwysrade op die standaard van onderrig, toegang tot onderrig en die effektiewe bestuur van skole moet fokus en nie op verdelende politieke kwessies soos die verandering van skole se name nie. Verder het ʼn meerderheid van ouers in San Francisco aangedui dat hulle kwaad is oor die langdurige sluiting van skole in 2020 en 2021.

Dit was veral Asiatiese ouers wat Dinsdag in groot getalle gaan stem het. Duisende Asiatiese Amerikaners, meestal van Chinese afkoms, het spesiaal vir die eerste keer as kiesers gaan registreer sodat hulle vir die herroeping van die onderwysraad se bestuurslede kon stem. Asiate is tans die vinnig groeiendste demografiese groep in die VSA en hulle invloed in plaaslike maar ook nasionale politiek gaan waarskynlik oor die volgende paar jaar heelwat toeneem. Hoewel die meeste Asiate vir die Demokratiese Party stem, verskil hulle egter ook oor heelwat van die waardes en beleid van die meer aktivistiese progressiewe politici in die party.

In talle ander Amerikaanse deelstate is daar tans ook pogings aan die gang om bestuurslede van onderwysrade te herroep. Onderwys is tans ʼn baie aktuele kwessie in die VSA met ouers van oor die hele politieke spektrum wat ongelukkig is met die afgelope twee jaar se sluiting van skole, die verpolitisering van onderwysrade en die indra van politieke aktivisme in die onderwyskurrikulum.

Wat ouers in San Francisco Dinsdag bewys het, is dat hoewel die meeste van hulle self polities links of liberaal is, daar ook ʼn grens is wat onderwys- en ander leiers nie moet oorsteek nie, en wanneer dit by hulle kinders se opvoeding kom, is baie ouers juis baie sensitief oor hierdie grens. Demokrate kan ʼn duur prys betaal indien hulle nie in aanloop tot November se tussenverkiesings hierdie grens in ag neem nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.