Internasionale oorsig: Mag en invloed deur entstofdiplomasie

(Argieffoto: Unsplash)

Twee lande wat die spel van invloed en mag goed verstaan, China en Rusland, is besig om deur entstofdiplomasie hul stempel in verskeie wêrelddele af te druk. Terwyl Westerse lande ʼn stryd voer om toegang tot entstowwe teen die koronavirus te verkry, is China en Rusland besig om entstowwe gratis, of teen ’n baie lae koste, aan lande uit te deel waar hulle graag hul invloed wil vergroot.

Hoewel Mexiko entstowwe by Pfizer aangekoop het, kon dié Amerikaanse maatskappy nie betyds aan hulle die entstowwe begin lewer nie. Intussen het die Russiese president Wladimir Poetin ’n paar dae gelede aangekondig dat Rusland 24 miljoen dosisse van die Russiese Sputnik V-entstof aan Mexiko beskikbaar sal stel. Die eerste besending is reeds afgelewer. Rusland het ook reeds van sy entstowwe aan die Palestyne in die Gasa-strook geskenk en beplan ook om in sommige Wes-Asiatiese, Midde-Oosterse en Afrika-lande dieselfde te doen.

Ook China is besig om deur die vinnige beskikbaarstelling van entstowwe vriende te probeer wen. Hoewel Chili in Suid-Amerika vir lank reeds ’n bondgenoot van die Weste is, kon dié land ook nie betyds entstowwe wat in die VSA of Europa ontwikkel is, bekom nie. Intussen het China reeds twee miljoen dosisse entstowwe na Chili gestuur, en dié land kon dus ’n groot inentingsprogram van stapel stuur. Verskeie Afrika-lande het die afgelope week ook entstowwe uit China ontvang.

Hoewel die Russiese Sputnik V-entstof baie effektief is, is die Chinese Sinovac-entstof tans een van die swakste wat teen die koronavirus beskikbaar is. Volgens kliniese toetse werk dit slegs in 50,4% van gevalle. Dit verhoed egter nie die Chinese om dié entstof in groot hoeveelhede te produseer en aan lande in verskeie wêrelddele te skenk of te verkoop om so hierdie lande se guns te wen nie.

(Foto: Lindsey Parnaby/AFP)

Die Weste het oor die afgelope paar dekades heelwat van sy vermoë om self entstowwe te vervaardig, verloor, met fabrieke in veral Europa wat gesluit het. Hoewel die VSA tans grootliks in sy eie behoefte na entstowwe voorsien en dit moontlik is dat die meeste Amerikaners teen die middel van die jaar ingeënt sal wees, is die kwessie van die uitvoere van entstowwe so sensitief in Westerse lande dat die farmaseutiese maatskappye in plekke soos Amerika, Brittanje en Europa verkies om hul entstowwe eers aan hierdie lande te verkoop. Een goeie rede is natuurlik dat dit juis dié Westerse lande was wat verlede jaar die inisiatief geneem het om die ontwikkeling van entstowwe finansieel te ondersteun.

Dit is egter duidelik dat Westerse lande hul vermoë verloor om in tye van krisis globale oplossings te skep. Dit is hier waar lande soos Rusland en China intree. Beide lande tree opportunisties op en probeer deur die skenking en verkoop van entstowwe die guns van ander lande wen. Hoewel die koronavirus in China ontstaan het, en China vir lank vir die verspreiding van die virus geblameer is, probeer die Chinese regering nou deur die massaproduksie van twee entstowwe, en die verspreiding daarvan na die res van die wêreld, homself as die deel van die oplossing vir die probleem aanbied.

Brittanje is tans wel die een uitsondering op die reël. Dié land se entstof wat deur AstraZeneca en die Universiteit van Oxford ontwikkel is, word deur die Serum-instituut in Indië (SII), die grootste produsent van entstowwe ter wêreld, vervaardig. Die Serum-instituut beskik oor die vermoë om soveel van die entstof te vervaardig dat dit ook reeds aan ander lande oor die wêreld heen beskikbaar gestel kan word. Intussen het die Chinese 100 miljoen dosisse van Pfizer se entstof uit Europa bestel. ’n Mens wonder waarom…

Skerp toename in wêreldwye inentings

(Foto: Andres Larravere/AFP)

Die afgelope week is byna 40 miljoen mense wêreldwyd teen die koronavirus ingeënt. Byna 200 miljoen mense wêreldwyd het reeds minstens een dosis van ’n entstof ontvang. In die VSA het die daaglikse toediening van dosisse tot 1,7 miljoen gestyg met byna 60 miljoen Amerikaners wat reeds ingeënt is. Israel is steeds die voorloper met byna 80% van die land se bevolking wat reeds een dosis ontvang het en 32% van die land se bevolking wat reeds volledig ingeënt is (twee dosisse ontvang het of ’n enkeldosis van ’n entstof wat slegs een dosis vereis).

Daar is tans 378 entstowwe wat ontwikkel word. Entstowwe wat reeds in gebruik is, is Pfizer, Moderna en AstraZeneca wat al drie veral in Westerse lande gebruik word. Novavax en Johnson & Johnson se entstowwe is ook in verskillende lande in verskillende fases van goedkeuring en word al in sommige lande gebruik. Die Russiese Sputnik V-entstof word ook reeds in verskeie lande gebruik, maar Hongarye is die enigste Europese land wat tot dusver daarvan aangekoop het. Duitsland oorweeg egter ook om daarvan te bekom. Die twee Chinese entstowwe word tans hoofsaaklik in China en sommige armer lande in Asië, die Midde-Ooste, Afrika en Suid-Amerika gebruik.

(Foto: Joel Saget/AFP)

Die vervaardigers van hierdie agt entstowwe het reeds kontrakte vir die verkoop en lewering van 7,9 miljard dosisse in 2021 onderteken. Hulle kan nog sowat 4,3 miljard dosisse vanjaar vervaardig. Dit beteken dat slegs hierdie agt vervaardigers vanjaar genoeg dosisse entstof kan vervaardig om die hele wêreld se volwasse bevolking in te ent. Die vraag is natuurlik of entstowwe effektief aangewend gaan word en na alle lande wat dit nodig het, versprei sal word.

Tot dusver het die 54 rykste lande ter wêreld 54% van die beskikbare entstowwe aangekoop, terwyl hulle net 18% van die wêreldbevolking verteenwoordig. Daar is baie redes daarvoor en hierdie lande se vermoë om dit te kan doen, is eerder ’n pluspunt as wat dit ʼn twispunt moet word. Die vraag is egter wat die meer as 130 lande wat nog geen entstowwe aangekoop het nie, besig is om te doen?

Die volgende vraag wat oor die volgende paar weke bespreek sal word, is die effektiwiteit van inentingsprogramme om infeksies te verminder. Israel sal die eerste land wees waarna ons kan kyk. Dié land sal binne enkele weke van nou af twee derdes van sy bevolking volledig ingeënt hê. Gaan dit ʼn dramatiese vermindering in infeksies tot gevolg hê? Dit is waarvoor almal hoop. Terwyl Israel van hierdie naweek af begin om inperkingsmaatreëls uit te faseer, sal die gevolge van sy uiters suksesvolle inentingsprogram binne enkele weke duidelik word.

Biden oneerlik oor inentingsprogram

Pres. Joe Biden. (Foto: Andrew Caballero-Reynolds, AFP)

President Joe Biden het Dinsdagaand in Wisconsin in ’n openbare optrede op CNN krediet prober neem vir die toename in die inenting van Amerikaners die afgelope paar weke.

Tans word byna 1,7 miljoen mense per dag in die VSA teen die koronavirus ingeënt. Die huidige entstowwe is egter alles deur die Trump-administrasie verkry en die stelsels om dit te versprei is deur Trump se Operation Warp Speed ontwikkel. Hoewel Biden sedert hy president geword het, met farmaseutiese maatskappye onderhandel het vir nog meer entstowwe, is die huidige entstowwe alles deur die Trump-administrasie bekom.

Tydens die onderhoud op CNN het Biden homself weerspreek oor sy eie administrasie se beloftes oor die getal mense wat per dag ingeënt sal word en hoeveel entstowwe aangekoop sal word. Biden het sover gegaan om te sê dat toe hy op 20 Januarie ingehuldig is, daar slegs 50 miljoen dosisse entstof beskikbaar was. Hy het in die onderhoud krediet probeer neem vir die feit dat daar teen einde Julie 600 miljoen dosisse beskikbaar sal wees. Die waarheid is egter dat heelwat van die 600 miljoen dosisse reeds deur die Trump-administrasie bestel is.

Adjunkpresident Kamala Harris het die Biden-administrasie se leuens selfs ’n stappie verder gevoer in ’n onderhoud met Axios deur te beweer dat hulle op 20 Januarie heeltemal voor moes begin om ’n program vir die verkryging, verspreiding en toediening van die entstowwe te ontwikkel. Haar bewering is deur dr. Anthony Fauci, die Amerikaanse regering se hoof-immunoloog, weerlê.

Biden het in die onderhoud op CNN ook sy gereelde standpunt herhaal dat 100 miljoen dosisse entstof tydens sy eerste 100 dae in die Withuis toegedien sal word. Hoewel hy heeltemal korrek is, en daar selfs meer dosisse toegedien sal word, het sy administrasie redelik min daarmee te doen gehad omdat die hele program vir die aankoop en verspreiding van entstowwe tydens dié 100 dae reeds deur die Trump-administrasie daargestel is.

Biden se regering het wel ’n belangrike rol om te speel. Die uitdaging in die VSA, soos in talle ander lande, gaan nie wees om die eerste 10% of selfs 40% van die bevolking in te ent nie, maar om uiteindelik genoeg mense te oortuig om ingeënt te word ten einde groepimmuniteit te ontwikkel.

Twee farmaseutiese maatskappye, Moderna en Pfizer, het tot dusver meer as 75 miljoen dosisse entstof aan die Amerikaanse regering beskikbaar gestel. Daarvan is sowat 57 miljoen dosisse reeds toegedien. Daar is dus tans meer as genoeg entstowwe in die VSA beskikbaar vir die aantal mense wat wel opdaag om entstowwe te ontvang. Terwyl Amerika ’n voorloper hiermee is, en tans die land in die wêreld is wat die meeste mense per dag inent, sal die uitdaging wees om die momentum vol te hou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vrijburger ·

Goeie verslaggewing en artikel, dankie.
Twee interessante vrae wat gevra word:
– “Intussen het die Chinese 100 miljoen dosisse van Pfizer se entstof uit Europa bestel. ’n Mens wonder waarom…” Sodat die Chinese elite nie hul eie minderwaardige entstef hoef te gebruik nie?
– “Die vraag is egter wat die meer as 130 lande wat nog geen entstowwe aangekoop het nie, besig is om te doen?” Uit gewoonte te wag en terug te sit om deur eerste wereld lande ‘gered’ te word?

Anti-Verkramp ·

So Trump het miljoene dosisse aangekoop en toe geslaap (of onbevoeg gewees) om mense ingeent te kry. Goed, ons verstaan. Baie geluk aan die Biden administrasie wat hierdie onvermoe van die Trump regering om die inentingsprogram van die grond af te kry, laat wiele kry het.

Vrijburger ·

Die VSA se FDA het 11 Desember 2020 die eerste keer toestemming gegee tot die noodgebruik van entstof (Pfizer). Die eerste dosis in die VSA is toegedien 14 Desember 2020. ‘Operation Warp Speed’ toe geaktifeer.
“Facts do matter” – jammer as dit nie jou naratief ondersteun nie.

Anti-Verkramp ·

Dis alombekend dat die “warp speed” in ‘n “slow crawl”ontaard het weens swak beplanning met die verspreiding (rollout) van die entstowwe. Dis eers nadat die Biden-administrasie oorgeneem het dat die inentingsprogram behoorlik momentum gekry het. Die verskil is dat die nuwe regering die inentingsprogram as ‘n baie hoe prioriteit beskou. Feite is feite.

Anti-Verkramp ·

Toe Trump die Withuis verlaat het, was 16,5 miljoen vaksines toegedien. ‘n Maand later en meer as 62 miljoen is toegedien. Biden dryf die program met die hoogste prioriteit wat dit verdien.

Anti-Verkramp ·

Oneerlikheid van Trump – Belowe dat 20 miljoen mense ingeent sou wees teen einde van 2020. Slegs 1,2 miljoen was egter tot dan ingeent. Maar ag wat, ons is mos nou gewoond aan Trump se onwaarhede. Hy’s in elk geval iets van die verlede, Amerikaners kyk nou vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.