Internasionale oorsig: Meer lande kies om met Covid-19 saam te leef

Boris Johnson (Foto: Jessica Taylor/verskeie bronne/AFP)

Die Britse eerste minister Boris Johnson se aankondiging Woensdag dat Covid 19-maatreëls in sy land verder verslap gaan word, volg op ʼn debat in Brittanje en ander lande oor hoe daar met Covid-19 saamgeleef kan word. Britte sal binnekort nie meer maskers hoef te dra nie en geen bewys van inenting sal meer by openbare plekke vereis word nie. Mense word ook aangemoedig om nie meer van die huis af te werk nie.

Die Tsjeggiese Republiek se nuwe sentrumregse regering het ook Woensdag aangekondig dat planne om ʼn inentingspaspoort in te stel, laat vaar is. Die vorige Tsjeggiese regering het in Desember besluit dat so ʼn paspoort binnekort ingestel sou word, maar die nuwe regering wat onlangs aan bewind gekom het, het die besluit nou omgekeer.

Tsjeggië is een van die lande in Europa wat die afgelope weke deur groot betogings teen verpligte inenting gekenmerk is. Ook in ander Europese lande soos Duitsland, Nederland, Frankryk, Oostenryk en Italië vind daar byna daagliks protesoptrede teen verpligte inentings en die gebruik van inentingspaspoorte plaas.

Die Nederlandse regering was verras deur verlede Sondag se optog in Amsterdam waar meer as 40 000 mense teen dié land se streng Covid-19-maatreëls betoog het. Hoewel van die maatreëls intussen verslap is, is daar steeds druk op die regering om die maatreëls verder te verslap. ʼn Nuwe koalisieregering is onlangs in Nederland gevorm, en steun vir dié koalisie het volgens peilings reeds skerp afgeneem.

In Brittanje is daar ook voorstelle dat die huidige vereiste vir ʼn negatiewe Covid-19-toets vir buitelandse besoekers geskrap moet word. Die voormalige Britse eerste minister Theresa May het Woensdag in die parlement voorgestel dat ʼn negatiewe toetsbewys nie meer van besoekers uit die buiteland wat teen Covid-19 ingeënt is, vereis moet word nie. Die regering oorweeg dit tans.

Mexiko, een van die lande met die minste reisbeperkings die afgelope twee jaar, het ook onlangs die kansellering van oorblywende reisbeperkings aangekondig. Hoewel daar nog Covid-19-maatreëls in Mexiko is, kan besoekers met die korrekte reisdokumente voortaan sonder enige toetsbewyse na Mexiko vlieg. El Salvador en Costa Rica het ook reeds alle reisbeperkings, soos toetsbewyse, afgeskaf.

Pres. Joe Biden. (Foto: Jim Watson/AFP)

In die VSA sukkel die Biden-administrasie steeds om ʼn volhoubare Covid-19-strategie daar te stel. Die afgelope week het Biden aangekondig dat sy regering 400 miljoen maskers gratis gaan versprei terwyl gratis tuistoetse vir Covid-19 ook beskikbaar gestel gaan word. ʼn Meerderheid van Amerikaanse deelstate het egter reeds alle Covid-19-maatreëls uitgefaseer. Data die afgelope paar dae uit die VSA voorspel dat die vlaag van Omikron-gevalle waarskynlik ook sy piek bereik het en dat dit binnekort sal begin afneem, met grootskaalse natuurlike immuniteit wat reeds in die VSA voorkom.

Die voorkoms van Covid-19, en spesifiek die hoogs aansteeklike Omikron-variant, neem steeds wêreldwyd toe. Lande wat inentingspaspoorte, reisbeperkings en ander maatreëls uitfaseer, ontken nie die erns van die siekte nie, maar poog wel om ʼn manier te vind om met Covid-19 te begin saamleef. Bogenoemde lande se regerings is almal sterk ten gunste van inenting, en groot dele van hulle bevolkings is reeds teen Covid-19 ingeënt.

Met entstowwe wat nou byna in elke land ter wêreld gemaklik beskikbaar is en oorgenoeg bewyse dat die oorheersende Omikron-variant meestal meer gematigde simptome veroorsaak, is dit nodig dat meer lande maniere begin vind om met Covid-19 saam te leef. Die Britse minister van gesondheid, Sajid Javid, het ook die afgelope week gesê dat Covid-19 nie uitgewis kan word nie en dat die Britse regering nou volledig daarop gefokus is om met die siekte saam te leef. Die tyd het aangebreek vir meer lande om hierdie benadering te begin volg.

Johnson in groot politieke moeilikheid in Brittanje

Boris Johnson. Foto: (Pippa Fowles/10 Downing Street via AP)

Terwyl die Britse eerste minister die afgelope week die verligting van ongewilde Covid-19-maatreëls aangekondig het wat kort voor Kersfees ingestel is, en waarteen 100 van sy eie Konserwatiewe Party se parlementslede gestem het, het die grootste politieke krisis van sy loopbaan verder verdiep.

Die afgelope weke het dit aan die lig gekom dat Boris Johnson bewus was van en soms deelgeneem het aan partytjies verlede jaar terwyl daar streng inperkingsmaatreëls in Engeland gegeld het. Die een partytjie, in die agterplaas van Johnson se kantoor in Downingstraat 10, het die aand voor die begrafnis van prins Philip, koningin Elizabeth se eggenoot, plaasgevind.

Na bewering het alkohol tydens dié partytjies vrylik gevloei. Johnson het reeds verlede week in die Britse parlement om verskoning gevra vir die partytjies en sy eie teenwoordigheid daar, maar soos wat meer inligting daaroor bekend geword het, het openbare woede daaroor begin toeneem. Terwyl die opposisieparty, die Arbeidersparty, reeds twee weke gelede Johnson se bedanking geëis het, het meer en meer lede van sy eie party die afgelope week dieselfde begin eis.

Die belangrikste lid van Johnson se party wat eis dat hy moet bedank, is die senior parlementslid David Davis. Davis het in Theresa May se kabinet gedien en was ʼn groot Brexit-ondersteuner, en tot onlangs ʼn bondgenoot van Johnson. Hy het egter Woensdag in die parlement aan Johnson gesê: “In the name of God, go!”

Christian Wakeford, die Konserwatiewe Party se parlementslid vir Bury South, het die eerste parlementslid van dié party sedert 2007 geword om na die Arbeidersparty oor te loop. Na bewering oorweeg nog Konserwatiewe Party-parlementslede dit om oor te loop.

Die Konserwatiewe Party se steun het intussen verder in die peilings gedaal en indien ʼn verkiesing nou sou plaasvind, sal die Arbeidersparty ʼn wegholoorwinning behaal. Die rede sal egter nie juis met hulle eie beleidsvoorstelle of leierskap te make hê nie, maar eerder met Johnson se dramatiese verlies aan steun.

In Mei vanjaar sal daar plaaslike verkiesings in Engeland gehou word, en daar word reeds voorspel dat honderde Tory-raadslede hulle setels kan verloor. Die ongelukkigheid met Johnson kom oor verskillende fronte voor. Binne die Konserwatiewe Party is daar frustrasie met die Johnson-regering se swak fiskale dissipline, sy gereelde liberale beleidsrigtings en wat leiers soos Davis beskryf as ʼn verlies aan integriteit in die party.

Brittanje gaan gebuk onder groot ekonomiese uitdagings met begrotingstekorte, hoë inflasie, stygende lewenskoste en ʼn skerp toename in armoede al neem die werkloosheidskoers af. Dit beteken dat kiesers in werkersklaskiesafdelings wat Brexit in 2016 ondersteun het en in 2019 vir die Tories gestem het omdat hulle van Johnson se populistiese boodskap gehou het, nou skerp na die Arbeidersparty swaai.

ʼn Senior regeringsamptenaar, Sue Gray, is tans besig om ʼn onafhanklike verslag oor die onlangse skandale saam te stel. Indien dié verslag vingers na Johnson wys, sal hy waarskynlik deur sy koukus as eerste minister verwyder word, wat die einde van sy kleurryke politieke loopbaan kan beteken.

Skerp toename in vervolging van Christene in 50 lande

Afghanistan is die afgelope jare in die tweede plek op Geopende Deure se wêreldwaarnemingslys van lande waar Christene die ergste vervolg word. Vroue en kinders is veral kwesbaar sedert die Taliban weer in Afganistan aan bewind gekom het. (Foto: IsaaK Alexandre KaRslian/Unsplash)

Die internasionale organisasie wat hom daarvoor beywer om die vervolging van Christene te monitor en aan te spreek, Geopende Deure, het die afgelope week sy jaarlikse Wêreldwaarnemingslys bekend gestel. Noord-Korea was vir byna twintig jaar die land waar dit die moeilikste was om ʼn Christen te wees. Afganistan het egter nou die nommer een posisie ingeneem sedert die Taliban verlede jaar daar oorgeneem het.

Daar woon nog tussen 8 000 en 10 000 Christene in Afganistan. Sedert die Taliban se oorname leef hulle in vrees vir vervolging, en daar was die afgelope paar maande verskeie berigte oor vervolging en moorde op Christene. Die Christene wat nog nie uit die land kon vlug nie, word almal aktief vervolg en tereggestel. Die laaste Christenkerk in Afganistan is in 1973 verwoes. Die meeste Christene in Afganistan is Afgane wat hulle tot die Christendom bekeer het. Die eeueoue Armeense Christengemeenskap in Afganistan is dekades gelede reeds heeltemal uitgewis.

Volgens Geopende Deure was daar die afgelope twaalf maande ʼn skerp toename in Christenvervolging met minstens 20 miljoen meer Christene wat nou in lande woon waar daar ʼn hoë vlak van diskriminasie teen Christene is en vervolging van Christene plaasvind.

Sowat een uit elke sewe Christene wêreldwyd ervaar vervolging en diskriminasie. ʼn Jaar gelede was dit nog een uit elke agt. Verlede jaar is 4 761 Christene wêreldwyd vermoor weens hulle geloof, 4 488 kerke is aangeval en 4 277 gelowiges is aangehou, vervolg en selfs in tronke opgesluit weens hulle geloof.

Christenvervolging was in 2021 die hoogste sedert Geopende Deure dertig jaar gelede begin het om ʼn jaarlikse verslag hieroor saam te stel. Die vier hoofredes waarom Christene vervolg word, is eerstens outoritêre regerings wat Christenskap as ʼn bedreiging vir hulle mag beskou. Tweedens is daar ook in baie lande verdagmakery oor Christenminderhede. In veral Moslemlande is daar ekstremistiese groepe wat glo dat dit hulle geloofstaak is om Christene uit te wis. In baie lande, veral in Moslemlande, maar ook in verskeie Hindoe- en Boeddhistiese lande, is daar ʼn oorheersing van ʼn enkele geloof wat ander gelowe, ook Christenskap, as ʼn bedreiging beskou.

Op vanjaar se ranglys is Somalië in die derde plek. Dit is byna onmoontlik om ʼn praktiserende Christen in dié land te wees. Dieselfde geld vir Libië wat nou vierde op die lys is. Misdade teen Christene in dié en talle ander Moslemlande word glad nie bestraf nie. Dieselfde probleem heers in Jemen (in die vyfde plek). In Eritrea (nommer ses op die lys) word slegs sekere Christenkerke toegelaat, en Christene wat aan ander kerke behoort, word vervolg.

Terreurgroepe soos Boko Haram het die afgelope maande ook hulle aanvalle op Christene in Nigerië (in die sewende plek) verskerp. Omstandighede vir Christene versleg reg oor Wes-Afrika met toestande in Mali en Niger wat ook ondraaglik vir Christene raak.

Die omvang van Christenvervolging in 2021 in Indië was weer baie kommerwekkend. Die afgelope paar jaar is daar groeiende diskriminasie teen dié land se 67 miljoen Christene. Byna 5% van Indië se bevolking is Christene, maar weens die toename in Hindoe-nasionalisme wat geen ander gelowe verdra nie, is daar ʼn toename in die vervolging van Christene en ook die weerhouding van regeringsdienste en basiese voordele aan Christene.

Een groot probleem is dat geen Westerse land, soos wat vir eeue die geval was, nog vir Christene in ander lande intree nie. Terwyl die Weste toenemend sekulariseer, word Christene in die noorde van Afrika, die Midde-Ooste en Asië aan vervolging blootgestel. Die vrees bestaan dus tereg dat die vervolging van Christene oor die volgende paar jaar verder kan toeneem en dat die Christendom in baie lande selfs heeltemal uitgewis kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Om daarmee saam te leef is seherlik die uiteindelike oplossing maar hoe gemaak as die massa meerderheid van die bevolking absoluut maar geen verantwoordelikheids besef het nie.

Marthinus

n Paar jaar gelede hetn Amerikaanse Jood `n boek geskryf (sy titel het my nou ontgaan, sal bietjie gaan opkyk) waarin hy die Christene in Amerika waarsku dat hulle moet wakker word: Christene in Amerika is tans van die mees vervolgde Christene wereldwyd. (Dis een van die redes vir die Donald Trump-haat: hy is openlik Protestants.)

Frank

A, opheffing van noodtoestande, die liggies begin stadigaan aangaan, logika begin stadigaan triomfeer