Internasionale oorsig: Merkel-opvolger praat oor buitelandse beleid

Armin Laschet. (Foto: Bernd von Jutrczenka/POOL/AFP)

Die nuwe leier van die Christen-Demokrate in Duitsland en dié party se kandidaat vir bondskanselier in September se federale verkiesing, Armin Laschet, het die afgelope week in ’n seminaar wat deur die Konrad Adenauer-stigting aangebied is, sy buitelandse beleidsvoorstelle vir Duitsland bekendgemaak.

Die meeste voorstelle behels ’n voortsetting van die huidige kanselier, Angela Merkel, se benadering tot multi-laterale samewerking om konflik, klimaatsverandering en ander globale probleme die hoof te bied.

Laschet het egter ook gesê dat Duitsland ’n beter buitelandse strategie benodig en dat hy beplan om Duitsland se militêre spandering wesenlik te verhoog. Lidlande van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) is veronderstel om 2% van hul BBP aan verdediging te spandeer, maar Duitsland het nog nooit daarin geslaag nie. Laschet het op die seminaar gesê dat hy homself daartoe verbind om hierdie teiken te bereik en dat Duitsland met ander Europese lande moet saamwerk om ’n gesamentlike strategie vir Europa se verdediging te ontwikkel.

Vroeër vandeesweek het die regerings van Duitsland, Frankryk en Spanje aangekondig dat hulle konsensus bereik het oor ’n gesamentlike projek van 100 miljard euro wat, onder meer, moderne vegvliegtuie, hommeltuie en ander militêre toerusting oor die volgende twee dekades sal ontwikkel en vervaardig.

Laschet het in sy toespraak by die Adenauer-stigting ook bevestig dat Duitsland vir China as ’n opponent beskou, maar hy het bygevoeg dat China ook ’n vennoot is en dat daar veral met China saamgewerk moet word in die stryd teen klimaatsverandering.

Die federale verkiesing in Duitsland vind oor vier maande plaas en daar is tans ’n kop-aan-kop-stryd tussen die CDU-CSU (Christen-Demokrate) en die Groen Party. Met geen party wat tans meer as 27% van die steun van kiesers in die meeste peilings geniet nie, sal moeilike koalisie-onderhandelinge, en selfs ’n moontlike koalisie van drie partye, Duitsland se voorland ná die verkiesing wees.

Die einde van sentrum-linkse partye in Europa?

Die Europese parlement. (Foto: Kenzo TRIBOUILLARD/AFP)

Die blok van sentrum-linkse partye in die Europese parlement, is tans die tweede grootste na die sentrum-regse Europese Volksparty, wat partye soos die Duitse CDU en die Oostenrykse Volksparty insluit. Die sogenaamde Progressiewe Alliansie van Sosialiste en Demokrate verloor egter die afgelope paar jaar toenemend steun en verkiesings die afgelope maande, sowel as verwagtinge vir verkiesings die volgende jaar of twee, voorspel niks goeds vir die klassieke sentrum-linkse politieke blok wat met tye al die grootste in Europa was nie.

In die Nederlandse verkiesing vroeër vanjaar het die Partij van de Arbeid (PVDA) tot sy swakste posisie nog teruggesak toe die party net 5,7% van die stemme op hom kon verenig. Die PVDA was sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog dikwels die grootste party in Nederland en het verskeie Nederlandse premies opgelewer.

In Frankryk is die Sosialiste reeds in 2017 tot ’n klein party gereduseer toe dié party, wat voor Emmanuel Macron se toetrede die grootste in Frankryk was, die meeste van sy steun aan Macron se nuwe liberale party en aan verskeie harder linkse partye afgestaan het. Peilings vir volgende jaar se Franse presidentsverkiesing wys dat die Sosialistiese Party nie ’n kans staan om ’n kandidaat te lewer wat tot die finale ronde van die verkiesing kan deurdring nie.

In Brittanje, wel nou nie meer deel van die EU nie, maar darem nog deel van Europa, het die Arbeidersparty ook die afgelope twee jaar al hoe meer steun verloor en die tussenverkiesing en munisipale verkiesings in Engeland twee weke gelede was ’n groot nederlaag vir die Arbeidersparty. Ook in Skotland het die party vrot gevaar.

In Duitsland is die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD), wat ook sedert die einde van die oorlog met tye die grootste party was en wat bondskanseliers soos Willy Brandt, Helmut Schmidt en Gerard Schröder, opgelewer het, tans op ’n laagtepunt. Die party geniet skaars die steun van 14% van Duitse kiesers en sukkel om sy swak derde plek in die peilings te behou. Sentrum-linkse kiesers in Duitsland het oor die afgelope twee dekades eers na Angela Merkel se CDU begin oorskuif nadat sy haar sentrum-regse party ideologies meer na links verskuif het, en die afgelope tyd verloor die SDP steun aan die meer populistiese en meer linkse Groen Party van Duitsland.

In Spanje het die Sosialiste, wat tans nasionaal in ’n koalisie regeer, onlangs ’n pak slae in ’n streekverkiesing in Madrid gekry. Die party doen boonop swak in peilings en kan in ander streke en ook nasionaal heelwat steun in komende verkiesings verloor.

Ook in België verloor sentrum-linkse partye steun aan nuwe Groen- en ander populistiese linkse partye. In Oostenryk het die Sosiaal Demokrate ook in 2019 se verkiesing swak gevaar en sukkel die party tans om steun wat hy aan die Groen Party afgestaan het, terug te wen. In Italië het die sentrum-linkse Demokrate die afgelope week tot die derde plek in peilings teruggesak.

Hoewel sentrum-regse partye in Europa ook steun afstaan aan nuwe populistiese partye wat verder van die politieke sentrum verwyder is, blyk dit egter of dit eerder die sentrum-linkse partye is wat die grootste verlies aan steun geniet. Die een rede is die veranderende arbeidsmag in Europa, met ou sentrum-linkse partye wat altyd van vakbonde en georganiseerde arbeid in fabrieke en myne afhanklik was van steun. Die ander rede is eenvoudig die opkoms van populisme en omstrede kwessies soos immigrasie, identiteit, klimaatsverandering en die uitdagings van hoogs verstedelikte moderne gemeenskappe wat ander antwoorde soek as dit wat die sosiaal demokratiese bewegings vir lank kon bied.

Die verlies van steun aan sentrum-linkse en sosiaal-demokratiese partye in Europa hou direk verband met die veranderende politieke speelveld in Europa. Oor twee jaar, in Mei 2023, sal die volgende Europese Parlementsverkiesing plaasvind en daar sal dit duidelik raak tot watter mate die politieke speelveld in EU-lidlande verander het.

Gaan die nuwe grondwet Chili se ekonomiese sukses stuit?

(Foto: RODRIGO ARANGUA/AFP)

Chili was die afgelope byna drie dekades die groot ekonomiese suksesverhaal van Suid-Amerika. Dié land het tans die hoogste per capita-inkomste op die kontinent en word saam met Uruguay as die model-vryemarkekonomieë in Latyns-Amerika bestempel.

Tussen 1985 en 1996 het die ekonomie van Chili jaarliks met ’n gemiddeld van 5% gegroei en sedertdien jaarliks met ’n gemiddeld van 3% wat ongekende welvaart in dié land geskep het. Die afgelope twee jaar is daar egter groeiende ongelukkigheid oor sogenaamde inkomste-ongelykheid en onlangs is ooreengekom dat ’n nuwe grondwet vir Chili opgestel moet word.

Verlede Sondag is ’n referendum gehou om 155 lede vir die komitee wat die nuwe grondwet moet opstel, te verkies en die sentrum-regse en sentrum-linkse -partye het grootliks misluk om hul voorkeurkandidate vir die komitee verkies te kry. Dit was veral buitestanders, aktiviste en persone uit die harder linkse politieke beweging wat tot die komitee verkies is.

Die gevolg was dat die land se geldeenheid, die peso, skerp gedaal het; ook die IPSA-aandelebeurs het met sy opening getuimel. Vrese bestaan dat ’n nuwe grondwet met die huidige bedeling, wat sterk klem op eiendomsreg en ’n kapitalistiese vryemarkstelsel plaas, sal wegdoen. Sou dit gebeur, sal die ekonomiese suksesverhaal van die afgelope jare ongedaan gemaak word.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harry George ·

As ek soos die kerel gelyk en opgetree het, sou ek my nie vir so n belangrike amp beskikbaar gestel het nie.
Hy is n tipiese voorbeeld van die ruggraatlose leiers in Europa wat hoofsaaklik afwykend en sonder kinders, ook saam met die liberale orgie in die VSA, die Westerse beskawing oor die afgrond wil laat stort. Rusland en die Oosbloklande bly ons enigste hoop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.