Internasionale oorsig: Min rede om vir vrede in Nagorno-Karabach te hoop

ʼn Armeense soldaat skiet ʼn artilleriestuk af tydens botsings met Azerbeidjanse magte in Nagorno-Karabach. (Foto: Armenian Defense Ministry/PAN, AP)

Eers het twee skietstilstandooreenkomste tussen Armenië en Azerbeidjan wat deur Rusland onderhandel is, misluk en nou het die Trump-administrasie se onderhandelde skietstilstandooreenkoms ook in duie gestort.

Azerbeidjan, gesteun deur Turkye, het duidelik meer selfvertroue as op enige ander tydstip in die konflik van bykans 30 jaar oor die beheer van Nagorno-Karabach (in Armenië bekend as Artsakh).

Die Amerikaanse skietstilstandooreenkoms is, net soos in die geval van die twee Russiese ooreenkomste, deur Azerbeidjan verbreek toe Azerbeidjan, kort nadat die Amerikaanse ooreenkoms aangekondig is, beheer oor nóg ʼn strategiese nedersetting oorgeneem het. Die weermag van Azerbeidjan het die afgelope ruk beheer oor agt strategiese nedersettings oorgeneem en dié land se leier, Ilham Alijef, het duidelik genoeg vertroue om een belofte aan Rusland en die VSA te maak en op grondvlak iets totaal anders te doen.

Azerbeidjan speel duidelik vir tyd in die hoop dat pres. Donald Trump volgende week se Amerikaanse verkiesing gaan verloor en die VSA dus nie direk by die konflik betrokke sal raak nie. Wat Rusland betref, besef Alijef goed dat Wladimir Poetin eers wil hê dat Armenië se weermag verder pak moet kry voordat die Russe sal ingryp. Hoewel Rusland simpatie met Armenië het, wil Poetin ʼn duidelike boodskap aan die Armeense regering en premier Nikol Pashinyan stuur om hom nader aan Rusland te posisioneer.

Met Turkye wat hom steun en met baie beter wapentuig (hoofsaaklik uit Rusland, Turkye en Israel afkomstig) tot sy beskikking, het Azerbeidjan tans min rede om skietstilstandooreenkomste na te kom. Die een fout wat hy kan maak, is om sy hand te oorspeel. Sou Trump herkies word en Rusland sy geduld met Azerbeidjan verloor, kan sy huidige aggressiewe aanslag op Nagorno-Karabach in gevaarlike vaarwaters beland.

Poetin en president Recep Tayyip Erdogan van Turkye het Dinsdagaand telefoniese samesprekings oor die konflik gevoer. Tydens dié gesprek het Poetin sy kommer teenoor Erdogan uitgespreek oor die betrokkenheid van Islamitiese vegters uit Sirië wat na bewering deur Turkye in Nagorno-Karabach gebruik word om Azerbeidjan te ondersteun.

Terwyl lewensverlies en skade aan infrastruktuur aan die toeneem is, raak dit steeds al hoe duideliker dat slegs een land, naamlik Rusland, die vermoë het om ten minste ʼn korttermynoplossing vir die geskil te vind.

Poetin stuur sterk boodskap aan Erdogan

President Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, Sputnik, Kremlin Pool via AP)

Rusland en Turkye het min in gemeen. Daar is heelwat rede vir dié twee lande om vyande te wees, maar die afgelope paar jaar kon hulle om verskeie redes – die belangrikste synde eie belang en die teenwoordigheid van dieselfde vyande – konflik vermy en kon hulle in sommige gevalle selfs saamwerk.

Rusland en Turkye staan egter in verskeie konfliksones soos Sirië, Libië en Nagorno-Karabach reg teenoor mekaar. In Februarie vanjaar het volskaalse konflik tussen Rusland en Turkye byna in die noorde van Sirië uitgebreek toe dié twee lande se weermagte op mekaar begin skiet het.

Poetin het die afgelope week in Idlib in Sirië ʼn duidelike boodskap aan Erdogan gestuur. In ʼn Russiese verrassingsaanval op ʼn Islamitiese groep in Idlib wat deur Turkye ondersteun word, is 78 van die groep se vegters dood en groot skade is aan die groep se infrastruktuur aangerig. Daardeur het Poetin indirek aan Erdogan gesê om terug te trek, of die gevolge van Rusland se aansienlik sterker weermag te ervaar.

Terwyl Erdogan die afgelope ruk besig is om vyande met die meeste Europese leiers, die VSA, Arabiese lande soos Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate te maak, kan Turkye nie bekostig om hom in ʼn vyandige Rusland vas te loop nie.

Die Russe is duidelik geïrriteer deur Turkye se betrokkenheid in die oorlog in Nagorno-Karabach. Hoewel Rusland groter simpatie met Armenië as met Azerbeidjan het, wil Poetin albei lande binne sy invloedsfeer hou. Met Azerbeidjan wat die afgelope twee weke heelwat veld in die oorlog gewen het, plaas Rusland deur vir tyd te speel meer druk op Armenië om volgens Rusland se reëls vrede te vind.

Mike Pompeo op soveelste besoek aan Asië

Mike Pompeo en pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

Die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, het Asië die afgelope week weer besoek. Sy besoek het duidelik een doel voor oë en dit is om China verder in Asië te probeer isoleer deur meer lande te dwing om in ʼn Amerikaans geleide koalisie teen China betrokke te raak.

Pompeo het in Indië ʼn militêre samewerkingsooreenkoms met dié land onderteken en in Sri Lanka het hy gewaarsku dat nouer samewerking tussen Sri Lanka en China ernstige risiko’s inhou. Nadat die regering van Sri Lanka in 2017 nie daarin kon slaag om ʼn Chinese lening terug te betaal nie, moes dié land een van sy belangrikste hawens en duisende hektaar grond aan die Chinese oordra.

Tydens Pompeo se besoek aan die klein eilandstaat, die Maledive, het hy aangekondig dat die VSA ʼn ambassade daar gaan open. Min lande het ambassades in die Maledive. China het ook die afgelope tyd infrastruktuurprojekte in dié land onderneem en die VSA wil verhoed dat ook die strategies geleë Maledive in China se invloedsfeer beland. Pompeo het Donderdag ook Indonesië besoek.

Nóg ʼn terugslag vir Wêreldhandelsorganisasie (WHO)

Ngozi Okonjo-Iweala. Foto: Twitter

Die WHO was veronderstel om teen 1 November vanjaar ʼn nuwe direkteur-generaal te hê. Dit sal egter nou nie die geval wees nie. Die VSA het Woensdag sy teenkanting teen die aanstelling van Ngozi Okonjo-Iweala, ʼn voormalige minister van finansies van Nigerië en voormalige adjunk-direkteur-generaal van die WHO, bekend gemaak.

Die meeste lidlande van die WHO het Okonjo-Iweala as ʼn kompromiskandidaat vir die pos aanvaar. Die VSA wil egter hê dat die heelwat meer konserwatiewe Yoo Myung-hee van Suid-Korea die eerste vroulike hoof van dié organisasie moet wees.

Die Trump-administrasie voer reeds die afgelope paar jaar ʼn stryd teen die WHO. Die Amerikaners is veral ongelukkig oor die wyse waarop handelsgeskille deur die WHO se handelshof hanteer is. Nadat die Trump-administrasie verlede jaar die aanstelling van regters geveto het, het die hof se funksies grootliks tot stilstand gekom.

Lede van die WHO vergader nou op 9 November om oor die aanstelling van ʼn direkteur-generaal te praat. Indien hulle nie aan die VSA se eis wil voldoen nie, kan daar oor ʼn direkteur-generaal gestem word, maar so ʼn stap kan tot meer spanning tussen die WHO en die VSA lei, veral as Trump herkies sou word.

Stryd om Merkel op te volg verdiep

Angela Merkel. (Foto: Francois Lenoir, Pool Photo via AP)

Die aankondiging die afgelope week dat die Christen-Demokratiese Unie (CDU) van die Duitse bondskanselier Angela Merkel se konferensie moontlik uitgestel gaan word, het die leierstryd binne die party verder verdiep. Die konferensie, wat reeds in April moes plaasvind, is vroeër vanjaar tot 4 Desember uitgestel, maar die party se huidige leierskap het intussen bekend gemaak dat die konferensie weens die pandemie weer uitgestel word.

Die stryd in die party is tussen die gevestigde orde van Merkel en die meer konserwatiewe gewone lede. Merkel wil hê dat die premier van Noordryn-Wesfale, Armin Laschet, die nuwe partyleier moet word. Laschet is ʼn kandidaat wat op die Merkel-lees geskoei is met ʼn sentristiese rekord. Hy kom te staan teen die voormalige CDU-politikus, Friedrich Merz, as aanspraakmaker op die leierskap. Merz was voorheen op hoë vlak in die party betrokke, maar is deur Merkel uitgewerk. Merz is heelwat konserwatiewer as Merkel en Laschet en alhoewel hy nie die steun van die CDU se topleierskap geniet nie, het hy breë steun onder gewone lede van die party.

In ʼn onlangse peiling is Merz met 45% van die steun onder CDU-lede gemaklik voor. Laschet is in die tweede plek met slegs 24% steun. Die enigste ander kandidaat, ook ʼn sentristiese parlementslid van die CDU, Norbert Röttgen, geniet die steun van 13% van die lede.

Geweld en bewerings van verkiesingsbedrog oorskadu verkiesings in Afrikalande

afrika kontinent africa

Argieffoto.

Verkiesings in Afrika verloop meestal nie sonder spanning en selfs konflik nie. Talle verkiesings wat vandeesmaand in verskillende Afrikalande gehou is, bevestig hierdie stelling. In die Ivoorkus is die verkiesing voorafgegaan deur politieke spanning, konflik en geweld. Meer as 20 mense is die afgelope week in verkiesingsgeweld in die land dood. In Guinee is die weermag ingeroep nadat opposisiepartye se protesoptrede nadat ʼn verkiesing vroeër die maand handuit geruk het.

Woensdag se verkiesing in Tanzanië word tans oorskadu deur ernstige bewerings van verkiesingsbedrog wat deur opposisiepartye gemaak word. Die uitslag sal eers oor ʼn paar dae bekend gemaak word, maar die opposisiepolitikus Tundu Lissu het reeds beweer dat die regerende party van pres. John Magufuli bedrog gepleeg het met sakke vol stembriewe wat vooraf ingevul is en toe by stembusse bygevoeg is.

Terwyl geweld Dinsdag in Zanzibar, ʼn semi-outonome deel van Tanzanië, uitgebreek het nadat ʼn opposisieleier daar deur die polisie aangehou is, het die stemproses in die res van Tanzanië grootliks vreedsaam verloop. Daar word allerweë aanvaar dat pres. Magufuli die verkiesing gewen het.

Sedert Woensdag se verkiesing is sosiale media soos WhatsApp en Twitter in die land geblok. Magufuli se regering het die afgelope paar jaar op die vrye media in die land toegeslaan en daar bestaan vrese oor ʼn verval in die demokratiese waardes van Tanzanië. Dié land was vir lank ʼn modeldemokrasie in ʼn streek wat ernstige politieke uitdagings die hoof moet bied.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Tekens van die tye… Die wêreld is besig om te verval en die Antichris is besig om stilweg oor te neem…

Kokerboom ·

Dankie Jaco vir altyd baie insiggewende artikels. Die konflik in Nagorno Karabach weerspieel weereens die magsug en wreedheid van die mensdom..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.