Internasionale oorsig: Misdaad in Amerikaanse stede styg skerp

(Foto: JOE RAEDLE / GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Verskeie Amerikaanse stede gaan tans gebuk onder ʼn skerp toename in ernstige geweldsmisdaad, te midde van ʼn debat in die VSA oor polisiëring. Die meeste stede waar misdaad die afgelope paar maande toegeneem het, het ook sedert verlede jaar se gewelddadige betogings teen sogenaamde polisiebrutaliteit die begrotings van hul onderskeie polisiedepartemente drasties verlaag.

In Baltimore in die deelstaat Maryland het dit die afgelope week aan die lig gekom dat reeds sowat 700 polisielede in dié stad sedert die begin van die jaar die diens verlaat het. Oor die hele VSA verlaat duisende polisielede weekliks die diens uit vrees vir vergeldingsaanvalle en weens die kultuur van onverdraagsaamheid jeens polisielede.

In die VSA se grootste stad, New York, het die stadsraad verlede jaar in Julie besluit om die begroting van sy polisiedepartement met ʼn allemintige 1 miljard dollar te verminder. Dit het sedertdien tot die sluiting van polisiestasies, die beëindiging van werwings- en opleidingsaksies en die aflegging van honderde polisielede gelei.

Sedert Julie verlede jaar het New York se polisiedepartement sy planne om 1 200 nuwe polisielede te werf, gestaak. Die polisie in New York moes noodgedwonge alle uitreikprojekte na haweloses staak en sy verantwoordelikheid vir veiligheid by skole heeltemal opskort. Administratiewe beamptes is die afgelope maande uit nood verplig om patrollies te doen omdat daar in verskeie dele van die stad ʼn tekort ontstaan het aan polisielede wat patrollies behartig.

Intussen het moorde in New York in die eerste drie maande van vanjaar met 11,8% gestyg. Daar was ʼn 40,1%-toename in skietvoorvalle. Ook kleiner misdade soos diefstalle neem oor die hele New York toe.

(Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Die stad Minneapolis in die deelstaat Minnesota was verlede jaar die fokuspunt van die betogings teen die polisie. Dié stad se stadsraad het in Desember besluit om 8 miljoen dollar aan polisiefinansiering vir sogenaamde misdaadvoorkomingsprogramme aan te wend. Die stadsraad wou baie meer geld verminder, maar nadat die burgemeester gedreig het om die besluit te veto, is daar besluit om 8 miljoen dollar van die polisiedepartement se jaarlikse begroting van 179 miljoen dollar te besnoei. In Julie verlede jaar het die munisipaliteit reeds besluit om 1,1 miljoen dollar by die polisiedepartement weg te neem en dit aan die kantoor vir geweldvoorkoming te gee. Dié kantoor se take behels onder meer om uitreikprogramme van stapel te stuur vir mense wat moontlik by misdaad betrokke kan raak.

Die sogenaamde misdaadvoorkomingsprogramme van Minneapolis het egter misluk en die stad word die afgelope maande deur ʼn toename in geweldsmisdaad geteister. Tussen 11 Desember 2020 en 28 Maart vanjaar was daar ʼn styging van 46% in moorde in Minneapolis. Daar was ʼn skerp toename in alle geweldsmisdade, met 3 692 sodanige misdade wat tydens hierdie tydperk gepleeg is. Die polisie in die stad sê dat hulle nie die mannekrag het om op alle versoeke vir hulp te reageer nie.

Naas Minneapolis was Portland in die noordwestelike deelstaat Oregon sekerlik die stad wat die ergste deur gewelddadige betogings teen die polisie geraak is. Dié stad se stadsraad het in Julie verlede jaar die polisiedepartement se begroting drasties met 16 miljoen dollar verlaag. Dit het onmiddellik tot die sluiting van polisiekantore en die vermindering van polisielede gelei.

Sedert die besnoeiing van die polisiebegroting in Portland het misdaad handuit geruk in dié stad, met moorde wat tussen Julie verlede jaar en Februarie vanjaar met 271% gestyg het in vergelyking met dieselfde tydperk in die vorige jaar. Die styging in moorde in Portland in Januarie en Februarie vanjaar was 1 600% in vergelyking met Januarie en Februarie 2020.

Die stad se linkse burgemeester, Ted Wheeler, het in Maart vanjaar gesê dat die stad se polisiedepartement dringend 2 miljoen dollar nodig het om die vlaag van misdaad te help bestry. Wheeler het verlede jaar nog die onttrekking van finansiering aan sy eie polisiedepartement ondersteun.

(Foto: Julio Cortez/AP)

Chicago, die derde grootste stad in die VSA, het reeds voor verlede jaar se betogings ernstige misdaadprobleme gehad. Daar was egter ook in dié stad ʼn verdere skerp styging in misdaad en veral moorde nadat besnoeiings aan die polisie se begroting en ʼn sogenaamde transformasieplan vir die polisiediens in werking gestel is.

Daar is verlede jaar 769 mense in Chicago vermoor. Dit is 270 meer as in 2019. Meer as 4 000 mense is verlede jaar in Chicago geskiet.

In Los Angeles het moorde die afgelope 12 maande met 38% toegeneem. Amerika se naasgrootste stad het in Julie verlede jaar besluit om sy polisiedepartement se begroting met 150 miljoen dollar te besnoei. Daar is besluit om dié reusestad se polisiemag van 9 988 tot 9 757 te verklein. Polisielede se oortydbetaling is ook grootliks beëindig.

Afgesien van die besluite van talle groot Amerikaanse stede, wat deur die bank linkse stadsrade het, om polisiebegrotings te besnoei, het verlede jaar se betogings en die voortdurende bewerings van polisiebrutaliteit en rassisme in die polisiediens ʼn ernstige demoraliseringsinvloed op polisielede gehad. Daar is sowat 700 000 polisielede in die VSA. Die polisiediens is gedesentraliseer tot op distriks- en munisipale vlakke en die geldtoekenning van polisiedepartemente verskil ook tussen deelstate.

Dit is egter duidelik dat die sogenaamde “Defund the Police”-veldtog sy tol begin eis. Veral in groot stede gaan polisielede op vroeë aftrede of bedank wanneer hulle ander werk kan kry. Polisielede is bang vir viktimisering of dat hulle vervolg kan word indien hulle iemand sou doodskiet.

(Foto: Colter Peterson/St. Louis Post-Dispatch via AP)

Dit is ʼn feit dat daar jaarliks ongewapende mense deur die polisie in die VSA doodgeskiet word. In gevalle soos met die dood van George Floyd in Mei verlede jaar is dit korrek dat die regstelsel sy gang moet gaan en dat vervolging kan en moet plaasvind. Hierdie voorvalle maak egter ʼn klein deeltjie uit van alle vorme van wisselwerking tussen die polisie en mense op straat. Slegs 2% van alle mense wat jaarliks deur polisielede in die VSA doodgeskiet word, was glad nie gewapen nie. Sowat 54% het ʼn vuurwapen gehad en die res ander wapens.

Oor die hele VSA is daar die afgelope paar maande in stedelike gebiede ʼn uitvloei van bekwame en ervare polisielede. Die stad Seattle, in die verre noordweste van die land, het in September verlede jaar 44 polisielede verloor. Sedertdien is daar maandeliks ʼn uitvloei en dié stad se polisiedepartement het tans dieselfde getal polisielede as in 1990. Die stad se bevolking is egter 44% meer as in 1990.

In Aurora in Colorado het 61% meer polisielede in 2020 die polisiediens verlaat as in 2019. In Denver en Colorado Springs sukkel die polisiedepartemente om nuwe polisielede te werf weens min belangstelling vir opleidingsprogramme vir nuwe polisielede. Die VSA se 50 grootste stede het verlede jaar 3 700 polisielede verloor. In New York het 7% van die algehele polisiemag bedank.

Die uitvloei vind ook op bestuursvlak plaas. In die 50 grootste Amerikaanse stede het 23 van die 50 stede se polisiehoofde verlede jaar bedank. Talle van die stede in die VSA met die skerpste toename in misdaad is tans sonder ʼn permanente polisiehoof.

Terwyl polisielede in groot getalle die polisiediens verlaat, behoort die Amerikaanse regering nie verbaas te wees dat misdaad, en veral geweldsmisdaad, skerp toeneem nie. Hulle oplossing, naamlik uitreikprogramme, meer maatskaplike dienste en programme om verhoudinge tussen die polisie en gemeenskappe te verbeter, is alles goed en wel en nodig, maar bied geen oplossing vir geweldsmisdaad, dwelmsmokkelary, bende-aktiwiteit en dergelike misdaadprobleme nie. Teen die huidige tendens, en met ʼn president en regerende party in die VSA wat die opvatting van polisiebrutaliteit help bevorder, is daar min hoop dat die groeiende misdaadprobleem in Amerika se vernaamste stede omgekeer kan word.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boerkind ·

Jip… klink bekend! Biden is mos nou in beheer en soos die ANC, is daar geen trotse rekord van reg en geregtigheid nie – hulle deel die linkse, kommunistiese verwoestende stelsel. Koebaai Amerika!

Dries ·

Dankie Jaco vir n uitstekende artikel. Dit is voor die hand liggend dat misdaad gaan eskaleer. Veral met Biden as president. Amerika is op dieselfde fatale pad wat SA is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.