Internasionale oorsig: Moontlike finale breuk tussen Europa en Rusland 

Angela Merkel. Foto: (AP Photo/Markus Schreiber)

Sedert die verhouding tussen Europa en Rusland in 2014 drasties begin versleg het, handhaaf Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, ʼn balansspel in ʼn poging om Rusland nie heeltemal van Duitsland en die hele Europa te vervreem nie. Merkel het oor die afgelope ses jaar, sedert Rusland die Krim-skiereiland van Oekraïne geannekseer het, leiding geneem met onderhandelinge tussen Rusland, Oekraïne en ander rolspelers.

Die onlangse vergiftiging van die Russiese opposisieleier Alexei Navalny op ʼn vlug tussen Moskou en Siberië en sy uiteindelike behandeling in ʼn hospitaal in Berlyn, Duitsland, het die Duitse posisie ten opsigte van die hantering van Rusland en die Poetin-regering onder ernstige druk geplaas. Verskeie politieke partye, politieke leiers en ander groepe in Duitsland, die res van Europa en die Europese Unie het die afgelope twee weke voorgestel dat Duitsland dringend sy benadering tot Rusland moet hersien.

Duitsland het wesenlike ekonomiese belange in Rusland. Die bou van die volledig ondersese gaspypleiding, Nord Stream 2, tussen Vyborg in Rusland en Lubmin in die noorde van Duitsland is ʼn projek wat vir Rusland en Duitsland van groot belang is. Wanneer die pypleiding voltooi is, indien dit wel voltooi word, sal dit huidige gaspypleidings deur Oekraïne en Belo-Rusland omseil om ʼn direkte verbinding tussen die enorme gasvelde van Rusland en die groot en ryk mark vir gas in Wes-Europa te skep.

(Foto: AP Photo/Dmitry Lovetsky, file)

Daar is nou ʼn groter wordende groep politici in Duitsland wat daarop aandring dat Merkel die pypleidingprojek wat tans teen ʼn koste van 9,5 miljard Amerikaanse dollar deur die Russe gebou word, moet kanselleer. Dit sal tot ʼn skielike en dramatiese verswakking in die verhouding tussen Rusland en Duitsland aanleiding gee.

Duitsland en Merkel se motief vir die instandhouding van ʼn redelik normale verhouding met Rusland strek egter verder as slegs die ekonomiese belange van Duitse maatskappye en toegang tot ʼn volhoubare gasvoorraad uit Rusland. Merkel besef ook die risiko wat dit vir Europa inhou indien die verhouding tussen die Weste en Rusland totaal skipbreuk sou ly.

Versoeke vir baie strenger sanksies teen Rusland en senior amptenare in die Poetin-administrasie het die afgelope week in die wandelgange van parlemente in verskeie Europese lande opgegaan. Sou sodanige nuwe sanksies ingestel word en Westerse lande nog strenger stappe teen Rusland instel, sal die verhouding tussen die Weste en Rusland waarskynlik sodanig verswak dat dit nie gou weer genormaliseer kan word nie. Dit sal ernstige ekonomiese, veiligheid- en geopolitieke gevolge inhou.

Die kansellasie van die Nord Stream-pypleidingprojek en nuwe sanksies teen Rusland sal die Russe in die arms van China, Turkye, Iran en ander lande in die Midde-Ooste en Asië injaag. Dit sal Rusland ʼn nog sterker motief gee om in lande aan sy westelike en suid-westelike front betrokke te raak ten einde ʼn buffergebied tussen die Weste en Rusland te verseker.

Geen Westerse land het aptyt vir ʼn oorlog met Rusland nie. Westerse lande, selfs die VSA met sy enorme weermag, besef ook dat ʼn oorlog teen Rusland weens veral geografiese redes nie gewen kan word nie. Al wat dus oorbly, is ʼn nuwe koue oorlog wat ernstige gevolge vir Oos-Europa sal inhou, maar ook nuwe alliansies, veral dié tussen Rusland, China, Turkye en Iran, sal vorm wat tot nuwe uitdagings in die Midde-Ooste en Asië sal lei.

Wladimir Poetin is ʼn slinkse strateeg en elke tree wat hy gee word met ernstige oorweging van al die moontlike gevolge gedoen. Poetin besef die moeilike posisie waarin veral Duitsland en Europa verkeer. Die herhaaldelike vergiftiging van opposisiepolitici, Rusland se ondersteuning aan separatistegroepe in die ooste van Oekraïne, die Russe se steun aan Aleksander Loekasjenko in Belo-Rusland en die land se beweerde inmenging in verkiesings in Westerse lande maak egter die verbetering van die verhouding tussen Rusland en die Weste baie moeilik. Europa, en veral Duitsland, sal egter alle moontlike gevolge in ag moet neem voordat hulle stappe doen wat Rusland finaal oos laat kyk en wat ʼn nuwe koue oorlog kan inlei.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

‘Poetin is ‘n slinkse strateeg’?… So watter oorlog/skade het Rusland onder hom begin/aangerig? En watter bewyse is daar dat Rusland die opposisie-leier vergiftig het? Die mees verouderde en eensydige kommentaar, jammer. Miskien moet die gevolge van ‘n oorlog teen Rusland deur die dom anties van Europa dmv Navo deurdink word. Wie sou bv grootliks baat as Putin se mag vernietig word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.