Internasionale oorsig: ʼn Oorlog met Rusland moet vermy word

Pres. Joe Biden. (Foto: Andrew Caballero-Reynolds/AFP)

Pres. Joe Biden se belofte van steun aan die Oekraïense regering verlede week en die VSA se besluit om twee vlootskepe na die Swartsee te stuur, trek die Amerikaners nog dieper in die moeras van die Oekraïense konflik in.

Oor die afgelope dekade, en veral sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014, het die VSA sy wapenverskaffing aan die weermag van die Oekraïne verhoog en die Russe is deeglik bewus van die VSA se steun aan die regering in Kiëf.

Terwyl Rusland duidelik besig is om voor te berei vir ʼn moontlike aanval in die Oekraïne, behoort die VSA deeglik daarvan bewus te wees dat daar in ʼn grootskaalse konflik in die Oekraïne geen wenners kan wees nie. Rusland se aansprake op die Donbas-streek in die ooste van die Oekraïne is algemeen bekend en dit behoort ʼn saak te wees wat deur die regerings van Rusland en die Oekraïne en in samewerking met ander magte in die streek opgelos kan word.

Ná die Roosrewolusie in Georgië in 2003 het dié land se nuwe pro-Westerse regering ook homself nader aan die VSA en ander Westerse lande geplaas. Die regering het ook aangedui dat Georgië by Navo en die Europese Unie wou aansluit. Uiteindelik het die verhouding tussen Georgië en Rusland sodanig versleg dat Russiese separatiste in die twee Georgiese provinsies met groot Russiese bevolkings, Abkhasië en Suid-Ossetia, teikens van die Georgiese regering begin aanval het. Nadat die weermag van Georgië na dié twee provinsies opgeruk het, het Rusland die Russiese burgers in albei provinsies te hulp gesnel en daardeur het ʼn oorlog tussen Rusland en Georgië uitgebreek. Rusland het vinnig die oorwinning behaal in ʼn kortstondige oorlog teen Georgië. Georgië het egter de facto beheer oor sy twee provinsies verloor.

Pres. Volodymyr Zelensky. (Foto: Bertrand GUAY/AFP)

Dieselfde kan in die Oekraïne gebeur indien die weermag van dié land ʼn groot offensief teen Russiese separatiste in Donetsk en Loehansk van stapel sou stuur. Rusland sal ongetwyfeld daarop reageer deur die Oekraïne binne te val en albei oblaste te annekseer. Net soos in 2008 in Georgië is die VSA se steun eerder olie op die vuur van die konflik.

In 2008 het die VSA met goeie rede besluit om uit die oorlog tussen Georgië en Rusland te bly. Joe Biden se belofte verlede week aan pres. Volodymyr Zelensky van die Oekraïne dat die VSA sy land teen Russiese aggressie sal ondersteun, kan die regering van die Oekraïne dalk net die gevaarlike selfvertroue gee om wel Russiese teikens in sy twee rebellestreke aan te val.

Rusland soek nie die Amerikaanse weermag of Navo op sy grens nie. Georgië het dit in 2008 op die harde manier geleer en die Oekraïne kan dit ook binnekort wys word. Pres. Biden het laat Donderdag telefonies met pres. Poetin van Rusland oor die gespanne verhouding tussen die twee lande gepraat. Dit is in die beste belang van albei lande en ook die mense van die Oekraïne dat die VSA en Rusland saamwerk om ʼn oplossing vir die groeiende konflik te vind.

Biden doen vergeldingstappe teen Rusland

(Argieffoto: Jason Lee/Reuters)

Terwyl die spanning tussen Rusland en die Oekraïne toeneem, het die Biden-administrasie in die VSA Donderdag ʼn reeks vergeldingsmaatreëls teen enkelinge in die Russiese regering aangekondig. Dit volg ná die Biden-administrasie se bewerings oor Russiese inmenging in Amerikaanse verkiesings en kuberkrakery deur Russe wat vertroulike data van regeringsdepartemente in die VSA bekom het.

Tien Russiese diplomate is deur die Biden-administrasie uit die VSA geskop. Die meeste van hierdie diplomate werk vir die Russiese intelligensiediens en word deur die Amerikaners met spioenasie en kuberkraakpogings in die VSA verbind.

Biden het ook ʼn uitvoerende bevel uitgereik waarvolgens Amerikaanse banke vanaf 14 Junie nie meer Russiese effekte mag aankoop nie. Dit sal dit vir Rusland moeiliker maak om buitelandse finansiering te bekom. Dit is een van die sterkste ekonomiese sanksies wat die afgelope paar jaar deur die VSA teen Rusland ingestel is.

Die Russiese Departement van Buitelandse Sake het Donderdagaand gewaarsku dat die Russiese regering ongetwyfeld teenstappe sal onderneem. Die Russe het die VSA ook die skuld gegee vir die verswakkende verhouding tussen die twee lande.

Immigrasiekrisis op VSA se grens het oorsprong in Sentraal-Amerika

Kamala Harris. (Foto: AP Photo/John Locher, File)

Die Amerikaanse Grensbeheer het gedurende Maart vanjaar meer as 170 000 onwettige immigrante wat die grens tussen Mexiko en die VSA probeer oorsteek het, onderskep. Dit is die meeste onwettige immigrante wat die VSA probeer binnedring het in twee dekades. Byna die helfte van die onwettige immigrante was minderjariges wat die grens op hulle eie, sonder ouerbegeleiding, probeer oorsteek het.

Pres. Biden het onlangs adj.pres. Kamala Harris daarmee getaak om die krisis op die grens met Mexiko te hanteer. Harris beplan om binnekort lande in Sentraal-Amerika te besoek in ʼn poging om die immigrasiestroom na die VSA teen te werk.

Die meeste van die onwettige immigrante wat tans die VSA binnestroom, is van lande in Sentraal-Amerika afkomstig en nie van Mexiko nie. Die ekonomiese en maatskaplike omstandighede in verskeie lande in Sentraal-Amerika is in ʼn haglike toestand weens misdaad, geweld, korrupsie en ernstige ekonomiese probleme. Die huidige immigrasiegolf word veral gedryf deur swaarkry in El Salvador en Honduras.

Wat egter verder tot die krisis bydra, is Biden se sagter benadering jeens immigrante. Verskeie immigrante wat deur die media genader is, het aangedui dat hulle juis besluit het om die reis na die VSA aan te pak omdat hulle vermoed het dat die Biden-administrasie meer geneë sal wees om onwettige immigrante in te neem.

ʼn Peiling wat die afgelope week deur Associated Press bekend gemaak is, wys dat ʼn groot meerderheid van Amerikaanse kiesers ontevrede is met Biden se hantering van immigrasie-aangeleenthede. Tot 67% van onafhanklike kiesers is ontevrede met sy hantering daarvan. Selfs ʼn groter deel van kiesers is veral ontevrede met sy hantering van grensbeheer.

(Foto: AP Photo/Christian Chavez)

Biden se besluit om die bou van ʼn grensmuur tussen die VSA en Mexiko te staak, en sy besluit om kinders wat onwettig oor die grens kom, weer te huisves, dra sekerlik by tot die aanname dat sy administrasie meer verwelkomend teenoor immigrante is. Nog ʼn belangrike bydraer is Biden se aankondiging kort ná sy inhuldiging in Januarie dat sy administrasie die getal asielsoekers wat jaarliks in die VSA gehuisves gaan word, van net meer as 11 000 tot meer as 140 000 gaan verhoog.

Strenger grensbeheer en ʼn aanname dat onwettige immigrasie nie geduld sal word nie, het tydens die Trump-administrasie ʼn belangrike rol gespeel om onwettige immigrasie te verminder.

Die Biden-administrasie is egter ook reg dat die uitdagings in Sentraal-Amerika hanteer moet word. Die krisisse met misdaad, geweld en armoede in El Salvador, Honduras en Guatemala moet hanteer word. Tot watter mate die Amerikaners hier ʼn positiewe rol sal kan speel, is egter onduidelik. Intussen neem die chaos op die grens tussen die VSA en Mexiko steeds toe met grensbeheerbeamptes wat oorwerk is en nie meer al die onwettige immigrante kan onderskep en administratief verwerk nie.

Groot verkiesingsjaar in Latyns-Amerika neem aanvang

(Foto: pixabay)

Nege lande in Latyns-Amerika het vanjaar verkiesings, met die eerste twee lande, Peru en Ecuador, wat verlede naweek reeds presidentsverkiesings gehou het. Later vanjaar sal kiesers in Chili, Honduras en Nicaragua ook aan presidentsverkiesings deelneem. In Peru sal kiesers in die finale ronde tussen verlede naweek se twee topkandidate moet kies.

Kiesers in Argentinië, El Salvador, Mexiko en Paraguay sal ook later vanjaar in plaaslike, middeltermyn- en parlementsverkiesings na die stembus gaan. Latyns-Amerika is een van die streke in die wêreld wat die ergste deur die Covid-19-pandemie geraak is en die gevolge hiervan op demokrasie in dié streek sal met die groot getal verkiesings vanjaar duideliker raak. Daar is reeds ʼn duidelike groei in linkse en regse populistiese partye en leiers wat in talle van hierdie lande sterk na vore tree.

In Ecuador en Peru is twee totaal uiteenlopende uitslae verlede naweek gelewer. Kiesers in Ecuador moes in die finale ronde van die verkiesing tussen ʼn sentrumregse voormalige bankier wat sterk ten gunste van laer belasting, laer staatskuld en ʼn vryemark-ekonomie is, en ʼn linkse sosialistiese kandidaat kies. Die konserwatiewe Guillermo Lasso is tot dié land se volgende president verkies. ʼn Enorme uitdaging staar hom egter in die gesig om ekonomiese groei en herstel te bevorder sonder wesenlike steun van politieke partye. Linkse opposisiepartye het ʼn meerderheid in die parlement van Ecuador en gaan dit ongetwyfeld vir Lasso moeilik maak om sy pro-sake-beleid deur te voer.

Peru het die afgelope tien jaar uitstekende ekonomiese groei geniet met sektore soos die mynbou- en landboubedrywe wat enorme nuwe ontwikkelings en stygende uitvoere ervaar het. Groot mynmaatskappye soos Anglo American het enorme beleggings in Peru gemaak.

Die land is egter verlede jaar deur ʼn tweesnydende swaard getref, aan die een kant een van die ergste uitbrekings van die koronavirus ter wêreld, en aan die ander kant politieke onmin wat tot die ontheffing van die land se president en ʼn groot stryd om ʼn nuwe president aan te wys, gelei het. Peru het binne een week gedurende November drie verskillende presidente gehad.

In verlede naweek se verkiesing het 18 uiteenlopende kandidate deelgeneem. Die ekstreem linkse aktivis Pedro Castillo het met 19% van die stemme eerste geëindig. Pedro is ʼn groot ondersteuner van die denke van die Kubaan Fidel Castro en het tydens die verkiesingsveldtog onderneem om myne te nasionaliseer. Dit is in skrille kontras met Peru se sakevriendelike regeringsbeleid van die afgelope twee dekades wat tot sterk ekonomiese groei gelei het.

Castillo sal op 6 Junie teen Keiko Fujimori te staan kom. Fujimori is bekend omdat haar pa Peru vanaf 1990 tot 2000 regeer het. Sy verteenwoordig die konserwatiewe, regse deel van kiesers in Peru. Fujimori het in die eerste ronde 13% van die stemme gekry.

Internasionale beleggers in Peru is baie bekommerd oor die verkiesingsuitslag en die toekoms van demokrasie in dié land. Peru het ʼn uiters gefragmenteerde parlement, en vrese bestaan dat wie ook al tot president verkies word, gaan sukkel om wetgewing goedgekeur te kry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marius ·

Rusland was nog nooit die gevaar nie . Die amerikaners en hul britse bondgenote het die wereld vernietig . Dis die waarheid .

Thom ·

Weet jy hoeveel mense in die dertigs in Oekraiene deur Rusland vermoor is ?

Anton ·

Moenie Biden kritiseer nie. Hy het die meeste stemme nog ooit (10 miljoen meer as Obama) gekry. “What a genius” :-)

Dirk Mostert ·

Stemme oornag per rekenaar gegenereer asook nie-Amerikaners (en afgestorwenes) wat in Demokraties-beheerde state gestem het.

Adam Adriaan ·

Die VSA se vere is besig om gepluk te word. Rusland is besig om vir hom nog 3 maatjies te kry. China is besig om ook nog lande bymekaar te maak, met Taiwan as eertste prooi. Die Islam state is ook besig om te konsolideer. So word die verhoog voor berei vir die uiteindelike vier diere se tot stand koming voor die groot verdrukking. Met die NWO Drywers wat die fondese voorsien vir die opvoering wat gaan kom.

Andrew ·

Ergste, al die immigrante hardloop weg van hul verpletterde lande agv sosialisme , net om sosialiste in amerika te gaan instem. Kom ons maak die hele wereld arm, dan sal daar nie hongernoot wees of kriminele mense soos George nie.

Carel ·

Amerikaanse politici se Election Campaigns word deur die Privaat Sektor betaal, in ruil vir “gunsies” sodra hulle verkies word.

VERAL, die private wapen industrie. Amerikaners is die aggressors maar hou Rusland voor as ‘n gevaar vir internasionale vrede voor.

Sonder ‘n “vyand” is daar geen rede om wapens aan te koop nie . . . . Rusland MÓÉT dus die vyand wees, anders gaan private wapen vervaardigers geen verkope hê nie

Amerikaanse wapenvervaardigers betaal die Election Campaigns van Amerikaanse Demokrate, met die belofte dat sodra hulle verkies word . . . hulle die VSA regering sal oortuig om wapens aan te koop

Donald Trump wou nie skoorsoek met Rusland nie & DAAROM MÓÉS hy uit die kussings gelig word.

Biden & die ander demokrate is “diep in die skuld” by hulle wapen vervaardiger borge & nou MÓÉT Biden gaan moeilikheid soek, ondanks hy GEEN rede daartoe het nie

Dirk Mostert ·

Korreksie: Rusland het nie die Krim-skiereiland geannekseer nie. Krim was ‘n semi-outonome gebied met eie parlement. Hulle het self besluit om weer deel van Rusland te word (parlement sowel as referendum). Rusland het wel ‘n bemande vlootbasis daar gehad. Oos-Oekraine (Donetsk), oorwegend Russiessprekend, wou nie deur die nuwe regime (na die VSA-georkestreerde staatsgreep) onderdruk word nie en het hulself onafhanklik verklaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.