Internasionale oorsig: Na 22 maande steeds Covid-paniek

In totaal het 87 lande hulle grense vir Suid-Afrika en ander Suider-Afrikaanse lande gesluit. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die afgelope paar dae, sedert die nuwe Omikron-variant van Covid-19 deur briljante Suid-Afrikaanse mediese wetenskaplikes geïdentifiseer is, verkeer groot dele van die wêreld vir die soveelste keer die afgelope 22 maande in ʼn Covid-paniek.

In totaal het 87 lande hulle grense vir Suid-Afrika en ander Suider-Afrikaanse lande gesluit. Meer as R1 miljard se toerismebesprekings is binne 24 uur gekanselleer, met baie meer wat sedertdien gevolg het, en Suid-Afrika se reputasie het enorme skade gely. Terwyl mense oral ter wêreld smag na ʼn eenvormige globale werkswyse waarvolgens met Covid-19 saamgeleef kan word, het die afgelope dae se paniek en ondeurdagte optrede van veral ontwikkelde lande weer eens die huidige globale leierskapsarmoede bevestig.

Ná miljoene sterftes weens Covid-19 die afgelope twee jaar aanvaar die meeste mense, regerings en leiers dat die siekte ernstig is. Wat egter nie aanvaarbaar is nie, is dat 22 maande nadat lande reg oor die wêreld drastiese stappe begin instel het om die pandemie te bestry, daar met die ontdekking van ʼn nuwe variant steeds ongekoördineerde paniekerige optrede deur sommige lande is, wat enorme ekonomiese skade veroorsaak, persoonlike krisisse van families wêreldwyd verdiep en tot verdere verdelingslyne tussen verskillende wêrelddele aanleiding gee.

Tot dusver weet ons dat die Omikron-variant heelwat verskil van die Delta-variant wat tot verlede week vir 99% van nuwe Covid-getalle wêreldwyd verantwoordelik was. Die nuwe variant het dertig mutasies van die proteïene wat die buitekant van die virus bedek, en dit beteken dat mense wat die nuwe variant opdoen se liggame ʼn ander immuunreaksie kan veroorsaak.

Dit lyk egter asof die meeste mense by wie die nuwe variant reeds gediagnoseer is redelike ligte simptome toon, en daar is geen aanduiding in enige land dat die nuwe variant tot ernstiger komplikasies, hospitalisasie of meer sterftes aanleiding gee nie. Die paniekerige reaksie van lande wat hulle grense vir Suid-Afrika gesluit het, was dus op emosie gegrond en nie op wetenskaplike bewyse nie.

Wat ons egter ook reeds weet, is dat die nuwe variant minstens reeds ʼn maand lank bestaan en dat die kans skraal is dat dit in Suid-Afrika ontwikkel het. Die vlak van inentings van ʼn land het ook geen verband hiermee nie omdat ʼn nuwe variant in die liggaam van enigiemand wat die virus opdoen, kan ontstaan, en oral ter wêreld doen duisende mense wat volledig ingeënt is daagliks Covid-19 op. Entstowwe teen Covid-19 verminder sonder twyfel ʼn mens se kans om baie siek te word, in ʼn hospitaal opgeneem te word en te sterf, maar dit verhoed jou nie om Covid-19 op te doen nie.

Sedert die Omikron-variant in Suid-Afrika ontdek is, is dit die afgelope paar dae reeds by mense in meer as 50 lande ter wêreld gediagnoseer. Terwyl Brittanje, Nederland en talle ander lande hulle grense vir Suid-Afrika gesluit het, het hulle dit egter nie gedoen vir ander lande waar die variant ook gevind is nie. Dit kom neer op blatante diskriminasie teen Suid-Afrika, en in hierdie opsig is president Ramaphosa se sterk uitsprake teen lande wat nuwe reisbeperkings ingestel het, korrek.

Wat die wêreld die afgelope 22 maande geleer het, is ook dat die verspreiding van die virus nie deur reisbeperkings gekeer kan word nie. Die verspreiding van nuwe variante kan ook nie gekeer word nie. Toe die Delta-variant in Maart in Indië gediagnoseer is, het verskeie lande ook met reisbeperkings probeer om te verhoed dat dit hulle bereik. Uiteindelik het die Delta-variant selfs lande met die mees drakoniese reisbeperkings soos Nieu-Seeland, Singapoer, Australië en Hongkong bereik.

Die Verenigde Nasies het die afgelope week bekend gemaak dat hy volgende jaar ʼn rekordbedrag van $41 miljard gaan nodig hê om 183 miljoen mense in die wêreld van basiese voedsel te voorsien ten einde hongersnood te voorkom. Terwyl die ekonomiese gevolge van die pandemie tans in die voortslepende versteuring van voorsieningskettings, hoë inflasie, probleme met energievoorsiening en ʼn algemene styging in lewenskoste vir miljarde mense reg oor die wêreld afspeel, is die harde werklikheid dat miljoene mense weens die pandemie tot op die grens van hongersnood gedryf is.

Die tyd het aangebreek dat ʼn globale, goed gekoördineerde wyse gevind moet word waarvolgens daar met Covid-19 saamgeleef kan word. Voortdurende paniekaanvalle, sluiting van grense, selektiewe reisbeperkings en oordrewe vreesaanjaery wat nie op wetenskaplike bewyse gegrond is nie, moet einde kry. Entstowwe is nou in byna elke wêrelddeel gemaklik beskikbaar. Suid-Afrika het selfs te veel. Die VSA en China het albei reeds 200 miljoen dosisse aan Afrika geskenk met nog beloftes van meer as een miljard dosisse. Mettertyd kan aanpassings aan entstowwe nodig wees. Dit kan dalk selfs nodig wees dat mense jaarliks, soos met griep, ingeënt sal moet word. Voortdurende paniekaanvalle en drakoniese optrede wat groot ekonomiese en reputasieskade vir lande soos Suid-Afrika inhou, moet egter einde kry.

VSA en Europa neig ook in verskillende rigtings oor verpligte inentings

Oostenryk het onlangs die eerste land in Europa geword wat inentings teen Covid-19 vir alle burgers verpligtend sal maak. Talle burgers is egter sterk gekant daarteen en het die strate van Wene in protes ingevaar. (Foto: Florian Wieser/AFP)

Terwyl die president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, die afgelope week gesê het dat sy graag wil sien dat die EU se 27 lidlande oor verpligte inentings vir alle burgers praat, het twee streekshowe in die Amerikaanse deelstate Louisiana en Kentucky bevind dat verpligte inentings wat deur die federale regering in die VSA afgedwing wil word, onwettig is.

Oostenryk het onlangs die eerste land in Europa geword wat inentings teen Covid-19 vir alle burgers verpligtend sal maak. Olaf Scholz, die aangewese Duitse kanselier, het hom die afgelope week ten gunste van verpligte inentings vir alle Duitse burgers uitgespreek en hy sal sy planne hieroor binnekort met die uittredende kanselier, Angela Merkel, en die premiers van Duitsland se sestien deelstate bespreek.

In Griekeland sal persone ouer as 60 wat nie ingeënt is nie vanaf die middel van Januarie ʼn maandelikse boete van €100 moet betaal. In Italië word die meeste werknemers reeds verplig om ingeënt te word.

Daarteenoor is daar in die VSA groeiende teenkanting teen verpligte inentings. Terwyl die twee uitsprake in Louisiana en Kentucky op appèl geneem sal word, kan ʼn mens aanvaar dat die hoogste hof in die VSA een of ander tyd hieroor ʼn uitspraak sal moet lewer, en met ʼn konserwatiewe meerderheid van regters is die kans goed dat verpligte inentings in die VSA uiteindelik as ongrondwetlik bepaal sal word.

Groenes neem beheer oor buitelandse sake in Duitsland

Terwyl die Sosiaal-Demokraat Olaf Scholz oor ʼn paar dae as die nuwe Duitse kanselier ingehuldig sal word, is dit die Groen Party wat beheer sal neem oor die buitelandse sake-portefeulje. Die medeleier van die Groen Party in Duitsland, Annalena Baerbock, sal Duitsland se nuwe minister van buitelandse sake word en sy het reeds aangedui dat sy ʼn nuwe rigting wil inslaan in terme van Duitsland se verhouding met onder andere Rusland en China.

Die Groen Party was ook tussen 1998 en 2005 deel van ʼn regerende koalisie in Duitsland, en Joschka Fischer was toe die Groen Party se minister van buitelandse sake. Fischer word onthou vir sy kritiek op die Amerikaanse oorlog in Irak, wat uiteindelik ook die verhouding tussen Amerika en Duitsland laat verswak het.

Met ʼn Demokraat in die Withuis is dit egter duidelik dat Baerbock juis internasionale sake met die VSA wil koördineer. Dit sluit in die hantering van die Weste se verhouding met Rusland en China.

Die afgelope paar jaar het Duitsland onder leiding van Angela Merkel ʼn versigtige, en met tye pragmatiese, benadering in sy verhouding met Rusland en China gevolg. Dit is duidelik dat Scholz en Baerbock hiervan gaan afwyk. Baerbock het reeds gesê dat sy glo dat Duitsland se waardes van demokrasie en menseregte belangriker as ekonomiese belange in sy verhouding met ander lande moet wees.

Baerbock het egter baie min ervaring op die terrein van buitelandse sake, en ernstige vrae word gestel oor haar vermoë om Europa se grootste ekonomie op die globale verhoog te verteenwoordig. Tydens die verkiesingsveldtog vroeër vanjaar het dit ook duidelik geword dat sy maklik politieke foute begaan en dat haar kennis van die wêreldpolitieke en globale magsverhoudinge baie beperk is. Sy sal Duitsland se mees onervare minister van buitelandse sake in baie dekades wees.

Intussen is daar ʼn groot behoefte aan leierskap uit Europa en heers daar onsekerheid of Scholz die skoene van Merkel sal kan volstaan. Voortdurende spanning tussen Europese lande en Brittanje oor die Brexit-ooreenkoms, die dreigende konflik tussen die Oekraïne en Rusland, China se optrede in Asië, en groeiende spanning tussen lande in Wes-Europa aan die een kant en Sentraal- en Oos-Europa aan die ander kant gaan heelwat wysheid en insig van Duitsland se nuwe leiers vereis.

Scholz en Baerbock se planne om nouer met die VSA op die terrein van buitelandse sake saam te werk, maak sin. Die huidige Amerikaanse regering het egter die afgelope 11 maande ook nie juis daarin geslaag om duidelike beleidstandpunte oor belangrike geopolitieke strydpunte te formuleer nie. In ʼn tyd waarin visionêre leierskap van Duitsland verwag word, is daar rede om bekommerd te wees oor of die nuwe Duitse regering oor gehalte-leiers met die nodige ervaring beskik om hierdie broodnodige leierskap te bied.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

casper ·

Dit is in die pers se belang om mense met paniek te oorval – hully kry dan meer clicks !!!

groenboer ·

Kom ons doen ‘n gedagte-eksperiment: jy sien die stert van ‘n groen slang onder jou bed uitsteek. Jy gryp die ding sommer so aan die stert, nie waar nie? Om anders te doen is immers om jou optrede op emosie te baseer eerder as op wetenskaplike bewyse? Siende jy nie wetenskaplike bewyse het oor of dit ‘n groen mamba is of ‘n skadelose bosslang nie, is daar geen rede om versigtig te wees nie?

Nee. Boris Johnson se optrede was presies korrek; as almal so opgetree het in Januarie 2020 sou die pandemie nie in die eerste plek versprei het nie. Gestel dit het geblyk Omikron dood 30% van sy slagoffers. Sou ons dan steeds gedink het Johnson was bloot paniekerig en stoepit, of sou ons sy versiendheid aangeprys het?

Natuurlik, nou dat dit duidelik is dat die nuwe variant in elke geval reeds oral versprei het maak ‘n volgehoue reisverbod nie meer sin nie. Maar jy speel nie met ‘n rewolwer as jy nie weet of hy gelaai is nie – vra maar vir Alec Baldwin.

Dirk Mostert ·

Die rewolwer argument kan aangepas word na Russiese Roulet vir entings.

annie ·

… globale goed gekoördineerde samewerking… Wanneer was daar al ooit so-iets? Hoewel die enstof-vervaardigers droom oor ‘n ewige ramp vir ewige biljoene, hou peste nie vir ewig aan nie. Die groot leuen van die Ukraïene word deur Blinken-Biden verkondig want Biden het daar rondgehang en fondse verskaf vir Boetie se olierige drome. As die oom vergeetagtig word moet hy nie daarop hoop dat ander ok besig om hul skapies te verloor nie. Hy wil WOIII begin en herverkies word.

Jacobus ·

Goed geokestreede paniek fest. Die verloorder – ons pres se eie mense. Gelukkig is geld goed!

Anel ·

So dit pla hulle nie dat mense van die ho ger gaan doodgaan nie, solank dit nie die virus is nie. Soos dit vir my lyk gaan meer mense dan doodgaan as aan die virus. Verder, almal gaan nie jaarliks vir die griep spuit nie. En almal het nie swak imuniteit wat dit nodig maak nie. Hoekom gesonde mense siek maak of doodmaak? Of jy nou gespuit is of nie, jy kan steeds die virus kry en doodgaan. Daarby, as jy gespuit is moet jy gereeld gaan vir opvolg spuite. Dieselfde met die maskerdraery en handjies was. Dit het niks aan die situasie verander nie, en gaan ook nie. Dis in elke geval net ‘n geldmaak storie. Hulle gaan nniu meer geld nodig hê om honger mense te red as wat hulle kry vir die spuitstof!!!

Dirk Mostert ·

Ons maak staat op die VSA om vas te skop teen verpligte enting. Verder die holruggeryde storie dat entings werk. Wat is Afrikaans vir “sheeple”?

Nici ·

Swak leierskap wereldwyd skep ‘n gevaarlike vakuum vir ‘n radikale leier om te misbruik en te vul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.