Internasionale oorsig: Ná een jaar in Withuis tuimel Biden se steun steeds

Pres. Joe Biden. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Joe Biden is verlede jaar op 20 Januarie as 46ste president van die VSA ingehuldig. Hy het Woensdagaand in ʼn mediakonferensie, slegs sy tweede volwaardige mediakonferensie die afgelope twaalf maande, sy eerste jaar in die Withuis as ʼn sukses beskryf. Amerikaanse kiesers verskil egter daarvan. In ʼn peiling deur CIVIQS wat Woensdag bekend gemaak is, het Biden se steun tot 34% gedaal, terwyl 56% van Amerikaners nou ʼn definitiewe afkeer in sy werksprestasie het. Talle ander peilings die afgelope tyd bevestig dat Biden en die Amerikaanse adjunkpresident, Kamala Harris, se steun week ná week afneem.

Biden het Woensdagaand vir twee ure lank aanhou ontken dat sy administrasie in die moeilikheid verkeer. Hy het herhaaldelik die Republikeine die skuld gegee vir die mislukking van sommige van sy grootste inisiatiewe. Biden het sover gegaan om te beweer dat vanjaar se middeltermynverkiesing in November deur Republikeine bekook kan word. Daardeur begin hy, soos sy voorganger Donald Trump, op desperate wyse die integriteit van Amerikaanse verkiesings ondermyn in ʼn poging om sy eie politieke mislukkings te verbloem.

Amerikaanse kiesers is veral krities oor ekonomiese kwessies, soos die voortdurende tekorte aan produkte en stygende inflasie wat tot ʼn skerp styging in lewenskoste aanleiding gee. Die afgelope maande was die skerpste daling in steun vir Biden onder jonger kiesers tussen 18 en 34 jaar, tradisioneel die Demokrate se belangrikste steunbasis, met slegs 26% van jonger kiesers wat met Biden tevrede is. Jong Amerikaners is besonder pessimisties oor hulle eie ekonomiese vooruitsigte.

Amerikaners is ook steeds veroordelend oor die Biden-administrasie se chaotiese onttrekking uit Afganistan en groeiende onsekerheid oor die VSA se buitelandse beleid terwyl spanning in Oos-Europa en Asië toeneem.

Biden het egter Woensdagaand ontken dat sy regering vir die land se ekonomiese probleme of die chaos in Afganistan verantwoordelik is. Hy wil ook nie verantwoordelikheid vir die voortslepende krisis met onwettige immigrasie aanvaar nie. Op elke punt het hy vinger gewys na die Republikeine.

Pres. Joe Biden. (Foto: Andrew Caballero-Reynolds/AFP)

Terwyl Biden Woensdag vure probeer doodslaan het, het twee Demokrate in die Amerikaanse Senaat saam met al 50 Republikeine gestem om te verhoed dat die Senaat se reëls waarvolgens 60 stemme vir die goedkeuring van belangrike nuwe wette en beleid nodig is, verander word. Demokrate in die Senaat wou die reël verander sodat ʼn meerderheid van slegs 51 nodig sou wees.

Biden was ten gunste van die reëlverandering omdat hy radikale nuwe federale verkiesingswette wou instel waarvolgens die federale regering vir die eerste keer in dekades radikale veranderinge aan Amerikaanse verkiesings wou aanbring. Indien die Demokrate hulle sin gekry het, sou verskeie reëls wat Amerikaanse deelstate tans oor verkiesings maak, verander moes word. Die Demokrate wil veral sien dat dit makliker moet wees om ʼn posstem uit te bring, dat kiesers nog op stemdag kan registreer en dat bewys van identiteit nie nodig hoef te wees om te stem nie. In die meeste lande ter wêreld moet kiesers ʼn amptelike ID-dokument toon om te kan stem.

Dit lyk toenemend of Biden nie sy administrasie se eie swakpunte wil erken en regstel nie. Met die middeltermynverkiesing wat later vanjaar plaasvind, lyk dit asof Biden en die Demokrate eers by die stembus gestraf sal moet word voordat hulle gaan besef dat hulle radikale agenda en die behoeftes van gewone Amerikaners twee verskillende dinge is.

Kommer in Kiëf dat VSA en Europa boedel oorgegee het met Rusland

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Druzhinin/Sputnik/AFP)

In reaksie op ʼn vraag deur ʼn joernalis Woensdagaand oor wat hy verwag die Russiese president, Wladimir Poetin, se volgende skuif in die konflik met Oekraïne gaan wees, het die Amerikaanse president, Joe Biden, soos volg gereageer: “Hy sal inbeweeg, hy moet iets doen.” Biden het verder gesê dat die VSA en Navo nie sal reageer op ʼn “geringe inval” deur die Russe in die ooste van Oekraïne nie.

Biden se verstommende antwoord is gelewer terwyl sy minister van buitelandse sake, Antony Blinken, juis in Kiëf was om met die president van Oekraïne oor die krisis te vergader. Ná Biden se mediakonferensie het sy woordvoerder, Jen Psaki, ʼn verklaring uitgereik om die Amerikaanse regering se standpunt te bevestig dat enige inval deur Rusland in Oekraïne nie geduld sal word nie. Haar verklaring was egter nie genoeg om vrese in Oekraïne en Oos-Europa te besweer dat die VSA inderwaarheid niks sal doen sou Rusland ʼn aanval loods nie.

Die VSA en Europese lande het Donderdag en Vrydag alles moontlik gedoen om eensgesindheid oor die kwessie te bewys. Blinken het Vrydag in Genève met sy Russiese eweknie ontmoet in ʼn poging om die spanning by te lê.

Ná Rusland se oorlog in 2008 teen Georgië en die de facto-besetting van twee van Georgië se provinsies het die VSA ook gedreig en niks gedoen nie. In 2014 met die anneksering van die Krim-skiereiland het dieselfde gebeur. Dit is duidelik dat die Weste nie die wil of konsensus het om met meer kragdadigheid op Poetin se ekspansionistiese neigings te reageer nie.

Die Biden-administrasie se onvermoë die afgelope maande om duidelik te verwoord hoe hulle op ʼn Russiese inval in Oekraïne sal reageer, gepaardgaande met Biden se skokkende opmerkings Woensdagaand, verhoog nou die kanse vir ʼn Russiese inval in die ooste van Oekraïne en die moontlike anneksering van die hele Donbas-streek. Terwyl Biden se voorganger, Trump, onvoorspelbaar was en Poetin heelwat versigtiger was om tydens die Trump-jare enige buurland binne te val, raak dit toenemend duidelik dat die huidige regerings in die VSA, Duitsland en ander Europese lande nie die wil het om in konflik met Rusland betrokke te raak nie.

Daar is ʼn goeie rede waarom die Weste die afgelope weke nie daarin kon slaag om ʼn reaksie op ʼn Russiese aanval duidelik te verwoord nie. Terwyl die VSA ten gunste daarvan sou wees om Rusland van die internasionale Swift-bankstelsel af te sny, sou Europa baie versigtiger wees. Wes-Europa is uiters afhanklik van gasinvoere uit Rusland en indien Rusland in ʼn teenreaksie die gasverskaffing sou afsny, kan dit tot ongekende energietekorte in Wes-Europa lei.

Daarby is dit belangrik om die historiese konteks van Oekraïne en veral die Donbas-streek, bestaande uit Loehansk en Donetsk, te verstaan. Die Donbas-streek is in die ooste van Oekraïne en grens aan Rusland. Dit is ʼn steenkoolryke gebied en is oor die afgelope eeue heen deur Oekraïners, Russe en ander Slawiese volke bewoon. In die laat agtiende eeu het die streek deel van die Russiese Ryk geword. Teen die laat negentiende eeu was daar veral ʼn groot instroming na die streek met die ontwikkeling van steenkoolmyne. Dit was veral Russe wat in die laat 1800’s na die streek getrek het. Verskeie stede in die streek was met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog gedomineer deur Russe.

Tydens Joseph Stalin se regering is mense in die streek ook verplig om Russies te praat en die Russiese kultuur op te neem. Die Donbas-streek is baie swaar deur die twee Wêreldoorloë getref met groot sterftes en ernstige voedseltekorte, wat ook die tydperk tussen die twee Wêreldoorloë gekenmerk het. Ná die Tweede Wêreldoorlog was die Donbas-streek totaal verwoes en het daar min mense oorgebly. Rusland het egter honderde duisende Russe na die streek gestuur om die steenkoolmyne te herbou, en teen die 1990’s was daar ʼn Russiese meerderheid in die streek.

Oekraïense soldate (Foto: Yuriy Dyachyshyn/AFP)

Tog het ʼn oorgrote meerderheid van die mense in Loehansk en Donetsk in die 1991-onafhanklikheidsreferendum vir Oekraïne se onafhanklikheid van die Sowjetunie gestem. Daarmee saam het dié twee provinsies met groot Russiese bevolkings deel van ʼn onafhanklike Oekraïne geword.

In 1994 is ʼn reeks referendums oor outonomiteit in Loehansk en Donetsk gehou. Byna 90% van kiesers het gestem ten gunste van groter outonomiteit vir dié twee streke, dat Russies, naas Oekraïens, ʼn amptelike taal moes word, en dat Oekraïne in ʼn federasie omskep moes word. Daar het egter niks hiervan gekom nie.

In 2010 is die Russiesgesinde Viktor Janoekowitsj tot president van Oekraïne verkies. Hy het veral in die ooste van die land, en in die besonder in Donbas, groot steun geniet. Hy is egter in die 2014-revolusie, waarby Westerse magte ook betrokke was, uit die kussings gelig en deur ʼn pro-Westerse president vervang. Dit het tot hernude oproepe vir onafhanklikheid in Donetsk en Loehansk aanleiding gegee. Die afgelope sewe jaar is dié twee streke in ʼn oorlog met Oekraïne gewikkel.

Die huidige demografiese samestelling van Donbas en die lang geskiedenis van die streek maak die vind van ʼn oplossing vir die huidige konflik nog moeiliker. Dit is egter duidelik dat Westerse leiers se desperate pogings om ʼn inval deur Rusland in Oekraïne te probeer voorkom, besig is om te misluk. Die tyd vir die vind van ʼn onderhandelde skikking raak nou daagliks minder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Treurwilger

Hoeveel integriteit kan verkiesings in énige land hê waar mense oor ‘n grens kan stap en sonder identifikasie per stembrief stem? Om Trump in dieselfde asem as Biden te noem op hierdie onderwerp is, om die beskrywende Engelse woord te gebruik, “disingenuous”.
Dit, terwyl die skrywer self opmerk dat meeste (ontwikkelde) lande indentifikasie vereis?

Wat wêreldvrede betref, geen joernalis het die moed om hardop te wonder hoe anders dinge kon lyk as Trump en Putin toegelaat is om vriendskapsbande te smee nie.

annie

Robert Kagan en Victoria Nuland, laasgenoemde is destyds saam met Biden op die Maidan-plein in Kiev opgemerk toe Biden vise-president was, is liberaliste wat die VSA se millitêre ingrepe in die buiteland voorstaan. Kagan is ‘n uitgesproke Trump-hater. Nuland, deel van die demokrate se buitelandse sending, is glo ook ‘n ‘kenner’ van Rusland se geskiedenis en soos Kagan, haar man (en Blinken), van Joodse afkoms. Die Kagans en Biden staan beslis nie ‘n WO3 teë nie… Vreemde koppe met vreemde visies as mens onthou dat Rusland Hitler se segetog teen die Jode tot ‘n einde gebring het.

Spook

Ek kan dit nie verstaan dat ENIGE iemand die idee van ‘n oorlog kan voorstaan en aanmoedig nie. Duidelik is dit weer ‘n geval van ou mense wat oorloë begin, en jong mense wat die spit afbyt.
Ek weet waarvan ek praat, ek het die t-shirts en ‘n paar medaljes as deelnemer aan die oorlogspele.
Biden is ‘n tipiese politikus, m.a.w. dom-onnosel en sorg vir sy eie sak.

Dries

Biden se kommunistiese onderok hang nou goed uit

Danie

Nou lyk ou Trompie nie meer so sleg nie……?