Internasionale oorsig: Navalny bly doring in Poetin se vlees

Pres. Wladimir Poetin. (Foto: Alexei Nikolsky, AP)

Pres. Wladimir Poetin van Rusland het die afgelope twee dekades sy magsgreep op Rusland op meesterlike wyse versterk deur beheer te neem oor alle staatsinstellings, insluitend die parlement en die howe. Byna geen kritiese media of burgerlike groepe word in Rusland geduld nie en Poetin kon met ʼn omvattende propagandaveldtog die steun van die oorgrote meerderheid van Russe behou.

Die een stem van opposisie wat Poetin egter reeds tien jaar lank nie kon stilmaak nie, is dié van die opposisieleier Alexei Navalny. Poetin neem opposisie nie ligtelik op nie. Betogings teen sy regime is in 2006, 2007, 2011 en 2012 met geweld onderdruk met honderde, soms duisende opposisielede wat in hegtenis geneem en selfs lang tronkstraf opgelê is.

Navalny het tien jaar gelede as ʼn onbekende blogger begin om korrupsie in die Poetin-regering bloot te lê. Sedertdien het hy die gesig van die onderdrukte opposisie in Rusland geword. Die afgelope dekade is Navalny talle kere in hegtenis geneem, is vals bedrogklagte teen hom geskep en is hy selfs een keer vir vyf jaar tronk toe gestuur. Op grond van massabetogings teen sy vonnis is hy weer vrygelaat. Die Kremlin het egter nie opgegee nie en ʼn meesterlike plan om hom te vergiftig is die afgelope drie jaar deur die Kremlin uitgewerk wat uiteindelik op 20 Augustus verlede jaar in werking gestel is toe Navalny per vliegtuig van Siberië na Moskou gereis het.

Alexei Navalny (Foto: Pavel Golovkin, AP)

Navalny het tydens die vlug siek geraak en is vir vier dae in ʼn hospitaal in Rusland behandel, waarna hy na Duitsland vir behandeling is. Daar is uiteindelik bevind dat hy deur ʼn middel vergiftig is wat tot dusver net in Rusland gebruik word. Navalny het intussen op wonderbaarlike wyse herstel en het verlede week sy terugkeer na Rusland gemaak.

Hy is egter op die lughawe in Moskou in hegtenis geneem en ʼn spesiale hof is binne 24 uur opgestel om hom te verhoor. Dit het tot eise vir sy vrylating uit veral Europa gelei met al hoe meer Russe wat kennis neem van Poetin se hantering van enige teenstem.

Die huidige ekonomiese krisis in Rusland het die Navalny-boodskap die afgelope ruk aangehelp. Die pandemie het Rusland se ekonomiese agteruitgang net versnel en frustrasie met die Poetin-regime is besig om toe te neem. Poetin se steun is die afgelope paar maande aan die afneem en hoewel Poetin se beheer oor Rusland nog geensins bedreig word nie, ontbloot Navalny en sy groterwordende beweging van opposisiegroepe die swakpunte in Poetin se mondering. Word Navalny in die tronk gegooi, word hy ʼn martelaar – iets wat Poetin wil verhoed. Presies wat Poetin se volgende skuif gaan wees, is onseker, maar dat Navalny tans ʼn doring in Poetin se vlees is, is ʼn feit.

Is Turkye besig om terug te krabbel?

Pres. Recep Erdogan. (Foto: Turkse presidensie via AP)

ʼn Onlangse peiling in Turkye wys vir die eerste keer in jare dat pres. Recep Tayyip Erdogan ʼn nasionale verkiesing kan verloor, sou ʼn verkiesing nou plaasvind. Erdogan het in 2002 Turkye se premier geword en het Turkye sedertdien van sy pro-Westerse, sekulêre benadering weggestuur in die rigting van ʼn meer aggressiewe Islamitiese land wat die Weste voortdurend beledig en ook nog in die een konflik na die ander in die Midde-Ooste betrokke raak wat al tot vyandigheid met onder meer Egipte, Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate gelei het.

Verlede jaar het Erdogan sy aggressiewe benadering ook weer op Griekeland en Ciprus begin toespits en het hy Turkye ook direk aan die kant van Azerbaidjan in die oorlog teen Armenië geskaar. Sy besluit om die Hagia Sofia weer in ʼn moskee te omskep, het Christene reg oor die wêreld ontstel en het die toerismebedryf in Turkye ʼn verdere nekslag toegedien.

Bykans 20 jaar ná Erdogan se bewindsoorname is die demokrasie in Turkye onder groot druk, met weinig onafhanklike media en burgerlike instellings wat nog oor is en met Turkye se verhoudinge met die Weste en talle Midde-Oosterse lande wat ʼn laagtepunt bereik het. Turkye se grootste probleem tans is egter ekonomies van aard met die land wat reeds in ʼn diep ekonomiese krisis verkeer.

Die afgelope twee weke het Turkye en Erdogan egter begin uitreik na onder meer Griekeland, Egipte, Israel en die Verenigde Arabiese Emirate. Eerskomende Maandag vergader Turkye en Griekeland vir die eerste keer in vyf jaar om ʼn geskil oor maritieme grense te bespreek.

Turkye se president Recep Tayyip Erdogan. (Foto: Turkish Presidency via AP, Pool)

Erdogan besef duidelik dat die ekonomiese knyptang besig is om sy gewildheid in Turkye uit te wis. In die afgelope paar jaar het Erdogan ʼn mislukte staatsgreeppoging teen sy regering gebruik om sy steunbasis te konsolideer. Hy het verder daarop voortgebou deur nasionalistiese retoriek, direkte betrokkenheid by oorloë in Sirië en Libië en deur voortdurende bewerings te maak dat die Weste eintlik Turkye skade wil berokken. Die Turke begin egter toenemend hierdeur sien soos wat die gevolge van die land se groter wordende ekonomiese krisis hul sakke raak.

Die Europese Unie besluit in Maart of hy sanksies teen Turkye gaan instel en daar heers nog onsekerheid daaroor of die Biden-administrasie die huidige Amerikaanse sanksies teen Turkye gaan opskerp, behou of uitfaseer. Intussen het Turkye ʼn groot tekort aan buitelandse valuta en hoop Erdogan om buitelandse beleggers weer terug te lok. Buitelandse beleggers het die afgelope paar jaar op groot skaal uit Turkye onttrek wat tot ʼn skerp afname in die waarde van die lire aanleiding gegee het.

Tot dusver bemoei Erdogan hom hoofsaaklik net met ʼn vriendskapsveldtog en die EU en die VSA behoort op meer konkrete hervormings, insluitend die herstel van demokratiese ruimtes, soos die regte van ʼn onafhanklike media, aan te dring.

Vrese vir konflik, selfs oorlog in 2021 neem toe

(Foto: Armenian Defense Ministry via AP)

Krisistye is dikwels ʼn teelaarde vir konflik. Die oorlog verlede jaar tussen Armenië en Azerbeidjan, China se aggressie teenoor Hongkong en sommige buurlande en verskeie groeiende geskille en konfliksituasies in Afrika, die Midde-Ooste en Latyns-Amerika het bewys dat groepe wat konflik wil saai, regerings se huidige fokus op die pandemie sal gebruik om konflik en selfs oorloë te begin.

Die gerespekteerde Amerikaanse organisasie die Council on Foreign Relations wat in New York gebaseer is, het pas sy jongste verslag oor konfliksituasies en potensiële konfliksituasies wat in 2021 dopgehou moet word, bekend gemaak.

Volgens dié organisasie kan die kanse vir konflik tussen die VSA en Iran, tussen Rusland en lande op die Europese oosgrens, tussen China en Taiwan, China en Indië en selfs China en die VSA vanjaar toeneem. Die organisasie wys ook daarop dat Noord-Korea toenemend vir oorlog voorberei.

Huidige oorlogsituasies in Sirië, Jemen, Afganistan en verskeie Afrikalande kan verder versleg soos wat terreurgroepe ʼn beter vastrapplek kry. Die huidige krisis in Venezuela kan dié land in ʼn burgeroorlog dompel. Die spanning tussen Indië en Pakistan en Indië en China moet ook dopgehou word.

(Foto: AP Photo/Hazem Ahmed, File)

In Afrika is die grootste probleme in die noorde van die vasteland en in die besonder in Libië, waar ʼn skietstilstandooreenkoms tans nog in stand gehou word en in die Sahel-streek waar Islamitiese terreurgroepe duidelik groter aanvalle vir 2021 beplan. Ernstige kommer bestaan dat die eens vreedsame Ethiopië vanjaar in groter interne konflik kan verval.

Volgens die organisasie se verslag moet interne spanning in lande soos Belo-Rusland, Libanon, Mianmar, Soedan en in die ooste van Oekraïne nie uit die oog verloor word nie omdat dit maklik tot volskaalse oorlog kan oorgaan.

Groot vordering is die afgelope paar dekades gemaak om vrede in verskeie wêrelddele teweeg te bring, maar ontwikkelings die afgelope ruk dui toenemend op gevaarlike spanningslyne in verskeie wêrelddele wat dalk net tot meer konflik binne die volgende paar jaar aanleiding mag gee. Dit gaan groot uitdagings inhou vir die Verenigde Nasies, Navo, ander samewerkingsorganisasies en die regerings van die VSA, China en ander belangrike moondhede wat almal hul globale invloed wil laat geld sonder om noodwendig die wêreld in oorlog te dompel.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Nee, Putin is die doring in Navalny se vlees… die own touch oepsie-gif aan sy klere en die doepa in sy sop… Tja, die man met die vergesigte en groot vrinne in Europa wil die prez worre van die Rusland en hy sal enigiets doen, selfs ‘n wèreldoorlog ontketen, om net die tsar se kroon te kan aanpas… hoewel dit oor sy ore sal sak… maar not to worry dan is BLF daar om dit bo te hou. Ha, ha.

C A

Navalny is die NWO se buikspraakpop en sal natuurlik deur die media as n martelaar voorgehou word. Putin verdra nie die Kommuniste nie.

Marthinus

Aleksei Nawalni is polities net so belangrik in Rusland, as Steve Hofmeyr in SA. Die buiteland wil hom as president hê, omdat hy korrup is en Rusland se kroonjuwele sal verkoop, en na hulle pype dans. Die kosmetiese maatskappy Yves Rocher het `n klag teen Nawalni gelê. Hy is beskuldig van geldwassery en bedrieglike aktiwiteite. In Desember 2014 is hy gevonnis tot drie-en-n-half jaar borgtog; sy broer, Oleg Nawalni, is gevonnis tot tronkstraf vir dieselfde periode. In 2017 is Aleksei se borgtog verleng tot Desember 2020. Toe hy die land verlaat vir Duitsland, het hy dus sy borgtogvoorwaardes verbreek, en… Lees meer »