Internasionale oorsig: Navo moet verander, maar hoe?

Die Nato-hoofkantoor in Brussel, België. (Foto: John Thys/AFP)

Die afgelope week se beraad van die ministers van buitelandse sake van Navo-lidlande was veronderstel om te fokus op aanbevelings oor dié militêre verdragsorganisasie se beleid en doelwitte vir die volgende tien jaar. Uiteindelik is die beraad oorheers deur ’n stryd tussen Turkye en ander lidlande, veral die VSA en Frankryk, wat bevestig het dat interne verdeeldheid, en in die besonder Turkye se rol in verskeie geskille met ander Navo-lidlande, eers uitgesorteer moet word voordat daar werklik oor die toekomstige rol van Navo gepraat kan word.

Navo is in 1949 opgerig as ’n kollektiewe verdedigingsmeganisme vir Westerse lande en lande suid en wes van die Sowjetunie. Sedert die val van die Berlynse Muur en die einde van die Sowjetunie het Navo se rol in die behoud van vrede in veral Europa heelwat verander. Tog het Navo-leiers voortgegaan om Rusland as die grootste veiligheidsbedreiging te beskou en is Navo-lidmaatskap tot op die grens met Rusland uitgebrei. In ’n onlangse peiling het 68% van Russe gesê dat hulle Navo se teenwoordigheid in Pole as ’n veiligheidsbedreiging beskou.

Verlede jaar het die Franse president Emmanuel Macron Navo as “breindood” beskryf omdat die organisasie na sy mening nie meer enige toekomsvisie het nie. Dit het die sekretaris-generaal van Navo, Jens Stoltenberg, genoop om ’n omvattende ondersoek na die toekomstige rol van Navo te laat doen. ’n Verslag van 60 bladsye is die afgelope week deur lidlande bespreek.

Terwyl die verslag voorstel dat Navo steeds sterk op Rusland en sogenaamde Russiese aggressie in Oos-Europa moet fokus, is die grootste verskuiwing wat voorgestel word ’n nuwe fokus op China. Die verslag beskryf China as ’n ambisieuse en outoritêre wêreldmoondheid wat verskeie veiligheidsbedreigings inhou. Daarom word voorgestel dat Navo nouer met Asiatiese lande moet saamwerk om ’n breë militêre alliansie teen China te ontwikkel.

Die grootste fokusverskuiwing wat egter vir Navo voorgestel word, is die voorstel dat lidlande moet saamwerk om veiligheidbedreigings deur China te identifiseer en die reaksie daarop te koördineer. Die verslag stel voor dat ’n raadgewende liggaam hiervoor ontwikkel moet word waardeur lidlande se regerings beleidsbesluite oor China se dreigende optrede kan koördineer.

In totaal word 138 voorstelle oor hoe Navo die volgende tien jaar tegemoet moet gaan in die dokument gemaak. Die dokument bespreek ook die uitdagings van interne verdeeldheid tussen Navo-lidlande.

 Israel se regering kom weer tot ’n val

Israelse veiligheidsmagte raak slaags met betogers buite eerste minister Benjamin Netanyahu se ampswoning in Jerusalem. (Foto: Menahem Kahana/AFP)

Kiesers in Israel sal moontlik vir die vierde keer in twee jaar na die stembus moet gaan. Die besluit van die opposisieleier en huidige minister van verdediging, Benny Gantz, om ’n voorstel deur opposisiepartye te steun dat die parlement ontbind moet word ten einde nuwe verkiesings te hou, kan ’n einde bring aan die kortstondige koalisieregering tussen Gantz se Blou en Wit-party en die eerste minister, Benjamin Netanyahu, se Likud-party. Die wetgewing waarvolgens die huidige parlement ontbind sal word, moet nog finaal goedgekeur word, in welke geval daar binne enkele maande ’n nuwe verkiesing sal moet plaasvind.

Volgens die ooreenkoms wat op 20 April vanjaar tussen aartsvyande Netanyahu en Gantz onderteken is, sou dié twee leiers mekaar as eerste ministers afgewissel het. Netanyahu het die eerste skof van 18 maande gekry, terwyl Gantz veronderstel was om op 17 November volgende jaar eerste minister te word.

Terwyl Netanyahu se gewildheid die afgelope tyd weens sy hantering van die Covid-19-pandemie en ’n bedrogsaak teen hom skade gely het, is Gantz na bewering ongelukkig met die wyse waarop Netanyahu hom in die duister gehou het oor belangrike sake, onder andere die besluit om geheime gesprekke met Saoedi-Arabië te onderneem.

Gantz se amptelike standpunt die afgelope week was dat hy ’n nuwe verkiesing wil sien omdat die parlement nie daarin kon slaag om ’n begroting goed te keur nie. Dit is egter duidelik dat Netanyahu tans in ’n swak posisie verkeer en dat Gantz, sou daar nou ’n verkiesing plaasvind, ’n beter kans sal staan om eerste te eindig.

Sou Netanyahu en Gantz nie binne enkele dae tot ’n vergelyk kan kom nie, sal die Knesset (Israel se parlement) weer oor die saak moet stem en sou dit slaag, sal ’n nuwe verkiesing uitgeroep word.

China verskerp stryd met Australië

‘n Chinese polisiebeampte staan wag buite die Australiese ambassade in Beijing. (Foto: Greg Baker/AFP)

Nadat lande soos Suid-Korea, Swede, Noorweë, Denemarke en Kanada die afgelope paar jaar onder Chinese aggressie deurgeloop het, is dit deesdae Australië wat deur die Chinese geteiken word. ʼn Gedokterde foto van ’n Australiese soldaat wat ’n mes teen die keel van ’n kind in Afganistan hou, is ’n paar dae gelede deur die Chinese woordvoerder oor buitelandse sake op Twitter geplaas. Dié foto is deur onder andere die regerings van Australië, Nieu-Seeland en die VSA verwerp en het tot wye veroordeling, veral in die Westerse wêreld, aanleiding gegee.

Die gedokterde foto is ’n duidelike poging deur ’n senior lid van die Chinese regering om ’n onlangse verslag deur die weermag van Australië wat bevind het dat Australiese soldate onder meer talle burgerlikes tydens die oorlog in Afganistan vermoor het, uit te buit om politieke punte te wen.

Dit is nie net die VSA wat tans in ’n handelsoorlog met China gewikkel is nie. Verskeie ander lande het die afgelope paar jaar onder Chinese invoertariewe, ’n verbod op uitvoere van sommige produkte na China en bloot net Chinese smeerveldtogte deurgeloop. China het in Junie vanjaar invoerbelasting van 80% ingestel op gars wat uit Australië ingevoer word. Swaar invoertariewe op Australiese wyn is ook onlangs ingestel.

China is steeds Australië se grootste en belangrikste handelsvennoot, maar dit is duidelik dat ’n handelsherskikking tussen die twee lande plaasvind. Australië se uitvoere na China het vanjaar met 16% afgeneem terwyl Chinese uitvoere na Australië met 26% afgeneem het. Die Australiese regering het die afgelope tyd verskeie stappe gedoen om dié land se afhanklikheid van uitvoere na China te verminder.

China probeer duidelik deur sy aanvalle op Australië en die instel van invoertariewe ’n boodskap aan die res van die wêreld stuur dat ’n veroordeling van China se aansprake op die Suid-Chinese See, betwiste grondgebied in die Himalajas, die outonome stad Hongkong en die eilandnasie Taiwan nie aanvaar sal word nie. Buitelandse veroordeling van China se onderdrukking van minderheidsgroepe het ook die afgelope tyd die Chinese regering se optrede teen lande soos Australië, Kanada en ander Westerse lande gelei.

China se besluit om politieke geskille met invoertariewe en ander handelsbeperkings te takel, is ’n belangrike rooi lyn wat oorgesteek word. China het tans ’n vinnig groeiende stedelike middelklas wat afhanklik is van dié land se vermoë om voortdurend sy uitvoerkapasiteit uit te brei. China se politieke uitsprake en ekonomiese sanksies teen lande soos Australië kan uiteindelik tot stappe in verskeie Westerse lande lei wat Chinese uitvoere kan raak.

Oorlog in Tigray verby, maar geskil nog lank nie opgelos

Kinders versamel droë mis om vuur te maak by ‘n vlugtelingkamp in Soedan se oostelike Gedaref-gebied. Die kamp huisves Ethiopiese vlugtelinge wat uit Tigray gevlug het. (Foto: Yasuyoshi Chiba/AFP)

Die kleinskaalse oorlog tussen die weermag van Ethiopië en die rebellerende noordelike streek, Tigray, was vinnig oor en verby nadat Ethiopië se premier, Abiy Ahmed, besluit het om sy weermag na Mekelle, die hoofstad van Tigray, te stuur ten einde weer beheer oor die gebied te kry.

Terwyl die Tigray Volksbevrydingsfront vinnig handdoek ingegooi en hul leiers na ’n bergagtige gebied gevlug het, is die geskil tussen die federale regering in Addis Abeba en die mense van Tigray nog lank nie opgelos nie. Tigray is een van Ethiopië se nege semi-outonome etniese streke wat deur die grondwet sterk federale magte gegee word.

Ethiopië, ’n land van sowat 110 miljoen mense, is gedurende die 1990’s in ’n federasie met nege streke, wat nege verskillende etniese gemeenskappe verteenwoordig, omskep. Tot 2018 het die Tigray, wat net meer as 6% van die land se bevolking uitmaak, ’n belangrike invloed op die federale regering gehad. Sedert Ahmed in 2018 verkies is, het hy egter die Tigray opsygeskuif en het spanning begin ontstaan.

Die Tigray-streek is ook strategies tussen Eritrea en die res van Ethiopië geleë en die destabilisering van die Tigray-streek kan die vredespogings wat Ahmed met Eritrea onderneem het, ook kompliseer. Daar is die afgelope paar dae reeds verskeie vuurpyle uit Tigray na Eritrea afgevuur.

Die leiers van Tigray het reeds onderneem om weer beheer oor die gebied oor te neem. Terwyl duisende mense na Soedan gevlug het, is daar ook honderde beseerdes wat tans in hospitale behandel word. Presies hoeveel mense in die konflik dood en beseer is, is nog onduidelik.

Ethiopië se grondwet is vir lank voorgehou as ’n uitstekende voorbeeld van ’n federale bestel wat in nog Afrika-lande kan werk omdat dit ruimte bied vir etniese gebiede wat outonomiteit geniet. In verskeie ander Afrika-lande is daar gereeld oorlog en etniese konflik weens onderdrukkende sentrale state en minderhede wie se regte ontken word. Dit sou daarom jammer wees indien die federale eksperiment in Ethiopië uiteindelik moet misluk.

Trump se prokureur-generaal sê onvoldoende bewyse van verkiesingsbedrog

Die Amerikaanse president Doland Trump en sy vrou, Melania. (Foto: Spencer Platt/Getty Images/AFP)

William Barr, die Amerikaanse prokureur-generaal en ʼn Trump-lojalis, het die afgelope week bekend gemaak dat die federale regering se eie ondersoek na beweerde verkiesingsbedrog nie bewyse kon vind dat grootskaalse bedrog tydens die onlangse verkiesing gepleeg is nie.

Barr het self kort na die verkiesing opdrag gegee dat federale ondersoekers ’n omvattende ondersoek na beweerde bedrog moes onderneem. Barr se uitsprake die afgelope week behoort die finale teken aan president Donald Trump te wees dat hy moet erken dat hy die verkiesing verloor het en dat hy eerder nou daarop moet fokus om sy nalatenskap te bewaar. Die Trump-veldtog kon ook nie die afgelope paar weke bewyse van grootskaalse bedrog vind of bewys nie, en sy regspan moes keer op keer met swak regsargumente die knie in howe buig.

Meer as 155 miljoen Amerikaners het op 3 November in die verkiesing gestem. Hoewel daar op verskeie plekke kleinskaalse bedrog gevind is, soos individue wat namens afgestorwe familielede probeer stem het, kon niemand nog enige bewyse van grootskaalse bedrog vind nie. President Trump voer die afgelope paar weke ’n verbete stryd op sosiale media om mense van verkiesingsbedrog te oortuig. Baie van sy ondersteuners het op hierdie boodskap ingekoop en in ’n onlangse peiling is bevind dat meer as 70% van Republikeine voel dat die verkiesing nie regverdig was nie.

Die probleem is egter dat daar geen bewyse vir Trump se bewerings is nie. Trump se bewerings oor die sagteware, rekenaars en skandeerders wat in verskeie deelstate gebruik is, is ook reeds verkeerd bewys. Boodskappe oor die storting van stemme wat grootliks vir Biden was, is ook reeds verkeerd bewys. Nog stories dat daar in sommige stede en state meer mense gestem het as die getal geregistreerde kiesers is ook weerlê.

Wat wel waar is, is dat die Demokratiese Party in verskeie deelstate op redelik onderduimse maniere die sogenaamde oes van posstemme deel van hulle veldtog gemaak het. Hulle het basies van huis tot huis gegaan en kiesers oortuig om vir posstemme aansoek te doen en dit dan weer ingesamel. In deelstate waar posstemme wyd uitgestuur is, het die Demokrate letterlik kiesers se stembriewe ingesamel. Die omvang hiervan is nog onduidelik, maar dat dit minstens oneties is, is ’n feit. Die manier om dit reg te stel, is egter deur beheer oor die wetgewende liggame in verskillende deelstate te kry en dan gepaste wetgewing in te stel om die gebruik van posstemme beter te bestuur. In deelstate soos Georgia, Pennsilvanië, Wisconsin, Arizona en Michigan beheer die Republikeine reeds die state se wetgewende liggame en kan hulle dus begin om sulke wette te maak.

Die realiteit is dat die meeste deelstate se uitslae reeds gesertifiseer is en dat die kieskollege op 14 Desember finaal sal bepaal dat Joe Biden die nuutverkose Amerikaanse president is. Die Republikeinse Party moet daarom hul fokus verskuif na die twee opvolgverkiesings wat op 5 Januarie in Georgia plaasvind en wat sal bepaal watter party die Amerikaanse senaat gaan beheer. Indien Republikeine op 5 Januarie in Georgia kan wen, kan hulle Biden dwing om oor elke aanstelling wat hy wil maak en elke beleidsvoorstel wat hy in wetgewing wil omskep, met hulle te onderhandel. Indien die Demokrate op 5 Januarie wen, sal Biden gemaklik kan voortgaan om enige aanstellings te maak en wette gemaklik deur te voer.

Turkse ekonomie in groot moeilikheid

‘n Straattoneel in Istanboel in Turkye. (Foto: Ozan Kose/AFP)

Van alle ontwikkelende lande het Turkye se ekonomie tot dusver vanjaar die swakste presteer met buitelandse beleggings in dié land wat byna opgedroog het, die Turkse geldeenheid, die lira, wat skerp verswak het en inflasie wat die hoogte ingeskiet het.

Terwyl Turkye se ekonomie ’n paar jaar gelede as een van die aantreklikste beleggingsopsies deur Westerse beleggers beskou is, onttrek beleggers nou op groot skaal hul beleggings uit dié land.

Die oorsake hiervoor kan direk aan die swak leierskap van president Recep Erdogan toegeskryf word. Erdogan se voortdurende woordewisseling en stryd met Westerse lande, sy inmenging in die Turkse ekonomie, swak monetêre beleid en hoë vlakke van regeringskorrupsie het sy tol geëis. Die afgelope twee jaar het Erdogan hom gereeld teen buitelandse betrokkenheid in die Turkse ekonomie uitgespreek en het hy gereeld met die nasionalisering van sommige industrieë gedreig. Hy betaal nou die prys daarvoor.

Turkye se regstelsel is ook deur Erdogan en sy party gekaap met min objektiewe regters wat nog oor is. Die onafhanklike media in Turkye is byna heeltemal uitgewis en talle demokratiese instellings is opgehef. Eiendomsreg, vryheid van spraak en ’n gesonde regstelsel is alles vereistes vir buitelandse beleggings in ’n ekonomie. Turkye se aggressiewe buitelandse beleid die afgelope paar jaar en duur oorloë in onder andere Sirië het ook tot die ekonomiese krisis bygedra.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
annie

Navo is moontlik die grootste bedreiging vir wèreldvrede want die organisasie is totaal ingestel op oorlogvoering en Duitsland se fanatiese haat jeens Rusland na WO2 is die gloeiende kooltjie. Biden ondersteun Navo en hy en die Ukraìne is bloedbroers waarvandaan die eerste skote op Rusland sal val. En dan is die gort gaar.

Therese

Uitstekende nuusoorsig, soos altyd!
Wat die verkiesingsbedrog in die VSA betref: dit was só grootskaals en deeglik uitgevoer dat dit bykans volmaakte korrupsie was.
Die Demokrate, en Republikeine wat verlig is om van Trump ontslae te wees, volg ‘n strategie van ontkenning totdat dit as die waarheid aanvaar word. Baie soos die ANC in SA.

Human

Sommige kommentators bedryf volstruis politiek, koppe in die sand, horende doof en siende blind. Trump se doppie is geklink en hy is oppad uit. Enige bewerings van korrupsie is net dit, bewerings, anders toon bewyse van korrupsie, maar as dit julle gelukkig sal laat voel, geniet la la land.