Internasionale oorsig: Nederlanders plaas groter vertroue in plaaslike partye

(Foto: pixabay)

Nederlandse kiesers het die afgelope week in 332 van die land se 345 munisipaliteite nuwe raadslede tydens die vierjaarlikse plaaslike verkiesings verkies. Die verskuiwing na plaaslike gemeenskapspartye, wat reeds met die vorige verkiesing in 2018 sigbaar was, het met die afgelope week se verkiesing verdiep toe 36% van kiesers vir plaaslike en gemeenskapspartye gestem het. In 2018 het 29% van kiesers vir hierdie partye gestem.

Die stempersentasie in die afgelope week se verkiesings was ook die laagste ooit in ʼn munisipale verkiesing in Nederland. Slegs 50,3% van kiesers het hul kruisies gaan trek. Dit is duidelik dat baie Nederlanders tans min belangstelling in plaaslike politiek het.

Die stempersentasie onder mans het van 60% in 2018 tot 57% afgeneem. Onder vroue was daar egter ʼn skerper afname vanaf 53% tot slegs 44%. Kiesers in die hoogste inkomstegroepe het teen ʼn veel hoër persentasie gaan stem. Van die rykste Nederlanders en mense met ʼn hoë vlak van opleiding het meer as 60% gaan stem. Net sowat 30% van die laags geskoolde Nederlanders het egter gaan stem.

Die stempersentasie was oor die algemeen laag in die grootste stede soos Amsterdam, Rotterdam en Den Haag. Die stempersentasie was baie hoog, hoër as 80%, in talle dorpe en stede in die konserwatiewe Bybelgordel van Nederland waar die meeste Protestantse Nederlanders woon. Dit het meegebring dat Christelike partye soos die Staatkundig Gereformeerde Party (SGP) en die Christenunie ʼn groei in steun getoon het. Veral die SGP het sterk gegroei vanaf 197 setels tot 229. Dié party, die mees konserwatiewe Christelike party in Nederland, geniet sterk steun in die Bybelgordel.

In Amsterdam het die linkse Partij van de Arbeid die eerste plek ingeneem nadat Groenlinks die afgelope vier jaar die grootste party was. Groenlinks het tweede geëindig en die progressief-linkse D66 derde. Amsterdam is bekend as ʼn stad met ʼn oorwegend links-progressiewe bevolking. In Rotterdam, die naasgrootste stad in Nederland, is die situasie egter totaal anders met ʼn plaaslike regse party, Leefbaar Rotterdam, wat weereens eerste geëindig het. Ook in Den Haag, die derde grootste stad, het Groep de Mos soos in 2018 eerste geëindig. Dié plaaslike party het meestal klassiek-liberale en sentrumregse standpunte.

Die Christen-Demokratiese Appèl (CDA) het heelwat steun verloor, maar het steeds as enkele party die meeste setels gewen. Dié sentristiese party is reeds vir dekades die gewildste party in landelike dele van Nederland, maar het die afgelope paar jaar baie steun in nasionale verkiesings verloor. Die grootste party in Nederland, die Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) van premier Mark Rutte, het redelik goed gevaar en die meeste van hul setels behou. Dit was egter veral partye wat die Nederlandse werkersklas verteenwoordig, soos die linkse Sosialiste Party en die regse Partij voor de Vrijheid, wat setels verloor het omdat die meeste van hul getroue kiesers nie gaan stem het nie.

ʼn Nasionale verkiesing het verlede jaar in Maart in Nederland plaasgevind en dit het sowat nege maande geduur voordat ʼn nuwe koalisieregering gevorm is. Die afgelope week se lae stempersentasie en sterk steun vir plaaslike partye is ʼn duidelike bewys dat baie Nederlandse kiesers ʼn verwydering met nasionale politieke partye ervaar. Streng inperkingsmaatreëls van Desember verlede jaar tot in Februarie vanjaar het ook daartoe bygedra.

Orban en Fidesz gunstelinge om Hongaarse verkiesing te wen

Viktor Orban. (Foto: Riccardo PAREGGIANI/AFP)

Die uitslag van ʼn peiling wat Vrydag in Hongarye bekendgemaak is, wys dat die regerende Fidesz-KDNP-koalisie van die Hongaarse premier, Viktor Orban, se steun tot 50% gestyg het. Daarteenoor het die steun van die verenigde opposisie tot 43% gedaal. Orban het die afgelope week ʼn groot vredesbetoging waaraan meer as 50 000 Hongare deelgeneem het in die Hongaarse hoofstad Boedapest gelei.

Volgens die jongste IDEA-peiling het Fidesz en die katolieke KDNP saam 50%. Dié twee partye funksioneer reeds jare lank as een party en stel gesamentlike kandidate in Hongaarse verkiesings. Hongarye volg ʼn kiesafdelingstelsel. In die tweede plek is die Demokratiese Koalisie (DK), ʼn sosiaal-demokratiese party met die meeste van sy steun in Boedapest. Die DK geniet die steun van 17% van die Hongare. In die derde plek is Jobbik, ʼn voormalige ekstreem-regse party wat die afgelope ruk na ʼn meer sentrum-regse posisie verskuif het. Jobbik geniet die steun van 12% van Hongare. Die liberale Momentum-party geniet die steun van 7% van die Hongare.

Die meeste opposisiepartye in Hongarye het egter reeds drie jaar gelede besluit om ten spyte van hul ideologiese verskille in vanjaar se verkiesing saam te werk ten einde Fidesz uit die kussings te probeer lig. In vanjaar se verkiesing, wat op 3 April plaasvind, stel die verenigde opposisie gesamentlik een kandidaat in elke kiesafdeling teen Fidesz se kandidaat.

Daar is 199 lede in die Hongaarse Nasionale Vergadering. Van hulle word 106 in kiesafdelings verkies. Die oorblywende 93 word proporsioneel verkies. Die kiesdrempel vir ʼn party is 5% en 10% vir koalisies van verskillende partye.

In die vorige verkiesing in 2018 het Fidesz 49% van die stemme op hom verenig en het daarmee 133 setels gewen en ʼn tweederdemeerderheid behaal. Fidesz geniet besonder sterk steun op die Hongaarse platteland en wen die meeste setels buite Boedapest. Met die party wat tans op 50% in die jongste peiling staan, behoort hy gemaklik op 3 April te wen.

Daar was die afgelope ruk ʼn groot poging deur Westerse lande en organisasies om die Orban-regering te isoleer en selfs te diskrediteer. Hongarye se liberale opposisie geniet wye steun in Wes-Europa en onder die Demokrate in die VSA.

Viktor Orban (Foto: Attila KISBENEDEK/AFP)

Uit desperaatheid om van Orban ontslae te raak, het die opposisiepartye verlede jaar besluit om ʼn konserwatiewe burgemeester en voormalige Fidesz-lid, Péter Márki-Zay, as hul premierskandidaat teen Orban te benoem. Márki-Zay is nie ʼn lid van enige van die opposisiepartye nie en is tans ʼn onafhanklike burgemeester in die suide van Hongarye. Hy is persoonlik baie konserwatief, maar werk met ʼn mandaat om ʼn meer liberale regering in Hongarye daar te stel.

Die oorlog van die afgelope paar weke het ʼn groot invloed op die politiek in Hongarye. Hongarye het honderde duisende vlugtelinge uit Oekraïne ingeneem. Kort voor die oorlog het Orban vir Poetin in Moskou gaan spreek om te verseker dat Hongarye steeds goedkoop aardgas sou kon invoer. Orban het ook vir Poetin probeer ontmoedig om Oekraïne aan te val.

Terwyl Hongarye die oorlog veroordeel het en ʼn lid van Navo is, weier Orban om wapens na Oekraïne te stuur. Orban het die afgelope week in ʼn toespraak gesê dat Hongarye teen oorlog gekant is, maar dat die land nie sy eie belange sal benadeel deur wapens aan die Oekraïense weermag te verskaf nie. Die opposisie probeer om Orban as ʼn vriend van Poetin uit te beeld, terwyl Orban eerder die rol van ʼn staatsman, wat stabiliteit in Hongarye sal bly verseker, projekteer.

Met twee weke oor voor die verkiesing kan ʼn ernstige voorval steeds die verkiesing beïnvloed. In ʼn kiesafdelingstelsel is die uitslag moeilik voorspelbaar, maar dit lyk wel of Fidesz en Orban moeilik geklop kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.