Internasionale oorsig: Net nóg ʼn Midde-Oosterse mislukking

(Foto: AP Photo/Thibault Camus, Pool)

Die dramatiese ontploffing van 2 750 ton ammoniumnitraat in die hawe van Beiroet, die tragiese beelde van beseerdes en die enorme skade aan infrastruktuur die afgelope week was soos ʼn enkele hartseer fotobeeld – nie net van die toestand van Libanon nie, maar ook van die hele Midde-Oosterse streek.

Libanon was al vir lang tydperke, en veral gedurende die 1940’s tot die uitbreek van ʼn burgeroorlog in 1975, een van die gewildste toerismebestemmings in die wêreld en een van die suksesverhale van die Midde-Ooste waar Christene en Moslems saamgeleef en ʼn baie suksesvolle land opgebou het.

Die oorsaak van die ontploffing in Beiroet was duidelik nalatigheid, die resultaat van ʼn verswakte staatsbestel en burokrasie wat die afgelope paar jaar van die een regeringskrisis na die ander voortgestrompel het.

Soos wat die voor- en nafoto’s van Beiroet die afgelope week op die internet versprei is, kan dieselfde gedoen word met foto’s van talle stede in Sirië. Tot so onlangs as ʼn dekade gelede was dit heeltemal veilig vir Westerlinge om Sirië te besoek. Die land het soos sy buurland Irak nog enkele jare gelede ʼn groot Christenbevolking gehad. Oor die afgelope dekade het die Christenbevolkings van Sirië en Irak egter skerp gedaal namate Christene na Westerse lande gevlug het en in baie gevalle selfs uitgemoor is. Albei lande is deur oorloë in chaos gedompel.

Die meeste lande in die Midde-Ooste ondervind vandag diepgaande verdeeldheid, daar heers interne onstabiliteit en die bevolkings is hoogs gefrustreerd en baie ontvanklik vir revolusie. Die bevolkings van die meeste Midde-Oosterse lande is redelik jonk en werkloosheid onder hierdie jongmense is geweldig hoog.

(Foto: AP Photo/Hussein Malla)

Verder is interne verdeeldheid ʼn algemene kenmerk in baie lande. Verskeie Midde-Oosterse lande soos Sirië en Irak is deur Westerse lande ná die Eerste Wêreldoorlog as administratiewe eenhede geskep, bestaande uit verskillende bevolkingsgroepe wat nie regtig saamhoort nie. Verder is daar bevolkingsgroepe soos die Koerde en die Assiriërs wat nie hul eie lande het waar hulle oor hulself kan regeer nie.

Terwyl die oorloë in Afganistan, Sirië, Jemen en Libië steeds woed, neem interne spanning in Irak weer toe met gereelde betogings deur ʼn hoogs gefrustreerde bevolking wat ontevrede is oor swak dienslewering, korrupsie, werkloosheid en armoede.

Die vredesonderhandelinge tussen Israel en die Palestyne het ʼn stille dood gesterf. Voorts voer Saoedi-Arabië en Iran met die hulp van verskeie groepe wat hulle ondersteun ʼn stryd in Libanon, Sirië en Jemen wat die streek voortdurend kan destabiliseer. Die huidige Turkse regering volg ook ʼn intervensionistiese benadering wat dreig om die konflik in Libië en Sirië eerder te vererger as op te los.

Die enigste stabiele gebied in die Midde-Ooste is die ryk Golflande wat met Petro-dollar daarin slaag om hul bevolkings gelukkig te hou. Die meeste Midde-Oosterse lande is baie hard deur die Covid-19-pandemie en die globale ekonomiese krisis getref. Dit gaan waarskynlik net die huidige interne spanning in talle Midde-Oosterse lande verhoog met die kanse vir revolusie, geweld en selfs burgeroorloë wat nie uitgesluit kan word nie. Daar is geen lig in die tonnel vir hierdie streek wat reeds dekades lank deur konflik geteister word nie.

Die falende staat in Libanon

Pres. Emmanuel Macron. (Foto: AP Photo/Thibault Camus, Pool)

Vroeër vanjaar het groot skares gefrustreerde betogers die strate van Beiroet, die hoofstad van Libanon, ingevaar om hul frustrasie met die ekonomiese omstandighede in dié Midde-Oosterse land te wys. Die afgelope week se rampspoedige gebeure het die groeiende krisis van regeringsverval in Libanon, presies dít waarteen mense vroeër vanjaar betoog het, op die mees tragiese wyse bewys.

Tot dusver het die ondersoek aan die lig gebring dat ʼn Russiese sakeman die skip Rhosus in 2013 gehuur het om 2 750 ton ammoniumnitraat van Batoemi in Georgië na Mosambiek te vervoer. Die skip was in ʼn haglike toestand en die sakeman het nie sy bemanning behoorlik betaal nie. Die skip moes uiteindelik in Beiroet vasmeer. Daar is beslag gelê op die ammoniumnitraat omdat die verlangde hawefooie nie betaal is nie. Dit is na ʼn pakhuis by die hawe verskuif. Die skip het uiteindelik in die hawe van Beiroet gesink.

Die bestuur van die hawe in Beiroet het sedert 2014 ʼn oplossing probeer vind, maar nóg die howe nóg die regering in Beiroet kon met ʼn oplossing vir die 2 750 ton ammoniumnitraat vorendag kom.

Pres. Emmanuel Macron van Frankryk het tydens sy blitsbesoek die afgelope week aan Beiroet gesê dat dringende politieke hervormings in Libanon nodig is om die land te red. Hoe en deur wie dit onderneem gaan word, is egter onduidelik. Daar is eerder baie rede om te glo dat Libanon sal voortgaan op die pad van staatsverval.

Toenemende grensgeskille in Asië

Teodoro Locsin, die minister van buitelandse sake van die Filippyne, het onlangs op Twitter geskryf: “As jy enigiets met die Filippyne te doen wil hê, dan is Sabah nie in Maleisië nie.” In antwoord hierop het die Maleisiese minister van buitelandse sake, Hishammuddin Hussein, geskryf: “Dit is ʼn onverantwoordelike stelling wat bilaterale verhoudinge raak. Sabah is en sal altyd deel wees van Maleisië.”

Die geskilpunt hier gaan oor die Maleisiese staat Sabah wat in die negentiende eeu deel van die Filippyne was en toe in 1878 deur die Britse Noord-Borneo-maatskappy in ʼn onderhandeling met die Filippyne oorgeneem is. Die Filippyne beskou vandag nog die onderhandeling as ʼn huurooreenkoms, terwyl Maleisië sê dat Sabah deel van Maleisië is.

Die verhouding tussen die Filippyne en Maleisië het sedert ʼn ernstige grensgeskil in 1967 die afgelope paar dekades grootliks herstel. Dieselfde geld vir verhoudinge tussen verskeie ander lande in Asië waar grensgeskille oor die jare gereeld tot spanning, geweld en selfs oorlog gelei het.

Die onderskeie geskille tussen China en Japan oor die Senkaku-eilande, Japan en Rusland oor die Kuril-eilande, en Armenië en Azerbaijan oor Nagorno-Karabakh is maar enkele voorbeelde van voortslepende geskilpunte oor grense en die beheer van betwiste gebiede.

Dit was egter die afgelope paar maande veral die grensgeskille tussen China en Indië, China en Nepal, asook Indië en Pakistan wat tot kommer oor geweld en selfs oorlog in Asië gelei het. Die grensgeskille in Asië is grootliks van historiese oorsprong en het in baie gevalle min relevansie vir die hede, maar dit word deesdae deur lande gebruik om nasionale kohesie te bevorder en ʼn beeld van mag en kragdadigheid uit te beeld. Veral in Asië met groeiende moondhede soos China en Indië wat ʼn groter magsrol in die wêreld wil speel, kan dit tot gevaarlike omstandighede aanleiding gee.

Nuwe onsekerheid oor kernwapens

(AP Photo, File)

Dit was die afgelope week presies 75 jaar sedert Amerika ʼn atoombom op die Japannese stad Hirosjima laat val het. Vir die eerste keer sedert die einde van die Koue Oorlog heers daar weer vrees in die wêreld oor ʼn moontlike kernwedloop onder die wêreld se grootste moondhede. Terwyl die VSA en Rusland, die twee lande met die meeste kernwapens in die wêreld, tans besig is om die sogenaamde Start-verdrag – wat aanstaande jaar verval – te herbeding, het verskeie ander ooreenkomste wat die ontwikkeling van kernwapens in die wêreld beperk, verval. Dit sluit in die kernooreenkoms tussen Westerse lande en Iran, die INF-verdrag wat grondgebaseerde, mediumafstandwapens verbied en die Open Skies-verdrag wat voorsiening maak vir wedersydse ongewapende lugverkenning deur lidlande. Verder het onderhandelinge met Noord-Korea om te verhoed dat dié land ʼn kernwapen ontwikkel, ook tot ʼn stilstand gekom.

China, een van die sterker wordende militêre moondhede in die wêreld, word nie juis deur kernooreenkomste aan bande gelê om atoombomme te vervaardig nie. Intussen is dit onseker tot watter mate Iran en Noord-Korea gevorder het om wel ʼn atoombom te bou. Pres. Donald Trump van Amerika oorweeg dit om nuwe kerntoetse in Nevada uit te voer. Die toetsterrein waar kerntoetse tydens die Koue Oorlog uitgevoer is, is besaai met kraters wat deur duisende ondergrondse ontploffings veroorsaak is. Indien Trump sy sin kry, sal toetse op dié toetsgebied binnekort ʼn nuwe kern-era inlei.

Joe Biden: die onsigbare kandidaat

Joe Biden. Foto: (AP Photo/Marcio Jose Sanchez)

Die Demokratiese Party se veldtog om Joe Biden op 3 November as president van die VSA verkies te kry, is toenemend gegrond op die aanname dat Trump soveel foute maak, en nog gaan maak, dat hul kandidaat net ʼn lae profiel hoef te handhaaf om te wen. Biden het die afgelope week aangekondig dat hy nie meer op 17 Augustus na Milwaukee in Wisconsin sal reis om sy aanvaardingstoespraak by die Demokratiese Party se konferensie te lewer nie.

Dit sal die eerste keer in die geskiedenis van die VSA wees dat een van die vername partye se kandidaat nie die party se konferensie bywoon nie. Biden beplan om sy toespraak vanuit sy tuisstaat, Delaware, per videoverbinding te lewer. Daar is nou ook leiers in die Demokratiese Party wat Biden aanraai om aan die debatte met pres. Trump te onttrek. Die twee kandidate is veronderstel om in September en Oktober aan drie debatte deel te neem.

Biden het duidelik ernstige kognitiewe uitdagings en die afgelope week of twee het hy herhaaldelik in televisieonderhoude oor sy woorde gestruikel en selfs heeltemal deurmekaar begin praat sonder dat wat hy sê enigsins sin maak. Biden se keuse vir adjunkpresident sal binnekort bekend gemaak word en daar is rede om te glo dat sy keuse vir ʼn adjunk ʼn wesenlike invloed op die verkiesingsveldtog kan hê omdat baie Amerikaners bekommerd is oor Biden se vermoë om selfs net een termyn as president te dien. Die feit dat hy waarskynlik ʼn swart vrou met ʼn harde linkse politieke rekord gaan kies, kan wel ʼn uitwerking op die verkiesing hê.

Pres. Donald Trump. (Foto: AP Photo/Sue Ogrocki)

Pres. Trump se uitdaging is dat hy sukkel om aan te pas by die rol van dienende president wat vanuit die Withuis vir nog ʼn termyn verkies wil word. In 2016 was hy die buitestander wat Washington DC wou gaan regruk – nou is hy die leier wat sy rekord moet verdedig en ʼn visie vir Amerika moet aanbied. Trump het onlangs twee baie swak televisieonderhoude beleef en dit is duidelik dat hy sukkel om sy rekord te verdedig.

Hoewel Biden in die meeste peilings voorloop, is die uitslag van die verkiesing nog hoegenaamd nie ʼn uitgemaakte saak nie. Vanjaar se verkiesing is anders as die meeste ander wat oor die afgelope paar dekades plaasgevind het en veranderlikes soos die stempersentasie, die gebruik van posstemme, die uitwerking van Biden se keuse vir adjunk en die ekonomiese herstel wat oor die volgende twee maande moontlik is, kan nog die uitslag beïnvloed.

Die laagste stempersentasie die afgelope drie dekades was in 1996 toe net 49% van die kiesers gestem het. Indien die stempersentasie vanjaar weer so laag is, sal dit in Trump se guns tel, veral omdat sy tradisionele kiesers meer lojale kiesers is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

4ntj13 ·

Ons persvryheid in Suid-Afrika is báie slegter as in Beiroet. Ek dink dis tyd dat ons na hierdie balk in ons eie oë moet kyk saam die spliters wat ons in ander lande se oë wil uithaal. As ons nie kan leer hoe dit vir ons belangrik is nie, raak dit net ʼn vorm van schadenfreude. Mens voel skuldig omdat Libanon se slaphandige regering gelei het tot só ʼn groot ramp terwyl die diep-vrot in Suid-Afrika net in kodetaal berig word in Afrikaans. Wat het die Libanese op grondvlak wat ons Afrikaanse mense verloor het? Enige mens op 78 jaar ouderdom het kognitiewe uitdagings. Wat maak Biden soveel beter in peilings as Trump? Dis maklik om te sê Trump se gedrag bevorder korrupsie en bedrog wêreldwyd, maar hoeveel hiervan het met helde soos Mandela begin? Nie dat ek hom onder die vlak van Botha en Vorster en selfs Verwoerd wil plattrap nie. Skuldgevoel het geen doel as dit nie eens tot selfverbetering lei nie. Vingerwys is nóg ʼn trappie erger sonder gesonde self-insig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.