Internasionale oorsig: Nog kanse verspeel vir ooreenkoms tussen Weste, Rusland

Die Amerikaanse president Joe Biden en pres. Wladimir Poetin van Rusland (Foto’s: MANDEL NGAN en Mikhail Metzel/various sources/AFP)

Die afgelope week het drie belangrike ontmoetings in Europa plaasgevind met die doel om die huidige spanning tussen die Weste en Rusland by te lê. Teen Donderdagaand was dit egter duidelik dat geen vordering in die onderhandelings gemaak is nie.

Die Kremlin het by monde van sy woordvoerder, Dmitri Peskov, gesê dat die onderhandelinge geen konkrete resultate opgelewer het nie, terwyl die Amerikaanse minister van buitelandse sake, Antony Blinken, reeds voor die onderhandelinge gesê het dat die VSA geen vordering in die onderhandelinge verwag nie.

Maandag het die Amerikaanse adjunkminister van buitelandse sake, Wendy Sherman, in Genève, Switserland, met haar Russiese eweknie, Sergei Ryabkov, vergader. Dinsdag was daar in Brussel gesprekke tussen die Russiese regering en die leierskap van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo), en Donderdag het die onderhandelinge na Wene in Oostenryk verskuif waar ʼn vergadering van die Organisasie vir Veiligheid en Samewerking in Europa plaasgevind het.

Rusland se mees basiese eis aan die Weste is duidelik: die Oekraïne moenie toegelaat word om by Navo aan te sluit nie. Sherman het egter Maandag reeds gesê dat Amerika nie bereid is om hom hiertoe te verbind nie.

Die groot vraag waarop daar steeds nie ʼn duidelike antwoord deur die Weste gegee word nie, is wat Navo se huidige bestaansdoel is en wat Navo se oogmerke met die uitbreiding van sy lidmaatskap in Oos-Europa behels. Rusland het sekerlik geen vetoreg om voormalige lidlande van die Sowjetunie te verhoed om by Navo aan te sluit nie, maar dit sou sinvol wees indien sekere beginsels in die verhouding tussen Navo en die Weste herbedink en beter geformuleer kan word.

Sedert die val van die Sowjetunie het tien voormalige Sowjetunie- en Oosbloklande reeds by Navo aangesluit. In 1999 het die Tsjeggiese Republiek, Hongarye en Pole aangesluit. Hulle is in 2004 gevolg deur Bulgarye, Estland, Letland, Litoue, Roemenië en Slowakye. In 2009 het Albanië lid van Navo geword.

In 1997 het die destydse Russiese minister van buitelandse sake, Yevgeny Primakov, gesê dat Navo ʼn rooi lyn sou oorsteek indien hy lidmaatskap aan die Oekraïne sou toestaan. Sedertdien het Rusland se vrese vir Navo-uitbreiding veral om die Oekraïne en Georgië gesentreer. Albei lande was deel van die Sowjetunie en het groot Russiese etniese bevolkings in hulle midde gehad. Albei lande is ook geografies vir Rusland belangrik, veral weens hul posisie aan die Swartsee.

President George W Bush was ʼn groot voorstander van Navo-lidmaatskap vir albei lande. Dit is tydens Navo se beraad in 2008 in Roemenië bespreek, en dit het sonder twyfel bygedra tot Russiese aggressie teen albei lande, waaronder die oorlog teen Georgië in 2008 waartydens Rusland die twee wegbreekprovinsies, Abchasië en Suid-Ossetië, ondersteun het. Albei provinsies is vandag, sonder internasionale erkenning, semi-outonoom met die hulp van Rusland. Daarna het Rusland sy invloed in die Krim-skiereiland en ander dele van die ooste van die Oekraïne uitgebrei, en in 2014 het Rusland die Krim-skiereiland geannekseer.

Joe Biden van die VSA (regs) en Wladimir Poetin (Rusland) skud blad tydens hul ontmoeting by Villa La Grange in Genève, Switserland (16 Junie 2021) (Foto: Saul Loeb/Pool/AFP)

Rusland en sy president, Wladimir Poetin, se motiewe met die huidige krisis in die Oekraïne gaan duidelik oor meer as net die beskerming van Russiese belange en etniese Russe in die ooste van die Oekraïne. Dit gaan ook oor Rusland se kwynende invloed in Oos-Europa en Wes-Asië en ʼn diepgesetelde wantroue in die Weste se betrokkenheid in die gebied.

Terwyl dit verstaanbaar is dat die VSA en Navo hulle nie daartoe wil verbind om lidmaatskap aan die Oekraïne uit te sluit nie, is dit ook ʼn feit dat die Oekraïne nie aansoek gedoen het om lidmaatskap nie en dat die kanse baie skraal is dat dié land, en ook Georgië, binnekort lidlande van Navo sal word. Die Weste behoort ʼn  kompromis met Rusland aan te gaan deur hom tot ʼn tydlyn te verbind waartydens dié twee lande nie vir lidmaatskap van Navo oorweeg sal word nie.

Dit was die voormalige Amerikaanse president Donald Trump wat op sy tipiese onbeholpe manier heeltemal tereg in 2016 Navo se bestaansrede bevraagteken het. Wat Trump uiteindelik reggekry het, is nie om te vra of Navo moet bestaan nie, maar eerder om Westerse leiers uit te daag om Navo se rol te herdefinieer en beter uit te stippel.

ʼn Navo met duidelike doelwitte, wat nie Rusland se veiligheid en invloedsfeer bedreig nie, kan gemaklik op kort tot mediumtermyn ʼn ooreenkoms met die Russe bereik wat tot albei se voordeel sal strek. Indien die Weste leierskap kan toon deur die regte toegewings te maak en Rusland nie dieselfde doen nie, sal dit Poetin en die Russe in die verleentheid stel en Rusland internasionaal verder isoleer. Die Russe het sterk reputasie- en ekonomiese motiverings om wel die huidige geskil met toegewings op te los.

Oorlog tussen die Weste en Rusland is tans nie ʼn opsie nie. Ten spyte daarvan dat die Poolse minister van buitelandse sake Donderdagaand gesê het dat Europa tans die naaste aan oorlog in drie dekades is, is die kanse vir oorlog steeds skraal. Rusland besef ook duidelik die risiko’s indien hy die Oekraïne sou aanval of selfs net die oostelike dele van die land sou probeer beset. So ʼn stap sal tot nuwe sanksies en baie slegte ekonomiese gevolge vir Rusland lei. Die tyd vir ʼn onderhandelde skikking tussen Rusland en die Weste het aangebreek. Die leierskap om so ʼn ooreenkoms te bereik, ontbreek egter tans.

Krisisse in Sahel-streek verdiep verder

Betogings teen FRankryk en ECOWAS oor sanksies wat teen Mali ingestel is (Foto: FLORENT VERGNES/AFP)

Min streke in die wêreld gaan tans onder soveel politieke en ekonomiese onstabiliteit gebuk soos die Sahel-streek in Afrika. Dié streek, wat van die Atlantiese Oseaan in die weste tot die Indiese Oseaan in die ooste strek, was nog altyd een van die onderontwikkeldste streke ter wêreld, maar die afgelope tyd het die probleme met Islamitiese terreur, militêre staatsgrepe en ernstige humanitêre krisisse verder verdiep.

Die afgelope week het die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrikastate (ECOWAS) alle bande met Mali verbreek, met lidlande wat sanksies teen die militêre oorgangsregering in dié land ingestel het. Dit volg nadat die weermag nie by sy woord gehou het om ʼn demokratiese verkiesing vir volgende maand te organiseer nie.

Op 24 Mei verlede jaar het die weermag in Mali vir die tweede keer binne enkele maande ʼn staatsgreep uitgevoer. Dit het die land in ʼn verdere krisis gedompel en tot groter isolasie aanleiding gegee.

Die afgelope week se drastiese optrede deur ECOWAS, en Mali se besluit om daarna sy ambassadeurs aan alle Wes-Afrikalande te onttrek en sy grense te sluit, dra by tot die land se isolasie, ekonomiese probleme en die ernstige humanitêre krisis.

Mali is ook een van die lande wat sedert 2012 die ergste deur Islamitiese terreur geraak word. Die Liptako-Gourma-grensgebied waar Mali, Burkina Faso en Niger se grense ontmoet, is die afgelope nege jaar die tuiste van talle Islamitiese terreurgroepe wat bande met Al-Kaïda en die Islamitiese Staat het. Die ekonomiese probleme, armoede en werkloosheid in Mali dra by tot die toename in jong mans in dié land wat by terreurgroepe aansluit.

Die Franse regering het verlede jaar reeds besluit om sy soldate aan Mali te onttrek. Die afgelope nege jaar was Frankryk direk betrokke by die stryd teen Islamitiese terreur in Mali, maar weens die politieke onstabiliteit in die land het die Franse besluit om te onttrek.

Die afgelope maande het die aktiwiteite van terreurgroepe verder wes uitgebrei en is aanvalle in die Ivoorkus, Senegal, Benin en Togo aangemeld. Indien die politieke krisis in Mali nie bygelê word nie, sal die stryd teen Islamitiese terreurgroepe ook nie gewen kan word nie, wat beteken dat dié groepe die groter Sahel-streek verder sal destabiliseer.

In Tsjad het dié land se probleme ook verlede jaar toegeneem toe die president, Idriss Déby, vermoor is nadat hy saam met die land se weermag teen rebelle in die noorde van Tsjad geveg het. Sedertdien is die parlement deur sy seun ontbind en is ʼn militêre oorgangsraad ingestel.

Die probleme in Soedan het die afgelope week ook verder verdiep toe nog betogers dood is in skermutselings met dié land se veiligheidsmagte. Sedert die militêre staatsgreep verlede Oktober verkeer Soedan in ʼn voortdurende politieke krisis. Duisende mense betoog daagliks teen die weermag se magsoorname.

‘n Betoger met ‘n plakkaat met Abdalla Hamdok se gesig op (Foto: AFP)

Die Verenigde Nasies, China en die VSA het die afgelope week verteenwoordigers na Soedan gestuur om met die partye daar te onderhandel in ʼn poging om ʼn skikking te bereik. Die bedanking van die tussentydse burgerlike eerste minister, Abdalla Hamdok, aan die begin van Januarie het ernstige vrae laat ontstaan oor die kanse dat Soedan vanjaar ʼn demokratiese verkiesing sal kan hou.

In Ethiopië duur die burgeroorlog van die afgelope 14 maande steeds voort met lugaanvalle op die Tigray-streek, wat die afgelope twee weke tot groot lewensverlies aanleiding gegee het. Die internasionale gemeenskap probeer ook druk plaas op die federale regering in Addis Abeba om die oorlog te beëindig. Intussen verdiep die humanitêre krisis in die noorde van Ethiopië daagliks.

Die Sahel-streek se ekonomiese en humanitêre probleme kan slegs opgelos word indien die huidige politieke onstabiliteit tot ʼn einde kom. Demokratiese verkiesings in lande soos Mali, Tsjad, Soedan en Ethiopië is noodsaaklike eerste stappe. Slegs indien dit gebeur, sal Westerse lande soos die VSA en Frankryk weer direk betrokke raak in die heropbou van die streek.

Islamitiese terreurgroepe floreer op die chaos in die Sahel-streek, en die huidige omvang van terreuraktiwiteite in die streek kan uiteindelik vir die hele wêreld ʼn  bedreiging inhou indien dit nie opgelos word nie. Dit is derhalwe van internasionale belang dat die probleme in die Sahel-streek opgelos moet word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Amerika het n verkeerde president verkies,hy dwing nie genoeg gesag af nie. Rusland skrik nie. En dit is maar een van die probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.